Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/8 bl. 16-19
  • Die pragtige mot

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die pragtige mot
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nuwe velle
  • ’n Kokon word gespin
  • Groter waardering vir motte
  • Mot of skoenlapper—Hoe weet jy?
    Ontwaak!—1993
  • Wanneer liefde blind is
    Ontwaak!—2000
  • Die oog van die mot
    Ontwaak!—2010
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/8 bl. 16-19

Die pragtige mot

EEN lieflike aand het ’n mot in ’n luukse restaurant ingevlieg. Toe dit by haar tafel rondfladder, het die dame wat daar gesit het, vreesbevange die mot weggeklap asof sy deur ’n siektedraende muskiet aangeval word! Die mot het na ’n ander tafel gevlieg en uiteindelik op ’n man se lapel gaan sit. Hierdie man en sy vrou het heeltemal anders gereageer—hulle het die mot bewonder en gedink aan hoe pragtig en onskadelik hierdie delikate insek is.

“’n Mens kan amper nie ’n onskadeliker insek kry nie”, verduidelik John Himmelman, die medestigter van die Connecticut-skoenlappervereniging. “Hulle het geen bytende monddele nie, en party volwasse motte, soos die bekende lunamot, eet glad nie. Hulle dra nie hondsdolheid of enige ander siektes nie, hulle steek nie . . . Trouens, die meeste mense weet nie dat skoenlappers eintlik dagmotte is nie.”

Almal bewonder skoenlappers, maar min bewonder ooit die prag en verskeidenheid van motte. ‘Prag?’ sê jy dalk ongelowig. Party dink aan die mot as slegs ’n vaal neef van die pragtige skoenlapper, maar albei het dieselfde wetenskaplike klassifikasie—Lepidoptera, wat “skubvlerke” beteken. Die groot verskeidenheid van hierdie lieflike insekte is verstommend. The Encyclopedia of Insects sê dat daar 150 000 tot 200 000 bekende soorte Lepidoptera is. Maar hiervan is net 10 persent skoenlappers—die res is motte!

Soos baie ander mense het ek selde aan motte gedink behalwe wanneer ek my winterklere weggepak en motballetjies tussen die klere gesit het om die kleremot weg te hou. Ek het nie geweet dat volwasse motte glad nie kledingstowwe eet nie—hulle doen dit net as ruspes terwyl hulle in die larwestadium is.a

Wat het my beskouing van motte verander? ’n Tyd gelede het ek en my man by vriende van ons, Bob en Ronda, gaan kuier. Bob het nogal baie van motte geweet. Hy het vir my ’n klein kissie gewys met wat ek eers gedink het ’n pragtige skoenlapper is. Hy het verduidelik dat dit ’n cecropia-mot is, een van die grootste motsoorte in Noord-Amerika. Hy het ’n vlerkspan van tot 15 sentimeter en het ’n lewensiklus van ’n jaar. Ek was heel verstom toe ek uitvind dat sy lewe as ’n volwasse mot net 7 tot 14 dae lank is! ’n Nadere kykie na die lieflike cecropia het my ’n hele nuwe beskouing van motte gegee.

Bob het vir my ’n klompie klein spikkels onder in sy kissie gewys. “Daardie spikkels is eiers”, het Bob verduidelik, “en ek hoop om hulle groot te maak.” ’n Mot grootmaak? Die gedagte het my belangstelling geprikkel. Maar om hierdie plan uit te voer, was nie so maklik nie. Bob het twee weke lank onsuksesvol probeer om die eiers te laat uitbroei. Toe het hy besluit om hulle met fyn watersproei nat te maak. Binne ’n week nadat hy hulle gespuit het, het 26 van die 29 eiers in een dag uitgebroei. Bob het toe die klein larwes, wat elkeen omtrent so groot soos ’n muskiet is, in ’n gladde oondskottel gesit om te keer dat hulle uitkruip.

Die eerste ete wat die jong larwes gehad het, was hulle eie eierdoppe. Daarna moes Bob kos voorsien, wat nogal ’n gedoente was. Nadat hy ’n bietjie navorsing gedoen het, het hy hulle esdoringblare probeer gee. Die larwes het op die blare gekruip, maar het dit nie geëet nie. Maar toe Bob vir hulle kersie- en berkeblare gegee het, het hulle dit dadelik begin eet.

Toe die klein larwes ruspes geword het, het Bob hulle oorgeplaas in ’n terrarium met ’n gaasdeksel. Die terrarium het die regte balans van vogtigheid vir die ruspes en die blare voorsien. Dit het ook gehelp om die ruspes in te hou, want toe hulle begin kruip het, het hulle ’n swerflus ontwikkel.

Om 26 honger ruspes kos te gee, was ’n groter werk as wat verwag is. Elke keer as Bob die terrarium met blare gevul het, het die ruspes die hele voorraad binne twee dae verorber. Op hierdie stadium het hy die hulp ingeroep van sy suster en twee jong vriende, ’n seun en ’n meisie, om hom te help om na die groeiende broeisel te kyk en hulle kos te gee.

Dit is noodsaaklik vir die ruspes om baie te eet, nie net sodat hulle gedurende die larwestadium kan groei nie, maar ook vir voeding wanneer hulle volwasse word. Die volwasse cecropia-mot het nie werkende monddele nie, en hy eet glad nie! Hy is geheel en al afhanklik van die kos wat hy tydens die larwestadium ingeneem het om gedurende sy kort volwasse stadium aan die lewe te bly.

Nuwe velle

Namate die ruspe groei, vervel hy verskeie kere. Die stadiums van ’n ruspe se lewe tussen vervellings word instars genoem.

’n Cecropia-ruspe se vel groei nie, met die gevolg dat die ruspe moet vervel wanneer hy so groot word dat sy vel tot die uiterste gerek is. Bob kon sien wanneer dit sou gebeur omdat die ruspes opgehou eet het. Nadat hulle vir hulle ’n kussing van sy geweef en hulle daaraan geheg het, het die ruspes vir ’n hele paar dae bewegingloos gebly terwyl hulle ’n nuwe vel gekry het. Toe die nuwe vel reg was, het die ruspes eenvoudig uit hulle ou vel geloop en dit aan die sykussing agtergelaat. Ek was verbaas om te sien hoe groot die ruspes in hulle laaste instar was. Hulle was amper 12 sentimeter lank en dikker as my wysvinger.

’n Kokon word gespin

Ná die laaste instar het elke ruspe ’n kokon gespin—’n groot massa gryserige draadjies wat aan ’n stok geheg is. Cecropias maak twee soorte kokonne. Die een is ’n groot, los, sakkerige struktuur met ’n ronde bodem en ’n spitsvormige nek. Die ander soort is kleiner en digter en is langwerpig met ’n spitsvormige nek en bodem. Albei soorte omhul ’n diggeweefde binnekokon. Cecropia-kokonne is gewoonlik rooibruin, bruin, vaalgroen of grys. In vergelyking met die kokonne van ander Noord-Amerikaanse motsoorte is die kokonne van cecropia-motte enorm—tot tien sentimeter lank en vyf tot ses sentimeter wyd. En hierdie ongelooflike strukture kan hulle inwoners in temperature van so laag as -34 grade Celsius beskerm.

Nadat die ruspes hulle in hulle kokonne toegespin het, was daar niks anders vir ons om te doen as om geduldig te wag nie. Die volgende lente, omtrent een jaar nadat Bob die volwasse mot gekry het, is die sluier verwyder. Bob het die stokke waaraan die kokonne geheg was in ’n stuk skuimplastiek gedruk om hulle regop te hou. Dit was nie lank voordat al die cecropias met die uitsondering van een uit hulle kokon te voorskyn gekom het nie, wat die geduld en harde werk die moeite werd gemaak het.

Groter waardering vir motte

Nadat ek die ongelooflike lewensiklus van die cecropia waargeneem het, het ek meer aandag begin skenk aan motte wat om ligte fladder en op geboue sit. My ondervinding het my ook beweeg om meer oor hierdie fassinerende insekte uit te vind. Ek het byvoorbeeld geleer dat motte en skoenlappers indrukwekkende vlieërs is en dat party soorte groot afstande aflê wanneer hulle migreer. Die klein koolmot het ’n vlerkspan van net 25 millimeter, maar hy vlieg van tyd tot tyd tussen Europa en Brittanje oor die onstuimige Noordsee. En olifantjies, of pylstertmotte, fladder oor blomme soos kolibries.

’n Ruk nadat ek die lewensiklus van die cecropia waargeneem het, het ek een gesien wat op ’n bos onder ’n lig sit. Ek het geweet dat ’n mens nooit ’n mot aan sy vlerke moet optel nie omdat die skubbe op sy vlerke baie delikaat is. Maar as jy jou uitgestrekte hand voor ’n mot sit, sal hy miskien op jou vinger loop. Toe ek dit probeer het, het die lieflike insek my beloon deur op my middelvinger te kom sit. Hy het uiteindelik oor die boomtoppe weggevlieg. Terwyl hy weggevlieg het, het ek gedink aan hoe baie hy soos ’n skoenlapper lyk. Wanneer jy weer dink jy sien ’n skoenlapper, kyk weer. Dalk is dit ’n pragtige, onskadelike mot.—Bygedra.

[Voetnoot]

a Party motlarwes rig ook aansienlike skade aan gesaaides aan.

[Prente op bladsy 16, 17]

1. Cecropia

2. Polyphemus-mot

3. Chysiridia ripheus

4. Atlasmot

[Erkennings]

Natural Selection©-Bill Welch

A. Kerstitch

[Prente op bladsy 18]

Die ontwikkelingstadiums van die cecropia-mot sluit in:

1. Eiers

2. Ruspe

3. Volwasse mot

[Erkenning]

Natural Selection©-Bill Welch

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel