Wat die liefde tot God beteken
“Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.”—1 JOHANNES 5:3.
JESUS het aangaande mense se verpligting om God te aanbid, gesê: “Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Mattheüs 22:37). Hoe moet ons hierdie liefde toon? Die Bybel antwoord: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 5:3). Watter goeie gevolg is daar vir diegene wat dit wel doen? Johannes het gesê: “Wie in die liefde bly, bly in eendrag met God.”—1 Johannes 4:16b, NW.
2 As ons God liefhet, sal ons ons aanbidding aan geen skepsel, hetsy lewend of dood, gee nie, maar aan God alleen (Lukas 4:7, 8). Die apostel Petrus, en selfs ’n engel, het geweier dat mense hulle aanbid (Handelinge 10:25, 26; Openbaring 22:8, 9). Jesus het insgelyks getoon dat sy moeder, Maria, nie op aanbiddende wyse vereer moet word nie, omdat dit God alleen toekom (Lukas 11:27, 28, vgl. NW; Johannes 2:3, 4; Openbaring 4:11). Misplaaste aanbidding sal tot botsing met God se gebooie lei, want “niemand kan twee here dien nie”.—Mattheüs 6:24.
Die gebruik van die kruis in godsdiens
3 Daar is ook lewelose voorwerpe wat die skending van God se gebooie tot gevolg kan hê as hulle vereer word. Een van die prominentste daarvan is die kruis. Mense in die Christendom gebruik dit al eeue lank as ’n deel van hulle aanbidding. The New Encyclopædia Britannica noem die kruis “die vernaamste simbool van die Christelike godsdiens”. In ’n hofsaak in Griekeland het die Grieks-Ortodokse Kerk selfs beweer dat diegene wat die ‘Heilige Kruis’ verwerp nie Christene is nie. Maar is die kruis werklik ’n Christelike simbool? Wat is die oorsprong daarvan?
4 Die instrument waaraan Jesus tereggestel is, word in Bybelverse soos Mattheüs 27:32 en 40 gemeld. Daar word die Griekse woord stau·rosʹ in verskeie Afrikaanse Bybels met “kruis” vertaal. Maar wat het stau·rosʹ in die eerste eeu beteken toe die Griekse Skrifte geskryf is? An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine, sê: “Stauros . . . beteken hoofsaaklik ’n regop spar of staak. Kwaaddoeners is vir teregstelling daaraan vasgespyker. Die selfstandige naamwoord [stau·rosʹ] sowel as die werkwoord stauroō, om aan ’n staak of spar vas te maak, moet aanvanklik onderskei word van die kerklike vorm van ’n kruis met twee balke. Die vorm van laasgenoemde het in eertydse Chaldea ontstaan, en dit is in daardie land en aangrensende lande, Egipte inkluis, gebruik as die simbool van die God Tammus (daar dit die vorm van die mistieke Tau, die eerste letter van sy naam, gehad het).”
5 Vine sê voorts: “Teen die middel van die 3de eeu n.C. het die kerke òf afgewyk òf ’n bespotting gemaak van sekere leerstellings van die Christelike geloof. Om die aansien van die afvallige kerklike stelsel te verhoog, is heidene in die kerke ontvang sonder dat hulle deur die geloof hervorm is, en toegelaat om grotendeels hulle heidense tekens en simbole te behou. Die Tau of T, in sy algemeenste vorm, met die dwarsstuk ’n bietjie laer af, is gevolglik as die simbool van die kruis van Christus aangeneem.”
6 Onder die opskrif “Die kruis en kruisiging” sê The Companion Bible: “Ons . . . woord ‘kruis’ is die vertaling van die Latynse crux; maar die Griekse stauros beteken net so min ’n crux as wat die woord ‘stok’ ’n ‘kruk’ beteken. Homerus gebruik die woord stauros vir ’n gewone paal of staak, of ’n enkele stuk hout. En dit is deurgaans die betekenis en gebruik van die woord in die Griekse klassieke geskrifte. Dit beteken nooit twee stukke hout wat dwars oor mekaar geplaas is nie. . . . Daar is niks in die Grieks van die N[uwe] T[estament] wat eens sinspeel op twee stukke hout nie.”
7 Nog ’n Griekse woord, xyʹlon, word in die Bybel gebruik vir die instrument waaraan Jesus gesterf het. Hierdie woord help om te toon dat stau·rosʹ ’n regop staak sonder ’n dwarsbalk was. Soos The Companion Bible sê: “Die woord [xyʹlon] . . . beteken gewoonlik ’n stuk van ’n dooie houtstomp, of balk, vir vuurmaakhout of vir enige ander doel. . . . Aangesien hierdie laasgenoemde woord [xyʹlon] vir die eersgenoemde stauros gebruik word, toon dit vir ons dat albei presies dieselfde betekenis het. . . . Vandaar die gebruik van die woord [xyʹlon] . . . in verband met die wyse van ons Heer se dood en die vertaling ‘boom’ [King James Version] in Handelinge 5:30; 10:39; 13:29; Galasiërs 3:13; 1 Petrus 2:24.”
8 Die Franse Dictionnaire Encyclopédique Universel (Ensiklopediese Universele Woordeboek) sê: “Ons het lank geglo dat die kruis, wat as ’n godsdienssimbool beskou is, spesifiek vir Christene was. Dit is nie die geval nie.” Die boek Dual Heritage—The Bible and the British Museum deel ons mee: “Dit kom dalk as ’n skok om te weet dat daar nie ’n woord soos ‘kruis’ in die Grieks van die Nuwe Testament is nie. Die woord wat met ‘kruis’ vertaal word, is altyd die Griekse woord [stau·rosʹ] wat ’n ‘staak’ of ‘regop paal’ beteken. Die kruis was nie oorspronklik ’n Christelike simbool nie; dit is afkomstig van Egipte en Konstantyn.” Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die voorstelling van Christus se verlossingsdood op Golgota verskyn nie in die simboliese kuns van die eerste Christeneeue nie. Die vroeë Christene, wat beïnvloed is deur die Ou-Testamentiese verbod op gesnede beelde, was huiwerig om selfs die instrument van die Here se [dood] te teken. . . . Die kruis word eers in die tyd van Konstantyn voorgestel.”
Konstantyn se kruis
9 Konstantyn was die Romeinse keiser wat die Konsilie van Nicea in 325 G.J. belê het en dit beïnvloed het om die onskriftuurlike leerstelling dat Christus God was te aanvaar. Hy het dit gedoen om sy ryk wat uit heidene en afvallige Christene bestaan het te verenig. The New Encyclopædia Britannica sê van hom: “Kort voor Konstantyn se oorwinning oor Maksentius in 312 het hy ’n visioen van die ‘hemelse teken’ van die kruis gesien, wat hy geglo het ’n goddelike waarborg van sy triomf was.” Dit sê ook dat Konstantyn daarna die verering van die kruis bevorder het.
10 Maar sou God ’n heidense leier wat nie Sy wil gedoen het nie ’n teken gee, en dit nogal ’n heidense teken? Jesus het sy eie landgenote bestraf omdat hulle tekens wou hê (Mattheüs 12:38-40). Boonop het hierdie heidense heerser onskuldige bloed deur wapengeweld vergiet om die politieke oorhand te kry en, in politieke komplotte, gereël dat van sy familielede en ander metgeselle vermoor word. In teenstelling hiermee het Jesus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het” (Johannes 18:36). Dit is waarom hy Petrus beveel het: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.”—Mattheüs 26:52.
11 Die boek Strange Survivals sê die volgende oor Konstantyn en sy kruis: “Ons kan nouliks daaraan twyfel dat daar strategie in sy optrede was; die simbool wat hy opgerig het, het aan die een kant die Christene in sy leër tevrede gestel en aan die ander kant die [heidense] Galliers. . . . Vir laasgenoemdes was dit die teken van die guns van hulle songod” wat hulle aanbid het. Nee, Konstantyn se ‘hemelse teken’ het niks met God of Christus te doen gehad nie, maar is deur en deur heidens.
Verering van die teregstellingsinstrument?
12 Moet die kruis, selfs as ons die getuienis ignoreer en aanneem dat Jesus aan ’n kruis om die lewe gebring is, vereer word? Nee, want Jesus is as ’n misdadiger tereggestel, soos die manne wat langs hom aan die folterpale gehang is, en die wyse van sy dood het hom op die allerverkeerdste manier voorgestel. Eerste-eeuse Christene sou nie die instrument waaraan hy tereggestel is as heilig beskou het nie. Verering daarvan sou verheerliking van die verkeerde daad wat daaraan gepleeg is, die moord op Jesus, beteken het.
13 Sê nou jou beste vriend word op valse aanklagte tereggestel. Sal jy ’n beeld van die teregstellingsinstrument maak (soos ’n strop of elektriese stoel of die geweer van ’n vuurpeloton) en daardie replika dan soen, kerse daarvoor brand of dit as ’n heilige versiersel om jou nek dra? Dit sal ondenkbaar wees. Dieselfde geld vir die verering van die kruis. Die feit dat die kruis ’n heidense oorsprong het, vererger die saak net.
14 Die verering van die kruis is nie Christelik nie. Dit toon nie liefde vir God of Christus nie, maar bespot wat hulle verteenwoordig. Dit skend God se gebooie wat afgodediens verbied. Dit verheerlik ’n heidense simbool wat onder die masker van Christelikheid versteek is (Exodus 20:4, 5; Psalm 115:4-8; 1 Korinthiërs 10:14). Om ’n heidense simbool as heilig te beskou, skend God se gebod: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid[?] . . . Raak nie aan wat onrein is nie.”—2 Korinthiërs 6:14, 17.
Gehoorsaamheid aan die geïnspireerde Woord
15 Die kerke sê dat gebruike soos die verering van die kruis deel van hulle “heilige tradisie” uitmaak. Maar wanneer tradisie met God se Woord bots, verwerp diegene wat God liefhet die tradisie. Alles wat ons werklik nodig het vir ware aanbidding staan reeds in God se Woord. Soos Paulus aan Timotheüs geskryf het: “Jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte . . . wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:15-17). Die Bybel se nêrens dat tradisies wat strydig is met God se Woord onontbeerlik vir redding is nie.
16 Die botsing tussen die Skrif en menslike tradisie is nie nuut nie. Gedurende die tydperk na die voltooiing van die geïnspireerde Hebreeuse Skrifte tot die koms van Jesus het die Joodse godsdiensleiers talle mondelinge tradisies bygevoeg, wat hulle later neergeskryf het sonder dat dit deur God geïnspireer is. Daardie tradisies het dikwels met die Skrifte gebots. Daarom het Jesus vir die godsdiensleiers gesê: “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? . . . So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.” Hy het God se Woord op hulle toegepas waar dit gesê het: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheüs 15:1-6, 9). Jesus het nooit sulke tradisies in sy leringe aangehaal nie. Hy het die geïnspireerde geskrewe Woord van God as sy gesag gebruik.—Mattheüs 4:4-10; Markus 12:10; Lukas 10:26.
17 God het nie die bewaring van “die woord van die lewe” in die onveilige hande van godsdienstradisionaliste gelaat nie (Filippense 2:16). Hy het eerder deur sy kragtige heilige gees manne geïnspireer om die Bybel te skryf sodat ons deur die “bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Die bewering dat die Bybel onvolledig is en dat ons ook op die onvaste denke van onvolmaakte, ongeïnspireerde mense moet staatmaak, is ’n verloëning van die krag van God. Die almagtige, ontsagwekkende Skepper van die heelal kon tog seker ’n boek laat skryf het! En hy het dit gedoen sodat ons ’n vaste anker vir ons hoop kan hê en nie hoef staat te maak op mensetradisies wat mense God se gebooie laat skend nie. Daarom sê God se Woord: “Moenie buite die dinge gaan wat geskrywe staan nie” (1 Korinthiërs 4:6, NW). Diegene wat God waarlik liefhet, sal daardie raad volg.—Kyk ook Spreuke 30:5, 6.
‘Bewaar sy gebooie’
18 “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar”, sê 1 Johannes 5:3. Wanneer godsdiensleiers hierdie gebooie afwater of ignoreer, of dit deur strydige tradisies van mense vervang, lei hulle hul volgelinge op ’n weg wat met God se wil bots. Beskou byvoorbeeld ’n fundamentele beginsel van die Christelike godsdiens: liefde. Dit was ’n uiters belangrike deel van Jesus se leer. Hy het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Mattheüs 22:39.
19 Hoe belangrik is hierdie naasteliefde? Jesus het geleer dat ware Christene geïdentifiseer kan word aan die liefde wat hulle onder mekaar het. Hy het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Die Wet vir eertydse Israel het weliswaar ’n gebod ingesluit wat gesê het: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Maar wat nuut was omtrent Jesus se gebod was sy woorde “soos Ek julle liefgehad het”. Dit het Christelike liefde groter krag gegee, want ’n Christen moet selfs bereid wees om, net soos Jesus, sy lewe vir medegelowiges af te lê.
20 Gevolglik kan ware knegte van God vandag aan ’n onbreekbare, verenigende liefdeband van internasionale omvang geïdentifiseer word. Wie in ons dag toon sulke gehoorsaamheid aan God se gebooie oor liefde? Wie is vervolg, opgesluit, in konsentrasiekampe gegooi of tereggestel omdat hulle geweier het om die wapen teen medegelowiges—of selfs ongelowiges—van ander nasies op te neem? Die geskiedenisverslag van hierdie eeu antwoord: net Jehovah se Getuies.
21 Daarenteen het die Christendom se godsdienste God se gebooie oor liefde gereeld gebreek. In al die oorloë van hierdie eeu het die geestelikes van die Christendom se kerke hulle lidmate gelei om mekaar op die slagveld te konfronteer en by die miljoene af te maai. Protestante het mede-Protestante doodgemaak, Katolieke het mede-Katolieke doodgemaak, en tog het almal beweer dat hulle Christelik is. God se Woord verklaar egter: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.”—1 Johannes 4:20, 21.
22 God se Woord sê ook: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. . . . Ons [moet] mekaar . . . liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie” (1 Johannes 3:10-12). Die kerke van die Christendom beweer dat hulle kinders van God is, maar hulle kan nie wees nie, omdat hulle gruwelik ongehoorsaam is aan God se gebooie oor liefde en hulle ‘hul broer doodslaan’. Hulle kan net kinders van “die Bose” wees. Daarom spoor God se Woord opregte mense in sulke godsdienste aan: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4). God sal binnekort sy oordele aan alle valse godsdienste voltrek. Diegene wat hulle aanhang, sal saam met hulle ondergaan (Openbaring 17:16). Maar “hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Johannes 2:17.
Hoe sou jy antwoord
◻ Waarom is die Afrikaanse woord “kruis” ’n verkeerde vertaling van die Griekse woord stau·rosʹ?
◻ Waar het verering van die kruis ontstaan, en waarom moet ons dit verwerp?
◻ Watter patroon het Jesus ten opsigte van godsdienstradisies vasgestel?
◻ Watter getuienis identifiseer diegene wat gehoorsaam is aan die gebooie oor broederliefde
[Studievrae]
1. Hoe moet ons liefde vir God toon, en wat sal die gevolg wees?
2. Wie alleen moet ons aanbidding ontvang?
3. Hoe beskou die Christendom die gebruik van die kruis?
4, 5. (a) Wat sê ’n woordeboek oor die woord stau·rosʹ wat in verskeie Afrikaanse Bybels met “kruis” vertaal word? (b) Waar het die gebruik van die kruis ontstaan?
6, 7. (a) Waar kom die woord “kruis” vandaan, en waarom is die gebruik daarvan in Afrikaanse Bybels nie geregverdig nie? (b) Hoe bevestig die Bybel se gebruik van die woord xyʹlon dat stau·rosʹ ’n regop staak was?
8. Wat sê ander bronne oor die kruis en die oorsprong daarvan?
9. Wat is die verband tussen keiser Konstantyn en die kruis?
10. Waarom is dit nie redelik of skriftuurlik om te glo dat God of Christus Konstantyn ’n “teken” gegee het waarby ’n kruis betrokke was nie?
11. Wat het Konstantyn beweeg om die gebruik van die kruis te bevorder?
12, 13. Om watter ander redes moet die kruis nie vereer word nie?
14. Watter gevolgtrekking aangaande die kruis moet ons in die lig van sekulêre en Bybelse getuienis maak?
15. Waarom moet ons tradisies verwerp wat met God se Woord bots?
16. Wat het Jesus vir Joodse godsdiensleiers oor hulle tradisies gesê?
17. Waarom kan ons vertroue in die Bybel hê as ’n vaste anker vir ons hoop?
18. Watter gebod moet ons gehoorsaam as ons God waarlik liefhet?
19. (a) Hoe belangrik is dit vir ware Christene om mekaar lief te hê? (b) Hoe het die ‘nuwe gebod’ wat Jesus aangaande liefde gegee het van die oue verskil?
20. Wie word deur die geskiedenisverslag van hierdie eeu geïdentifiseer as diegene wat die gebod gehoorsaam om ‘mekaar lief te hê’?
21. Watter reputasie het die kerke van die Christendom opgebou ten opsigte van die gebod om medegelowiges lief te hê?
22. Wie se kinders is die kerke van die Christendom volgens die definisie in 1 Johannes 3:10-12, en waarom?
[Venster/Prente op bladsy 25]
DIE OORSPRONG VAN DIE KRUIS
Lank voor die Christelike tydperk is kruisvorme in byna elke wêrelddeel as godsdienssimbole gebruik
Die Crux Ansata is deur die eertydse Egiptenare as ’n simbool van die toekomstige lewe gebruik
Die Crux Quadrata het die vier elemente gesimboliseer waaruit die mense geglo het alle dinge geskep is
Die Crux Gammata was vermoedelik ’n simbool van vuur of die son; met ander woorde, van lewe
Die Latynse kruis wat algemeen in die Christendom voorkom
Hierdie kruis is ’n monogram van die eerste twee Griekse letters van die woord “Christus”
[Prent op bladsy 24]
Christus het aan ’n regop staak gesterf, nie aan ’n kruis nie
[Prente op bladsy 26, 27]
“Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke.”—Titus 1:16