Van SS-offisier tot kneg van die ware God
Soos vertel deur Gottlieb Bernhardt
Ek was ’n offisier in die Duitse SS, Hitler se keurwag, by die Wewelsburg-kasteel. In April 1945 het ek ’n opdrag ontvang om gevangenes by ’n nabygeleë konsentrasiekamp tereg te stel. Hulle was Jehovah se Getuies. Die SS het blinde gehoorsaamheid aan gesag geëis. Dit het vir my ’n morele dilemma geskep. Kom ek verduidelik waarom.
EK IS in 1922 gebore in ’n dorpie naby die Ryn in Duitsland. Hoewel die gebied streng Rooms-Katoliek was, het ons gesin aan ’n Piëtistiese groep behoort, ’n godsdiensbeweging wat in die 17de eeu ontstaan het. In 1933, toe ek 11 jaar oud was, het Hitler in Duitsland aan bewind gekom. Omdat ek op akademiese gebied sowel as in sport uitgeblink het, is ek ’n paar jaar later gekies om ’n akademie naby Marienburg, nou Malbork, in Pole, by te woon. Daar, honderde kilometers van die huis af, is ek in nasionaal-sosialistiese, of Nazi-, ideologie gedompel. Die studente is dinge geleer soos eer, vlyt, lojaliteit, gehoorsaamheid, pligsgevoel en ’n heilige respek vir ons Duitse erfenis.
Die Tweede Wêreldoorlog en die SS
Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, het ek aangesluit by die Leibstandarte SS Adolf Hitler, ’n keurkorps onder Hitler se persoonlike bevel. Die eenheid het lyfwagte vir regeringsamptenare voorsien en is vir spesiale militêre operasies gebruik. Ek het gevegte gesien in België, Frankryk, Nederland, Roemenië, Bulgarye en Griekeland. Terwyl ek in Bulgarye was, het ek ’n diens bygewoon wat deur ’n kapelaan gehou is. ‘Hou die vyand dieselfde soort dienste?’ het ek gewonder. Ek het my ook afgevra: ‘Seën God oorlog? Kies hy kant?’
Later is ek gekies om die Junkerschule by te woon, ’n akademie vir jong mans wat bestem was om senior militêre poste te beklee. Daarna is ek by ’n eenheid ingedeel wat die Ryk se hoofkwartier in Berlyn bewaak het, waar ek eenkeer gesien het hoe Hitler in die openbaar op ’n hooggeplaaste politikus skreeu. ‘Dit is skandelik’, het ek gedink. Maar ek het nie gewaag om dit hardop te sê nie!
In Berlyn het ek Inge ontmoet, wat ook by die hoofkwartier gewerk het. Net voordat ons sou trou, is my eenheid skielik na die Russiese front gevlieg—sonder behoorlike winterklere! Ons was geskok oor die situasie, want gedurende die winter van 1941/1942 het die temperatuur tot onder minus 30 grade Celsius gedaal. Daar het ek my tweede Ysterkruis verwerf. Later, nadat ek ernstig gewond is, is ek na Duitsland teruggevlieg. Ek en Inge is in 1943 getroud.
Hierna is ek na Hitler se Obersalzberg-hoofkwartier in die berge van Beiere gestuur. Heinrich Himmler, die hoof van die SS, was ook daar, en hy het gereël dat ek deur sy persoonlike masseur en dokter, Felix Kersten, behandel word. Later het ek gehoor dat Kersten ’n landgoed genaamd Hartzwalde, naby Berlyn, besit. Teen die einde van die oorlog het hy Himmler gevra om Jehovah se Getuies wat in ’n nabygeleë kamp was, toe te laat om op sy landgoed te gaan werk. Himmler het ingestem, en Kersten het die Getuies met respek behandel. ’n Getuie wat in Swede vir Kersten gewerk het, het altyd ’n eksemplaar van Die Wagtoring in Kersten se tas gesit vir die Getuies in Duitsland.a
Ek kom met Jehovah se Getuies in aanraking
Laat in 1944 het Himmler my as die persoonlike adjudant van ’n SS-generaal aangestel wat die bevelvoerder was van die Wewelsburg-kasteel, ’n 400 jaar oue vesting naby die stad Paderborn. Himmler was van plan om Wewelsburg in ’n kultussentrum vir SS-ideologie te omskep. Naby die vesting was daar ’n klein konsentrasiekamp met die naam Niederhagen, waar daar ’n spesiale groep gevangenes was—Jehovah se Getuies, wat ook Bybelstudente genoem is.
’n Gevangene met die naam Ernst Specht het etlike kere my beserings kom behandel. “Goeiemôre, Meneer”, het hy gewoonlik gesê.
“Waarom sê jy nie ‘Heil Hitler!’ nie?” het ek eenkeer gevra.
Hy het taktvol geantwoord: “Is u as ’n Christen grootgemaak?”
“Ja”, het ek gesê. “Ek het as ’n Piëtis grootgeword.”
“Dan”, het hy verder gesê, “sal u weet dat die Bybel slegs deur een persoon, Jesus Christus, redding, of heil, belowe. Daarom kan ek nie ‘Heil Hitler!’ sê nie.”
Ek was verbaas en beïndruk en het gevra: “Waarom is jy hier?”
“Ek is ’n Bybelstudent”, het hy gesê.
Gesprekke met Ernst en ’n ander Getuie, Erich Nikolaizig, wat as ’n haarkapper gewerk het, het my hart geraak. Maar sulke besprekings was verbode, en my bevelvoerende offisier het my beveel om dit te staak. Ek het nietemin gemeen dat daar geen oorlog sou gewees het as almal in Duitsland—’n sogenaamde Christenland met miljoene kerklidmate—hulle soos die Getuies gedra het nie. ‘’n Mens behoort hulle te bewonder, nie te vervolg nie’, het ek gedink.
Gedurende hierdie tyd het ’n ontstelde weduwee gebel om vervoer te vra vir haar seun, wie se blindederm dringend verwyder moes word. Ek het onmiddellik gereël dat vervoer voorsien word, maar my bevelvoerende offisier het dit verbied. Waarom? Haar man is tereggestel as lid van ’n groep wat Hitler in Julie 1944 probeer vermoor het. Die seun het gesterf, en ek kon niks daaromtrent doen nie. Hierdie voorval pla my gewete tot vandag toe.
Hoewel ek maar in my vroeë 20’s was, het ek die lewe begin sien soos dit werklik is—nie soos dit in Nazi-propaganda voorgestel is nie. Terselfdertyd het my bewondering vir Jehovah se Getuies en hulle leringe toegeneem. En dít het tot die mees dramatiese besluit van my lewe gelei.
In April 1945 was die Geallieerde troepe in aantog, en my bevelvoerder het uit Wewelsburg gevlug. Toe het ’n eenheid opgedaag met bevele van Himmler om die vesting te vernietig en die gevangenes dood te maak. Die bevelvoerder van die nabygeleë konsentrasiekamp het vir my ’n lys gegee van gevangenes wat tereggestel moes word—almal Getuies. Waarom? Hulle het na bewering geweet waar kunsskatte was wat deur die Derde Ryk gesteel is—kunswerke wat blykbaar in party van die geboue weggesteek is. Hierdie geheim moes nie aan die lig kom nie! Wat moes ek dus omtrent die teregstellingsbevel doen?
Ek het die kampbevelvoerder genader en gesê: “Amerikaanse troepe is op pad. Dink jy nie dat dit verstandig sal wees as jy en jou manne gaan nie?” Hy het nie veel oorreding nodig gehad nie! Toe het ek iets gedoen wat vir ’n SS-offisier ondenkbaar was—ek het ’n bevel verontagsaam, en die Getuies het bly lewe.
’n Eer om hulle broer te wees
Ná die oorlog het ek en Inge met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en die Bybel in alle erns begin studeer. ’n Getuievrou met die naam Auguste, asook ander, het ons gehelp. My oorlogsbeserings en die strawwe tydperk ná die oorlog het die lewe moeilik gemaak. Nogtans het ek en my vrou ons lewe aan Jehovah toegewy en ons laat doop—ek in 1948, Inge in 1949.
In die 1950’s het verskeie Getuies wat gedurende die oorlog in Wewelsburg was, vir ’n reünie daarheen teruggekeer. Onder hulle was Ernst Specht, Erich Nikolaizig en ’n ander getroue gevangene, Max Hollweg. Ek ag dit ’n groot eer om hulle broer genoem te word, want hierdie moedige manne van God het hulle lewe gewaag om vir my te getuig. Nog iemand by die reünie was Martha Niemann, wat ’n sekretaresse by Wewelsburg was. Ook sy was diep beïndruk deur die gedrag van die Getuies en het ’n toegewyde kneg van Jehovah geword.
Wanneer ek oor die jare terugkyk, sien ek oorvloedige bewyse dat “die hele wêreld . . . in die mag van [Satan die Duiwel]” lê—iets wat ek as ’n naïewe, idealistiese jong man nie besef het nie (1 Johannes 5:19). Ek sien ook duidelik hoe groot die verskil is tussen diens aan tirannieke regimes, soos Hitler s’n, en diens aan Jehovah. Eersgenoemde eis blinde gehoorsaamheid, terwyl Jehovah wil hê dat ons hom moet dien uit liefde wat gegrond is op juiste kennis van sy persoonlikheid en voornemens soos dit in die Bybel geopenbaar word (Lukas 10:27; Johannes 17:3). Ja, Jehovah is die een wat ek sal dien so lank as wat ek lewe.
[Voetnoot]
a Sien The Watchtower van 1 Julie 1972, bladsy 399.
[Prent op bladsy 19]
Ons troufoto, Februarie 1943
[Prent op bladsy 19]
Die Wewelsburg-kasteel sou in ’n sentrum vir SS-ideologie omskep word
[Prent op bladsy 20]
Saam met my vrou, Inge, vandag