Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/10 bl. 21
  • Die wêreld se kleinste vlermuis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wêreld se kleinste vlermuis
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Klein habitat
  • Die vlermuis se eggo-opsporing
    Is dit ontwerp?
  • Vlieënde tuiniers van die tropiese reënwoud
    Ontwaak!—2014
  • Wonderlike sintuie in die diereryk
    Ontwaak!—2003
  • Vlerke in die natuur
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 2/10 bl. 21

Die wêreld se kleinste vlermuis

● In 1973 het die Thaise bioloog Kitti Thonglongya en sy span meer as 50 ongeïdentifiseerde vlermuise in grotte naby die Sai Yok-waterval in Thailand bymekaargemaak. Hy het eksemplare na dr. J.E. Hill van die Britse Museum van Natuurgeskiedenis in Londen gestuur. Ongelukkig het Kitti gesterf voordat hy uitgevind het dat hy ’n nuwe vlermuisspesie ontdek het, wat Hill ter ere van Kitti Craseonycteris thonglongyai genoem het. Sy algemene naam is Kitti se varksnoetvlermuis.

Kitti se varksnoetvlermuis, wat ongeveer 3 sentimeter lank is en ’n vlerkspan van sowat 13 sentimeter het, is die kleinste vlermuis wat nog ontdek is en een van die kleinste soogdiere. Trouens, hy is so klein dat hy soms die hommelbyvlermuis genoem word. Sy ander kenmerke is die varkagtige snoet (soos sy naam aandui), die feit dat hy glad nie ’n stert het nie en groot ore met geswolle tragi, of oorkanaalklappies.

’n Klein habitat

Hierdie vlermuise kom slegs in die Sai Yok- Nasionale Park in Thailand en nabygeleë dele van Mianmar voor. Soos baie ander spesies gebruik Kitti se varksnoetvlermuis eggo-opsporing wanneer hy insekte jag. Omdat hy besonder lang vlerke het vir so ’n klein soogdiertjie, kan hy op een plek in die lug hang, wat hom in staat stel om sy prooi van bome se blare af te gryp. Wanneer hy gaan slaap, verkies die diertjie die warm, boonste dele van kalksteengrotte met hoë dakke en baie holtes—plekke wat meer beskerming bied en die verlies van liggaamshitte tot ’n minimum beperk, wat ’n belangrike oorweging is vir klein, warmbloedige soogdiertjies. Watter wonderlike instinkte en vermoëns het die Skepper hierdie merkwaardige diertjies tog gegee!—Openbaring 4:11.

Omdat Kitti se varksnoetvlermuis uiters skaars is en net ’n klein gebied bewoon, sal hy uitsterwing in die gesig staar as sy omstandighede nie verbeter nie. Pogings is al aangewend om beter beskerming te voorsien, maar ontbossing, houtkappery, padbou en toerisme hou steeds ’n bedreiging in. Of hierdie klein soogdiertjie taai genoeg is om die verwoestende gevolge van die mens se inmenging in sy sensitiewe habitat te oorleef, sal nog gesien moet word.

[Venster/Prent op bladsy 21]

DIE GROOTSTE EN DIE KLEINSTE

Daar is byna 1 000 vlermuisspesies, en hulle is die enigste soogdiere wat kan vlieg. Die grootste vlermuise (1), wat vlieënde honde genoem word, kan ’n vlerkspan van meer as een en ’n half meter hê en sowat een kilogram weeg. Daarenteen het (2) Kitti se varksnoetvlermuis ’n vlerkspan van sowat 13 sentimeter en weeg hy maar net twee gram.

[Foto-erkenning op bladsy 21]

Foto’s: © Merlin D. Tuttle, Bat Conservation International, www.batcon.org

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel