Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/09 bl. 24-26
  • ’n Groot wetenskaplike raaisel word ontrafel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Groot wetenskaplike raaisel word ontrafel
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Raaiselagtige voorwerp
  • Van naderby bekyk
  • Nuwe insig
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2007
  • ’n Unieke klok in Praag
    Ontwaak!—2000
  • Middeleeuse meesters van die sterrekunde
    Ontwaak!—2012
  • Waarom word ons oud en gaan ons dood?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 3/09 bl. 24-26

’n Groot wetenskaplike raaisel word ontrafel

TOE duikers in 1901 ’n skeepswrak naby die Griekse eiland Antikythira verken het, het hulle ’n skat gevind. Die wrak was dié van ’n antieke Romeinse handelskip wat onder andere marmer- en bronsstandbeelde asook silwermuntstukke vanaf Pergamum vervoer het. Die muntstukke het dit vir navorsers moontlik gemaak om vas te stel dat die skip, wat waarskynlik na Rome op pad was, tussen 85 en 60 v.G.J. gesink het.

Sedert die ontdekking word die artefakte in die Nasionale Argeologiese Museum in Atene, Griekeland, bewaar. Maar dit was nie die standbeelde of die muntstukke wat navorsers in 2005 na die museum gelok het nie. Hulle het spesifiek belanggestel in ’n bronstoestel wat oorspronklik in ’n houtkassie min of meer so groot soos ’n skoenboks was. Hierdie artefak, wat bekend staan as die Antikythera-meganisme, laat twyfel ontstaan oor aannames oor die wetenskaplike prestasies van vroeë beskawings. Die toestel is al beskryf as “die gesofistikeerdste meganisme wat uit die antieke wêreld bekend is”.

Presies wat is dit? En waarom is dit so belangrik?

’n Raaiselagtige voorwerp

Toe die kassie van die seebodem opgelig is, was die artefak daarbinne erg geroes en aangepak. Ná amper 2 000 jaar het dit soos ’n groenerige klip gelyk. Aangesien al die opgewondenheid oor die ontdekking om die standbeelde gedraai het, het hierdie raaiselagtige voorwerp aanvanklik min aandag geniet.

Toe ’n Griekse argeoloog die artefak in 1902 ondersoek het, was die meganisme in verskeie stukke. Daar was ratte van verskillende groottes, waarvan die driehoekige tande akkuraat uitgesny is. Die toestel het soos ’n horlosie gelyk, maar omdat daar geglo is dat uurwerk nie algemeen gebruik is tot ongeveer 700 jaar gelede nie, het dit nie na ’n moontlikheid gelyk nie.

’n Artikel oor die Antikythera-meganisme verduidelik dat “geskiedkundiges oor die algemeen nie glo dat [die Grieke van sowat 2 000 jaar gelede] wetenskaplik presiese ratte gehad het nie—ratte wat uit metaal gesny is en in komplekse ‘ratreekse’ gerangskik is wat beweging van een dryfas na ’n ander kan oordra”. Daar is nietemin gedink dat die toestel ’n soort astrolabium is, ’n instrument wat voorheen algemeen gebruik is om die breedtegraad vas te stel na gelang van die posisies van hemelliggame.

Baie het egter aangevoer dat die ratwerk eenvoudig te kompleks is en dat die voorwerp nie 2 000 jaar oud kon wees nie. Hulle het dus tot die slotsom gekom dat dit nie deel was van die antieke wrak nie. Aan die ander kant het een geleerde voorgestel dat die voorwerp dalk die legendariese Sfeer van Archimedes is. Hierdie toestel is in die eerste eeu v.G.J. deur Cicero beskryf as ’n soort voorstelling van die sonnestelsel—’n meganiese model wat die bewegings van die son, die maan en die vyf planete wat met die blote oog gesien kan word, in miniatuur kon weergee. Maar omdat daar nie enige duidelike bewyse hiervan was nie, het die astrolabium-teorie geseëvier.

Van naderby bekyk

In 1958 is die meganisme bestudeer deur Derek de Solla Price, wat as ’n fisikus opgelei is maar toe van studierigting verander het en ’n professor in die geskiedenis geword het. Hy het oortuig geword dat die toestel in staat was om te bepaal wanneer sterrekundige gebeure in die verlede plaasgevind het en in die toekoms sou plaasvind, soos die volgende volmaan. Hy het besef dat die inskripsies op die wyserplaat verwys het na kalenderindelings—dae, maande en die tekens van die diereriem. Hy het aangeneem dat dit roterende wysers moes gehad het wat die posisies van hemelliggame op verskillende tye aangedui het.

Price het afgelei dat die grootste rat gebruik is om die beweging van die son te verteenwoordig en dat een omwenteling daarvan ooreengekom het met een sonjaar. As ’n ander rat, wat aan die eerste rat verbind was, die beweging van die maan voorgestel het, sou die verhouding tussen die aantal tande op die twee afsonderlike ratte eertydse Griekse idees oor die maan se wentelbaan weerspieël het.

In 1971 het Price X-strale van die meganisme geneem. Die resultate het sy teorieë bevestig. Die toestel was ’n komplekse sterrekundige rekenaar. Price het ’n tekening gemaak van die meganisme se hipotetiese werking en het sy bevindings in 1974 gepubliseer. Hy het geskryf: “Daar is nêrens so ’n instrument wat behoue gebly het nie. . . . Sover ons kennis van die wetenskap en tegnologie in die Hellenistiese tydperk strek, behoort so ’n toestel nie te bestaan nie.” Op daardie tydstip het Price se werk nie die erkenning gekry wat dit toegekom het nie. Maar ander het sy navorsing voortgesit.

Nuwe insig

In 2005 het die span navorsers wat aan die begin genoem is, die meganisme ondersoek met behulp van ’n gesofistikeerde CT-skandeerder, wat hoëresolusie- driedimensionele X-straalbeelde voortbring. Hierdie ondersoek het nuwe insig gebied in hoe die meganisme gewerk het. Wanneer die gebruiker ’n knoppie gedraai het, het ten minste 30 ineensluitende ratte drie wyserplate voor- en agterop die kassie geaktiveer. Dit het die gebruiker in staat gestel om sterrekundige siklusse, insluitende verduisterings, te voorspel in verhouding tot die vierjaarsiklus van die Olimpiese en ander Pan-Hellenistiese spele. Hierdie spele is algemeen gebruik as ’n grondslag vir chronologie.

Waarom was sulke inligting so belangrik? Daar is ’n hele paar redes. Sterrekunde was vir eertydse bevolkings belangrik omdat die son en die maan die grondslag van kalenders was waarvolgens boere geweet het wanneer om te saai. Matrose het die sterre gebruik om te navigeer. Griekse sosiale instellings het verband gehou met sterrekundige verskynsels. En daar is nog ’n rede waarom sulke inligting waardevol was.

“Dit was vir die eertydse Babiloniërs baie belangrik om sonsverduisterings te voorspel, aangesien hulle gedink het dat dit slegte voortekens is”, skryf Martin Allen, van die Navorsingsprojek oor die Antikythera-meganisme. “Trouens, die meganisme kon as ’n politieke instrument beskou word, wat die heersende owerheid in staat gestel het om oor sy onderdane te heers. Daar is al selfs voorgestel dat een van die redes waarom ons so min omtrent hierdie meganismes weet, is omdat dit in militêre en politieke geheimhouding gehul was.”

Hoe dit ook al sy, die meganisme is ’n bewys dat eertydse Griekse sterrekunde en wiskunde, waarvan ’n groot deel op die ou tradisie van die Babiloniërs gebaseer is, baie verder gevorderd was as wat ons ons kan voorstel. Die tydskrif Nature stel dit so: “Die eertydse Antikythera-meganisme laat nie net twyfel ontstaan oor ons aannames omtrent die oordrag van tegnologie deur die eeue heen nie—dit gee ons nuwe insig in die geskiedenis self.”

[Venster op bladsy 26]

WIE HET DIT GEMAAK?

Die Antikythera-meganisme kon nie enig in sy soort gewees het nie. “Daar is geen bewyse van enige foute nie”, skryf Martin Allen. “Al die meganiese dele het ’n doel. Daar is nie ekstra gaatjies of stukkies metaalwerk wat te kenne gee dat die vervaardiger sy ontwerp aangepas het terwyl hy die meganisme gebou het nie. Dit lei tot die slotsom dat hy reeds ’n aantal meganismes voor dié een gebou het.” Wie het dit dan gemaak? En wat het van sy ander toestelle geword?

Die onlangsste ondersoeke van die meganisme het name van maande onthul op die wyserplaat wat verduisterings voorspel het. Die name is van Korintiese oorsprong. Dit laat navorsers tot die gevolgtrekking kom dat die toestel in ’n spesifieke kulturele konteks gemaak en gebruik is. Die wetenskaptydskrif Nature sê: “Die Korintiese kolonies van Noordwes-Griekeland of Sirakuse in Sisilië is die waarskynlikste kandidate—die laasgenoemde moontlikheid kan daarop dui dat dit al in die tyd van Archimedes gebruik is.”

Waarom het soortgelyke toestelle nie behoue gebly nie? “Brons is ’n kosbare en uiters herwinbare kommoditeit”, skryf Allen. “Gevolglik is antieke bronsartefakte besonder skaars. Om die waarheid te sê, baie van die belangrike geskiedkundige bronsartefakte is onderwater ontdek, waar mense wat dit kon herwin, dit nie in die hande kon kry nie.” “Ons het slegs hierdie [voorbeeld]”, sê een navorser, “omdat dit buite bereik was van die skroothandelaar.”

[Diagram/Prente op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Rekonstruksie van die Antikythera-meganisme se bewegende dele

1. Die voorste wyserplaat het die fases van die maan en die posisies van die son en maan aangedui. Dit het ook die dag en maand volgens die sonkalender en die beweging van die son (en die sigbare planete) in verhouding tot die sterrebeelde van die diereriem aangedui

2. Die boonste wyserplaat agterop het die verband tussen maanmaande, sonjare en die tye van die Pan-Hellenistiese Spele aangedui

3. Die onderste wyserplaat agterop het sons- en maansverduisterings voorspel

[Prente]

Vooraansig

Agteraansig

[Erkenning]

Albei foto’s: ©2008 Tony Freeth/Antikythera Mechanism Research Project (www.antikythera-mechanism.gr)

[Prent op bladsy 26]

Hoe die agterste buiteplaat moontlik gelyk het

[Erkenning]

©2008 Tony Freeth/Antikythera Mechanism Research Project (www.antikythera-mechanism.gr)

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Al die foto’s: ©2005 National Archaeological Museum/Antikythera Mechanism Research Project (www.antikythera-mechanism.gr)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel