Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 254-bl. 258
  • Kruis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kruis
  • Redenering uit die Skrif
  • Soortgelyke materiaal
  • Het Jesus werklik aan ’n kruis gesterf?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Is die kruis vir Christene?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wat die liefde tot God beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Waarom ware Christene nie die kruis in aanbidding gebruik nie
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 254-bl. 258

Kruis

Definisie: Die voorwerp waaraan Jesus Christus tereggestel is, word deur die grootste deel van die Christendom ’n kruis genoem. Die woord kom van die Latynse woord crux.

Waarom toon die publikasies van die Wagtoringgenootskap Jesus aan ’n paal met sy hande bokant sy kop in plaas van aan die tradisionele kruis?

Die Griekse woord wat in talle hedendaagse Bybelvertalings met “kruis” weergegee word (“folterpaal” in NW), is stau·rosʹ. In klassieke Grieks het hierdie woord bloot ’n regop paal aangedui. Later is dit ook gebruik vir ’n teregstellingspaal met ’n dwarsstuk. The Imperial Bible-Dictionary erken dit en sê: “Die Griekse woord vir kruis, [stau·rosʹ], het tereg ’n staak, ’n regop paal of ’n stuk paalwerk, aangedui waaraan enigiets gehang kan word, of wat gebruik kan word om ’n stuk grond te ompaal [omhein] . . . Selfs onder die Romeine was die crux (waarvan ons woord kruis afgelei word) skynbaar oorspronklik ’n regop paal.”—Geredigeer deur P. Fairbairn (Londen, 1874), Dl. I, bl. 376.

Was dit die geval met die teregstelling van God se Seun? Dit is opmerkenswaardig dat die Bybel ook die woord xyʹlon gebruik vir die voorwerp wat gebruik is. A Greek-English Lexicon, deur Liddell en Scott, definieer dit soos volg: “Gekapte hout wat gereed is om gebruik te word, vuurmaakhout, timmerhout, ens. . . . ’n stuk hout, stomp, balk, stut . . . knots, knuppel . . . paal waaraan misdadigers genael is . . . van lewende hout, boom.” Dit sê ook “in die NT, vir die kruis”, en gee Handelinge 5:30 en 10:39 as voorbeelde aan (Oxford, 1968, bl. 1191, 1192). Maar in daardie verse vertaal KJ, RS, JB en Dy die woord xyʹlon met “boom”. (Vergelyk hierdie lesing met Galasiërs 3:13; Deuteronomium 21:22, 23.)

Die boek The Non-Christian Cross, deur J. D. Parsons (Londen, 1896), sê: “Daar is nie ’n enkele sin in enige van die talle geskrifte wat die Nuwe Testament uitmaak wat in die oorspronklike Grieks selfs indirek getuig dat die stauros wat in Jesus se geval gebruik is enigiets anders as ’n gewone stauros was nie; wat nog te sê dat dit nie net uit een stuk hout bestaan het nie, maar uit twee stukke wat in die vorm van ’n kruis aanmekaar vasgespyker was. . . . Dit is baie misleidend van ons leraars om die woord stauros met ‘kruis’ te vertaal wanneer hulle die Griekse dokumente van die Kerk in ons moedertaal weergee, en om daardie optrede te steun deur ‘kruis’ in ons woordeboeke aan te gee as die betekenis van stauros, sonder om noukeurig te verduidelik dat dit ten minste nie die oorspronklike betekenis van die woord in die dae van die Apostels was nie, dat dit eers veel later die vernaamste betekenis geword het en dat dit toe, indien enigsins, die vernaamste betekenis geword het slegs omdat daar, ondanks die afwesigheid van stawende getuienis, om die een of ander rede aangeneem is dat die bepaalde stauros waaraan Jesus tereggestel is daardie besondere vorm gehad het.”—Bl. 23, 24; kyk ook The Companion Bible (Londen, 1885), Aanhangsel nr. 162.

Die oorwig van die bewyse dui dus daarop dat Jesus aan ’n regop paal gesterf het en nie aan die tradisionele kruis nie.

Wat is die geskiedkundige oorsprong van die Christendom se kruis?

“Verskeie voorwerpe, wat uit tydperke lank voor die Christelike tydvak dateer, is in feitlik elke deel van die ou wêreld gevind, versier met kruise van verskillende ontwerpe. Indië, Sirië, Persië en Egipte het almal tallose voorbeelde opgelewer . . . Die gebruik van die kruis as ’n godsdienssimbool in voorchristelike tye en onder nie-Christelike volke kan waarskynlik as feitlik universeel beskou word, en in baie gevalle het dit verband gehou met die een of ander vorm van natuuraanbidding.”—Encyclopædia Britannica (1946), Dl. 6, bl. 753.

“Die vorm van die [tweebalkkruis] het in antieke Chaldea ontstaan, en dit is in daardie land en in aangrensende lande, Egipte inkluis, gebruik as die simbool van die god Tammus (daar dit die vorm van die mistieke Tau, die eerste letter van sy naam, gehad het). Teen die middel van die 3de eeu n.C. het die kerke òf afgewyk òf ’n bespotting gemaak van sekere leerstellings van die Christelike geloof. Om die aansien van die afvallige kerklike stelsel te verhoog, is heidene in die kerke ontvang sonder dat hulle deur die geloof hervorm is, en toegelaat om grotendeels hulle heidense tekens en simbole te behou. Die Tau of T, in sy algemeenste vorm, met die dwarsstuk ’n bietjie laer af, is gevolglik as die simbool van die kruis van Christus aangeneem.”—An Expository Dictionary of New Testament Words (Londen, 1962), W. E. Vine, bl. 256.

“Dit is vreemd, en tog onteenseglik ’n feit, dat die Kruis eeue voor die geboorte van Christus, en sedertdien in lande wat nie deur die leer van die Kerk beïnvloed is nie, as ’n heilige simbool gebruik is. . . . Die Griekse Bacchus, die Tiriese Tammus, die Chaldeeuse Bel en die Noorse Odin, is almal vir hulle aanbidders deur ’n kruisvormige teken voorgestel.”—The Cross in Ritual, Architecture, and Art (Londen, 1900), G. S. Tyack, bl. 1.

“Die kruis in die vorm van die ‘Crux Ansata’ . . . is in die hande van die Egiptiese priesters en hoëpriesterlike konings as die simbool van hulle gesag as priesters van die Songod gedra en is ‘die Lewensteken’ genoem.”—The Worship of the Dead (Londen, 1904), kolonel J. Garnier, bl. 226.

“Verskeie kruisvorme word oral op Egiptiese monumente en tombes aangetref en word deur baie deskundiges beskou as simbolies van òf die fallus [’n voorstelling van die manlike geslagsorgaan] òf die geslagsdaad. . . . In Egiptiese tombes word die crux ansata [’n kruis met ’n kring of handvatsel boaan] sy aan sy met die fallus aangetref.”—A Short History of Sex-Worship (Londen, 1940), H. Cutner, bl. 16, 17; kyk ook The Non-Christian Cross, bl. 183.

“Hierdie kruise is gebruik as simbole van die Babiloniese songod, +, en word vir die eerste keer gesien op ’n muntstuk van Julius Cæsar, 100-44 v.C., en daarna op ’n muntstuk wat deur Cæsar se erfgenaam (Augustus) geslaan is, 20 v.C. Op die muntstukke van Konstantyn is + die algemeenste simbool; maar dieselfde simbool word gebruik sonder die kring rondom, en met die vier ewe lang arms vertikaal en horisontaal; en dit is die simbool wat in die besonder vereer is as die ‘Sonwiel’. Daar moet gemeld word dat Konstantyn ’n songodaanbidder was, en dat hy eers sowat ’n kwarteeu nadat hy so ’n kruis in die hemele sou gesien het ’n lid van die ‘Kerk’ geword het.”—The Companion Bible, Aanhangsel nr. 162; kyk ook The Non-Christian Cross, bl. 133-141.

Is die verering van die kruis ’n Skriftuurlike gebruik?

1 Kor. 10:14: “My geliefdes, vlug vir die afgodediens.” (’n Afgod is ’n beeld of simbool wat ’n voorwerp van intense toewyding, verering of aanbidding is.)

Ex. 20:4, 5: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.” (Let daarop dat God sy volk beveel het om nie eens ’n beeld te maak waarvoor mense kon neerbuig nie.)

Hierdie kommentaar in die New Catholic Encyclopedia is interessant: “Die voorstelling van Christus se verlossingsdood op Golgota verskyn nie in die simboliese kuns van die eerste Christen-eeue nie. Die vroeë Christene, wat beïnvloed is deur die Ou-Testamentiese verbod op gesnede beelde, was huiwerig om selfs die instrument van die Here se Lyding te teken.”—(1967), Dl. IV, bl. 486.

Aangaande die eerste-eeuse Christene sê History of the Christian Church: “Daar was geen gebruik van die kruisbeeld en geen stoflike voorstelling van die kruis nie.”—(New York, 1897), J. F. Hurst, Dl. I, bl. 366.

Maak dit werklik saak as ’n mens ’n kruis koester, solank jy dit net nie aanbid nie?

Hoe sou jy voel as een van jou dierbaarste vriende op grond van valse aanklagte tereggestel is? Sou jy ’n replika van die teregstellingsinstrument maak? Sou jy dit koester, of sou jy dit eerder vermy?

In antieke Israel het ontroue Jode die dood van die valse god Tammus beween. Jehovah het gesê dat wat hulle doen ’n ‘gruwel’ is (Eseg. 8:13, 14). Volgens die geskiedenis was Tammus ’n Babiloniese god en is die kruis as sy simbool gebruik. Sedert Babilon se ontstaan in die dae van Nimrod was dit ’n vyand van Jehovah en ware aanbidding (Gen. 10:8-10; Jer. 50:29). Wanneer iemand die kruis koester, vereer hy dus ’n simbool van aanbidding wat téén die ware God is.

Soos in Esegiël 8:17 (NW) gemeld word, het die afvallige Jode ook ‘die loot na Jehovah se neus uitgesteek’. Hy het dit as ‘verfoeilik’ en ‘aanstootlik’ beskou. Waarom? Volgens sommige kommentators was hierdie “loot” ’n voorstelling van die manlike geslagsorgaan wat in falliese aanbidding gebruik is. Hoe beskou Jehovah dan die gebruik van die kruis, wat, soos ons gesien het, in vervloë tye as ’n simbool in falliese aanbidding gebruik is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel