Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 6 bl. 71-82
  • Yslike klowe—Kan evolusie hulle oorbrug?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Yslike klowe—Kan evolusie hulle oorbrug?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kloof tussen vis en amfibie
  • Die kloof tussen amfibie en reptiel
  • Die kloof tussen reptiel en voël
  • Die kloof tussen reptiel en soogdier
  • Die allergrootste kloof
  • Wat die fossielverslag sê
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Vere—’n wonder van ontwerp
    Ontwaak!—2007
  • Het alle lewe afgestam van ’n gemeenskaplike voorouer?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Waar het hulle sulke pragtige vere gekry?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 6 bl. 71-82

Hoofstuk 6

Yslike klowe—Kan evolusie hulle oorbrug?

1. Wat word oor gapings in die fossielverslag gesê?

FOSSIELE lewer tasbare bewys van die verskillende lewensvorme wat lank voor die mens bestaan het. Maar hulle het nie die verwagte steun gebied vir die evolusionistiese beskouing van hoe lewe begin het of hoe nuwe soorte daarna ontstaan het nie. Waar hy kommentaar lewer oor die gebrek aan oorgangsfossiele om die biologiese klowe te oorbrug, sê Francis Hitching: “Die eienaardige ding is dat die fossielgapings ’n patroon vorm: die fossiele ontbreek op al die belangrike plekke.”⁠1

2. Hoe lig visfossiele hierdie gapings toe?

2 Die belangrike plekke waarvan hy praat, is die klowe tussen die hoofafdelings van dierelewe. ’n Voorbeeld hiervan is dat daar gemeen word dat visse uit ongewerweldes, wesens sonder ’n ruggraat, geevolueer het. Hitching sê: “Visse verskyn oënskynlik uit die niet in die fossielverslag: geheimsinnig, skielik, ten volle gevorm.”⁠2 Dierkundige N. J. Berrill lewer die volgende kommentaar oor sy evolusionistiese verduideliking van hoe visse ontstaan het: “In ’n sin is hierdie verslag ’n wetenskapsroman.”⁠3

3. Hoe verklaar die evolusieteorie die groot afdelings van dierelewe?

3 Die evolusieteorie veronderstel dat visse amfibieë geword het, sommige amfibieë reptiele geword het, dat soogdiere sowel as voëls van reptiele af kom, en dat sommige soogdiere eindelik mense geword het. Die vorige hoofstuk het getoon dat die fossielverslag nie hierdie veronderstellings steun nie. Hierdie hoofstuk handel oor die omvang van die vermeende oorgangstappe. Terwyl jy verder lees, moet jy dink aan die waarskynlikheid dat sulke veranderinge spontaan as gevolg van blinde toeval kan gebeur.

Die kloof tussen vis en amfibie

4, 5. Wat is sommige van die groot verskille tussen visse en amfibieë?

4 Dit is die ruggraat wat die vis van die ongewerwelde diere onderskei. Hierdie ruggraat sou groot veranderinge moes ondergaan sodat die vis ’n amfibie kon word, dit wil sê, ’n dier wat in die water sowel as op droë grond kan lewe. ’n Bekken moes bygevoeg word, maar daar is geen fossielvis gevind wat toon hoe die bekken van amfibieë ontwikkel het nie. In sommige amfibieë, soos paddas, sou die hele ruggraat onherkenbaar moes verander. Boonop is die kopbene verskillend. Vir die ontwikkeling van amfibieë vereis evolusie daarbenewens dat visvinne gelede pote met gewrigte en tone moes word, en dat dit gepaard moes gaan met groot veranderinge in spiere en senuwees. Kieue moes in longe verander. In visse word bloed deur ’n hart met twee kamers gepomp, maar in amfibieë deur ’n hart met drie kamers.

5 Om die kloof tussen vis en amfibie te oorbrug, sou die gehoorsin ’n radikale verandering moes ondergaan. Visse vang oor die algemeen klank deur hulle liggame op, terwyl die meeste paddas oortrommels het. Tonge sou ook moes verander. Geen vis het ’n tong wat uitgesteek kan word nie, maar amfibieë soos paddas het wel. Amfibieë het die bykomende vermoë om hulle oë te knip aangesien hulle ’n membraan het wat oor hulle oogballe beweeg om hulle skoon te hou.

6. Watter wesens is as skakels tussen visse en amfibieë beskou, en waarom is hulle nie?

6 Kragtige pogings is aangewend om die amfibieë met ’n visvoorouer te verbind, maar sonder welslae. Die longvis is ’n gunsteling, aangesien dit, benewens kieue, ook ’n swemblaas het wat dit kan gebruik om mee asem te haal wanneer dit tydelik uit die water is. Die boek The Fishes sê: “’n Mens sou graag wou dink dat hulle regstreeks verband hou met die amfibieë wat tot die landwerweldiere gelei het. Maar daar is geen verband nie; hulle is ’n heeltemal afsonderlike groep.”⁠4 David Attenborough diskwalifiseer die longvis sowel as die selakant “omdat die bene van hulle skedels so verskil van dié van die eerste fossielamfibieë dat die een nie van die ander kan kom nie”.⁠5

Die kloof tussen amfibie en reptiel

7. Wat is een van die moeilikste probleme om te verklaar in die oorgang van amfibie tot reptiel?

7 Pogings om die kloof tussen amfibie en reptiel te oorbrug, lewer ander ernstige probleme op. Een van die moeilikstes staan in verband met die oorsprong van die dopeier. Wesens voor die reptiele het hulle sagte, jellieagtige eiers in water gelê, waar die eiers uitwendig bevrug is. Reptiele is landdiere en lê hulle eiers op land, hoewel die ontwikkelende embrio’s binne-in steeds deur vloeistof omring moet word. Die dopeier was die oplossing. Maar dit het ook ’n groot verandering in die bevrugtingsproses vereis: Dit het interne bevrugting vereis, voordat die eier deur ’n dop omring is. Hiervoor was nuwe geslagsorgane, nuwe paringsmetodes en nuwe instinkte nodig—alles dinge wat ’n yslike kloof tussen amfibie en reptiel uitmaak.

8, 9. Watter ander kenmerke is noodsaaklik by die dopeier?

8 Deur die eier met ’n dop te omring, is ander merkwaardige veranderinge nodig sodat dit vir die reptiel moontlik sou wees om te ontwikkel en uiteindelik uit die dop te kom. In die dop moet daar byvoorbeeld verskeie membrane en sakke, soos die amnion, wees. Dit bevat die vloeistof waarin die embrio groei. The Reptiles beskryf nog ’n membraan genaamd die allantoïs: “Die allantoïs ontvang en berg die embrio se afvalprodukte en dien as ’n soort blaas. Dit het ook bloedvate wat suurstof opneem wat deur die dop kom en dit na die embrio voer.”⁠6

9 Evolusie het nie ander ingewikkelde verskille verklaar nie. Die embrio’s in vis- en amfibie-eiers stel hulle afvalprodukte in die omringende water as oplosbare ureum vry. Maar ureum in die dopeiers van reptiele sal die embrio doodmaak. In die dopeier is daar gevolglik ’n groot chemiese verandering aangebring: Die afvalprodukte, onoplosbare uriensuur, word in die allantoïsmembraan geberg. Beskou ook die volgende: Die dooier is voedsel vir die groeiende reptielembrio en stel dit in staat om ten volle te ontwikkel voordat dit uit die dop kom—anders as amfibieë, wat nie in die volwassenevorm uitbroei nie. En om uit die dop te kom, is die embrio uniek aangesien hy ’n tandjie het om hom te help om uit sy gevangenis te kom.

10. Hoe het een evolusionis die saak betreur?

10 Veel meer is nodig om die kloof tussen amfibie en reptiel te oorbrug, maar hierdie voorbeelde toon dat blinde toeval eenvoudig nie al die talle ingewikkelde veranderinge wat nodig was om daardie geweldige kloof te oorbrug, kan verklaar nie. Geen wonder dat evolusionis Archie Carr gekla het nie: “Een van die frustrerende aspekte van die fossielverslag oor die herkoms van werweldiere is dat dit so min toon oor die evolusie van reptiele gedurende hulle vroegste dae, toe die dopeier ontwikkel het.”⁠7

Die kloof tussen reptiel en voël

11, 12. Wat is ’n belangrike verskil tussen reptiele en voëls, en hoe probeer sommige om hierdie raaisel op te los?

11 Reptiele is koudbloedige diere, wat beteken dat hulle inwendige temperatuur styg of daal na gelang van die temperatuur buitekant. Voëls is andersyds warmbloedig; hulle liggame handhaaf ’n betreklik konstante inwendige temperatuur ongeag die temperatuur buitekant. Om die raaisel oor hoe warmbloedige voëls van koudbloedige reptiele kon kom op te los, sê sommige evolusioniste nou dat sommige van die dinosourusse (wat reptiele was) warmbloedig was. Maar die algemene beskouing word steeds deur Robert Jastrow opgesom: “Soos alle reptiele was die dinosourusse koudbloedige diere.”⁠8

12 Lecomte du Noüy, die Franse evolusionis, het aangaande die opvatting dat warmbloedige voëls van koudbloedige reptiele af kom, gesê: “Dit is vandag een van die grootste raaisels van evolusie.” Hy het ook erken dat voëls “al die onbevredigende eienskappe van absolute skepping besit”⁠9—dit wil sê, onbevredigend vir die evolusieteorie.

13. Wat doen voëls om hulle eiers te laat uitbroei?

13 Ofskoon sowel reptiele as voëls eiers lê, moet slegs voëls op hulle eiers sit om hulle te laat uitbroei. Hulle is so ontwerp. Baie voëls het ’n broeikol op hulle bors, ’n kol waarop daar geen vere is nie en wat ’n netwerk van bloedvate bevat om die eiers warm te maak. Sommige voëls het geen broeikol nie, maar hulle pluk hulle borsvere uit. En evolusie sou voëls van nuwe instinkte moes voorsien voordat hulle hulle eiers kon uitbroei—die instinkte om die nes te bou, om op die eiers te sit en die kleintjies te voer—baie onselfsugtige, altruïstiese, bedagsame gedrag wat vaardigheid, harde werk en opsetlike blootstelling aan gevaar verg. Al hierdie dinge verteenwoordig ’n groot kloof tussen reptiele en voëls. Maar daar is veel meer.

14. Watter feite omtrent vere maak dit onmoontlik om te glo dat hulle van reptielskubbe kon gekom het?

14 Net voëls het vere. Reptielskubbe het kwansuis sommer net in hierdie verbasende strukture verander. Uit die skag van ’n veer steek daar rye spriete. Elke spriet het talle baardjies, en elke baardjie het honderde ritshakies. Na ’n mikroskopiese ondersoek van een duifveer het dit aan die lig gekom dat dit “etlike honderdduisende baardjies en miljoene ritshakies” het.⁠10 Hierdie hakies hou al die dele van ’n veer bymekaar om plat oppervlakke of vleuels te vorm. Niks oortref die veer as ’n lugvlak nie, en min stowwe is so ’n goeie isolator. ’n Voël so groot soos ’n swaan het ongeveer 25 000 vere.

15. Hoe versorg voëls hulle vere?

15 As die spriete van hierdie vere geskei raak, word hulle met die snawel gekam. Die snawel oefen druk uit wanneer die spriete daardeur beweeg, en die hakies aan die baardjies skakel aaneen soos die tandjies van ’n ritssluiter. Die meeste voëls het ’n olieklier onder die stert waar hulle olie kry om elke veer te versorg. Sommige voëls het geen olieklier nie, maar het eerder spesiale vere wat by die punte verslyt om ’n fyn, poeieragtige stof te vorm vir die versorging van hulle vere. En vere word gewoonlik hernieu wanneer die voël een keer per jaar verveer.

16. Wat het een evolusionis oor die oorsprong van vere gesê?

16 Kyk nou, met al hierdie kennis van die veer, na hierdie verbasende poging om die ontwikkeling daarvan te verklaar: “Hoe het hierdie strukturele wonder geëvolueer? Dit verg nie baie verbeelding om ’n veer as ’n gewysigde skub te sien nie, basies soos dié van ’n reptiel—’n langerige skub wat nie deeglik vasgeheg is nie, waarvan die rande uitgerafel en uitgesprei het totdat dit geëvolueer het tot die hoogs ingewikkelde struktuur wat dit vandag is.”⁠11 Maar dink jy dat so ’n verklaring waarlik wetenskaplik is? Of klink dit meer na ’n wetenskapsroman?

17. Hoe verskil die bene van ’n voël van dié van ’n reptiel?

17 Beskou verder hoe die voël vir vlug gebou is. Die bene van ’n voël se skelet is dun en hol, anders as die reptiel se soliede bene. Maar om te kan vlieg, het die voël sterk bene nodig, en daarom is daar stutte in die voël se bene, soos die stutte in vliegtuigvlerke. Hierdie ontwerp van die bene het nog ’n ander nut: Dit help om nog ’n uitsluitlike wonder van voëls te verklaar—hulle asemhalingstelsel.

18. Watter strukture help voëls om tydens lang vlugte koel te bly?

18 Gespierde vlerke wat ure lank of selfs dae lank tydens vlug geklap word, wek baie hitte op, en al het die voël geen sweetkliere vir verkoeling nie, kom hy hierdie probleem te bowe—hy het ’n lugverkoelde “enjin”. ’n Stelsel van lugsakke reik tot in feitlik elke belangrike deel van die liggaam, selfs tot in die hol bene, en liggaamshitte word deur hierdie inwendige lugsirkulasie weggevoer. En as gevolg van hierdie lugsakke neem voëls suurstof baie doeltreffender as enige ander werweldier uit die lug op. Hoe word dit gedoen?

19. Wat stel voëls in staat om in dun lug asem te haal?

19 By reptiele en soogdiere neem die longe lug in en stoot dit lug uit, soos ’n blaasbalk wat om die beurt vol en leeg word. Maar by voëls vloei daar voortdurend vars lug deur die longe wanneer daar ingeasem sowel as uitgeasem word. Dit werk basies soos volg: Wanneer die voël inasem, gaan die lug na sekere lugsakke; dit dien as ’n blaasbalk om die lug in die longe in te stoot. Van die longe af gaan die lug na ander lugsakke, wat dit uiteindelik uitstoot. Dit beteken dat daar voortdurend ’n stroom vars lug in een rigting deur die longe beweeg, baie soos water wat deur ’n spons vloei. Die bloed in die haarvate van die longe vloei in die teenoorgestelde rigting. Dit is hierdie teenoorgestelde rigtings van die lug- en bloedstroom wat die voël se asemhalingstelsel buitengewoon maak. Dit is as gevolg daarvan dat voëls die dun lug van groot hoogtes kan inasem terwyl hulle dae aaneen op ’n hoogte van meer as 6 100 meter vlieg wanneer hulle duisende kilometers ver trek.

20. Watter ander eienskappe maak die kloof tussen voël en reptiel groter?

20 Ander eienskappe vergroot die kloof tussen voël en reptiel. Gesig is een. Van arende tot sangvoëls is daar oë soos teleskope en oë soos vergrootglase. Voëls het meer sintuigselle in hulle oë as enige ander lewende ding. Voëls se kloue is ook anders. Wanneer hulle op stok gaan, laat senings hulle tone outomaties om die tak sluit. En hulle het slegs vier tone in plaas van die reptiel se vyf. Hulle het daarbenewens geen stembande nie, maar ’n stemorgaan waaruit melodieuse liedere soos dié van die nagtegale en spotvoëls voortkom. Hou ook in gedagte dat reptiele ’n hart met drie kamers het; ’n voël se hart het vier kamers. Voëls word ook deur hulle snawels van reptiele onderskei: snawels wat as neutkrakers gebruik word, snawels wat kos uit modderwater filtreer, snawels wat gate in bome uithol, kruisbeksnawels wat dennebolle oopmaak—die verskeidenheid is byna eindeloos. En tog word daar gesê dat die snawel, wat so gespesialiseerd is, per toeval uit die neus van ’n reptiel geëvolueer het! Klink so ’n verduideliking vir jou aanneemlik?

21. Wat diskwalifiseer Archaeopteryx as ’n skakel tussen reptiel en voël?

21 Evolusioniste het eens geglo dat Archaeopteryx, wat “oervlerk” of “oervoël” beteken, ’n skakel tussen reptiel en voël was. Maar nou glo baie dit nie meer nie. Die gefossileerde oorskot toon volmaak gevormde vere op aërodinamies ontwerpte vlerke wat hom in staat sou stel om te vlieg. Die bene in sy vlerke en bene was dun en hol. Sy sogenaamde reptieleienskappe word vandag in voëls aangetref. En hy is nie ’n voorganger van voëls nie, want fossiele van ander voëls is in rotse van dieselfde tydperk as Archaeopteryx gevind.⁠12

Die kloof tussen reptiel en soogdier

22. Watter verskil tussen reptiel en soogdier word al net deur die naam “soogdier” aangedui?

22 Belangrike verskille skep ’n groot kloof tussen reptiele en soogdiere. Net die naam “soogdier” dui al op een groot verskil: die bestaan van melkkliere wat melk afskei vir die kleintjies, wat lewend gebore word. Theodosius Dobzhansky het aan die hand gedoen dat hierdie melkkliere “gewysigde sweetkliere kan wees”.⁠13 Maar reptiele het nie eens sweetkliere nie. Daarbenewens skei sweetkliere afvalprodukte af, nie kos nie. En anders as jong reptiele het jong soogdiere die instink sowel as die spiere om melk uit hulle moeder te suig.

23, 24. Watter ander kenmerke het soogdiere wat reptiele nie het nie?

23 Soogdiere het ook ander kenmerke wat nie in reptiele aangetref word nie. Soogdiermoeders het hoogs ingewikkelde plasentas vir die voeding en ontwikkeling van hulle ongebore kleintjies. Reptiele het nie. Daar is geen diafragma in reptiele nie, maar soogdiere het ’n diafragma wat die borskas van die buik skei. Die orgaan van Corti in die ore van soogdiere word nie in reptielore gevind nie. Hierdie klein, ingewikkelde orgaan het 20 000 stafies en 30 000 senu-eindpunte. Soogdiere handhaaf ’n konstante liggaamstemperatuur, terwyl reptiele dit nie doen nie.

24 Soogdiere het ook drie bene in hulle ore, terwyl reptiele slegs een het. Waar kom die twee “ekstra” bene vandaan? Die evolusieteorie probeer om dit soos volg te verduidelik: Reptiele het ten minste vier bene in die onderkaak, terwyl soogdiere net een het; terwyl reptiele soogdiere geword het, was daar glo ’n herrangskikking van bene; sommige van die bene in die reptiel se onderkaak het na die soogdier se middeloor geskuif sodat daar nou drie bene aldaar is, en in die proses het slegs een in die soogdier se onderkaak oorgebly. Die probleem met hierdie redenasie is egter dat daar hoegenaamd geen fossielgetuienis is om dit te steun nie. Dit is bloot wensdenkery.

25. Watter verdere verskille is daar tussen reptiele en soogdiere?

25 Nog ’n probleem wat met bene in verband staan: Reptielbene is aan die kant van die liggaam vasgeheg sodat die buik op of baie na aan die grond is. Maar by soogdiere is die bene onder die liggaam en lig dit die liggaam van die grond af op. Aangaande hierdie verskil het Dobzhansky gesê: “Hoewel hierdie verandering gering kan lyk, het dit algemene veranderinge van die skelet en die spierstelsel nodig gemaak.” Hy het toe nog ’n groot verskil tussen reptiele en soogdiere erken: “Soogdiere het veel ingewikkelder tande ontwikkel. In plaas van die eenvoudige, penagtige tande van die reptiel, is daar die groot verskeidenheid soogdiertande wat aangepas is om kos te byt, vas te gryp, te deurboor, te sny, fyn te stamp of te maal.”⁠14

26. Watter ommekeer sou evolusie moes maak waar dit kom by die uitskeiding van afvalstowwe?

26 Nog een ding: Toe die amfibie kwansuis tot ’n reptiel geëvolueer het, het die afvalstowwe glo van ureum tot uriensuur verander. Maar toe die reptiel ’n soogdier geword het, was daar ’n ommekeer. Soogdiere het teruggekeer tot die amfibiegewoonte en afvalstowwe as ureum uitgeskei. Evolusie het in werklikheid agteruit beweeg—iets wat dit teoreties nie veronderstel is om te doen nie.

Die allergrootste kloof

27. Wat sou volgens een evolusionis ’n ‘groot fout’ wees?

27 Fisies pas die mens die algemene definisie van ’n soogdier. Een evolusionis het egter gesê: “Ons kan geen groter fout begaan as om te dink dat die mens ‘bloot ’n dier’ is nie. Die mens is uniek; hy verskil in talle opsigte van alle ander diere, byvoorbeeld in spraak, tradisie, kultuur en ’n geweldige lang tydperk van groei en ouerlike sorg.”⁠15

28. Hoe onderskei die mens se brein hom van die diere?

28 Dit is die mens se brein wat hom van alle ander skepsele op aarde onderskei. Die informasie wat in sowat 100 duisendmiljoen neurone van die mensebrein geberg word, sal naastenby 20 miljoen boeke vul! Die vermoë om abstrak te dink en om te praat, skep ’n groot kloof tussen die mens en enige dier, en die vermoë om verslag te hou van toenemende kennis is een van die mens se merkwaardigste eienskappe. Die gebruik van hierdie kennis het hom in staat gestel om alle ander lewende dinge op aarde te oortref—hy het selfs daarin geslaag om maan toe te gaan en terug te keer. Die mens se brein is, soos een wetenskaplike gesê het, waarlik “anders en oneindig ingewikkelder as enigiets anders in die bekende heelal”.⁠16

29. Watter feit maak die kloof tussen mens en dier die allergrootste?

29 Nog ’n kenmerk wat die kloof tussen mens en dier die allergrootste maak, is die mens se morele en geestelike waardes, wat voortspruit uit hoedanighede soos liefde, geregtigheid, wysheid, mag, barmhartigheid. Dit is waarop daar in Genesis gesinspeel word wanneer dit sê dat die mens ‘na die beeld en gelykenis van God’ gemaak is. En dit is die kloof tussen mens en dier wat die allergrootste gaping is.—Genesis 1:26.

30. Wat sê die fossielverslag werklik?

30 Daar bestaan gevolglik ontsaglike verskille tussen die hoofafdelings van lewe. Talle nuwe strukture, geprogrammeerde instinkte en hoedanighede skei hulle van mekaar. Is dit redelik om te dink dat hulle as gevolg van onbeheerde, toevallige gebeurtenisse ontstaan het? Soos ons gesien het, steun die fossielgetuienis nie daardie beskouing nie. Geen fossiele kan gevind word wat die klowe oorbrug nie. Dit is soos Hoyle en Wickramasinghe sê: “Tussenvorme ontbreek in die fossielverslag. Ons sien nou waarom, wesenlik omdat daar geen tussenvorme was nie.”⁠17 Vir diegene met horende ore sê die fossielverslag: “Direkte skepping.”

[Lokteks op bladsy 72]

Geen fossielvis toon hoe die bekken van amfibieë ontwikkel het nie

[Lokteks op bladsy 81]

“Ons kan geen groter fout begaan as om te dink dat die mens ‘bloot ’n dier’ is nie”

[Venster/Prente op bladsy 73]

Daar is geen skakels tussen die hoofafdelings van lewe nie. Een wetenskaplike het gesê: “Die fossiele ontbreek op al die belangrike plekke”

[Prente]

Almal bring voort “volgens hulle soorte”

Vis

Amfibie

Reptiel

Voël

Soogdier

Mens

[Venster/Prente op bladsy 76]

Evolusioniste sê: “Dit verg nie baie verbeelding om ’n veer as ’n gewysigde [reptiel]skub te sien nie.” Die feite toon die teendeel

[Prente]

Papegaai

Paradysvoël

Pou

[Diagram]

Skag

Spriete

Ritshakies

Baardjies

[Diagram/Prente op bladsy 74]

Die jellieagtige eiers van amfibieë het geen doppe nie

Die eiers van reptiele het beskermende doppe

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Dwarssnee van ’n dopeier

dop

albumen

vrugvlies

dooier

amnion

allantoïs

embrio

lugruimte

eiermembraan

[Prent op bladsy 71]

“Visse verskyn oënskynlik uit die niet in die fossielverslag”

[Prente op bladsy 72]

Die ruggraat van ’n vis en van ’n padda is heeltemal verskillend

[Prent op bladsy 75]

Voëls het “al die onbevredigende eienskappe van absolute skepping”

[Prente op bladsy 78]

Die arend se oog werk soos ’n teleskoop, en die sangvoël s’n soos ’n vergrootglas

[Prent op bladsy 79]

Archaeopteryx is nie ’n skakel tussen reptiel en voël nie

[Prent op bladsy 80]

Soogdiere se kleintjies word lewend gebore en kry melk van hulle moeders

[Prente op bladsy 82]

“Tussenvorme ontbreek in die fossielverslag . . . omdat daar geen tussenvorme was nie”

Vis

Amfibie

Reptiel

Voël

Soogdier

Mens

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel