Ons beskou die wêreld
Laat in 2011 het die wêreldbevolking die 7 miljard-kerf oorskry; “in 1999 was dit 6 miljard”.—FAKULTEIT VAN OPENBARE GESONDHEID VAN DIE HARVARD-UNIVERSITEIT, VSA.
“In die [Verenigde Koninkryk] meen 58,8% van die bevolking dat hulle gesin sou baat vind by tegnologievrye tye waartydens alle kommunikasietoestelle afgeskakel is. . . . Een uit drie mense het al so oorweldig gevoel dat hulle van kommunikasietegnologie wou wegkom.”—UNIVERSITEIT VAN CAMBRIDGE, BRITTANJE.
“Sedert 1976 het die konferensie van Amerika se Katolieke biskoppe voor elke presidensiële verkiesingsjaar verklarings . . . uitgereik om Katolieke te help besef hoe hulle geloof hulle politieke keuses moet beïnvloed.”—FORDHAM-UNIVERSITEIT, VSA.
“As daar genoeg misdadigers is wat op straat verwoesting wil saai, sal hulle dit kan doen. . . . ’n Minderheid jong Britte word gekenmerk deur ’n gebrek aan sedes. Hoewel dit ’n subgroep is, is dit nietemin groot genoeg om die land te terroriseer en te verneder.”—THE ECONOMIST, BRITTANJE.
Hoeveel spesies op aarde?
“Dit is verbasend hoeveel onsekerheid daar is oor die aantal spesies wat bestaan, wat dui op ’n groot gaping in ons basiese kennis van lewe op Aarde”, sê wetenskaplikes wie se navorsing in die tydskrif PLoS Biology verskyn. Hulle skat dat daar 8,7 miljoen spesies van lewende dinge is, of dalk ’n miljoen meer of minder, terwyl ander deskundiges meen dat daar enigiets tussen 3 miljoen en 100 miljoen kan wees. Tot dusver is net omtrent 1,2 miljoen van hierdie spesies al geklassifiseer, en daar word gemeen dat dit teen die huidige tempo meer as 1 000 jaar kan neem om die res te katalogiseer. “Hierdie stadige vordering in die klassifisering van spesies sal beteken dat spesies sal uitsterf nog voordat ons selfs geweet het van hulle bestaan”, sê die navorsers.
Argeologie met behulp van satelliete
Argeoloë gebruik ’n nuwe metode om plekke te vind wat vir hulle van belang is. Hulle gebruik analitiese sagteware om beelde te ontleed wat deur middel van hoëresolusie- en infrarooi-satellietfotografie geneem is. Foto’s wat byvoorbeeld 700 kilometer bo Egipte geneem is, het volgens berig die ligging onthul van 17 voorheen onbekende piramides, 1 000 eertydse grafte en sowat 3 000 verlore nedersettings. Omdat infrarooifotografie deur die aarde se oppervlak kan dring, onthul die tegnologie die buitelyne van langvergete ruïnes wat deur grond bedek is en nie bo die grond sigbaar is nie.