Is dit ontwerp?
Die oog van die mot
● Die meeste motte vlieg hoofsaaklik snags. Hoewel party nagdiere hulle teenwoordigheid verraai wanneer lig op hulle oë val en dit laat gloei, is die mot in hierdie opsig so te sê onbespeurbaar—weens sy horingvlies, wat aansienlik minder lig weerkaats.
Dink hieraan: Die mot se oog het ’n ongewone horingvlies—dit bestaan uit rye mikroskopiese knoppies wat in seshoekige patrone gerangskik is. Die knoppies “is kleiner as die golflengte van sigbare lig”, sê Peng Jiang, ’n assistentprofessor van chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Florida, VSA. Die patroon en grootte van hierdie rye stel ’n mot se oog in staat om lig van verskeie golflengtes en uit verskillende hoeke op te vang. Die mikroskopiese knoppies is slegs 200 tot 300 nanometer hoog. Die gemiddelde mensehaar is, by wyse van vergelyking, sowat 80 000 nanometer breed!
Ingenieurs hoop dat ’n beter begrip van die mot se horingvlies hulle sal help om die ontwerp van ligemissiediodes (LED’s) en vloeikristalskerms (LCD’s), wat algemeen in elektroniese toestelle gebruik word, te verbeter. Die ontwerp van die mot se oog kan dalk ook in sonkragtegnologie toegepas word. Silikonsonpanele kan tot 35 persent van die lig weerkaats—’n wesenlike vermorsing van potensiële energie. Maar deur die ordelike patroon van die knoppies van die mot se oog na te boots, kon Jiang en sy medewerkers silikon vervaardig wat minder as 3 persent van die lig weerkaats het. Jiang kom tot dié slotsom: “Ons kan baie uit hierdie natuurlike strukture leer.”
Wat dink jy? Het die mikroskopiese nieweerkaatsende struktuur van die mot se oog per toeval ontstaan? Of is dit ontwerp?
[Prent op bladsy 30]
Die mot se oog het ’n horingvlies wat bestaan uit rye mikroskopiese knoppies wat in seshoekige patrone gerangskik is
[Prent op bladsy 30]
’n Silikonskyfie met ’n nieweerkaatsende oppervlak, wat vir sonpanele gebruik word
[Foto-erkennings op bladsy 30]
Mot se oog, vergroot: Courtesy of Dartmouth Electron Microscope Facility; silikon, vergroot: Courtesy Peng Jiang