Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/11 bl. 3-4
  • “Ek wou net my pos gaan haal het”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek wou net my pos gaan haal het”
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wêreldwye probleem
  • Is ’n wêreld sonder terrorisme moontlik?
    Ontwaak!—2011
  • Die bedreiging van terrorisme
    Ontwaak!—2001
  • Sal terrorisme ooit tot ’n einde kom?
    Nog onderwerpe
  • Waarom party geweld as ’n uitweg beskou
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 6/11 bl. 3-4

“Ek wou net my pos gaan haal het”

“EK SAL daardie Maandagoggend by die poskantoor nooit vergeet nie”, vertel Andre, ’n blanke man wat in Suid-Afrika gebore is en in Namibië woon. “Die poskantoor was stampvol. Ek het ’n sak wat verdag gelyk het, eenkant sien lê. Ek het vir my pos gevra en uitgestap. Nadat ek net sowat drie minute lank gery het, het ek ’n verskriklike ontploffing gehoor. Ek het later uitgevind dat ’n bom ’n paar meter van waar ek gestaan het, ontplof het.”

“Ek wou net my pos gaan haal het”, verduidelik Andre. “Maar toe ek later besef het dat onskuldige mense, van wie ek ’n hele paar geken het, in die ontploffing dood is, was ek baie geskok. Ek sidder nog wanneer ek daaraan dink, al het dit meer as 25 jaar gelede gebeur. Soms dink ek weer aan die verwoesting wat ek later gesien het, en ek besef hoe naby aan die dood ek gekom het.”

’n Wêreldwye probleem

Hoewel jy dalk nooit so naby aan so ’n aanval sal kom nie, het jy waarskynlik al gehoor dat soortgelyke aanvalle dikwels regoor die wêreld plaasvind. Al hoe meer mense wend hulle tot geweld om hulle oogmerke te bereik—iets wat oor die algemeen terrorisme genoem word.—Sien die venster “Wie is terroriste?” op die volgende bladsy.

’n Ondersoekende joernalis het gevind dat daar in 1997 “net vier lande was waarin ’n volgehoue veldtog van selfmoordaanvalle gevoer is”. Maar in 2008 het hierdie selfde navorser geskryf dat “meer as dertig lande op elke kontinent buiten Australië en Antarktika die verwoestende gevolge van selfmoordaanvalle ondervind het”. Hy het tot die slotsom gekom dat sulke aanvalle “uitgevoer word deur al hoe meer organisasies en elke jaar meer lewens eis”.—The Globalization of Martyrdom.

Dink aan die aanval wat aan die begin genoem is. Die groep wat verantwoordelikheid vir die bomaanval aanvaar het, het hulleself as vryheidsvegters beskou. Hulle het onafhanklikheid probeer verkry van die regering wat destyds oor hulle land regeer het. Maar wat beweeg mense om sulke dinge te doen om hulle oogmerke te bereik? Kyk na die ondervinding van Hafeni.

Hafeni is in Zambië gebore en het in vlugtelingkampe in naburige lande grootgeword. “Ek was woedend”, het hy gesê, “omdat my familie en ander op so ’n wrede en onregverdige manier behandel is.” Daarom het hy deel geword van die militante groep waaraan sy ouers behoort het.

Hafeni het teruggedink aan daardie tyd en verder gesê: “Die ergste was die emosionele uitwerking wat die lewe as ’n vlugteling op mense gehad het. Kinders is van hulle ma’s, pa’s en hulle broers en susters af weggeskeur. Diegene wat ouer was, het gaan veg. Baie van hulle het nooit teruggekeer nie. Ek het nooit my pa gesien nie, nie eers ’n foto van hom nie. Al wat ek geweet het, is dat hy in ’n geveg dood is. Ek het vandag nog die emosionele letsels.”

Dit is duidelik dat die kwessies kompleks is. As jy dit beter verstaan, sal dit jou help besef wat nodig is om die mensdom van hierdie soort geweld te bevry.

[Venster/Prent op bladsy 4]

WIE IS TERRORISTE?

Die navorser Mark Juergensmeyer verduidelik: “Of jy die woord ‘terrorisme’ gebruik om gewelddade te beskryf of nie, hang daarvan af of jy dink dat die dade geregverdig is of nie. Die gebruik van die term hang grootliks af van jou beskouing van die wêreld: as jy die wêreld beskou as ’n vreedsame plek, lyk gewelddade vir jou soos terrorisme. As jy meen dat die wêreld in oorlog gewikkel is, kan jy gewelddade as geoorloof beskou.”

Daar is dus dikwels politieke implikasies wanneer die woord “terrorisme” gebruik word. Baie groepe beskou hulleself as vryheidsvegters, nie terroriste nie. Volgens een skrywer behels terrorisme (1) dade wat gerig is teen burgerlikes en (2) die gebruik van geweld om ’n doel te bereik, naamlik om op dramatiese wyse vrees in te boesem. Daarom sal militante groepe—hetsy hulle rebelle of ’n burgerlike regering is—dikwels van terroristetaktiek of -metodes gebruik maak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel