Waarom party geweld as ’n uitweg beskou
JOSEBA, wat in Spanje woon, is gevra waarom hy ’n lid van ’n militante groep geword het. “Die onderdrukking en ongeregtigheid wat ons destyds ondervind het, het ondraaglik geword”, het hy gesê. “In die groot stad Bilbao, waar ek gewoon het, het die polisie dikwels by mense se huise ingeloop, hulle geslaan en in hegtenis geneem.”
Joseba het verder gesê: “Ek is een oggend in hegtenis geneem omdat ek gesê het hoe ek oor die polisie se optrede voel. Ek was so kwaad dat ek iets wou doen—iets gewelddadigs indien nodig—om die situasie reg te stel.”
Onderdrukking en wraak
Hoewel die Bybel nie die gebruik van geweld regverdig nie, erken dit: “Verdrukking kan ’n wyse waansinnig laat optree”, oftewel irrasioneel laat optree (Prediker 7:7). Baie raak woedend wanneer hulle mishandel word as gevolg van die ras, godsdiens of volk waaraan hulle behoort.
Hafeni, wat in die vorige artikel genoem word, het byvoorbeeld gesê: “Ons land is op onregverdige wyse van ons afgeneem. Selfs diere baklei vir hulle gebied, en daarom was dit vir ons natuurlik om vir ons land en ons regte te baklei.” ’n Militante selfmoordbomaanvaller het in ’n verklaring wat ná sy dood gepubliseer is, gesê: “Totdat julle ophou met die bomaanvalle, vergassing, inhegtenisneming en marteling wat teen my volk gerig word, sal ons nie ophou veg nie.”
Godsdienstige beweegredes
Hoewel militante groepe se beweegredes in baie gevalle sekulêr is, pleeg hulle dikwels gewelddade om godsdiensredes. ’n Wêreldleier het hierdie faks van ’n militante woordvoerder ontvang: “Ons is nie mal nie en ons is ook nie magsugtig nie. Ons is in die diens van God, en daarom neem ons ferm standpunt in.”
Daniel Benjamin en Steven Simon het in hulle boek The Age of Sacred Terror aangaande godsdienstige beweegredes geskryf: “In ’n wêreld wat al hoe godsdienstiger word, meen meer en meer aanhangers van die groot gelowe en nuwe, opkomende kultusse dat geweld deel van hulle oortuigings moet vorm.” Nadat ’n ander navorser ’n aantal “skokkende terreurdade regoor die wêreld”, soos hy dit beskryf het, opgeteken het, het hy gesê: “Al die oortreders is daarvan oortuig dat hulle dade deur God goedgekeur, en selfs vereis, word.”
Maar talle godsdienstige militante het uiterste beskouings wat nie die tradisionele leringe en waardes weerspieël van die godsdiens wat hulle aanhang nie.
Diepgewortelde gevoelens
Joseba, wat vroeër gemeld is, is wreed mishandel toe hy in hegtenis geneem is. Hy het gesê: “Hulle wreedheid het my oortuig dat my haat geregverdig was. Al moes ek sterf om veranderinge teweeg te bring, sou dit vir my die moeite werd gewees het.”
Die dinge wat in die groep geleer word, gee die lede verdere aansporing om gewelddade te pleeg. “Terwyl ons in vlugtelingkampe was”, het Hafeni gesê, “was daar saamtrekke waar ons geleer is dat wit mense gedurig maniere en metodes uitdink om swart mense te onderdruk.” Wat was die gevolg?
“Ek het gevoel hoe my haat vir wit mense groei”, het hy bygevoeg. “Ek het hulle almal wantrou. Uiteindelik kon ek dit nie meer verduur nie, en ek het gevoel dat ons geslag iets moet doen.”
Verbasend genoeg het Joseba sowel as Hafeni, ondanks hulle sterk oortuigings, hulle diepgewortelde gevoelens van haat en wantroue verander. Wat was dit wat hulle verstand en hart bereik het? Die volgende artikel sal lig hierop werp.
[Lokteks op bladsy 6]
“Hulle wreedheid het my oortuig dat my haat geregverdig was. Al moes ek sterf om veranderinge teweeg te bring, sou dit vir my die moeite werd gewees het.”—Joseba