Die enteriese senuweestelsel (ESS, aangedui in blou) kom regdeur die spysverteringskanaal voor
Die senuweestelsel van die dermkanaal—Jou liggaam se “tweede brein”?
HET jy meer as een brein? As jy “nee” sê, is jy reg. Maar daar is wel ander senuweestelsels in jou liggaam. Een van hierdie netwerke van senuweeselle is so ingewikkeld dat party wetenskaplikes dit ’n “tweede brein” noem. Hierdie enteriese senuweestelsel (ESS) is nie in jou kop nie, maar in jou ingewande.
Dit verg baie harde werk en koördinasie van die liggaam om kos in energie te verander. Daarom is die brein ontwerp om amper al die beheer van die spysvertering aan die ESS oor te laat.
Al is die ESS baie eenvoudiger as die brein, is dit nog steeds besonder ingewikkeld. Die mens se ESS bestaan uit ongeveer 200 tot 600 miljoen senuweeselle. Hierdie komplekse netwerk van senuweeselle is in die spysverteringstelsel ingebou. Wetenskaplikes glo dat, indien die brein die werk van die ESS moes doen, die nodige senuwees dan te dik sou wees. Volgens die boek The Second Brain “is dit dan veiliger en beter dat die [spysverteringstelsel] vir homself sorg”.
“’N CHEMIESE WERKSWINKEL”
Die vertering van kos vereis dat ’n verskeidenheid van net die regte chemiese mengsels op die regte tyd vervaardig en na die regte plekke gestuur moet word. Met goeie rede het professor Gary Mawe die spysverteringstelsel as “’n chemiese werkswinkel” beskryf. Die doeltreffendheid van hierdie chemiese proses is verstommend. Die dermwand is byvoorbeeld aan die binnekant vol gespesialiseerde selle. Hierdie selle dien as chemiese sensors, of smaakreseptors, wat chemikalieë in jou kos identifiseer. Hierdie inligting help die ESS om die regte verteringsensieme te gebruik om die kos op te breek sodat die liggaam dit kan opneem. Die ESS speel ook ’n baie belangrike rol daarin om die suurgehalte en ander chemiese eienskappe van die kosdeeltjies te kontroleer en die verteringsensieme dan daarby aan te pas.
Jy kan die spysverteringskanaal met ’n produksielyn vergelyk wat hoofsaaklik deur die ESS beheer word. Jou “tweede brein” laat die spiere langs jou spysverteringskanaal saamtrek en dit laat die kos deur die spysverteringstelsel beweeg. Die ESS wissel die sterkte en gereeldheid van hierdie spiersametrekkings af sodat die stelsel soos ’n reeks vervoerbande werk.
Die ESS beskerm jou ook teen giftige stowwe. Die kos wat jy eet, bevat heel moontlik gevaarlike bakterieë. Dit is geen wonder nie dat ongeveer 70 tot 80 persent van jou liggaam se limfosietselle in jou ingewande geleë is! Hierdie selle is noodsaaklik vir jou immuunstelsel. As jy te veel skadelike organismes inneem, beskerm die ESS die liggaam. Dit sal sterk sametrekkings aan die gang sit wat braking of diarree veroorsaak om van die meeste van die gifstowwe ontslae te raak.
GOEIE KOMMUNIKASIE
Al lyk dit of die ESS en die brein elkeen op hulle eie funksioneer, gesels hierdie twee senuweestelsels heeltyd met mekaar. Byvoorbeeld, die ESS help met hormoonregulering wat die brein laat weet wanneer en hoeveel jy moet eet. Die senuweeselle van die ESS stuur ’n boodskap aan die brein wanneer jy versadig is en kan jou naar laat voel as jy te veel eet.
Voordat jy hierdie artikel begin lees het, het jy seker al vermoed dat jou spysverteringskanaal en jou brein op die een of ander manier met mekaar kommunikeer. Het jy byvoorbeeld al opgelet dat jy beter voel nadat jy vetterige kos geëet het? Navorsing toon dat dit gebeur wanneer jou ESS ‘goedvoel’-seine na jou brein stuur. Dit begin dan ’n kettingreaksie wat jou beter laat voel. Dit sal verduidelik hoekom mense geneig is om ‘trooskos’ te wil eet wanneer hulle stres. Wetenskaplikes probeer om hierdie proses na te maak om depressie te behandel.
Nog ’n voorbeeld van kommunikasie tussen die brein en die spysverteringstelsel is wat soms beskryf word as ’n knop op die maag. Jy voel dalk so omdat die ESS bloed van die maag af wegkeer wanneer die brein druk of stres ervaar. Stres kan ook tot naarheid lei omdat die brein veroorsaak dat die ESS die dermkanaal se normale sametrekkings verander. Volgens kenners is hierdie verbinding tussen die brein en maag dalk die rede waarom ons sê dat ons ’n snaakse gevoel in ons maag (’n gut feeling) kry wanneer ons iets vermoed.
Alhoewel die ESS jou so kan laat voel, kan dit nie vir jou dink of jou help besluite neem nie. Met ander woorde, die ESS is nie regtig ’n brein nie. Dit kan jou nie help om ’n liedjie te skryf, jou bankstaat te balanseer of jou huiswerk te doen nie. Maar hierdie wonderlike stelsel is so ingewikkeld dat wetenskaplikes verstom is oor wat hulle sover hieroor uitgevind het. So voor jy volgende keer ’n lekker maaltyd geniet, dink ’n bietjie aan hoe hard jou spysverteringstelsel nou gaan werk. Dit moet al die kos kontroleer, die inligting verwerk, die vertering koördineer en met die brein kommunikeer!