Die Bybel se beskouing
Moet ons eretitels gebruik?
EERSTE-EEUSE Christene het in hulle daaglikse bedrywighede en terwyl hulle die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het, in aanraking gekom met regeringsamptenare—sommige van ’n lae rang en ander in hoë posisies. Jesus se volgelinge het onder mekaar geen titels gebruik om stand, of status, in die lewe aan te dui nie. Destyds was dit egter die algemene gebruik om individue in gesagsposisies op hulle titels aan te spreek. Die Romeinse keiser het die titel Augustus gekry, wat “die Verhewene” beteken.
Hoe het Jesus se dissipels dus die gebruik van eretitels beskou wanneer hulle voor regeringsamptenare verskyn het? Hoe moet ons dit beskou?
Eer, nie goedkeuring nie
Die apostel Paulus het medegelowiges gemaan: “Gee aan almal wat hulle toekom: . . . aan hom wat eer verlang, sulke eer” (Romeine 13:7). Dit het ingesluit om amptenare op hulle titels aan te spreek. Vandag is die gebruik ook om titels soos U Eksellensie en U Edele te gebruik om diegene wat ’n openbare amp beklee, aan te spreek. Maar sommige vra dalk: ‘Hoe kan ek iemand so aanspreek wanneer ek vermoed dat sy gedrag allesbehalwe eerbaar is?’
Baie openbare amptenare is pligsgetrou, maar nie almal boesem vertroue in nie. Nogtans spoor die Bybel ons aan om ons “ter wille van die Here” aan konings en goewerneurs te onderwerp (1 Petrus 2:13, 14). As ons dus die gesagsposisie erken wat ’n amptenaar met God se toestemming beklee, sal dit ons beweeg om respek te toon en die nodige eer te bewys.—Romeine 13:1.
’n Amptenaar se persoonlike gedrag is nie in hierdie konteks ter sprake nie. Dit is nie die rede waarom ons eer betoon nie. Om ’n amptenaar op sy eretitel aan te spreek, beteken nie dat ons sy gedrag stilswyend goedkeur nie. ’n Episode in die lewe van die apostel Paulus lig dit toe.
Paulus se gebruik van titels
Die apostel Paulus is in Jerusalem op valse aanklagte in hegtenis geneem en voor Feliks, die goewerneur van Judea, gebring. Feliks was beslis nie ’n voorbeeldige staatsamptenaar nie. Die Romeinse geskiedkundige Tacitus het geskryf dat Feliks “gedink het dat hy enige bose daad kon doen sonder om gestraf te word”. Hy het meer in omkoopgeld belanggestel as in geregtigheid. Nogtans het Paulus, tydens sy twee jaar van gevangenskap, respek vir die goewerneur getoon, en die twee mans het dikwels gepraat—Feliks het gehoop dat hy geld sou ontvang, wat nooit gebeur het nie, en Paulus het die geleentheid gebruik om te getuig.—Handelinge 24:26.
Toe Festus Feliks opgevolg het, het die nuwe goewerneur Paulus se saak in Sesarea aangehoor. Om die guns van die Joodse leiers te wen, het Festus voorgestel dat Paulus in Jerusalem verhoor word. Maar Paulus het geweet dat hy nie ’n regverdige verhoor daar sou kry nie, en daarom het hy van sy Romeinse burgerskap gebruik gemaak en gesê: “Ek beroep my op die keiser!”—Handelinge 25:11.
Festus was nie seker hoe om die aantygings teen Paulus aan die keiser te verduidelik nie, maar hy het hulp ontvang toe koning Agrippa II ’n beleefdheidsbesoek by hom afgelê het en belangstelling in die saak uitgespreek het. Die volgende dag het militêre bevelvoerders en plaaslike hooggeplaastes met groot vertoon saam met die koning in die gehoorsaal ingegaan.—Handelinge 25:13-23.
Toe Paulus genooi is om te praat, het hy die titel “koning” in sy openingskommentare gebruik en Agrippa se kundigheid in verband met die gebruike en geskille onder die Jode erken (Handelinge 26:2, 3). Op daardie stadium was daar oral gerugte dat Agrippa ’n skandelike, bloedskendige verhouding met sy suster gehad het. Paulus het ongetwyfeld geweet dat Agrippa se sedelike verdorwenheid sy reputasie geskend het. Nogtans het Paulus hom die eer betoon wat ’n koning toekom.
Gedurende Paulus se verdediging het Festus uitgeroep: “Jy word kranksinnig, Paulus!” Paulus het hom nie vererg nie, maar kalm geantwoord en die goewerneur as “Eksellensie” aangespreek (Handelinge 26:24, 25). Paulus het aan hom die respek getoon wat ’n man in sy posisie toegekom het. Hierdie voorbeelde laat egter die vraag ontstaan: Is daar perke aan die eer wat betoon moet word?
Relatiewe eer
Die regering se gesag is relatief, soos blyk uit Romeine 13:1, wat sê: “Die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.” Die eer wat regeringsverteenwoordigers toekom, is dus ook relatief. Jesus het die perke gestel vir die eer wat aan ander gegee moet word, toe hy vir sy dissipels gesê het: “Julle moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus.”—Matteus 23:8-10.
Die verskil tussen godsdiens- en sekulêre titels bepaal dus wanneer dit gepas is om eer te betoon. As sekulêre amptenare titels van ’n godsdienstige aard aanneem, sal Paulus se raad om eer aan hulle te bewys, nie die gebruik van sulke titels insluit nie. Iemand wat skriftuurlike raad volg, sal sulke amptenare respekvol behandel. Maar sy Bybelopgeleide gewete sal hom beweeg om nie enige godsdienstitels te gebruik nie, aangesien hy ‘aan God moet terugbetaal wat aan God behoort’.—Matteus 22:21.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Hoe het Jesus se volgelinge die sekulêre owerhede beskou?—Romeine 13:7.
◼ Het die apostel Paulus eretitels vir regeringsamptenare gebruik? —Handelinge 25:11; 26:2, 25.
◼ Watter soort titels het Jesus afgekeur?—Matteus 23:8-10.
[Prent op bladsy 20, 21]
Hoe het Paulus Agrippa aangespreek?