Toe die son rooi geword het
GEDURENDE die somer van 1783 het ’n eienaardige, droë newel etlike maande lank oor groot dele van die Noordelike Halfrond gehang. Die son het bloedrooi geword, plantegroei het verwelk en tallose mense het gesterf. Trouens, na raming het die newel in Frankryk en Engeland alleen tienduisende lewens geëis. Baie mense het siek geword—blykbaar soveel dat boere gesukkel het om werkers te vind om die oes in te samel wat nie beskadig is nie.
Die newel is al “een van die mees buitengewone meteorologiese en geofisiese verskynsels van die afgelope millennium” genoem. Maar destyds het slegs die mense van Ysland geweet wat die oorsaak daarvan is—’n plaaslike vulkaniese uitbarsting wat volgens deskundiges net een keer elke paar eeue plaasvind. Ysland is natuurlik die swaarste getref—’n geskatte 20 persent van die bevolking het gesterf.
Die uitbarsting van die Lakispleet
Op 8 Junie 1783 het die bewoners van die Síða-gebied in Suid-Ysland die eerste onheilspellende tekens gesien van wat bekend geword het as die uitbarsting van die Lakispleet. Omdat die gebeurtenis deur waarnemers in ’n hele paar lande op skrif gestel is, kon navorsers ’n kaart saamstel wat aandui hoe die vulkaniese wolk dag ná dag beweeg het. Een van die ooggetuies in Ysland, Jón Steingrímsson, het berig dat hy “’n swart sluier” gesien het wat uit die noorde naderkom. Die hemel bo hom het duister geword, en die grond is met fyn as bedek. Toe het aardbewings en skuddings begin plaasvind. Hy het gesê dat daar ’n week later “’n skrikwekkende stroom vuur uit die Skaftá-rivierkloof gevloei het”, wat alles in sy pad verswelg het. Steingrímsson het agt maande lank verslag gehou van die gebeurtenis.
Tydens ’n verskynsel wat onder vakkundiges bekend staan as ’n kontinentale basaltvloeduitbarsting, het ’n spleet van 25 kilometer in die aardkors 15 kubieke kilometer lawa uitgespu, meer as enige ander vulkaniese uitbarsting op rekord! Vlammende fonteine van gesmelte rots het honderde meters in die lug opgespuit, en lawa uit die spleet het sowat 80 kilometer ver gevloei, 580 vierkante kilometer bedek en die bedding van die Skaftá-rivier gevul.
Gedurende die volgende jaar het as en giftige chemikalieë wat op Ysland se gras beland het, die dood van meer as 50 persent van die beeste en omtrent 80 persent van die perde en skape veroorsaak. Hongersnood was wydverspreid. Die Laki-spleet het ook ongeveer 122 miljoen ton swaeldioksied in die lug vrygestel, waar dit met waterdamp gereageer het om 200 miljoen ton aërosol met ’n hoë suurgehalte te vorm.a
Verreikende gevolge
Daardie somer het winde die giftige lug oor groot afstande versprei. In Brittanje en Frankryk het mense ’n “vreemde, rookagtige newel” beskryf wat nie vergelyk kon word met enigiets in menseheugenis nie. Hierdie onwelriekende en swaelagtige newel het asemhalingskwale, disenterie, hoofpyn, seer oë, seerkeel en ander probleme veroorsaak. Die digte wolk van swaeldioksied tesame met swaelsuur het die lewens van jonk en oud geëis.
Volgens ’n berig uit Duitsland het die giftige wolk in een nag die blare aan die bome al langs die oewers van die Eemsrivier laat doodgaan. In Engeland het groente verdor en blare doodgegaan, asof dit verskroei is. Daar was soortgelyke berigte uit Frankryk, Hongarye, Italië, Nederland, Roemenië, Skandinawië en Slowakye. Trouens, die chemiese newel kon tot in Portugal, Tunisië, Sirië, Rusland, Wes-China en Newfoundland gesien word.
Daar is aanduidings dat die temperature ook beïnvloed is toe die ernstig besoedelde lug die son se strale gekeer het. In 1784 was die temperatuur van die Europese vasteland omtrent twee grade Celsius koeler as die gemiddelde temperatuur daar gedurende die tweede helfte van die 18de eeu. Ysland was byna vyf grade koeler. In Noord-Amerika was die winter van 1783/1784 so koud dat ys na bewering “in die Mississippi afgedryf het . . . tot in die Golf van Mexiko”.
Party geleerdes glo dat hongersnood wat deur die Laki-uitbarsting veroorsaak is, ’n moontlike rede is waarom die Kauwerak-volk, ’n Innuïet-groep in die noordwestelike deel van Alaska, byna uitgesterf het. Uit bome se groeiringe kan afgelei word dat die somer van 1783 Alaska se koudste somer in meer as 400 jaar was. Trouens, volgens ’n mondelinge oorlewering van die Kauwerak was daar ’n jaar toe die warm seisoen in Junie geëindig het, gevolg deur ysige koue en hongersnood.
Laki en die moderne wêreld
Die natuurramp van 1783 is byna vergete, deels omdat dit lank gelede gebeur het, maar ook omdat die meeste mense wat dit beleef het, nie geweet het wat die oorsaak daarvan was nie. In Ysland word die Laki-uitbarsting egter onthou as die grootste natuurramp in die land se geskiedenis.
Party het die ramp as ’n straf van God beskou. Maar die Bybel ondersteun nie hierdie siening nie (Jakobus 1:13). God tree nie blindelings op teenoor die goeies en die slegtes nie, want “al sy weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4). Geregtigheid sal in die toekoms op ’n uitsonderlike wyse geopenbaar word wanneer God in menseaangeleenthede ingryp. Die Bybel sê dat dit sy voorneme is om alle oorsake van dood en lyding uit te wis, insluitende natuurrampe.—Jesaja 25:8; Openbaring 21:3, 4.
[Voetnoot]
a Swaeldioksied is ook vandag ’n problematiese lugbesoedelende stof, wat suurreën veroorsaak. Die gas is ’n produk van die verbranding van fossielbrandstowwe, soos steenkool, gas en petroleum.
[Prent op bladsy 14, 15]
Lugfoto van die omgewing van die Laki-spleet
[Prent op bladsy 14, 15]
’n Voorbeeld van ’n gloeiende lawafontein
[Prent op bladsy 15]
Satellietfoto van Ysland
[Foto-erkennings op bladsy 14]
Lawafontein: © Tom Pfeiffer; lugfoto: U.S. Geological Survey; satellietfoto: Jacques Descloitres, MODIS Rapid Response Team, NASA/GSFC