Wie reageer op jou noodoproep?
Met die druk van ’n knoppie begin die flitsende noodligte van ons ambulans teen voertuie en geboue weerkaats. Die sirene se geloei bring verkeer en voetgangers tot stilstand, wat ons in staat stel om deur die verkeer te vleg in reaksie op ’n noodoproep.
EK IS al meer as 20 jaar lank ’n paramedikus wat nood- mediese sorg voorsien aan siek en beseerde mense voordat hulle by die hospitaal uitkom.a Elke werksdag hou tallose onbekende situasies in. Ek het voor situasies te staan gekom wat wissel van die alledaagse tot die buitengewone en waarvan die uitkoms enigiets van ’n gelukkige einde tot ’n onbeskryflike tragedies was.
Hulle noodsaaklike rol in die gemeenskap
Paramedici is ’n noodsaaklike deel van die gesondheidsorgstelsel in Kanada. Die vaardige wyse waarop hulle mediese sorg voorsien voordat iemand by ’n hospitaal aankom, kan ’n lewe red of ten minste die ernstige gevolge van party ongelukke en siektes beperk.b
In baie gebiede is paramedici 24 uur per dag, 365 dae per jaar, beskikbaar. Hulle werk dalk vir ’n munisipale, kommersiële of ’n hospitaal se mediese nooddiensagentskap. Party werk vir ’n ambulansdiens of ’n brandweerafdeling.
Hierdie spesiaal opgeleide mans en vroue spring aan die werk sekondes nadat hulle ’n noodoproep ontvang het. Dit kan enige oomblik gebeur, sonder enige waarskuwing. Kom ons kyk waarvoor ’n paramedikus gekwalifiseer is.
Opgelei om lewens te red
Hoewel paramediese opleiding en die terme wat gebruik word om dit te beskryf, in die verskillende provinsies in Kanada verskil, word dit oor die algemeen in vier vlakke geklassifiseer—noodsorgwerker, primêresorg-paramedikus, gevorderdesorg-verskaffer en kritiekesorg-verskaffer. Sertifisering om as ’n paramedikus te dien, word deur verskeie regeringsvlakke sowel as mediese owerhede vereis.
Hier in Kanada het basiese opleiding beteken dat ek baie ure in ’n klaskamer, in ’n hospitaal en in ’n ambulans moes deurbring. Ons het geleer hoe om lewensfunksies te monitor, suurstoftoevoer- en ventilasietoerusting te gebruik, kardiopulmonêre resussitasie (KPR) te doen asook om verbande, spalke en toestelle wat die ruggraat immobiliseer, te gebruik.
Ek het nog 300 uur van waardevolle kliniese opleiding in die ongevalleafdelings, intensiewesorgeenhede en kraamsale van etlike hospitale gekry. Die eerste bevalling waarmee ek gehelp het, was ’n onvergeetlike ondervinding—dit was asof ek deel was van ’n wonderwerk! Hierdie gebeurtenis en ander voorvalle het gehelp om my vir die volgende stap van my opleiding voor te berei, waarin ek meer as 300 uur se ondervinding van werklike situasies in ’n ambulans opgedoen het met die hulp en ondersteuning van twee ervare paramedici. Nadat ek geskrewe en praktiese eksamens geslaag het, is ek as ’n mediese noodsorgassistent gesertifiseer, wat nou as ’n primêresorg-paramedikus bekend staan.
Ek het ’n hele paar jaar lank in plattelandse sowel as stedelike gebiede gewerk. Ek het gou besef hoe waardevol my nuwe lewensreddende vaardighede is toe ’n konstruksiewerker met borspyn by die hospitaal se ongevalleafdeling ingestap het. Kort na sy aankoms het sy hart gaan staan. Ek het saam met dokters en verpleegsters gewerk wat KPR en defibrillasie toegepas en medisyne toegedien het. Binne minute het die pasiënt se hart weer begin klop en het hy op sy eie begin asemhaal. Hy is toe na die kritiekesorgeenheid (KSE) oorgeplaas. Die volgende dag is ek na die KSE gestuur, waar ’n dokter my aan ’n man voorgestel het wat in ’n bed gesit en met sy vrou gepraat het. Ek het hom eers herken toe hy sê: “Onthou jy my? Jy het gister my lewe gered!” Dit was ’n ongelooflike gevoel.
Vir die laaste deel van my opleiding moes ek onder andere saam met ’n dokter werk wat my op ’n 12 uur lange skof vergesel het om te kyk hoe ek na pasiënte omsien. Uiteindelik het ek die geskrewe en praktiese eksamens geslaag en is ek as ’n gevorderdesorg-paramedikus gesertifiseer.
Paramedici werk onder die gesag van ’n mediese direkteur, wat gewoonlik saam met ’n mediese advieskomitee werk om geskrewe behandelingsprosedures, of -planne, te ontwikkel. Paramedici baseer die mediese noodsorg wat hulle voorsien hierop of hulle werk saam met ’n gekose groep dokters deur van ’n direkte radio- of telefoonverbinding gebruik te maak. Om dié rede is paramedici al beskryf as die oë, ore en hande van ’n geneeskundige. Behandeling wat gegee word in ’n privaat huis, in openbare geboue of by ’n ongelukstoneel waar voertuie betrokke is, kan wissel van die toediening van suurstof, medikasie en defibrillasie tot intubasie en chirurgiese prosedures.—Sien die venster “Paramediese behandelingsmetodes” op bladsy 15.
Gevare en uitdagings
Gevare en uitdagings is ’n inherente deel van ’n paramedikus se daaglikse roetine. Hy werk in alle weersomstandighede en soms op plekke of in situasies wat onveilig is. Selfs om na ’n noodsituasie toe te ry, kan gevaarlik wees.
Blootstelling aan bloed, liggaamsvloeistowwe en aansteeklike siektes is ’n voortdurende gevaar. As beskerming dra ons persoonlike veiligheidstoerusting soos handskoene, maskers, ’n skermbril of gesigskerm en spesiale oorpakke of oorjasse wanneer dit nodig is.
Wanneer ons vir pasiënte sorg, kom ons dikwels met hulle familielede, hulle vriende of selfs vreemdelinge in aanraking, wat heftige of onvoorspelbare emosionele reaksies kan hê. Dit is tragies wanneer ’n man en vrou wat dekades saam deurgebring het, deur die dood geskei word. Dit is nie maklik om die oorlewende huweliksmaat daarvan in kennis te stel nie. Eenkeer moes ek ’n vrou inlig dat haar man gesterf het. Sy het gereageer deur my met die vuis te slaan en al gillend en huilend uit haar huis die straat in te hardloop. Ek het haar ingehaal, en sy het omgedraai, my gegryp, my vasgehou en ontroosbaar op my skouer begin huil.
Individue wat emosioneel versteurd of onder die invloed van drank of dwelms is, moet met empatie, takt en medelye behandel word. Mense in so ’n toestand kan onvoorspelbaar wees. Gedurende my loopbaan is ek al gebyt, op gespoeg en op ander maniere aangeval deur pasiënte wat hulleself nie kon beheer nie.
Die werk is ook fisies uitputtend, want dit vereis dikwels dat ’n mens swaar gewigte moet optel, soms in ’n baie ongemaklike posisie. Baie van die tyd moet ’n mens kniel en buk om na pasiënte om te sien. Werkverwante beserings is vir ons ’n werklikheid. Rug-, skouer- en kniebeserings is die algemeenste. Party beserings is so ernstig dat dit jou loopbaan kan beëindig. Daar word ook van ’n mens verwag om skofte te werk, en dit kan uitmergelend wees.
Om vir mense te sorg wat aan ’n dodelike siekte ly of ’n lewensgevaarlike besering opgedoen het, is verstandelik uitputtend en emosioneel stresvol. ’n Paramedikus moet kalm bly, goeie oordeel aan die dag lê en rasionele besluite neem in krisistye. Paramedici is ooggetuies van menselyding en tragedies. Hulle sien en sorg vir mense wat afgryslike fisiese beserings opgedoen het. Ek onthou nog goed ’n jong man wie se liggaam gedeeltelik vergruis is in ’n industriële ongeluk. Hy was skaars herkenbaar van sy borskas af ondertoe en het my en my kollega gesmeek om hom nie te laat doodgaan nie. Ongelukkig, ten spyte van ons beste pogings en dié van ’n span dokters en verpleegsters, het hy minder as ’n uur later gesterf.
Party tonele is werklik hartverskeurend. Ons het vroeg een oggend ’n oproep gekry oor ’n brand by ’n huis. ’n Man het pas van die werk af gekom toe hy sy vrou en driejarige dogter uit die brandende huis sien vlug. Drie ander kinders, tussen die ouderdomme van vier maande en vyf jaar, en hulle oupa was in die huis vasgekeer totdat brandweermanne hulle daaruit kon haal. Ek was op een van etlike spanne paramedici wat vergeefs gewerk het om hulle lewens te red.
Dalk wonder jy op hierdie stadium waarom enigiemand ’n paramedikus sou wou wees. Ek het my al dieselfde vraag afgevra. Ek word herinner aan Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan wat gewilliglik van homself gegee het om ’n beseerde man te help (Lukas 10:30-37). As paramedikus moet ’n mens fisies en emosioneel van jouself gee om ander te help. Dit is vir my bevredigend om ’n paramedikus te wees, maar ek sien daarna uit om eendag sonder werk te wees. Waarom werkloos? Omdat daar binnekort, soos God belowe het, niemand sal wees wat sal sê: “Ek is siek” nie. Wat meer is, ‘die dood en pyn sal daar nie meer wees nie’ (Jesaja 33:24; Openbaring 21:4).—Soos vertel deur ’n paramedikus in Kanada.
[Voetnote]
a Vir meer inligting oor die moontlike gewetensbesware van ’n Christen wat as ’n paramedikus werk, sien Die Wagtoring van 15 April 1999, bladsy 29, en van 1 Julie 1975, bladsye 302-304.
b In sommige lande beman paramedici nie ambulanse nie. Daar is dit die ambulansbestuurder se verantwoordelikheid om die pasiënt so gou moontlik by die hospitaal te kry.
[Lokteks op bladsy 13]
Ek het hom eers herken toe hy sê: “Onthou jy my? Jy het gister my lewe gered!” Dit was ’n ongelooflike gevoel
[Lokteks op bladsy 14]
Gedurende my loopbaan is ek al gebyt, op gespoeg en op ander maniere aangeval deur pasiënte wat hulleself nie kon beheer nie
[Venster/Prente op bladsy 15]
PARAMEDIESE BEHANDELINGSMETODES
’n Paramedikus word opgelei om te verseker dat ’n pasiënt ’n oop lugweg het sodat lug die longe kan binnegaan. Dit vereis dalk intubasie, wat behels dat ’n buigbare endotrageale plastiekbuis deur die mond en stembande in die tragea geplaas word met behulp van ’n laringoskoop. Of dalk moet ’n krikotireotomie gedoen word, waartydens ’n naald, ’n klein kateter, ’n lei-draad en ’n skalpel gebruik word om ’n groter kateter deur ’n pasiënt se nek direk in die tragea in te sit. ’n Long wat platgeval het, ’n dodelike komplikasie, word behandel deur ’n naald en kateter deur die borskaswand te sit.
’n Ander vaardigheid is binneaarse behandeling. ’n Naald word gebruik om ’n kateter in ’n aar in te sit. So kan oplossings soos ’n gewone soutoplossing toegedien word. Of ’n ander toestel kan gebruik word om vloeistof direk in die beenmurg in te spuit.
’n Paramedikus sal dalk ’n hartmonitor/defibrillator gebruik om ’n pasiënt se elektrokardiogram te monitor. Die toestel kan ook gebruik word vir defibrillasie (die toediening van ’n elektriese skok wat normale hartritme en -funksie herstel wanneer die hart gaan staan het) of vir kardioversie (die toediening van ’n gesinchroniseerde elektriese skok wat ’n gevaarlik vinnige hartklop kan vertraag). Die monitor/defibrillator kan ook as ’n tydelike eksterne pasaangeër gebruik word om ’n hart wat te stadig klop, vinniger te laat klop.
[Erkenning]
Al die foto’s: Taken by courtesy of City of Toronto EMS
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Taken by courtesy of City of Toronto EMS