Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/11 bl. 25-27
  • Ek het ’n uiters lonende lewe geniet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het ’n uiters lonende lewe geniet
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Predikingswerk in Sumatra
  • Ons bereik harte in Java
  • Kalimantan—Tuiste van die Dajak
  • Ons vertrek na Papoea-Nieu-Guinee
  • Die moeilikste tyd in my lewe
  • Kom ontmoet die Batak
    Ontwaak!—2010
  • Dankbaar dat ek die regte loopbaan gekies het
    Lewensverhale van Jehovah se Getuies
  • Vasbeslote om ons bediening uit te voer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Meer as 70 jaar lank getrou aan God
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 2/11 bl. 25-27

Ek het ’n uiters lonende lewe geniet

Soos vertel deur Herawati Neuhardt

Ek is gebore in Cirebon, Indonesië, ’n stad wat bekend is vir sy ryklik versierde batikmateriaal, wat met helder, handgetekende patrone gekleur word. In sekere opsigte was my lewe as ’n sendeling soos daardie batik—vol kleurryke ondervindinge met mense van uiteenlopende kulture in Suidoos-Asië en die Stille Suidsee. Laat ek verduidelik.

IN 1962, toe ek tien jaar oud was, het my ma die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Met verloop van tyd het sy en my pa, wat albei Indonesiesgebore Chinese is, sowel as vyf van hulle kinders, ek inkluis, Getuies geword.

Ons deur was altyd oop vir sendelinge en reisende opsieners, wat ons gemeente besoek het om ons geestelik aan te moedig. Hulle goeie voorbeeld en opbouende gesprekke het ’n groot indruk op my gemaak. Toe ek 19 was, het ek besluit om voltyds aan die Christelike bediening deel te neem. Omtrent ’n jaar later het ek getrou met Josef Neuhardt, ’n Duitse sendeling wat in 1968 in Indonesië aangekom het. Ná ons wittebrood het ons getrek na Sumatra, die tweede grootste eiland van die meer as 17 000 eilande in Indonesië. Daar het ek Josef in sy werk as ’n reisende opsiener vergesel, wat behels het dat ons gemeentes van Jehovah se Getuies besoek.

Predikingswerk in Sumatra

Ons kring, of toegewese gebied, het gestrek van die warm, besige stad Padang, in Wes-Sumatra, tot by die pragtige Tobameer, ’n groot vulkaniese meer wat in die hooglande van Noord-Sumatra geleë is. Later het ons in die suidelike deel van die eiland gaan werk. Ons het oral gery in ons ou Volkswagen-kewer, op stamperige bospaaie, oor lendelam brûe wat van kokosbome gemaak is en om hoë vulkane—waarvan party rustend en ander aktief was. Saans het ons op die vloer in eenvoudige boshutte geslaap wat nie elektrisiteit, lopende water of badkamers gehad het nie. Ons het in mere en riviere gebad en ons klere gewas. Dit was ’n eenvoudige lewe, en ons was lief vir die mense. Hulle het ons hartlik verwelkom en kos gegee, en baie het in die Bybel belanggestel.

In die omgewing van Padang was die Minangkabau, ’n volk wat hoofsaaklik uit Moslems bestaan, aangenaam verras toe ons vir hulle uit die Bybel gewys het dat God een is—nie ’n Drie-eenheid, soos die kerke van die Christendom beweer nie (Deuteronomium 6:4). Baie mense het die tydskrifte, die Wagtoring en Ontwaak!, met graagte geneem, en party belangstellendes het later goeie geestelike vordering gemaak. By die Tobameer het die Batakvolk, van wie die meeste beweer dat hulle Christene is, geweet dat God se naam Jehovah is omdat hulle dit in hulle Batak-Bybel gesien het (Psalm 83:18). Maar hulle moes ’n duideliker begrip van God en sy voorneme vir die mensdom verkry. Baie van hulle het ’n Bybelstudie aanvaar en ywerige Christenevangeliedienaars geword.

Ons bereik harte in Java

In 1973 is ek en Josef na Java gestuur, ’n eiland wat helfte die grootte van Groot Brittanje is en meer as 80 miljoen inwoners het.a Ons het die goeie nuus verkondig onder die Javaanse, Soendanese en Chinese etniese groepe.

Weens my Chinees-Indonesiese agtergrond kan ek ’n aantal tale praat, waaronder Javaans, Soendanees, Indonesies en Engels. Gevolglik het ek talle interessante Bybelbesprekings met mense in hulle moedertaal gehad.

In die Indonesiese hoofstad, Djakarta, wat op Java is, het ek ’n 19-jarige meisie wat bedruk gelyk het, vertel van die hoop op die ewige lewe in die Paradysaarde. Terwyl ek uit die Bybel gelees het, het sy in trane uitgebars. “Dankie dat Tannie my van hierdie dinge vertel”, het sy gesê. Sy het bygevoeg: “Ek moet teen môre nog 1,5 miljoen roepia (R1 100) hê om my universiteitsgeld te betaal, en ek het daaraan gedink om my maagdelikheid te verkoop om die geld in die hande te kry. Voordat Tannie gekom het, het ek gebid vir leiding. Nou het ek die antwoord. Ek is vasbeslote om my studies uit te stel en ’n skoon lewe te lei.” Hierdie meisie was baie bly om meer van die Bybel te leer.

Sedertdien het baie meer Javane, insluitende Soendanese en Chinese, hulle lewe in ooreenstemming met die heilsame standaarde in God se Woord gebring. Dit het hulle ware gemoedsrus gegee en gelukkig gemaak, net soos God belowe het.—Jesaja 48:17, 18.

Kalimantan—Tuiste van die Dajak

Ek en Josef is van Java na Kalimantan, ’n Indonesiese provinsie van Borneo, die derde grootste eiland ter wêreld (naas Groenland en Nieu-Guinee). Borneo is ’n land van digte woude, ruwe berge en magtige riviere en is die tuiste van Chinese, Moslem-Maleiers en die inheemse Dajak—’n volk wat hoofsaaklik op riviere woon en eens op ’n tyd wrede kopjagters was.

Om afgeleë Dajak-gemeenskappe te bereik, het ons gewoonlik per boot of kano op ongerepte riviere in die woud gereis. Groot krokodille het op die oewers gelê en bak, ape het uit die bome na ons gestaar en voëls het hulle kleurvolle vere vertoon. Ja, dit was ’n avontuur om daar sendingdiens te doen!

Die meeste Dajak-gesinne het in huise gewoon wat op stelte staan en van bosmateriaal gebou is. Van die wonings was klein; ander was langhuise waarin ’n paar gesinne gewoon het. Omdat baie mense nog nooit ’n blanke gesien het nie, was Josef nogal gewild. Kinders het deur die dorpie gehardloop en geskree: “Pastoor! Pastoor!” Almal het dan saamgedrom om te hoor wat die wit prediker te sê het. Josef het gebruik gemaak van plaaslike tolke wat Getuies was, en hulle het gereël dat Bybelstudies met talle belangstellendes gehou word.

Ons vertrek na Papoea-Nieu-Guinee

Weens toenemende druk van godsdiensteenstanders het die regering van Indonesië in Desember 1976 ’n verbod geplaas op Jehovah se Getuies. As gevolg hiervan is ek en Josef na Papoea-Nieu-Guinee toegewys.

Nadat ons in Port Moresby, die hoofstad, aangekom het, het ons ’n twee maande lange taalkursus in Hiri Motu, ’n plaaslike handelstaal, voltooi. Toe het ons na Daru getrek, ’n eilandjie in ’n afgeleë westelike provinsie. Daar het ek Eunice ontmoet, ’n groot, sterk, dierbare vrou, wie se tande rooiswart gevlek was omdat sy jare lank betelneut gekou het. Toe Eunice geleer het dat God wil hê dat sy knegte fisies sowel as sedelik en geestelik rein moet wees, het sy met haar verslawende gewoonte gebreek en ’n getroue Christen geword (2 Korintiërs 7:1). Elke keer wanneer ons gesien het hoe sulke nederige mense Bybelwaarheid toepas, het ons groter waardering verkry vir die woorde in Psalm 34:8: “Smaak en sien dat Jehovah goed is.”

Josef het later weer as ’n reisende opsiener gedien, en ons het byna elke deel van Papoea-Nieu-Guinee besoek, ’n land waarin 820 tale gepraat word. Omdat ons met meer mense wou praat, het ons nog een van hierdie tale geleer—Tok Pisin, die plaaslike omgangstaal. Om by die verskillende dorpies en gehuggies uit te kom, het ons te voet, per motor, boot, kano en ligte vliegtuig gereis, en ons het ondraaglike hitte, muskiete en gereelde malaria-aanvalle verduur.

Toe, in 1985, het ons weer ’n ander sendingtoewysing ontvang—na die Salomonseilande, oos van Papoea-Nieu-Guinee. Daar het ons by die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies gewerk en ook dwarsdeur die eilandgroep gereis om gemeentes aan te moedig en Christelike byeenkomste by te woon. Weer eens moes ons ’n nuwe taal leer—hierdie keer Salomonseilandse Pidgin. Maar dit was wonderlik om met mense in die Salomonseilande te praat wat ’n liefde vir die Bybel het!

Die moeilikste tyd in my lewe

In 2001 is die verbod op Jehovah se Getuies in Indonesië opgehef, en ek en Josef het na Djakarta teruggekeer. Maar kort daarna is my dierbare man gediagnoseer met kwaadaardige melanoom, ’n aggressiewe vorm van velkanker. Ons het vir behandeling na Josef se vaderland, Duitsland, gereis. Maar ongelukkig is hy in 2005, op ons 33ste huweliksherdenking, oorlede, en hy wag op ’n opstanding tot lewe op die nuwe Paradysaarde (Johannes 11:11-14). Hy was 62 jaar oud en was 40 jaar lank in die voltydse bediening.

Ek woon vandag nog in Djakarta, waar ek nog steeds as ’n sendeling dien. Ek mis my man verskriklik baie. Maar die feit dat ek ander die kosbare waarhede uit God se Woord leer, help my om te volhard, aangesien die bediening my ’n gevoel van diepe tevredenheid en ’n doel in die lewe gee. Ja, ek kan sonder twyfel sê dat Jehovah my ’n uiters kleurryke en lonende lewe gegee het.

[Voetnoot]

a Java het vandag meer as 120 miljoen inwoners.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

INDONESIË

Java

DJAKARTA

Cirebon

Sumatra

Padang

Tobameer

Borneo

PAPOEA-NIEU-GUINEE

PORT MORESBY

Daru

SALOMONS EILANDE

[Prent op bladsy 26]

Herawati saam met haar Bybelstudente in die Salomonseilande

[Prent op bladsy 26]

Saam met Josef in Holland, net voor sy dood in 2005

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel