Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/08 bl. 22-24
  • Bome wat in water lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bome wat in water lewe
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Omring deur sout
  • Hoe hulle aan die lewe bly
  • Hoe hulle voortplant
  • ’n Wêreld binne-in ’n wêreld
  • Tallose voordele vir die mens
  • Heuning—Die by se gawe aan die mens
    Ontwaak!—2005
  • Puerto Rico—rykdom in die son
    Ontwaak!—2008
  • Moerasse van die wêreld—Ekologiese skatte word aangeval
    Ontwaak!—1994
  • Heuning—’n soet geneser
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 6/08 bl. 22-24

Bome wat in water lewe

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

Hulle voorsien skuiling aan talle bedreigde spesies soogdiere, voëls en reptiele. Hulle bewaar ook die omgewing deur besoedelstowwe uit die water te filtreer. In Suid-Florida, VSA, hang die bestaan van sowat 75 persent van sportvis en 90 persent van vis wat vir kommersiële doeleindes gevang word, van hulle af. En hulle skep ’n versperring wat kusgebiede teen storms en getye beskerm. Wat is hulle? Wortelbome!

WORTELBOME word aan meer as die helfte van die wêreld se tropiese seestrande gevind en is ’n soort boom, of struik, wat lede van verskillende families insluit. Oor die algemeen groei hulle in die tussengetygebied tussen die land en die see, waar die water ’n mengsel van see- en varswater is. Hoewel die water daar baie souter is as die water waarin die meeste plante kan leef, groei wortelbome goed onder hierdie toestande. Hoe? Deur etlike fassinerende metodes te gebruik en soms ’n kombinasie daarvan.

Omring deur sout

Sommige wortelbome het filters wat verhoed dat sout die oppervlak van die wortel binnedring. Dit is so doeltreffend dat ’n reisiger wat dors is, varswater kan kry deur die wortel van so ’n wortelboom oop te breek. By ander spesies neem die wortelboom die sout in sy stelsel in en berg dit dan in ou blare of ander dele van die plant, wat dan afval.

Ander weer neem die sout in, maar skei dit dan vinnig uit, gewoonlik deur spesiale soutkliere op die blare. As jy aan die blare van so ’n wortelboom sou lek, sou dit baie sout smaak. Maar wees versigtig watter wortelboom jy kies! Die lateks van die blare van een van hierdie bome, die blind-your-eye-wortelboom, kan tydelike blindheid veroorsaak as jy dit in jou oë kry. Die lateks het egter ook medisinale eienskappe wat al gebruik is om sere en steekplekke te behandel.

Hoe hulle aan die lewe bly

Die meeste plante het goedbelugte grond nodig om aan die lewe te bly en te floreer. Maar die grond waarin wortelbome groei, is oor die algemeen met water versadig. Die geheim van hulle oorlewing is hulle lugwortels, wat bo die grond ontwikkel en dus lug direk uit die atmosfeer kan absorbeer. Hierdie wortels kom in ’n verskeidenheid vorms voor. Sommige, wat kniewortels genoem word, groei uit die grond uit en dan terug in die grond in en vorm knopperige bulte wat ’n bietjie soos gebuigde knieë lyk.

Snorkelwortels, of potloodwortels, groei loodreg uit die grond uit. Stutwortels, wat later steltwortels word, vertak uit die onderste deel van die wortelboom se stam. Plank-, of lintwortels, groei uit die onderkant van die boom sodat dit ’n boog vorm wat regop staan, waarvan die boonste deel bo die grond uitsteek. Hierdie verskillende wortelstelsels maak dit vir die plante moontlik om asem te haal, maar anker dit ook in die sagte grond.

Hoe hulle voortplant

Die kanonkoeëlwortelboom dra ’n groot, ronde vrug vol oneweredig gevormde sade. Wanneer die vrug ryp word, skiet hy oop en versprei hy sy sade sodoende in die water. Sommige dryf weg met die getye en vind uiteindelik ’n plek waar dit kan ontkiem.

Ander wortelbome se sade ontkiem terwyl hulle nog aan die boom is. Dit is ’n uiters ongewone verskynsel in die planteryk. Hierdie wortelbome ontwikkel kiemplantjies wat van die boom afval, in die water beland en dan etlike maande of selfs tot ’n jaar lank kan ronddryf op soek na ’n tuiste.

Die manier waarop die kiemplantjie dryf, gee dit die beste moontlike kans om wortel te skiet op ’n plek waar die water brak is, die ideale omgewing daarvoor. Dit dryf horisontaal in soutwater waarin dit groter dryfvermoë het, maar wanneer dit in brakwater beland, dryf dit vertikaal en is dit dus waarskynliker dat dit in die modder sal vassit.

’n Wêreld binne-in ’n wêreld

Wortelbome vorm die basis van ’n ingewikkelde voedselketting. Dooie blare en verrottende plantmateriaal in die wortelboomwoude is ’n bron van voedsel vir mikro-organismes, wat weer as voedsel dien vir ander diere in die voedselketting. Die wortelboomwoud is vir talle lewende dinge ’n plek om in te woon, kos te soek, voort te plant en hulle kleintjies groot te maak.

Honderde voëlspesies gebruik byvoorbeeld die wortelboomhabitat om nes in te maak of kos in te soek, en as rusplek tydens migrasie. In die land Belize alleen word daar meer as 500 verskillende voëlspesies in die wortelboommoerasse aangetref. Baie visse broei in die wortelboommoerasse uit of maak staat op hierdie ekosisteem vir voedsel. Meer as 120 visspesies is al gevang in die Sunderbunds-wortelboomwoud, tussen Indië en Bangladesj.

Plantelewe floreer ook in die wortelboomhabitat. Aan die ooskus van Australië is 105 verskillende korsmosspesies al gevind wat op wortelbome groei. Baie varings, orgideë, mistels en ander plante floreer ook in die habitat. Ja, die wortelbome van die wêreld voorsien ’n onontbeerlike diens aan flora en fauna—van korsmosse tot tiere—en ook aan mense.

Tallose voordele vir die mens

Wortelbome help nie net om die omgewing te bewaar nie, maar is ook ’n direkte of indirekte bron van baie produkte, insluitende vuurmaakhout, houtskool, tannien, voer en medisyne. Die habitat voorsien ook lekkernye, soos vis, skulpvis en heuning. Trouens, sommige seemanne het vroeër gedink dat oesters aan bome groei omdat dit maklik van die wortelbome verkry kon word wanneer die wortels by laagwater uitgesteek het.

Wortelbome voorsien ook produkte vir nywerhede soos die papier-, tekstiel-, leer- en boubedryf. Ander nywerhede wat by hulle baat vind, sluit die visbedryf en die toeristebedryf in.

Al het mense ’n groter begrip van hoe belangrik wortelboomwoude is, verdwyn hulle nietemin teen ’n geskatte 100 000 hektaar per jaar. Hulle word dikwels vernietig om plek te maak vir skynbaar winsgewender projekte, soos landbou en behuising. Baie mense beskou ’n wortelboommoeras net as ’n modderige, onwelriekende plek wat wemel van muskiete en liefs vermy moet word.

Maar die waarheid is dat wortelbome in baie opsigte ’n waardevolle, selfs lewensreddende, rol speel. Hulle spesiaal aangepaste lugwortels en soutfiltrerende penwortels het ryk en komplekse ekosisteme tot stand gebring. Hulle is noodsaaklik vir kusvissery, die houtprodukbedryf en die natuurlewe. En hulle beskerm dele van die kuslyn teen erosie deur die aanslag van kragtige orkane te absorbeer wat andersins duisende mense se dood sou veroorsaak. Ons moet sekerlik dankbaar wees vir wortelbome!

[Venster/Prent op bladsy 24]

Op soek na wilde heuning in die wortelboomwoude

Die grootste wortelboomwoude ter wêreld is in die Sunderbunds—’n deel van die uitgestrekte Gangesdelta, wat tussen Indië en Bangladesj lê. Onder die mense wat daar woon, is die Mowali’s, wat van die wortelboomwoude afhanklik is vir hulle bestaan. Hulle beroep is een van die gevaarlikste in die land.

Die Mowali’s is heuninggaarders. Elke jaar gedurende April en Mei waag hulle dit in die veranderende landskap van die wortelboomwoude op soek na die heuningkoeke van die reuseheuningby. Die bye is groot—hulle word omtrent vier sentimeter lank. Hulle is ook aggressief en is daarvoor bekend dat hulle al olifante doodgesteek het!

Daarom dra heuninggaarders fakkels wat van wortelboomtakke gemaak is, om die bye met die rook te verjaag. Slim heuninggaarders los ’n deel van die byekorf agter sodat bye dit kan herbou, en dit verseker dat daar jaar ná jaar ’n heuningoes sal wees.

Die bye is nie die enigste bedreiging vir die heuninggaarders nie. Krokodille en giftige slange in die wortelboommoerasse hou nog ’n gevaar in. Dan is daar ook diewe wat die heuninggaarders kan voorlê wanneer hulle die woud met hulle heuning en was verlaat. Hoewel al hierdie dinge ’n bedreiging inhou, is die grootste gevaar die Bengaalse tier. Hierdie diere maak elke jaar tussen 15 en 20 heuninggaarders dood.

[Erkenning]

Zafer Kizilkaya/​Images & Stories

[Prente op bladsy 23]

Volwasse en jong wortelbome floreer in ’n habitat waarin die meeste ander plante sou doodgaan

[Erkennings]

Regs bo: Zach Holmes Photography/Photographers Direct; Regs onder: Martin Spragg Photography (www.spraggshots.com)/Photographers Direct

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel