STUDIE 21
Tekste met regte klem gelees
WANNEER jy met ander oor God se voornemens praat, hetsy dit privaat of van die verhoog af is, moet jou bespreking gegrond wees op God se Woord. Dit beteken gewoonlik dat ons tekste uit die Bybel moet lees, en dat dit goed gedoen moet word.
Regte beklemtoning vereis gevoel. Tekste moet met gevoel gelees word. Neem ’n paar voorbeelde. Wanneer jy Psalm 37:11 hardop lees, moet jou stem die blye afwagting oordra van die vrede wat daar belowe word. Wanneer jy in Openbaring 21:4 oor die einde van lyding en die dood lees, moet ander die opregte waardering vir die wonderlike verlossing wat daar voorspel word, in jou stem kan hoor. Openbaring 18:2, 4, 5, wat ’n beroep op mense doen om uit die sondige “Babilon die Grote” uit te gaan, moet met ’n toon van dringendheid gelees word. Die gevoel wat uitgedruk word, moet natuurlik opreg wees, maar nie oordryf word nie. Die regte hoeveelheid emosie word bepaal deur die teks self en deur die manier waarop dit gebruik word.
Beklemtoon die regte woorde. As jy oor slegs ’n deel van ’n vers kommentaar lewer, moet jy daardie deel beklemtoon wanneer jy die teks lees. Wanneer jy byvoorbeeld Matteus 6:33 lees, sal jy nie die klem op “sy regverdigheid” of op “al hierdie ander dinge” laat val as jy wil bespreek wat dit beteken “om eers die koninkryk . . . te soek” nie.
In ’n toespraak tydens die Diensvergadering wil jy miskien Matteus 28:19 lees. Watter woorde moet jy beklemtoon? As jy die broers wil aanspoor om tuisbybelstudies te begin, moet jy “maak dissipels” beklemtoon. Aan die ander kant, as jy die Christen se verantwoordelikheid wil bespreek om Bybelwaarheid aan ’n immigrantebevolking te verkondig of as jy sekere verkondigers wil aanspoor om te dien waar hulp nodig is, kan jy “mense van al die nasies” beklemtoon.
Dikwels word ’n teks gebruik om ’n vraag te beantwoord of ’n redenasie te staaf waarmee ander nie saamstem nie. As elke gedagte in die teks ewe veel beklemtoon word, sal jou gehoor moontlik nie die verband sien nie. Vir jou is die punt dalk voor die hand liggend, maar nie vir hulle nie.
Wanneer jy byvoorbeeld Psalm 83:18 uit ’n Bybel lees wat God se naam bevat, maar jy die uitdrukking “die Allerhoogste” beklemtoon, sal die huisbewoner miskien nie die skynbaar voor die hand liggende feit dat God ’n persoonlike naam het, sien nie. Jy moet die naam “Jehovah” beklemtoon. Maar wanneer jy dieselfde teks in ’n bespreking van Jehovah se soewereiniteit gebruik, moet jy die klem op die uitdrukking “die Allerhoogste” laat val. Wanneer jy eweneens Jakobus 2:24 gebruik om te toon hoe belangrik dit is om dade by ons geloof te voeg en jy die klem op “regverdig verklaar” in plaas van “werke” laat val, kan party wat na jou luister, die punt mis.
Nog ’n nuttige voorbeeld kan in Romeine 15:7-13 gevind word. Dit is ’n deel van ’n brief wat deur die apostel Paulus aan ’n gemeente geskryf is wat uit nie-Jode sowel as Jode bestaan het. Hier redeneer die apostel dat die bediening van Christus nie net besnede Jode tot voordeel strek nie, maar ook mense van die nasies sodat “die nasies God weens sy barmhartigheid sou verheerlik”. Dan haal Paulus vier tekste aan wat die aandag vestig op daardie geleentheid wat die nasies het. Hoe moet jy daardie aanhalings lees om die punt wat Paulus in gedagte gehad het, te beklemtoon? As jy woorde merk wat jy wil beklemtoon, kan jy “die nasies” in vers 9, “o nasies” in vers 10, “alle nasies” en “al die volke” in vers 11 en “nasies” in vers 12 merk. Probeer hierdie woorde beklemtoon terwyl jy Romeine 15:7-13 lees. Wanneer jy dit doen, sal Paulus se hele redenasie duideliker en makliker verstaanbaar word.
Metodes om gedagtes te beklemtoon. Die gedagtedraende woorde wat jy wil laat uitstaan, kan op etlike maniere beklemtoon word. Die metode wat jy gebruik, moet by die teks en die agtergrond van die toespraak pas. ’n Paar wenke word hier gegee.
Stemnadruk. Dit behels enige stemwisseling wat die gedagtedraende woorde van die res van die sin laat uitstaan. ’n Gedagte kan beklemtoon word deur die stemsterkte te verander, met ander woorde deur harder of sagter te praat. In baie tale gee ’n verandering in toonhoogte groter klem. Maar in party tale kan dit die betekenis heeltemal verander. Wanneer ’n mens stadiger praat as jy by belangrike uitdrukkings kom, gee dit groter klem daaraan. In tale waarin stemnadruk nie gebruik kan word om sekere woorde te beklemtoon nie, sal dit nodig wees om te doen wat ook al in daardie taal gebruiklik is om die gewenste resultate te bereik.
Pousering. Dit kan gedoen word voor of ná, of selfs voor en ná, die sleutelgedagte van ’n teks gelees is. As ’n mens pouseer onmiddellik voor jy ’n hoofgedagte lees, skep dit afwagting; as jy daarna pouseer, laat dit die gedagte insink. Maar as daar te veel pouses is, sal niks uitstaan nie.
Herhaling. Jy kan ’n spesifieke punt beklemtoon deur jouself te onderbreek en weer die woord of frase te lees. ’n Metode wat dikwels beter werk, is om die hele teks te lees en dan die belangrikste uitdrukking te herhaal.
Gebare. Liggaamsbewegings sowel as gesigsuitdrukkings kan dikwels groter gevoel aan ’n woord of frase gee.
Stemtoon. In party tale kan woorde soms op ’n toon gelees word wat hulle betekenis beïnvloed en hulle laat uitstaan. Weer eens moet goeie oordeel aan die dag gelê word, veral wat sarkasme betref.
Wanneer ander tekste lees. Wanneer ’n huisbewoner ’n teks lees, beklemtoon hy dalk die verkeerde woord of hoegenaamd niks nie. Wat kan jy dan doen? Gewoonlik is dit die beste om die betekenis duidelik te maak deur die teks toe te pas. Nadat jy die toepassing gemaak het, kan jy die aandag direk op die gedagtedraende woorde in die Bybel vestig.