Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/09 bl. 21-23
  • Soutsoekers van die Sahara

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Soutsoekers van die Sahara
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mensgemaakte heuwels en pastelkleurige poele
  • ’n Ongewone winningsproses
  • Sout as geld
  • “Uit die edelste ouers gebore”
    Ontwaak!—2006
  • Sout—iets waardevols
    Ontwaak!—2002
  • „Julle is die sout van die aarde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Soutwinning—Met behulp van die son, see en wind
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 1/09 bl. 21-23

Soutsoekers van die Sahara

PALE flits verby die venster van ons vierwielaangedrewe voertuig. Hierdie pale dien as padmerkers wanneer sandstorms sigbaarheid belemmer. Ja, sulke storms is algemeen hier in die Sahara-woestyn.

Die pad waarlangs ons ry, volg ’n eertydse karavaanroete wat ’n mens van die stad Agadez, in die noorde van Niger, tot die grens van Algerië en verder neem. Ons bestemming is die klein dorpie Teguidda-n-Tessoumt—’n afgeleë plek 200 kilometer noordwes van Agadez. Daar gebruik 50 gesinne eeue oue metodes om kosbare sout uit die klei van die Sahara te win.

Mensgemaakte heuwels en pastelkleurige poele

Voor ons op die woestynvlakte verskyn daar klein heuwels, wat ons bestemming is. Ons gids parkeer ons voertuig naby ’n tien meter hoë heuwel en stel voor dat ons uitklim en tot bo-op die heuwel klim, van waar ons die dorpie kan sien. Terwyl ons teen die skuinste opsukkel, verduidelik hy dat hierdie heuwel en ander soortgelykes mensgemaak is en die oorblyfsels is van baie jare se soutwinning in die gebied.

Van bo af het ons ’n pragtige uitsig. Feitlik alles in die dorpie onder ons is die kleur van gebakte klei—die grond, die mure, die dakke. Al wat ’n ander kleur het, is die groen blare van twee bome wat soos wagte aan weerskante van die dorp staan. Trouens, die huise en die mure om hulle is van klei gemaak. Die eenkleurige geboue vorm ’n kontras met die pastelskakerings van die honderde nabygeleë soutpoele. Die gebied is ’n miernes van bedrywigheid—mans, vroue en kinders is almal druk besig.

’n Ongewone winningsproses

Terwyl ons van ons uitkykpunt af loop, verduidelik ons gids die ou soutwinningsproses wat die dorpenaars gebruik. “Daar is eintlik net twee soorte poele”, sê hy. “In die groter poele, wat ’n deursnee van omtrent twee meter het, word die soutryke water gegooi. Die kleineres is verdampingspoele. Die water van die 20 fonteine in die omgewing is reeds taamlik brak. Maar die hoofbron van die sout is nie die water nie, maar die grond, en dít is wat hierdie soutwerke uniek maak.” Presies hoe word die sout uit die grond gewin?

Ons sien hoe ’n man grond in ’n groot poel gooi, wat gevul is met water van die fontein. Hy trap die mengsel met sy voete, asof hy ’n wynpers trap. Wanneer hy tevrede is met sy werk, laat hy die souterige mengsel ’n paar ure lank staan sodat die modder kan afsak. Al om hom is daar groot poele wat tot oorlopens toe vol is met dieselfde modderige mengsel. Die inhoud van elkeen is ’n ander skakering van bruin—die poele verander van kleur wanneer die modder afsak.

Daar naby skep ’n ander man soutwater met ’n kalbas uit ’n poel, en hy gooi die mengsel in die kleiner poele. Mans behartig gewoonlik hierdie deel van die proses. Die mans is ook verantwoordelik vir die instandhouding van die poele. Party daarvan is natuurlike holtes in die grond terwyl ander uit die rots gegrawe is. Waar dit nie moontlik is om te grawe nie, maak die mans ’n ring van klei bo-op die rots. Hulle vorm die kleiwand met die hand en slaan dit dan met ’n stok totdat dit hard is. Hierdie poele moet elke jaar reggemaak of heeltemal oorgedoen word.

Watter rol speel die vroue? Hulle tel die swaar vragte op en maak seker dat daar altyd genoeg soutryke grond beskikbaar is. Hulle verwyder ook die soutkristalle van die verdampingspoele. Hulle maak die poele dan deeglik skoon ter voorbereiding vir die volgende vrag.

Intussen skarrel die kinders tussen die kleiner poele rond. Dit is hulle werk om die verdampingsproses te monitor. Terwyl die water uit die poele verdamp, vorm kristalle op die oppervlak. As hulle toelaat dat ’n soutkors vorm, sou dit verdere verdamping verhinder. Die kinders besprinkel die oppervlak dus met druppels water sodat die kors breek en die kristalle tot op die bodem van die poel afsak. Verdamping gaan voort totdat net die kosbare sout uiteindelik oorbly.

Waarom het die poele so ’n verskeidenheid pragtige kleure? Ons gids verduidelik: “Daar is basies drie soorte klei, of modder, in hierdie gebied, en elkeen gee die water ’n ander kleur. Daarbenewens verskil die kleur afhangende van die soutgehalte van die mengsel. Alge groei ook in party van die poele en kleur die water.” Ons let ook op dat die kleure van die poele verander namate die son se brandende strale uit ’n ander hoek weerkaats word.

Sout as geld

Terug op die dorp maak die vroue koeke van die klam, rou sout wat hulle dan in die skroeiende son laat droog word. Hulle suiwer nie die sout nie en gevolglik bly die koeke bruinerig. Ons let op dat die vroue ovaalvormige, ronde en driehoekige koeke maak. Een van die vroue verduidelik dat die ovaalvormige en ronde koeke verkoop word, terwyl die driehoekiges as geskenke opsygesit word.

Wie koop die sout? Nomades en southandelaars. Hulle reis deur Teguidda-n-Tessoumt en ruil voedsel en ander goedere vir sout. Die meeste van die sout sal op die markte in die groter dorpe op die rand van die woestyn verkoop word. Die rou sout van hierdie dorpie sal waarskynlik nie deur mense gebruik word nie. Dit sal eerder gebruik word om die dieet van mak diere aan te vul.

Op pad terug na ons voertuig sien ons ’n man wat die oorblywende klei uit ’n leë mengpoel grawe. Hy dra sy vrag na die stortplek en voeg sy klein bydrae by die mensgemaakte heuwels. Terwyl ons wegry, dink ons aan hoe hierdie heuwels getuig van die geslagte soutsoekers wat in Teguidda-n-Tessoumt gelewe, gewerk en gesterf het.—Bygedra.

[Lokteks op bladsy 22]

“Die hoofbron van die sout is nie die water nie, maar die grond, en dít is wat hierdie soutwerke uniek maak”

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SAHARA

NIGER

Agadez

Teguidda-n-Tessoumt

[Erkenning]

Based on NASA/Visible Earth imagery

[Prent op bladsy 23]

Kosbare sout word uit die klei van die Sahara gewin

[Erkenning]

© Victor Englebert

[Prent op bladsy 23]

Verdampingspoele van verskillende kleure

[Erkenning]

© Ioseba Egibar/age fotostock

[Prent op bladsy 23]

Soutkoeke word droog in die skroeiende son

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel