Die lewende planeet
DIE planeet Aarde is die tuiste van ’n ontsaglike hoeveelheid en verskeidenheid lewende organismes—moontlik etlike miljoene spesies. Baie van hierdie lewensvorme, wat in die grond, die lug en die water floreer, is te klein om met die blote oog gesien te word. Daar is byvoorbeeld al gevind dat net een gram grond 10 000 spesies bakterieë bevat, om nie eers te praat van die totale aantal mikrobes nie! Sommige spesies is tot drie kilometer onder die grond gevind!
Daar is ook volop lewe in die atmosfeer—en nie net voëls, vlermuise en insekte nie. Afhangende van die tyd van die jaar is dit ook vol stuifmeel sowel as ander spore, saadjies en—in sekere gebiede—duisende verskillende soorte mikrobes. “Dit beteken dat daar net so ’n groot verskeidenheid mikrobes in die lug is as in die grond”, sê die tydskrif Scientific American.
Die oseane bly egter grootliks ’n verborgenheid omdat wetenskaplikes dikwels duur tegnologie moet gebruik om die dieptes van die see te bestudeer. Selfs op koraalriwwe, wat redelik bereikbaar is en al deeglik bestudeer is, lewe daar moontlik miljoene spesies wat nog onbekend is.
Maar wat ons wel weet, is dat daar soveel lewe op die planeet Aarde is dat dit selfs die chemiese eienskappe van die planeet verander, veral die biosfeer—die deel van die aarde waarin daar lewe is. Byvoorbeeld, in die oseane help die kalsiumkarbonaat in die skulpe en koraal om die chemiese samestelling van die water te stabiliseer “op min of meer dieselfde manier as waarop ’n teensuurmiddel in die maag werk”, sê ’n verslag deur die Amerikaanse Nasionale Oseaan- en Atmosfeeradministrasie. Plante en fitoplankton—eensellige wiere wat naby die oppervlak van mere en oseane gevind word—help om die koolstofdioksied- en suurstofvlakke in die water en die lug te reguleer. En in die grond dien bakterieë en swamme as ontbinders wat anorganiese voedingstowwe vir plante voorsien. Ja, die aarde is al tereg die lewende planeet genoem.
Maar daar sou geen lewe op die aarde kon wees as dit nie was vir die uiters fyn instelling op ’n aantal gebiede, waarvan sommige eers in die 20ste eeu ten volle verstaan is nie. Dit sluit in:
1. Die aarde se ligging in die Melkwegstelsel en die sonnestelsel sowel as die planeet se wentelbaan, helling, rotasiesnelheid en maan
2. ’n Magneetveld en atmosfeer wat as dubbele beskerming dien
3. ’n Oorvloed water
4. Natuurlike kringlope wat die biosfeer vernuwe en reinig
Terwyl jy die volgende artikels oor hierdie onderwerpe lees, vra jou af: ‘Is die aarde se kenmerke die gevolg van blinde toeval of intelligente ontwerp? Indien laasgenoemde, wat was die Skepper se voorneme toe hy die aarde gevorm het?’ Die laaste artikel in hierdie reeks sal hierdie vraag bespreek.
[Venster op bladsy 3]
“ONS KAN NIE TOELAAT DAT GOD ’N VOET IN DIE DEUR KRY NIE”
Ondanks die bewyse dat die sigbare wêreld klaarblyklik te goed ontwerp is om die gevolg van ’n blote ongeluk te wees, weier baie wetenskaplikes om in ’n Skepper te glo. Dit is nie asof die wetenskap ateïste op die een of ander manier dwing om “’n materiële verklaring” van die wêreld te aanvaar nie, sê die evolusionis Richard C. Lewontin. Volgens hom is dit eerder dat hulle “reeds toegewyd is . . . aan materialisme”, vasbeslote om “’n stel begrippe [te skep] wat materiële verklarings voorsien”. “Daardie materialisme”, voeg hy by namens wetenskaplikes oor die algemeen, “is absoluut, want ons kan nie toelaat dat God ’n voet in die deur kry nie.”
Is dit verstandig om so dogmaties te wees, veral as daar oorweldigende getuienis is dat daar ’n Skepper is? Wat dink jy?—Romeine 1:20.