Kom ontmoet die Batak
Toe die 13de-eeuse Italiaanse ontdekkingsreisiger Marco Polo die eiland Sumatra, in Indonesië, besoek het, het hy ’n sekere “bergvolk” beskryf wat volgens hom ‘soos diere lewe en mensvleis eet’. Die volk van wie hy gepraat het, was glo die Batak. Maar ek en my vrou het ’n heeltemal ander beskouing van hulle. Ontmoet die mense wat ons leer ken het en vir wie ons lief geword het.
“HORAS!” Met hierdie hartlike groet het ons nuwe Batakvriende ons in Noord-Sumatra, Indonesië, verwelkom toe ons aangekom het by ons nuwe sendingtoewysing naby die Tobameer. Die Tobameer is een van Sumatra se pragtigste natuurlike landmerke, is die grootste vulkaniese meer in die wêreld en lê in die hartland van die Batakvolk.—Sien die venster hieronder.
Die Batak is een van Indonesië se grootste inheemse groepe. Na raming het hulle ’n bevolking van agtmiljoen en bestaan hulle uit sowat ses onafhanklike maar naverwante etniese groepe—die Toba, die Simalungun, die Karo, die Dairi, die Angkola en die Mandailing. Elke groep bestaan uit groot familiestamme. Wanneer die Batak mekaar ontmoet, is hulle eerste vraag gewoonlik: “Aan watter stam behoort jy?” Hulle werk dan gou uit presies hoe naverwant hulle aan mekaar is.
Huweliksreëls
Tradisionele Batakhuwelike verenig oor die algemeen nie net twee mense nie, maar ook twee stamme. Neefs en niggies aan moederskant word as ideale paartjies beskou. Maar om met ’n neef of niggie aan vaderskant of met iemand van dieselfde stam te trou, is heeltemal taboe. Andersins volg tradisionele huwelike die reël: Mans van stam A neem vrouens uit stam B, mans van stam B neem vrouens uit stam C en mans van stam C neem vrouens uit stam A. Hierdie kringloop van verbintenisse versterk die familiebande van die Batak in groot mate en verbind pasgetroudes met ’n wye netwerk van familielede.
Selfs as Batakpaartjies wettig getroud is en kinders het, word hulle verbintenis nie deur hulle stamme erken totdat ’n tradisionele stamtroue gehou is nie. Hierdie oordadige seremonies kan honderde familielede insluit en etlike ure lank duur.
By Karotroues word die bruidsprys en die bruidskat byvoorbeeld noukeurig getel en onder spesifieke groepe in elke stam verdeel. Eers daarna kan die verrigtinge voortgesit word. Stamlede hou lang toesprake oor die getroude lewe. Die bruidegom en sy bruid luister respekvol daarna. ’n Feesmaal en dansery rond die viering af.
’n Paradys vir landbouers
In die verlede het baie Batakgesinne in groot, gemeenskaplike langhuise gewoon, wat ’n kenmerkende dak gehad het met twee spitse wat soos buffelhorings lyk. Party van hierdie swierige geboue—wat van hout, bamboes en suikerpalmvesels gemaak is—is op stelte gebou, en party was groot genoeg vir 12 gesinne. Geen spykers is gebruik nie. ’n Aantal van hierdie geboue wat al 300 jaar oud is, word nog steeds bewoon. Onder die verhewe vloer van die huise word mak diere—beeste, hoenders, honde, varke en waterbuffels—gevind.
Die plaaslike ekonomie is grotendeels gegrond op landbou, visvang, veeteelt en toerisme. Die groot natuurlike amfiteater rondom die Tobameer is inderdaad ’n landbouersparadys. Die meer word omring deur hoë terrasse met smaraggroen ryslande. Koffie, vrugte en speserye floreer langs welige groentetuine wat in die ryk, donker vulkaniese grond groei. Vissermanne in houtkano’s vang vis in die koel, helder water van die meer.
Aan die einde van die dag plas en swem vrolike kinders in die meer, mans kuier saam in die kafees en musiek weerklink deur die koel aandlug. Ja, die Batak is plaaslik welbekend vir hulle kragtige en roerende sang. Hulle is ook baie lief vir dans—mans en vroue dans apart—waartydens hulle hulle arms en hande grasieus swaai.
’n Wisselvallige verlede
Van die tyd van Marco Polo tot die 19de eeu het berigte daarop gedui dat die Batak wrede kannibale was wat vyandelike krygsmanne en misdadigers ritueel geëet het. Maar sekere “afgryslike besonderhede oor kannibalistiese gebruike is moontlik deur die Batak self voorsien in ’n poging om te keer dat buitestanders hulle land binnedring”, sê Leonard Y. Andaya, ’n geskiedenisprofessor. Hoe dit ook al sy, “in die 19de eeu het die Nederlandse koloniale regering kannibalisme in die gebiede onder hulle beheer verbied”, sê die boek The Batak—Peoples of the Island of Sumatra.
Die Batak was animiste en het etlike gode en geeste aangehang. Hulle het ook offerrituele, séances, waarsêery en towery beoefen. Okkulte towerspreuke, voorspellingstabelle en geneeskundige formules is opgeteken op stroke boombas wat tot 15 meter lank was, soos ’n konsertina opgevou is en ’n soort boek gevorm het. Versierde heilige doeke is ook geweef om boosheid af te weer en die toekoms te voorspel.
Rekords toon dat die eerste Westerse sendelinge wat onder die Batak gewerk het, die Baptiste R. Burton en N. Ward was, wat in 1824 daar aangekom het. Tien jaar later, terwyl Nederlandse troepe dele van die land probeer beset het, het twee ander sendelinge, die Amerikaners H. Lyman en S. Munson, dit in Batakgebied gewaag, maar hulle is kort daarna doodgemaak. Twee Katolieke sendelinge, wat waarskuwings verontagsaam het om van potensieel gevaarlike gebiede weg te bly, het moontlik dieselfde lot gehad.
Die Duitse sendeling Ludwig Nommensen, wat in 1862 onder die Batak begin werk het, het egter oorleef en aansienlike sukses in sy werk behaal. Trouens, hy word nog steeds deur baie van die plaaslike mense hooggeag. Vandag is die meeste van die Batak verklaarde Christene, en die res is merendeels Moslems of animiste. Nietemin hou baie nog steeds vas aan aspekte van hulle tradisionele opvattings.
Ware goeie nuus word versprei
Omstreeks 1936 het Jehovah se Getuies in die tuislande van die Batak aangekom met die goeie nuus van God se Koninkryk, wat “in die hele bewoonde aarde” verkondig sou word, soos Jesus voorspel het (Matteus 24:14). Baie van die Batak het gunstig gereageer op die Bybelboodskap en afstand gedoen van hulle bygelowige weë. Gevolglik is daar nou omtrent 30 gemeentes van Jehovah se Getuies in die gebied.—Sien die bygaande venster.
Wanneer ek en my vrou mense in dié gebied van die goeie nuus vertel, ontmoet ons dikwels toeriste wat hulle verwonder oor die Tobameer se pragtige natuurskoon en idilliese klimaat. Ons stem van harte met hulle saam. Maar ons voeg by dat die ware prag hier die mense is—die hartlike en vriendelike Batak.
[Venster op bladsy 17]
’N KOEL MEER MET ’N VURIGE VERLEDE
Die Tobameer is 87 kilometer lank en 27 kilometer breed, en dit is maklik die wêreld se grootste kratermeer. Dit bevat genoeg vars water om die hele Verenigde Koninkryk met byna ’n meter water te bedek. Hierdie asemrowende watermassa lê tussen groen vulkaniese pieke wat deel vorm van die Barisanberge en is vanuit enige hoek ’n fotograaf se droom.
Die meer het ontstaan weens een of meer groot vulkaniese uitbarstings, wat volgens wetenskaplikes moontlik van die kragtigstes in die aarde se geskiedenis was. Mettertyd het die reusagtige kaldera vol water geword, en so het die Tobameer ontstaan. Daarna het opstotings in die meer se bodem die pragtige Samosireiland gevorm, wat ’n oppervlak van 647 vierkante kilometer het, wat omtrent so groot soos die Republiek van Singapoer is.
[Venster op bladsy 18]
’N PARADYS MET ’N GEMATIGDE KLIMAAT
Die Tobameer is sowat 300 kilometer van die ewenaar af, en tog is die klimaat daar verbasend koel. Dit is omdat die meer 900 meter bo seespieël geleë is. Palmbome en dennebome floreer langs mekaar in hierdie paradys met sy gematigde klimaat.
Die meer dien as ’n ekologiese skeidslyn vir ’n aantal diere. Byvoorbeeld, orangoetangs, withandgibbons en Thomas-langoerape word noord van die meer aangetref, terwyl tapirs, spookapies en swartkuiflangoerape suid daarvan aangetref word.
[Venster/Prent op bladsy 19]
VAN GEESTEMEDIUM TOT WARE CHRISTEN
Nursiah was ’n Batak-ḍukun, of toordokter. Sy het toorkuns gebruik om kwale te genees, bose geeste uit te dryf en met die “dooies” te kommunikeer.a Sy het ’n florerende besigheid gehad en was—ten spyte van haar okkulte bedrywighede—’n gerespekteerde lid van haar plaaslike Protestantse kerk.
Toe Nursiah Jehovah se Getuies ontmoet het, was sy verbaas om te leer dat God se naam Jehovah is (Psalm 83:18). Later het sy in die Bybel gelees dat baie wat in die eerste eeu gelowiges geword het, hulle toorkunste die rug toegekeer het en hulle spiritistiese boeke verbrand het sodat hulle God op aanneemlike wyse kon dien (Handelinge 19:18, 19). Ondanks groot teenkanting het sy besluit om dieselfde te doen, met volle vertroue in Jesus se woorde: “Die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.
Vandag is Nursiah en haar seun, Besli, gedoopte Getuies, en haar man, Nengku, woon Christelike vergaderinge gereeld by. “Noudat ek Jehovah dien”, sê sy, “is my lewe soveel beter! Toe ek ’n ḍukun was, wou ek bitter graag weet wat die waarheid is. Nou voel ek werklik tevrede.”
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Die Bybel se beskouing: Wie is die demone?” op bladsy 20.
[Prent op bladsy 19]
Nursiah, saam met haar man en seun
[Kaarte op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Sumatra
Tobameer
[Erkenning]
Based on NASA/Visible Earth imagery
[Prent op bladsy 16, 17]
Die Tobameer soos gesien vanaf die hange van die berg Pusuk Buhit op die vasteland
[Prent op bladsy 18]
Sipisopisowaterval, by die noordelike oewer van die Tobameer, is 110 meter hoog