Het Jesus werklik aan ’n kruis gesterf?
“DIE kruis is die bekendste simbool van die Christelike godsdiens”, sê een ensiklopedie. Talle skilderye en kunswerke met ’n godsdienstema beeld Jesus uit waar hy aan ’n kruis hang. Waarom is hierdie simbool so algemeen in die Christendom? Het Jesus werklik aan ’n kruis gesterf?
Baie beroep hulle op die Bybel vir ’n antwoord. Byvoorbeeld, volgens die Ou Afrikaanse Bybelvertaling het toeskouers Jesus tydens sy teregstelling bespot en hom uitgedaag: “Kom van die kruis af” (Matteus 27:40, 42). Baie ander Bybelvertalings sê iets soortgelyks. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling sê aangaande Simon van Sirene: “Die soldate het iemand wat daar aangekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra” (Markus 15:21). In hierdie verse is die woord “kruis” die vertaling vir die Griekse woord staurosʹ. Is daar ’n goeie grondslag vir so ’n vertaling? Wat beteken hierdie oorspronklike woord?
Was dit ’n kruis?
W.E. Vine, ’n kenner van Grieks, sê dat staurosʹ “hoofsaaklik na ’n regop paal verwys. Misdadigers is tereggestel deur hulle daaraan vas te nael. Die selfstandige naamwoord en die werkwoord stauroō, om aan ’n paal te hang, het oorspronklik verskil van die kerklike vorm van ’n kruis met twee balke.”
The Imperial Bible-Dictionary sê dat die woord staurosʹ “tereg ’n staak, ’n regop paal of ’n stuk paalwerk, aangedui [het] waaraan enigiets gehang kan word, of wat gebruik kan word om ’n stuk grond te ompaal [omhein]”. Die woordeboek sê verder: “Dit wil voorkom asof die crux (Latyn, waarvan ons woord kruis afgelei word) selfs onder die Romeine oorspronklik ’n regop paal was.” Dit is dus nie verbasend nie dat The Catholic Encyclopedia sê: “Hoe dit ook al sy, dit ly geen twyfel nie dat die kruis oorspronklik bestaan het uit ’n eenvoudige regop paal wat aan die bokant skerpgemaak is.”
’n Ander Griekse woord, xuʹlon, is deur Bybelskrywers gebruik om die instrument van Jesus se teregstelling te beskryf. A Critical Lexicon and Concordance to the English and Greek New Testament definieer xuʹlon as “’n stuk hout, ’n houtpaal”. Dit sê verder dat xuʹlon, soos staurosʹ, “eenvoudig ’n regop paal was waaraan die Romeine mense genael het, en dít is as kruisiging beskryf”.
In ooreenstemming hiermee sê die King James Version in Handelinge 5:30: “Die God van ons voorvaders het Jesus opgewek, wat julle vermoor het en aan ’n boom [xuʹlon] gehang het.” Ander vertalings, hoewel hulle staurosʹ as “kruis” weergee, vertaal xuʹlon ook as “boom”. In Handelinge 13:29 sê The Jerusalem Bible van Jesus: “Toe hulle alles gedoen het wat die skrif oor hom voorspel, het hulle hom van die boom [xuʹlon] afgehaal en hom begrawe.”
In die lig van die basiese betekenis van die Griekse woorde staurosʹ en xuʹlon sê die Critical Lexicon and Concordance, wat hierbo aangehaal is: “Albei woorde is teenstrydig met die hedendaagse idee van ’n kruis, wat ons deur middel van prente leer ken het.” Met ander woorde, wat die Evangelieskrywers met die woord staurosʹ beskryf het, stem glad nie ooreen met wat vandag ’n kruis genoem word nie. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif gebruik dus tereg die woord “folterpaal” in Matteus 27:40-42 en op ander plekke waar die woord staurosʹ voorkom. Die Complete Jewish Bible gebruik eweneens die uitdrukking “teregstellingspaal”.
Die oorsprong van die kruis
As die Bybel nie werklik sê dat Jesus op ’n kruis tereggestel is nie, waarom versier al die kerke wat beweer dat hulle die Bybel leer en volg—Katolieke, Protestantse en Ortodokse kerke—dan hulle geboue met die kruis en gebruik hulle dit as ’n simbool van hulle geloof? Hoe het die kruis so ’n gewilde simbool geword?
Die antwoord is dat die kruis nie net vereer word deur kerkgangers wat beweer dat hulle die Bybel volg nie, maar ook deur mense wat niks van die Bybel weet nie en wie se aanbidding dié van die “Christelike” kerke ver voorafgaan. Baie godsdiensnaslaanwerke erken dat die gebruik van kruise in verskeie vorms teruggevoer kan word tot baie vroeg in die mensebeskawing. Byvoorbeeld, eertydse Egiptiese hiërogliewe en afbeeldings van hulle gode en godinne toon dikwels ’n kruis in die vorm van ’n T met ’n sirkel boaan. Dit word die ansata-kruis, ’n kruis met ’n handvatsel boaan, genoem en word as ’n simbool van lewe beskou. Ná verloop van tyd is hierdie vorm van die kruis deur die Koptiese Kerk, asook ander kerke, aangeneem en algemeen gebruik.
Volgens The Catholic Encyclopedia “was die primitiewe vorm van die kruis blykbaar dié van die sogenaamde ‘gamma’-kruis (crux gammata), waarvan die Sanskritiese naam, die swastika, bekender is onder Oriëntaliste en kenners van prehistoriese argeologie”. Hierdie teken is algemeen gebruik onder Hindoes in Indië en Boeddhiste dwarsoor Asië en kan nog steeds gesien word in versierings en ornamente in hierdie gebiede.
Dit is nie bekend presies wanneer die kruis as ’n “Christelike” simbool aangeneem is nie. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words sê: “Teen die middel van die 3de eeu n.C. het die kerke óf afgewyk van sekere leerstellings van die Christelike geloof óf dit verdraai. Om die aansien van die afvallige kerklike stelsel te verhoog, is heidene in die kerke ontvang sonder dat hulle deur die geloof hervorm is, en toegelaat om grotendeels hulle heidense tekens en simbole te behou”, insluitende die kruis.
Party skrywers verwys ook na die bewering van die songodaanbidder Konstantyn, wat gesê het dat hy in 312 HJ op een van sy militêre veldtogte ’n visioen van ’n kruis tesame met die Latynse leuse “in hoc vince” (in hierdie teken sal jy oorwin) in die son gesien het. ’n Ruk later is ’n “Christelike” teken op die vaandels, skilde en wapenrusting van sy leër aangebring. (Sien links.) Na bewering het Konstantyn hom tot die Christelike godsdiens bekeer, hoewel hy eers 25 jaar later op sy sterfbed gedoop is. Sy beweegrede is deur party bevraagteken. “Hy het nie opgetree soos iemand wat hom tot die leringe van Jesus die Nasarener bekeer het nie, maar eerder soos iemand wat die Christelike geloof wil omskep in ’n godsdiens, wat na sy mening, heel waarskynlik deur sy onderdane aanvaar sou word as ’n katolieke [universele] godsdiens”, sê die boek The Non-Christian Cross.
Sedertdien het mense kruise van allerhande vorme begin gebruik. The Illustrated Bible Dictionary sê byvoorbeeld dat die Sint Antoniuskruis “gelyk het soos ’n hoofletter T, wat volgens party afkomstig is van die simbool van die [Babiloniese] god Tammus, die letter tau.” Daar was ook die Sint Andreaskruis, wat soos die letter X lyk, en die bekende kruis met twee balke waarvan die dwarsstuk laer is. Hierdie kruis, wat die Latynse kruis genoem word, word verkeerdelik “volgens tradisie beskou as die soort kruis waaraan ons Here gesterf het”.
Wat die eerste-eeuse Christene geglo het
Die Bybel toon dat baie in die eerste eeu wat na Jesus geluister het, gelowiges geword het en die loskoopwaarde van sy offerdood aanvaar het. Nadat die apostel Paulus vir die Jode in Korinte getuig het en bewys het dat Jesus die Christus is, sê die Bybel, het “Krispus, die presiderende beampte van die sinagoge, . . . in die Here begin glo, en so ook al sy huisgenote. En baie van die Korintiërs wat gehoor het, het begin glo en is gedoop” (Handelinge 18:5-8). Paulus het nie ’n godsdienssimbool of -beeld in hulle aanbidding ingebring nie, maar het sy mede-Christene eerder beveel om te “vlug vir die afgodediens” en vir enige ander gebruik wat van heidense aanbidding afkomstig is.—1 Korintiërs 10:14.
Geskiedkundiges en navorsers het geen bewyse gevind om die gebruik van die kruis onder die vroeë Christene te bevestig nie. Interessant genoeg, die boek History of the Cross haal ’n skrywer van die laat 17de eeu aan, wat gevra het: “Kan dit die geseënde Jesus behaag om toe te kyk hoe Sy dissipels die beeld van daardie instrument van teregstelling vereer waaraan Hy [na bewering] geduldig en onskuldig gely het en die skande verag het?” Hoe sal jy hierdie vraag beantwoord?
Aanbidding wat vir God aanneemlik is, vereis nie die gebruik van voorwerpe of beelde nie. “Watter ooreenkoms het God se tempel met afgode?” het Paulus gevra (2 Korintiërs 6:14-16). Die Skrif gee nêrens te kenne dat ’n Christen in sy aanbidding ’n beeld van die instrument waarop Jesus tereggestel is, moet gebruik nie.—Vergelyk Matteus 15:3; Markus 7:13.
Wat is dan die identifiserende kenmerk van ware Christene? Nie die kruis of enige ander simbool nie, maar liefde. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.
[Lokteks op bladsy 19]
Wat die Evangelieskrywers beskryf het, kom glad nie ooreen met wat mense vandag ’n kruis noem nie
[Prent op bladsy 18]
’n 17de-eeuse tekening van ’n teregstelling aan ’n staurosʹ, uit Lipsius se “De Cruce”
[Prent op bladsy 19]
Egiptiese muurskildery (c. 14de eeu VHJ) waarop die ansata-kruis, ’n simbool van lewe, voorkom
[Erkenning]
© DeA Picture Library/Art Resource, NY
[Prent op bladsy 19]
Die gamma-kruis op die Laxmi Narayan-Hindoetempel
[Foto-erkenning op bladsy 20]
Uit die boek The Cross in Tradition, History, and Art (1897)