Ons beskou die wêreld
◼ In die 35 jaar vanaf 1970 tot 2005 het ’n kwart van gewerwelde spesies—visse, amfibieë, reptiele, voëls en soogdiere—uitgesterf.—SÜDDEUTSCHE ZEITUNG, DUITSLAND.
◼ In reaksie op ’n inflasiekoers van 2,2 miljoen persent het Zimbabwe in Augustus 2008 tien nulle van sy banknote geskrap. Die waarde van ’n $10-miljard-noot is dus vasgestel op een “zimdollar”.—AGENCE FRANCE PRESSE, ZIMBABWE.
◼ “In 2005 is meer as 12 000 vuurwapenmoorde in die Verenigde State aangemeld. Maar die aantal mense wat in ’n skietaanval gewond is en dit oorleef het, is baie groter—in 2006 is byna 53 000 in ongevalleafdelings behandel.”—THE SEATTLE TIMES, VSA.
“Kersvreugde”?
Ongeveer 20 persent van egskeidingsake in Australië word direk ná Kerstyd en Nuwejaar aanhangig gemaak, sê die Sunday Telegraph, ’n koerant in Sydney. “Daar is baie huweliksmaats wat baklei of uitmekaargaan en dan voor ons deur staan sodra ons kantoor weer oopmaak”, sê Barry Frakes, ’n prokureur wat hoofsaaklik egskeidingsake behartig. “Mense verwag dat Kersfees volmaak sal wees, soos dit op TV-programme en in advertensies uitgebeeld word.” Wanneer hulle lewens nie aan hierdie “stereotipe” voldoen nie, voeg hy by, wil hulle ’n egskeiding hê. Maar Angela Conway, die woordvoerster vir die Australiese Gesinsvereniging, sê: “Dit is selde dat ’n egskeiding langtermynprobleme oplos of die vrede en geluk bring wat mense verwag.” Sy beveel aan: “Dit is die moeite werd om in jou huwelik te bly en te probeer om dit te laat werk.”
“Bevallingshuise” red lewens
Peru probeer hard om die sterftesyfer van moeders wat geboorte gee, af te bring. In die afgelope dekade is 390 “bevallingshuise” in Peru geopen om moeders in die Andes aan te moedig om professionele mediese sorg by ’n kliniek te kry en nie by die huis geboorte te gee nie. ’n Swanger vrou en haar gesin kan by een van hierdie huise—net langs ’n kliniek—bly totdat sy geboorte moet gee. Een van die dinge wat hierdie klinieke aantreklik maak, sê ’n Reuters-nuusberig uit Cuzco, is dat hulle terselfdertyd gebruik maak van “moderne geneeskunde en inheemse gebruike”, soos om “in ’n staande posisie geboorte te gee”, wat “gewoonlik die bevallingstyd verkort . . . en die moeder in staat stel om beter te sien wat tydens die geboorte plaasvind, as wanneer sy lê”.
Altyd laat
Volgens ’n verslag wat die Amerikaanse Departement van Vervoer in 2008 uitgebring het, kom sowat 30 persent van alle diensvlugte in die Verenigde State meer as 15 minute laat by hulle bestemming aan. Een van die ergste gevalle was ’n vlug van Texas na Kalifornië, wat 100 persent van die tyd laat by sy bestemming aangekom het.