Hoofstuk 18
Hoe kan ek geld maak?
“Ek wil geld hê om ’n kar te koop.”—Sergio.
“Ek hou daarvan om in die winkels geld uit te gee.”—Laurie-Ann.
“Daar is dinge wat ek baie graag sal wil hê; maar my ouers kan dit nie bekostig nie.”—Mike.
JY HET moontlik soortgelyke redes waarom jy geld in die hande wil kry. Of dalk moet jy geld verdien om jou gesin te help onderhou. Al dra jy nie direk by tot die huishoudelike uitgawes nie, kan dit van die ekonomiese druk op jou ouers wegneem as jy vir jou eie klere of ander persoonlike items betaal.
Wat ook al die geval is, jy het geld nodig as jy enigiets vir jou of jou gesin wil koop. Al het Jesus belowe dat God vir diegene sal sorg wat ‘eers God se Koninkryk soek’, moet ’n Christen nog steeds die inisiatief neem om vir homself te sorg (Matteus 6:33; Handelinge 18:1-3; 2 Tessalonisense 3:10). Hoe kan jy dan geld maak? En nog belangriker, hoe kan jy ’n gebalanseerde beskouing daarvan behou?
Hoe om werk te kry
As jy regtig iets nodig het wat jou ouers nie kan bekostig nie, kan jy dalk ’n werk kry sodat jy genoeg geld kan verdien om dit self te koop. Praat met jou ouers oor die idee. Hulle sal moontlik beïndruk wees deur jou inisiatief. Hier is vier wenke wat jou sal help om werk te kry, as jou ouers daarvoor toestemming gee en dit vir jou wettig is om te werk.
Maak dit bekend. Vertel jou bure, onderwysers en familielede dat jy werk soek. As jy te skaam is om hulle in soveel woorde te vra, kan jy hulle dalk vra watter werk hulle gedoen het toe hulle so oud soos jy was. Hoe meer mense weet dat jy werk soek, hoe meer moontlikhede sal daar dalk vir jou wees.
Volg alle moontlikhede op. Reageer op advertensies in koerante, op die Internet en op inligtingsborde in winkels, by jou skool en op ander openbare plekke. “Dis hoe ek my werk gekry het”, sê ’n jong man met die naam Dave. “Ek het in die koerant gekyk, ’n CV deurgefaks en hulle gebel.” As dit nie werk nie, kan jy dalk ’n werkgewer oortuig dat hy of sy ’n diens nodig het wat jy kan verrig.
Stel ’n CV op en versprei dit. Skryf jou kontakbesonderhede neer en maak ’n lys van jou vaardighede en werksondervinding. Dink jy dat jy niks het om op die lys te sit nie? Dink weer. Het jy al ooit jou boetie of sussie opgepas terwyl jou ouers weg was, of het jy al ander kinders opgepas? Dit wys dat jy verantwoordelik is. Het jy al jou pa gehelp om die kar reg te maak? Dalk wys dit dat jy meganies aangelê is. Kan jy tik of ’n rekenaar gebruik? Of het jy op skool goeie punte gekry vir die een of ander kreatiewe projek? Dit sal dalk toekomstige werkgewers beïndruk. Noem hierdie dinge op jou CV. Gee jou CV vir potensiële werkgewers en vra jou vriende en familielede om dit vir enige van hulle kennisse te gee wat mense soek om vir hulle te werk.
Werk vir jouself. Dink aan jou buurt. Is daar ’n behoefte aan goedere of dienste wat niemand anders voorsien nie? Sê nou jy hou byvoorbeeld van tuinwerk. Jy kan aanbied om teen betaling jou bure se gras te sny of ander tuinwerk te doen. Of dalk speel jy ’n musiekinstrument. Kan jy ander moontlik leer speel? Of miskien kan jy werk doen wat ander dikwels nie wil doen nie, soos om vensters te was of skoonmaakwerk te doen. ’n Christen is nie skaam om met sy hande te werk nie (Efesiërs 4:28). As jy vir jouself werk, moet jy natuurlik selfgemotiveerd en gedissiplineerd wees, asook gereed om die inisiatief te neem.
’n Woordjie van waarskuwing: Moenie oorhaastig met enigiets begin voordat jy al die koste wat daaraan verbonde is en al die faktore wat daarby betrokke is, ondersoek het nie (Lukas 14:28-30). Bespreek dit eers met jou ouers. Praat ook met ander wat al soortgelyke werk gedoen het. Sal jy belasting moet betaal? Het jy ’n lisensie of permit nodig? Vind by die plaaslike owerheid uit wat nodig is.—Romeine 13:1.
Behou jou balans
Stel jou voor jy ry fiets en probeer ’n hele paar goed saamdra, soos ’n skooltas, ’n bal en moontlik ’n paar inkopiesakke. Hoe meer jy probeer saamdra, hoe moeiliker is dit om jou balans te behou! Dit geld ook as jy werk aanvaar wat bo jou vuurmaakplek is. As jy te veel van jou tyd en jou fisiese en verstandelike energie aan naskoolse werk bestee, sal jou gesondheid en punte dalk daaronder ly. Nog belangriker, ’n druk werkrooster sal dit dalk vir jou moeilik maak om vol te hou met die Christelike roetine om vergaderinge by te woon, Bybelstudie te doen en aan die Christelike bediening deel te neem. “Ek het al van vergaderinge weggebly omdat ek te moeg was ná ’n dag van skool en werk”, erken een jong meisie met die naam Michèle.
Moenie toelaat dat jy ook so ’n ongebalanseerde beskouing van geld kry nie! Jesus het gesê dat mense wat “bewus is van hulle geestelike behoefte”, waarlik gelukkig sal wees (Matteus 5:3). Hy het ook gesê: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). ’n Jong Christen met die naam Maureen het hierdie raad ter harte geneem. “Ek wil nie in suiwer materialistiese doelwitte vasgevang raak nie”, sê sy. “Ek wéét dat my geestelikheid in die slag sal bly as ek te betrokke daarby raak om geld te maak.”
Toegegee, in party wêrelddele het jongmense geen ander keuse as om lang ure te werk om hulle gesin te help om ’n bestaan te maak nie. Maar as jy jou nie in hierdie situasie bevind nie, waarom sou jy dan in hierdie opsig ongebalanseerd wou raak? Volgens die meeste deskundiges is dit onredelik en teenproduktief om meer as 20 uur per week te werk terwyl jy skoolgaan. Party stel voor dat jy nie meer as agt tot tien uur per week werk nie. Die wyse koning Salomo het gesê: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind.”—Prediker 4:6.
Onthou, “die bedrieglike krag van rykdom” kan jou belangstelling in geestelike dinge verstik (Markus 4:19). As jy dus ’n naskoolse werk begin om geld te maak, moet jy jou rooster so organiseer dat jy aan geestelike bedrywighede prioriteit gee. Bid tot Jehovah God oor die saak. Hy kan jou versterk om die druk van die situasie die hoof te bied en kan jou help om jou geestelike balans te behou.
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 1, HOOFSTUK 21
Beheer jy jou geld of beheer dit jou? Vind uit hoe jy in beheer kan bly.
SLEUTELTEKSTE
“Ongeag hoe graag ’n luiaard iets wil hê, hy sal dit nooit kry nie. ’n Harde werker sal alles kry wat hy wil hê.”—Spreuke 13:4, Today’s English Version.
WENK
Stuur jou CV na maatskappye al het hulle nie ’n pos geadverteer nie.
HET JY GEWEET . . .?
Op party plekke word tot 85 persent van beskikbare poste nie geadverteer nie.
AKSIEPLAN!
Ek sal my kanse om werk te kry, vergroot deur ․․․․․
Ek sal die aantal ure wat ek werk, beperk tot ․․․․․ uur per week.
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom wil jy geld maak?
● Voor watter uitdagings sal jy te staan kom as jy werk kry?
● Hoe kan jy ’n gebalanseerde beskouing van geld behou?
[Lokteks op bladsy 153]
As jou geluk altyd gebaseer is op wat jy het, sal jy nooit gelukkig wees nie. Daar sal altyd iets nuuts wees wat jy wil hê. Jy moet leer om tevrede te wees met wat jy het.’’—Jonathan
[Venster op bladsy 155]
Respekteer geld—moet dit nie liefhê nie
In die hande van ’n vaardige sjef is ’n skerp mes iets nuttigs. Maar daardie selfde mes kan in die hande van ’n onervare of onoplettende persoon groot skade doen. Geld is soos ’n skerp mes. As jy dit goed gebruik, is dit iets nuttigs. Maar as jy nie versigtig is nie, kan jy seerkry! Byvoorbeeld, die apostel Paulus het gewaarsku teen die gevaar om ’n liefde vir geld aan te kweek. In hulle strewe na rykdom offer party mense vriendskappe, gesinsverhoudings en selfs hulle verhouding met God op. Gevolglik ‘deurboor hulle hulleself oral met baie pyne’ (1 Timoteus 6:9, 10). Die les? Leer om geld goed te gebruik. Respekteer dit, maar moet dit nie liefhê nie!
[Prent op bladsy 153]
As jy te veel verantwoordelikhede op jou neem, kan dit vir jou moeilik word om jou balans te behou