Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/11 bl. 16-18
  • Land van die wagtorings—Die bergagtige Swaneti

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Land van die wagtorings—Die bergagtige Swaneti
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons toer die gebied
  • Die mense wat hier woon
  • Die lewe in ’n wagtoring
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2011
  • Gletsers op die ewenaar
    Ontwaak!—2005
  • Georgië—’n Eertydse erfenis word bewaar
    Ontwaak!—1998
  • Die unieke Matterhorn
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 6/11 bl. 16-18

Land van die wagtorings—Die bergagtige Swaneti

TERWYL ons styf aan die dakbalke vasgehou het, het ons vorentoe geleun en ons koppe uitgesteek aan die bokant van ’n 800 jaar oue kliptoring in die land Georgië. Van waar ons sowat 25 meter bokant die grond gestaan het, kon ons tientalle ander eertydse wagtorings sien oral in die dorpie, Mestia, Swaneti se hoofdorp.

Die vallei, wat ’n sagte helling het en met groen grasvelde bedek is, het ’n skerp kontras gevorm met die hoë, sneeubedekte pieke wat bo ons uitgetoring het. Ons was betower deur hierdie eeue oue plek, en dit het gevoel asof ons ons in die Middeleeue bevind. Trouens, ’n besoek aan die beroemde wagtorings van Swaneti het deel van ons reisplanne gevorm.

Ons toer die gebied

Ons reis na die hoë berggebied van Swaneti het begin in Zoegdidi, Georgië, naby die Swartsee. Dit was ’n helder oggend, en van hier af kon ons reeds die pragtige wit pieke sien. Toe ons by die kloof van die kronkelende Ingoeri-rivier uitkom, het ons stadig maar seker ons weg daardeur gevind. Hierdie woudgebied is vol varings, asaleas, lourierkersies en ’n magdom alperose met roomkleurige bloeisels.

Teen die aand het ons groepie die skilderagtige dorpie Betsjo bereik. Dit is geleë aan die voet van die asemrowende berg Oesjba, met sy twee toringhoë granietspitse. Soos motte deur ’n kers gelok word, word bergklimmers gelok na die styl, ysbedekte pieke van die berg Oesjba. Omdat dit 4 710 meter hoog is, word dit dikwels “die Matterhorn van die Kaukasus genoem”.

Uitgeput en honger ná ons reis, het ons ’n plaaslike skaapwagter gestop en by hom ’n skaap gekoop, wat ons vir aandete voorberei het. Kort voor lank het ons, om ’n kampvuur en in die vriendelike geselskap van ons vriende van Swaneti, ’n heerlike ete geniet van mtswadi, ’n soort sosatie. Dit is bedien met varsgebakte Georgiese lawasj, ’n plat brood wat in ’n kleioond gebak word. Die ete is afgerond deur ’n glas Saperawi, ’n volronde, droë rooiwyn wat inheems is aan Georgië.

Die volgende oggend het ons na Mestia gereis. Dit was hier dat ons, terwyl ons uitgekyk het by die wagtoring wat aan die begin van die artikel gemeld word, tot die slotsom gekom het dat Swaneti een van die pragtigste berggebiede in die wêreld is. Sowat 45 kilometer van Mestia af, nog dieper in die berge in, is die dorpsgemeenskap van Oesjgoeli. Hier woon die dorpsbewoners op hoogtes van tot 2 200 meter. Oesjgoeli is bekend as die “hoogste permanentbewoonde dorpie in Europa”.

Om by hierdie gemeenskap in die berge uit te kom, het ons ’n eensame, nou pad al langs die berg gevolg. Langs ons het steil afgronde tot ver onder by die rivier weggeval. Toe ons uiteindelik by Oesjgoeli aankom, is ons beloon met ’n onvergeetlike toneel—huise het in groepies om Middeleeuse wagtorings gestaan. Die ontsaglike berg Sjchara was op die agtergrond. Die berg se skitterende wit sneeumantel het ’n pragtige kontras gevorm met die diep blou van die alpynse lug.

Die berg Sjchara, wat 5 201 meter hoog is, is Georgië se hoogste berg en is deel van wat die Bezengi-muur genoem word, ’n 12 kilometer lange reeks pieke wat byna dieselfde hoogte is. Dit vorm deel van die 1 207 kilometer lange Groot Kaukasus-bergreeks. Oral waar ons gekyk het, was daar groen valleie met pragtige natuurskoon. Maar hierdie valleie is ontoeganklik, behalwe vir die mees avontuurlustiges of vir dié wat Swaneti hulle tuiste noem.

Die mense wat hier woon

Die Swanvolk, wat in Bo-Swaneti woon, is ’n ou volk met hulle eie taal. Hulle is al lank bekend as ’n volk wat geweier het om deur enige heer oorheers te word. In die 18de eeu het ’n ontdekkingsreisiger gesê dat die Swanvolk “die nuwe ideaal bereik het van ’n gemeenskap waar die vrye wil van die individu belangriker is as alle ander oorwegings”.

Die unieke vryheid van Swaneti kan aan twee faktore toegeskryf word. Eerstens, baie hoë bergreekse het die volk van die buitewêreld afgesonder en teen invallers beskerm. Tweedens, die wagtoring het elke familie se onafhanklikheid bewaar. Dit het hulle beskerm teen vyande en die bewoners van nabygeleë dorpies, wat soms vyandig geraak het, asook teen sneeustortings wat die kleiner geboue met sneeu bedek het.

Die lewe in ’n wagtoring

Ons is genooi om een Swanfamilie se toring te besoek, wat uit die 12de eeu dateer. Die vesting het twee hoofdele gehad—die wagtoring, wat die moerkwam genoem word, en die huis waaraan dit vas is, wat die kor genoem word. Op die kor se grondvloer was daar ’n groot vuurmaakplek vir hitte en lig. Daar was ook ’n groot houtstoel vir die patriarg, wat die hoof was van ’n uitgebreide familie, wat sy vrou, sy seuns en hulle vrouens ingesluit het. Elke vrou het om die beurt na verskillende huishoudelike take omgesien. Hulle moes koring maal, brood bak, huiswerk doen, die diere voer en die vuur stook.

Die yslike toring is van klip gebou en is bedek met ’n growwe, witterige pleister. Dit het vier verdiepings, en staan veel hoër as die dubbelverdiepinghuis waaraan dit vas is. Toe ons die toring van die huis af binnegaan, het dit ons oë ’n tydjie geneem om aan die dowwe lig gewoond te raak. Die wagtoring se laer verdiepings is vroeër gebruik as ’n bergplek vir water, meel, vrugte, kaas, wyn en vleis.

In tye van nood het die familie op die toring se laer en middelste verdiepings geslaap. Die boonste verdieping, wat ’n leidak het, was hoofsaaklik ’n vegplatform met klein openinge in die muur. In die 19de eeu het een besoeker gesê dat “die mense hulle gedurig tot wapens gewend het, aangesien daar geen plaaslike owerheid was wat ’n besluit kon afdwing nie”. Elke familie was dus gereed om te veg om hulleself te verdedig.

Op pad terug huis toe het gevoelens van dankbaarheid teenoor Jehovah in ons harte opgewel terwyl ons nagedink het oor die prag wat ons in sy ontsagwekkende skepping in Swaneti gesien het. Diegene wat in vervloë tye in die wagtorings van Swaneti gewoon het, het die vooruitsig op die lewe in God se nuwe wêreld. Dan sal niemand dit nodig ag om ’n wagtoring of enige ander vesting te bou om hulle te beskerm nie. Waarom nie? Omdat die Bybel belowe: “Elkeen [sal] onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”—Miga 4:4; Romeine 8:21, 22.

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Bo: Paata Vardanashvili

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel