Is die kruis vir Christene?
“MY MOEDER het dit vir my gegee.” “Dit is manlik.” “Ek dra dit as ’n sieraad.” “Ek sal ongemaklik voel daarsonder.” “Dit beskerm my teen die kwaad.” “Dit is bloot iets om aan die kettinkie te hang.”
So het etlike mense geantwoord toe hulle gevra is waarom hulle ’n kruis dra. Hoewel dit duidelik is dat nie almal dit uit godsdienstigheid doen nie, is dit in sommige wêrelddele in die mode om ’n kruis te dra. Daar is al bemerk dat selfs jong Russe dit dra. Talle heg diepe godsdiensbetekenis aan die kruis, want, soos een jeugdige dit eenvoudig gestel het: “Dit is heilig.”
Maar is dit werklik gepas dat ’n Christen ’n kruis dra? Is dit ’n juiste weergawe van die manier waarop Jesus gesterf het? En is daar geldige besware daarteen om dit selfs as ’n sieraad te dra? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons eers die oorsprong van die kruis ondersoek.
’n Christelike simbool?
Jy neem dalk aan dat Christene die eerstes was wat die kruis gebruik het. The Encyclopedia Americana praat egter van “die eertydse gebruik daarvan deur Hindoes sowel as Boeddhiste in Indië en China, en deur die Perse, Assiriërs en Babiloniërs”. Chambers’s Encyclopaedia (1969-uitgawe) sê eweneens dat die kruis “lank voor die Christelike era ’n embleem was waaraan godsdienstige en mistieke betekenisse geheg is”.
Daar is trouens geen bewys dat vroeë Christene die kruis in hulle aanbidding gebruik het nie. Gedurende die vroeë dae van die Christelike godsdiens was dit die heidense Romeine wat die kruis gebruik het! The Companion Bible sê: “Hierdie kruise is gebruik as simbole van die Babiloniese songod . . . en word vir die eerste keer gesien op ’n muntstuk van Julius Caesar, 100-44 v.C., en daarna op ’n muntstuk wat deur Caesar se erfgenaam (Augustus) geslaan is, 20 v.C.” Die Romeinse natuurgod Bacchus is soms afgebeeld met ’n hoofband waarop daar ’n aantal kruise was.
Hoe het die kruis dan die simbool van die Christendom geword?
Konstantyn en die kruis
In 312 G.J. het Konstantyn, die heerser oor die gebied wat nou Frankryk en Brittanje genoem word, opgetrek om teen sy swaer, Maxentius van Italië, oorlog te voer. Onderweg het hy na bewering ’n gesig gesien—’n kruis met die woorde “Hoc vince” daarop, wat beteken: “Oorwin hiermee.” Na sy oorwinning het Konstantyn die kruis sy leër se banier gemaak. Toe die Christelike godsdiens later die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk geword het, het die kruis die simbool van die kerk geword.
Maar het Konstantyn werklik so ’n gesig gesien? Verslae oor hierdie legende is, op sy beste, tweedehands en vol teenstrydighede. Dit sou in der waarheid moeilik wees om ’n onwaarskynliker kandidaat as Konstantyn vir ’n goddelike openbaring te vind. Toe dit kwansuis plaasgevind het, was hy ’n ywerige aanbidder van die songod. Konstantyn het Sondag selfs toegewy as die dag vir sonaanbidding. Sy gedrag ná hierdie sogenaamde bekering het ook nie juis getuig van ware toegewydheid aan regte beginsels nie. Moord, intrige en politieke ambisie het sy lewe oorheers. Vir Konstantyn was die Christelike godsdiens blykbaar niks meer as ’n politieke middel om ’n versplinterde ryk te verenig nie.
Daar is ook weinig bewys dat die soort kruis wat Konstantyn “gesien het” werklik die instrument voorstel wat gebruik is om Jesus om die lewe te bring. X-vormige kruise met ’n oorheenliggende “P” is gestempel op baie muntstukke wat Konstantyn daarna laat munt het. (Kyk illustrasie.) An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine, sê: “Wat die Chi, of X, betref wat Konstantyn beweer het hy in ’n gesig gesien het wat hom gelei het om vir die Christelike geloof te veg, daardie letter was die beginletter van die woord ‘Christus’ [in die Griekse taal] en het niks te doen gehad met ‘die Kruis’ ”, dit wil sê, as ’n instrument van teregstelling nie. Trouens, hierdie vorm van die kruis en die heidense simbool vir die son is feitlik eenders.
Waarom het “Christene” die kruis dan so maklik aanvaar? Vine se Dictionary sê voorts: “Teen die middel van die 3de eeu n.C. het die kerke óf afgewyk óf ’n bespotting gemaak van sekere leerstellings van die Christelike geloof. Om die aansien van die afvallige kerklike stelsel te verhoog, is heidene in die kerke ontvang sonder dat hulle deur die geloof hervorm is, en toegelaat om grotendeels hulle heidense tekens en simbole te behou. Die Tau of T, in sy algemeenste vorm, met die dwarsstuk ’n bietjie laer af, is gevolglik as die simbool van die kruis van Christus aangeneem.”
Die ontwikkeling van die kruis
Was dit liefde vir Christus wat meegebring het dat die kruis, op hierdie laat stadium, ’n voorwerp geword het wat vereer is? Die Encyclopaedia of Religion and Ethics sê: “In die 4de eeu het magiese geloof in die Kerk gevestig begin raak.” Daar is gemeen dat as ’n mens ’n kruis slaan dit, soos ’n towermiddel, “die onfeilbaarste beskerming teen demone en die geneesmiddel vir alle siektes” is. Die bygelowige gebruik van die kruis duur vandag nog voort.
Met die verloop van die jare het sowat 400 verskillende vorms van die kruis ontwikkel. Aanvanklik is Christus self nie afgebeeld nie. In plaas daarvan is ’n jeugdige uitgebeeld wat ’n kruis vashou wat met juwele beset is. Later is ’n lam ingesluit. In 691 G.J. het die Trullaanse konsilie ’n kruis met die borsbeeld van ’n jongman, in plaas van ’n lam, aan die kruis “amptelik” aanvaar. Dit het mettertyd ontwikkel tot die kruisbeeld—’n kruis met ’n afbeelding van Christus se liggaam.
Het Christus aan ’n kruis gesterf?
‘Maar leer die Bybel nie dat Christus aan ’n kruis gesterf het nie?’ vra iemand dalk. Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons die betekenis ondersoek van die twee Griekse woorde wat die Bybelskrywers gebruik het om die instrument van Christus se dood te beskryf: stau·rosʹ en xyʹlon.
The International Standard Bible Encyclopedia (1979) sê onder die opskrif “Kruis”: “Oorspronklik het die Griekse woord staurós ’n spits, vertikale houtpaal aangedui wat stewig in die grond geplant is. . . . Hulle is in rye langs mekaar geplaas om heinings of beskermende palissades om dorpies te vorm, of hulle is afsonderlik opgestel as martelwerktuie waaraan groot wetsoortreders in die openbaar gehang is om te sterf (of, as hulle reeds gedood is, om hulle lyke geheel en al te onteer).”
Die Romeine het weliswaar ’n teregstellingswerktuig gebruik wat in Latyn as die crux bekend staan. En toe die Bybel in Latyn vertaal is, is hierdie woord crux as ’n vertaling van stau·rosʹ gebruik. Omdat die Latynse woord crux en die Afrikaanse woord kruis soortgelyk is, veronderstel talle verkeerdelik dat ’n crux noodwendig ’n paal met ’n dwarsbalk was. Maar The Imperial Bible-Dictionary sê: “Selfs onder die Romeine was die crux (waarvan ons woord kruis afgelei word) skynbaar oorspronklik ’n regop paal, en dit het altyd die opvallendste deel gebly.”
Die boek The Non-Christian Cross voeg by: “Daar is nie ’n enkele sin in enige van die talle geskrifte wat die Nuwe Testament uitmaak wat in die oorspronklike Grieks selfs indirek getuig dat die stauros wat in Jesus se geval gebruik is enigiets anders as ’n gewone stauros [paal] was nie; wat nog te sê dat dit nie net uit een stuk hout bestaan het nie, maar uit twee stukke wat in die vorm van ’n kruis aanmekaar vasgespyker was.” Christus is heel moontlik opgehang aan ’n soort crux (stau·rosʹ) wat die crux simplex genoem word. Dit is hoe die Rooms-Katolieke geleerde Justus Lipsius van die 16de eeu so ’n paal geteken het.
Wat van die ander Griekse woord, xyʹlon? Dit is in die Griekse Septuaginta-vertaling van die Bybel in Esra 6:11 gebruik. In die Afrikaanse Bybel lui dit: “En deur my word bevel gegee dat van elkeen wat hierdie bevel oortree, ’n balk uit sy huis geruk sal word, en dat hy daaraan opgehang en vasgeslaan sal word, en van sy huis hieroor ’n puinhoop gemaak sal word.” Dit is duidelik dat ’n enkele “balk” hier bedoel word.
Talle vertalers van die Christelike Griekse Skrifte (Nuwe Testament) vertaal derhalwe Petrus se woorde in Handelinge 5:30 soos volg: “Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ’n paal [of, “boom”, volgens die King James Version, New International Version, The Jerusalem Bible en Revised Standard Version] te hang.” Jy kan gerus nagaan hoe verskillende Bybels xyʹlon vertaal in: Handelinge 10:39; 13:29; Galasiërs 3:13 en 1 Petrus 2:24.
Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie
Selfs na ’n bespreking van sulke bewyse dat Christus in werklikheid aan ’n paal gesterf het, dink sommige dalk steeds nie dat dit verkeerd is om ’n kruis te dra nie. ‘Dit is bloot ’n sieraad’, sê hulle miskien.
Maar hou in gedagte hoe die kruis deur die geskiedenis heen gebruik is—as ’n voorwerp van heidense aanbidding en van bygelowige eerbied. Kan jy as jy ’n kruis dra, selfs as ’n blote sieraad, dit versoen met die apostel Paulus se vermaning in 1 Korinthiërs 10:14: “Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens”?
Wat van ware Christene vandag? Hulle moet ook bewus wees van die nodigheid om hulle ‘van die afgode te bewaar’, soos die Bybel vermaan (1 Johannes 5:21). Hulle beskou die kruis dus nie as ’n gepaste sieraad nie. Hulle onthou Paulus se woorde: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang”, en dink derhalwe liewer aan Christus as ’n glorieryke, gekroonde Koning!—Galasiërs 3:13; Openbaring 6:2.
Hoewel sulke Christene nie kruise dra nie, stel hulle die feit dat Christus vir hulle gesterf het hoog op prys. Hulle weet dat Christus se offer ’n wonderlike bewys van ‘God se krag’ en ewige liefde is (1 Korinthiërs 1:18; Johannes 3:16). Maar hulle het nie ’n stoflike voorwerp soos ’n kruis nodig om hulle te help om hierdie God van liefde te aanbid nie. Hulle wandel, soos Paulus vermaan het, “deur geloof en nie deur aanskouing nie”.—2 Korinthiërs 5:7.
[Prent op bladsy 22]
Die kruis het deur die eeue heen baie fatsoene en vorms aangeneem
[Prent op bladsy 23]
’n Beeld van die Griekse god Marsyas wat lewend aan ’n boom afgeslag is—Die Louvre, Parys