Watter seëninge op aarde tydens die millennium?
Hoe sal dit wees wanneer ‘God se wil op aarde geskied’?
Het jy al die beroemde modelgebed opgesê wat Jesus ons geleer het? Hy het gesê: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Matt. 6:10.
MILJOENE persone het al daardie woorde opgesê. Maar sou jy sê dat baie al ernstig nagedink het oor hoe dit op aarde sal wees wanneer God daardie gebed verhoor? Het jy self al gewonder watter dinge jy en jou gesin sal kan geniet indien julle die voorreg het om te lewe wanneer God se wil op aarde geskied net soos in die hemel?
Die boek Openbaring kan ons hier help. In die 19de hoofstuk daarvan lees ons van die komende oorlog waartydens Jesus Christus al God se vyande op aarde gaan vernietig. Die 20ste hoofstuk deel ons mee dat die Duiwel, wat agter goddeloosheid sit, dan 1 000 jaar lank in die afgrond toegesluit sal word. Gedurende daardie millennium sal Christus uit die hemel regeer tot seën van God se menseknegte, onder andere die verresenes. Omdat die goddelose elemente dan verwyder sal wees, sal daar “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” wees waarin geregtigheid sal woon.—Openb. 20:11; 21:1; 2 Pet. 3:13.
Stel jy belang in ’n meer gedetailleerde beeld van die aardse seëninge gedurende die millennium? Wel, Openbaring bied ’n beskrywing van hoe dit sal wees wanneer Jehovah God sy aandag op die nuwe aardse gemeenskap ware aanbidders vestig. Ons lees:
“God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openb. 21:4.
Toon die feit dat daar nie meer trane sal wees nie dan nie dat die mensdom nie meer deur wreedhede soos kindermishandeling, verkragting, diefstal, aanranding, terrorisme en oorlog geteister sal word nie? Daarbenewens verseker God ons dat pyn en die dood—wat nou dikwels met siekte en ongelukke gepaard gaan—nie meer sal bestaan om droefheid te veroorsaak nie.
Die Bybel gee ons ook die grondslag om ander seëninge gedurende die millennium op aarde te verwag. In hierdie verband hoef ons ons nie tot fantasieë of oordrywing te wend soos party gedurende die tweede en derde eeu gedoen het nie.
VROEË BESKOUINGS VAN AARDSE TOESTANDE
Soos die vorige artikel gemeld het, het ’n afval van die suiwer Christelike leer na die apostels se dood plaasgevind en het party begin om verdraaide dinge te leer. Dit was deels omdat hulle verkeerdelik geglo het dat Jesus en sy mede-erfgename op aarde sou heers (Joh. 14:19; 2 Tim. 2:12; 1 Pet. 1:3, 4). Daar is klaarblyklik geredeneer dat sulke bonatuurlike heersers ongelooflike aardse toestande sou skep.
Ons vind ’n voorbeeld van sulke ongelooflike beskrywings in die aangehaalde geskrifte van Papias, ’n tweede-eeuse prelaat van Frigië. Hy het gedink dat die volgende gedurende die millennium sou gebeur:
“Daar sal wingerdstokke wees wat elk ’n duisend takke het, . . . en aan elke loot tienduisend trosse, en in elke tros tienduisend korrels . . . ’n Graankorrel sal eweneens tienduisend are voortbring, en elke aar sal tienduisend korrels hê, en elke korrel sal tien pond skoon, suiwer meel [oplewer].”
Ander vroeë skrywers het egter die aandag op die verruklike beskrywings in Jesaja gevestig en geglo dat hulle ’n aanduiding is van wat Christus se duisendjarige bewind tot stand sou bring.
Die tweede-eeuse skrywers Justinus Martyr en Irenaeus het byvoorbeeld uit die profesieë in Jesaja 65:17-25 en 11:6-9 aangehaal. Die eerste van hierdie gedeeltes sê:
“Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, . . . Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, . . . hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.”
Jesaja hoofstuk 11 praat ook van die diere wat in vrede saamlewe en van die leeu wat strooi eet net soos die os. En dit sê dat ’n klein seuntjie hulle sal lei.
Irenaeus het erken dat hierdie woorde ’n passende beskrywing is van hoe God se waarheid persoonlikheidsveranderinge kan aanbring in “wrede mense van verskillende nasionaliteite en met uiteenlopende gewoontes wat gelowig geword het en wat, nadat hulle gelowig geword het, optree in ooreenstemming met wat regverdig is”. Maar hy het ook geredeneer dat hierdie veranderinge in mense, van wreedheid na vreedsaamheid, gedurende die millennium logies in die diereskepping weerspieël sal word. Hy het geskryf:
“Wanneer die geskape orde hernieu word, behoort die diere aan die mens onderdanig te wees en weer die voedsel te eet wat God aan die begin aan hulle gegee het, naamlik die vrugte van die aarde, aangesien hulle aan Adam onderdanig en gehoorsaam was.”—Against Heresies V, 33, 4.
Wanneer ons vandag daardie gedeeltes in Jesaja in hulle verband lees, kan ons besef dat Jesaja eerstens oor die herstelling van sy volk uit ballingskap in Babilon op ’n klein skaal of afbeeldende wyse geprofeteer het, en, tweedens, oor die herstelling van geestelike Israeliete uit Babilon die Grote gedurende die “laaste dae” in ’n teenbeeldige of volledige sin. Die kleinskaalse vervulling het in 537 v.G.J. plaasgevind. Met ’n nuwe heerskappy oor die land kon die herstelde Israeliete hulself daarop toelê om hulle land te bewerk en dit weer vrugbaar, mooi en vreedsaam te maak (Jes. 35:1, 2). Jehovah het hulle gehelp om ontslae te raak van wrede, dierlike eienskappe en om die vredeliewendheid wat onder ware aanbidders gepas is, in hulle gesindhede en weë te weerspieël.—Miga 6:8; kyk Man’s Salvation out of World Distress at Hand!, ble. 320-322, pare. 15-9; ook “New Heavens and a New Earth”, ble. 324-333, pare. 18-29.
Aangesien sulke vredeliewendheid destyds onder die herstelde Israeliete ontstaan het, en vandag onder ware aanbidders te sien is, kan ons mos seker wees dat dit gedurende die millennium op ’n selfs groter skaal sal voorkom, nie waar nie? Maar sulke gedeeltes gee ons veel stof tot nadenke.
AANDUIDINGS UIT EDEN
Waar Jesaja wys op die nuwe toestande wat die herstelde Israeliete sou geniet, het hy van die voorbeeld van die mens se oorspronklike tuiste, die paradys genaamd die tuin van Eden, gebruik gemaak. Hy het geskryf:
“Die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE. ”—Jes. 51:3.
Ander Bybelskrywers het ook na die tuin van Eden verwys as ’n toonbeeld van vrugbare en geseënde toestande waaronder mense graag sal wil lewe.—Eseg. 36:35; Joël 2:3; Gen. 13:10; vergelyk Hosea 2:17-20.
Wanneer ons dus dink aan die aardse seëninge van die millennium, kan ons ons herinner aan wat Jehovah God aan die begin, in die tuin van Eden, vir die mensdom voorsien het.
Die Genesisverslag deel ons mee dat God Adam en Eva in ’n “tuin” of “paradys” gesit het (Gen. 2:8, Septuaginta). Dit was veel meer as ’n blomtuin. Ons lees: “Die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet.” Hoewel daar volop gesonde voedsel was, was die tuin van Eden ook ’n plek met lonende werk. Adam en Eva moes die tuin bewerk en versorg, en dit sou bydra tot hulle bevrediging wanneer hulle van die veelsoortige opbrengs daarvan eet.—Gen. 2:9, 15, 16; vergelyk Prediker 2:24; 5:11.
Moes Adam en Eva die wilde diere vrees terwyl hulle in daardie genotvolle tuin gelewe het? Is hulle vrede verstoor deur diere wat wreedaardig op mekaar jag gemaak het? Wat Jesaja in hoofstukke 11 en 65 geskryf het, dui daarop dat dit nie die geval was nie. Ons het ook hierdie geskiedkundige informasie uit Genesis:
“Verder het God [vir Adam en Eva] gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ’n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.”—Gen. 1:29, 30.
Soos jy dalk weet, aanvaar baie mense, party geestelikes inkluis, vandag nie wat die Bybel oor die tuin van Eden en die toestande wat daar geheers het, sê nie. Party beweer dat die verslag oor Adam en Eva net ’n mite of sinnebeeldige voorstelling is. Hulle bots dus met Jesus Christus, want hy het die Skriftuurlike verslag as feitlik aanvaar en inderdaad daaruit aangehaal (Matt. 19:4, 5). Baie geestelikes glo ook nie wat God se Woord oor die diere in die tuin van Eden sê nie. Hulle beskouing is moontlik beïnvloed deur die ewolusieteorie—dat wat ons nou in die diereryk sien ’n voortsetting is van hoe dit nog altyd was en dat “die oorlewing van die geskikste” nog altyd die reël onder diere en mense was.
Maar met geloof in God se krag en met gewilligheid om te aanvaar wat die Bybel sê, kan ons vertrou dat die eerste mense in Eden nie sondige, strydende persone was nie en dat die diere in die paradys in vrede gelewe het. Op grond van ons eie ervaring wanneer ons diere in dieretuine, in beeldradioprogramme oor natuurlewe of op plase gesien het, kan ons mos seker wees dat dit tot die mens se lewensgenot moes bygedra het toe hy in die paradys oor vreedsame diere geheers het, nie waar nie?—Gen. 1:26.
SIEN MET VERTROUE UIT NA DIE TOEKOMS
Ons kan dus sien dat God ’n grondslag voorsien het sodat ons aardse seëninge kan verwag: Die belofte in Openbaring 21:4 beteken dat ons kan uitsien na die einde van droefheid, pyn en die dood. En dit sal logies die einde beteken van huidige toestande wat sulke dinge veroorsaak. Ons het ook enkele besonderhede oor die tuin van Eden. Dit gee ons rede om ’n herstelde aardse paradys met lonende werk, bevredigende en gesonde voedsel en die vreedsame heerskappy van die mens oor die diereskepping te verwag.—Luk 23:43, NW; Ps. 72:16.
Hierdie toestand sal nie beperk word tot ’n tuin in een streek nie. God sal eerder sy oorspronklike voorneme volbring, naamlik die onderwerping en verfraaiing van die hele aardbol. Sy voornemens faal nooit nie.—Jes. 45:18; Gen. 1:28; vergelyk Jesaja 14:24.
Die materiële seëninge is geensins die enigstes wat die duisendjarige bewind ’n genot sal maak nie. Jehovah verseker ons van dinge wat selfs belangriker is vir ’n waarlik bevredigende lewe—geestelike dinge. Herinner jou aan wat Jesus vir die versoeker gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Ons kan dus seker wees dat die millennium gekenmerk sal word deur die inname van volop geestelike dinge wat op die Skrif gegrond is. Geregtigheid en waarheid sal gedy en tot blywende vrede bydra.—Ps. 72:1, 5-7, 17; Jes. 9:5, 6; 32:1, 16-18; vergelyk Jesaja 26:7-9.
GELOOF NOU NODIG
As ons die seëninge van die millennium wil geniet, of selfs tot daardie tyd wil lewe, het ons geloof nodig. In sy wysheid het God nie vir ons al die besonderhede oor aardse toestande tydens die millennium gegee nie. Hy het nie beskryf hoe hy dinge wat op die oomblik amper onmoontlik lyk, gaan teweegbring nie—die omskepping van die verwoesting wat nou oor ontsaglike dele van die aarde aangetref word, die uitwissing van die kwale en gebreke van die menseliggaam en die skepping van ’n vreedsame balans in die diereryk. Hy het voldoende inligting in sy Woord ingesluit om te bewys dat hy die bomenslike vermoë het om sulke wonderwerk te verrig, en selfs om die dode op te wek (Hand. 10:37, 38; Luk. 7:14-16; 19:37, 38; Gen. 7:6-16). Maar om God te dien, het ’n mens steeds geloof nodig en moet jy glo dat hy geestelike en aardse seëninge sal voorsien.—Hebr. 11:1, 6.
Dit is met sulke geloof dat Jehovah se Getuies dwarsoor die aarde ’n onderrigtingswerk doen. Hulle help mense om die Bybel te bestudeer, vaste geloof te verkry en vertroue te verkry dat God binnekort deur Christus finaal sal optree om goddeloosheid uit te wis (Matt. 24:14). Talle van diegene wat nou geloof beoefen, sal behoue bly om die begin van Christus se duisendjarige bewind te sien en sal die aardse seëninge wat ons bespreek het, geniet. Ons nooi jou om Jehovah se Getuies se aanbod om jou te help om die Bybel te bestudeer te aanvaar sodat jy ook met vertroue kan uitsien na die seëninge gedurende die millennium.
[Prent op bladsy 9]
Gedurende die millennium sal God verwoesting op aarde ongedaan maak, siekte uitwis en ’n vreedsame balans in die diereryk teweegbring