Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/09 bl. 19-21
  • Flaters wat gelei het tot wêreldoorlog

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Flaters wat gelei het tot wêreldoorlog
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Twee skote wat die wêreld verander het
  • ’n Tyd ryp vir oorlog
  • Die sneeubaleffek begin
  • “Die grootste diplomatieke ramp van ons tyd”
  • Sarajevo—van 1914 tot 1994
    Ontwaak!—1994
  • 1914—Dit het jou lewe verander
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die oorlog wat die wêreld verander het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Die mededingende konings in die 20ste eeu
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 8/09 bl. 19-21

Flaters wat gelei het tot wêreldoorlog

Kan ’n derde wêreldoorlog per ongeluk begin? Kan staatsmanne en hulle militêre raadgewers die risiko’s ernstig onderskat en veroorsaak dat miljoene hulle lewe verloor?

ONS weet nie. Maar wat ons wel weet, is dat dit presies is wat al gebeur het. ’n Eeu gelede het Europese leiers hulle nasies gedompel in die Groot Oorlog, wat later die Eerste Wêreldoorlog genoem is, onbewus van hoeveel afgryse dit tot gevolg sou hê. “Ons het in ’n oorlog ingestrompel”, het David Lloyd George, Britse eerste minister van 1916-1922, erken. Kyk na ’n paar van die sleutelgebeurtenisse wat tot daardie gruwelike slagting gelei het.

“Nie een van die staatsmanne wou ’n grootskaalse oorlog hê nie”, het die geskiedkundige A.J.P. Taylor geskryf, “maar hulle wou dreig en hulle wou wen.” Die tsaar van Rusland het gevoel dat alles moontlik gedoen moet word ter wille van vrede. Hy wou nie vir ’n bloedige slagting verantwoordelik wees nie. Maar op die een of ander manier het dinge handuit geruk nadat twee noodlottige skote om ongeveer 11:15 op 28 Junie 1914 afgevuur is.

Twee skote wat die wêreld verander het

Teen 1914 het jare lange onenigheid tussen Europese magte groot spanning veroorsaak en twee vyandige bondgenootskappe tot gevolg gehad: die Drievoudige Verbond tussen Oostenryk-Hongarye, Italië en Duitsland en die Drievoudige Entente tussen Brittanje, Frankryk en Rusland. Boonop het hierdie nasies politieke en ekonomiese bande met ’n hele paar ander lande gehad, insluitende dié in die Balkan.

Op daardie stadium was die gebied wat die Balkan genoem word, ’n polities plofbare streek wat voortdurend in verset was teen die oorheersing van die groter moondhede, en daar was oral geheime genootskappe wat planne beraam het om onafhanklikheid te probeer verkry. ’n Groepie jongmense het ’n komplot gesmee om die Oostenrykse aartshertog Frans Ferdinand op 28 Junie gedurende sy besoek aan Sarajevo, die hoofstad van Bosnië, te vermoor.a Hulle taak is vergemaklik deur die feit dat daar min polisiemanne teenwoordig was. Maar dié wat die sluipmoord sou pleeg, het baie min opleiding gehad. Een van die jongmense het ’n klein bom gegooi, maar sy teiken gemis, en ander het nie opgetree toe hulle moes nie. Gavrilo Princip was die een samesweerder wat in sy doel geslaag het—en dit bloot per ongeluk. Hoe so?

Toe Princip die aartshertog sien verbyry en besef dat hy nie deur die bom beseer is nie, het hy by die motor probeer uitkom, maar tevergeefs. Mismoedig het hy na ’n kafee oorkant die pad gestap. Intussen het die aartshertog, wat kwaad was oor die bomaanval, besluit om ’n ander roete te neem. Maar sy bestuurder, wat onbewus was dat hulle planne verander het, het in die verkeerde rigting gery en moes die motor omdraai. Op presies daardie oomblik het Princip uit die kafee gekom en die aartshertog reg voor hom gesien—hy was in sy oop motor skaars drie meter van hom af. Princip het nader aan die motor getree en die aartshertog en sy vrou met twee skote doodgeskiet.b Princip, ’n naïewe Serwiese nasionalis, het waarskynlik geen benul gehad van die sneeubaleffek wat hy op daardie oomblik aan die gang gesit het nie. Nogtans kan hy nie alleen verantwoordelik gehou word vir die gruwels wat gevolg het nie.

’n Tyd ryp vir oorlog

Voor 1914 het die meeste mense in Europa ’n romantiese idee van oorlog gehad. Hulle het dit beskou as voordelig, eerbaar en glorieryk—ten spyte van die feit dat hulle gesê het dat hulle Christene is. Party staatsmanne het selfs geglo dat oorlog nasionale eenheid sou smee en die volk nuwe krag sou gee! Boonop het sekere generaals hulle leiers verseker dat ’n vinnige en beslissende oorwinning behaal kon word. “Ons sal Frankryk binne twee weke verslaan”, het ’n Duitse generaal gespog. Niemand het verwag dat miljoene manne jare lank in loopgrawe sou veg nie.

Wat meer is, in die jare voor die oorlog “het hipernasionalisme soos ’n vloedgolf oor Europa gespoel”, sê die boek Cooperation Under Anarchy. “Die skole, die universiteite, die pers en die politici het almal bygedra tot hierdie orgie van miteskepping en selfverheerliking.”

Godsdiensleiers het min gedoen om hierdie gevaarlike gesindheid teë te werk. Die geskiedskrywer Paul Johnson sê: “Aan die een kant was daar Protestantse Duitsland, Katolieke Oostenryk, Ortodokse Bulgarye en Moslem-Turkye. Aan die ander kant was daar Protestantse Brittanje, Katolieke Frankryk en Italië en Ortodokse Rusland.” Hy voeg by dat die meeste geestelikes “die Christelike godsdiens met patriotisme gelykgestel het. Christensoldate uit alle kerke is aangespoor om mekaar dood te maak in die naam van hulle Redder.” Selfs priesters en nonne is vir diens opgeroep, en duisende van hulle het later gesneuwel.

Die Europese bondgenootskappe, wat veronderstel was om ’n grootskaalse oorlog te verhoed, het dalk daartoe bygedra. Hoe? “Die veiligheid van die Europese moondhede het ten nouste saamgehang”, sê Cooperation Under Anarchy. “Elke moondheid het gedink dat sy eie veiligheid afgehang het van dié van sy bondgenote en het dus genoodsaak gevoel om sy bondgenote te hulp te snel—selfs wanneer hierdie bondgenote hulle aanvallers uitgetart het.”

Nog ’n gevaarlike element was Duitsland se Schlieffen-plan, vernoem na ’n voormalige hoof van Duitsland se generale staf, generaal Alfred von Schlieffen. Die plan, wat behels het dat hulle vinnig eerste moes aanval, is opgestel omdat hulle aangeneem het dat Duitsland teen Frankryk sowel as Rusland sou moes veg. Die oogmerk was dus ’n vinnige oorwinning oor Frankryk terwyl Rusland stadig mobiliseer, en dan ’n aanval op Rusland. “Toe die [Schlieffen]-plan eers in werking getree het, het die stelsel van militêre bondgenootskappe so te sê verseker dat die hele Europa in oorlog gedompel word”, sê die World Book Encyclopedia.

Die sneeubaleffek begin

Hoewel ’n amptelike ondersoek geen bewyse opgelewer het dat die Serwiese regering by die sluipmoord op die aartshertog betrokke was nie, was Oostenryk vasbeslote om die Slawiese onrus in die ryk eens en vir altyd te beëindig. Oostenryk was gretig “om Serwië ’n les te leer”, sê die geskiedskrywer J.M. Roberts.

In ’n poging om die spanning te verlig het Nicholas Hartwig—die Russiese ambassadeur in die Serwiese hoofstad—’n moontlike kompromis probeer bewerkstellig. Maar gedurende ’n vergadering met die Oostenrykse gesantskap het hy ’n hartaanval gekry en gesterf. Uiteindelik het Oostenryk op 23 Julie vir Serwië ’n lys eise gestuur wat op ’n ultimatum neergekom het. Omdat Serwië nie al die eise kon aanvaar nie, het Oostenryk onmiddellik diplomatieke betrekkinge beëindig. Op daardie kritieke tydstip het diplomasie verbrokkel.

’n Paar pogings is nogtans aangewend om oorlog te verhoed. Byvoorbeeld, die Verenigde Koninkryk het voorgestel dat ’n internasionale konferensie gehou word, en Duitsland se keiser het die tsaar van Rusland versoek om nie sy leër te mobiliseer nie. Maar dinge het handuit geruk. “Staatsmanne, generaals en hele nasies was oorweldig deur die blote omvang van die gebeure waarvoor hulle te staan gekom het,” sê die boek The Enterprise of War.

Die Oostenrykse keiser, wat verseker was van Duitsland se steun, het op 28 Julie teen Serwië oorlog verklaar. Rusland het Serwië gesteun en het Oostenryk probeer afskrik deur aan te kondig dat ongeveer ’n miljoen Russiese troepe langs die Oostenrykse grens ontplooi sou word. Omdat dit Rusland se grens met Duitsland sonder verdediging sou laat, het die Russiese tsaar teësinnig ’n algehele mobilisasie beveel.

Die tsaar het die keiser probeer verseker dat hy nie Duitsland wou binneval nie. Nogtans het die Russiese mobilisasie Duitsland laat besluit om sy oorlogsplanne vinnig uit te voer, en op 31 Julie het Duitsland die Schlieffen-krygsplan begin implementeer deur op 1 Augustus teen Rusland oorlog te verklaar en twee dae later teen Frankryk. Omdat Duitsland se oorlogsplanne ingesluit het dat hulle deur België marsjeer, het Brittanje Duitsland gewaarsku dat hulle teen Duitsland oorlog sou verklaar as hulle België se neutraliteit skend. Duitse troepe het op 4 Augustus die Belgiese grens oorgesteek. Die koeël was deur die kerk.

“Die grootste diplomatieke ramp van ons tyd”

“Brittanje se oorlogsverklaring het die grootste diplomatieke ramp van ons tyd beseël”, het die geskiedkundige Norman Davies geskryf. Mede-geskiedkundige Edmond Taylor het geskryf dat ná Oostenryk se oorlogsverklaring op 28 Julie “volslae verwarring ’n al hoe groter rol gespeel het in die ontwikkeling van [oorlog]. Te veel het te vinnig en op te veel plekke gebeur. . . . Die skerpste en ordelikste verstande kon nie meer die onverwerkte data wat hulle ontvang het, ontleed en verwerk nie.”

Meer as 13 miljoen soldate en burgers het die hoogste prys vir hierdie rampspoedige “verwarring” betaal. Optimisme oor die toekoms en die menslike natuur het ook ’n doodhou gekry toe sogenaamd beskaafde mense wat met kragtige, massageproduseerde, pasontwikkelde wapens toegerus was, mekaar op ’n ongekende skaal afgemaai het. Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie.—Sien die venster “Wêreldoorlog—’n Teken van die tye?”

[Voetnote]

a Bosnië is nou deel van Bosnië en Herzegowina.

b Princip het die aartshertog se vrou per ongeluk doodgeskiet. Hy wou die goewerneur van Bosnië, generaal Potiorek, wat saam met die koninklike egpaar in die motor was, skiet, maar om die een of ander rede het hy die verkeerde persoon getref.

[Venster/Prent op bladsy 20]

WÊRELDOORLOG—’N TEKEN VAN DIE TYE?

Die Bybel het voorspel dat oorloë ’n deel sou wees van die teken wat die laaste dae van die teenswoordige goddelose wêreld sou kenmerk (Matteus 24:3, 7; Openbaring 6:4). Die vervulling van hierdie teken in ons dag toon dat die tyd vinnig nader kom wanneer God se Koninkryksregering volle beheer oor die aarde sal oorneem.—Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.

Daarbenewens sal God se Koninkryk ’n onsigbare mag agter wêreldaangeleenthede verwyder—bose geeste onder die leiding van Satan die Duiwel. “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, sê 1 Johannes 5:19. Satan se bose invloed het bygedra tot baie van die mensdom se probleme, ongetwyfeld ook die rampspoedige gebeure wat tot die Eerste Wêreldoorlog gelei het.—Openbaring 12:9-12.c

[Voetnoot]

c Verdere inligting oor die laaste dae en hierdie bose geeste kan gevind word in die Bybelstudiehulp Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Erkenning]

U.S. National Archives photo

[Prent op bladsy 19]

Die sluipmoord op aartshertog Ferdinand

[Erkenning]

© Mary Evans Picture Library

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel