Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 3/15 bl. 29-30
  • MIRJAM—Bevoorreg in haar jeug en op haar oudag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • MIRJAM—Bevoorreg in haar jeug en op haar oudag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • IN HAAR JEUG
  • OP HAAR OUDAG
  • “Sing vir Jehovah”!
    Volg hulle geloof na
  • Jehovah heg groot waarde aan sagmoedigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Moses het gekies om Jehovah te aanbid
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Hoe baba Moses gered is
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 3/15 bl. 29-30

MIRJAM—Bevoorreg in haar jeug en op haar oudag

MIRJAM, die dogter van die Leviet Amram en sy Levitiese vrou Jogebed, het ’n belangrike rol in die vroeë geskiedenis van Israel gespeel. Die wyse waarop Mirjam deur Jehovah God gebruik is, het van sy besorgdheid oor die nasie getuig. Deur die profeet Miga het die Almagtige gesê: “Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop, en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aaron en Mirjam.”—Miga 6:4.

IN HAAR JEUG

Reeds as ’n kind het Mirjam die voorreg gehad om deel te hê aan die ontplooiing van Jehovah se voorneme met haar broer Moses. Egipte se Farao het beveel dat elke seuntjie wat vir die Hebreërs gebore word, in die Nyl gegooi moet word. Jogebed, wat nie die koninklike bevel gevrees het nie, het die baba drie maande lank versteek. Toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy ’n mandjie van biesies gemaak en dit waterdig gemaak met lymgrond en pik. Toe het sy die mandjie, met haar babaseuntjie daarin, tussen die riete aan die oewer van die Nyl neergelê. Mirjama het daar naby gaan staan om te sien wat sou gebeur.—Ex. 2:14; 6:19; Hebr. 11:23.

Toe Farao se dogter, vergesel van haar diensmeisies, na die rivier gekom het om te bad, het sy die mandjie gesien en beveel dat dit na haar gebring moet word. Toe sy die huilende baba sien, het dit haar hart geroer, en sy het die baba jammer gekry. Mirjam het gou opgetree. Sy het vir Farao se dogter gevra: “Sal ek vir u ’n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog?” Mirjam se woorde het die weg vir haar eie moeder gebaan om daardie pleegmoeder te wees. Hoe bly en dankbaar moes Jogebed tog nie gewees het nie! Moses is aldus van die dood gered en grootgemaak, om die een te word waardeur die Israeliete uit Egipte na die grense van die Beloofde Land gelei is. Min meisies het voorwaar so ’n regstreekse aandeel aan die ontplooiing van goddelike voorsienigheid gehad as wat Mirjam gehad het.—Ex. 2:5-10.

OP HAAR OUDAG

Tagtig jaar later het die Israeliete Egipte as ’n vry volk onder aanvoering van Moses verlaat. Toe Farao en sy leërs hulle agternajaag, het Jehovah God ’n skouspelagtige wonderwerk verrig deur die Rooi See te verdeel sodat Sy volk kon deurtrek. Maar die Egiptiese agtervolgers is tot die laaste een vernietig toe die deurgang vinnig oorstroom is. Aan die ander kant van die see het Mirjam die Israelitiese vroue in lied en dans voorgegaan en Jehovah verheerlik omdat hy hulle verlos het. Sy was toe 90 jaar oud en het as ’n profetes in Israel gedien.—Ex. 15:20, 21.

Maar die volgende jaar het die bevoorregte posisie wat Mirjam geniet het vir haar ’n struikelblok geword. Sy het teen haar broer Moses begin murmureer en Aaron beïnvloed om by haar aan te sluit. Die rede vir die murmurering was Moses se Kusitiese vrou, en dit is gebruik as ’n grondslag om sy unieke posisie te betwis. Die Bybelverhaal deel ons mee: “Hulle het gesê: Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie?” Hierdie vrae het te kenne gegee dat Moses sy ouer broer en suster opsetlik veronagsaam het en homself as die enigste woordvoerder van God verhef het.—Num. 12:1-3.

Die klag was heeltemal ongegrond, en die Allerhoogste het vir Aaron en Mirjam gesê: “Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ’n gesig My aan hom bekend maak, deur ’n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE. Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie?” (Num. 12:6-8). Ja, Moses het hom nie ’n posisie bokant Aaron of enige ander lede van die volk van Israel aangematig nie. Hy was regstreeks deur Jehovah aangestel. Dit is waarom Aaron sowel as Mirjam skuldig was aan murmurering teen die Allerhoogste.

In Mirjam se geval was dit dalk jaloesie oor haar posisie as ’n profetes wat haar laat murmureer het. Sy was moontlik bang dat haar skoonsuster groter vernaamheid in die nasie sou verkry. Mirjam se trots het haar klaarblyklik nie die ware geskil laat sien nie—die belangrikheid van nederige onderworpenheid aan Jehovah se reëling.

Omdat sy die perke van haar Godgegewe rol oorskry het, en ongegronde klagtes teen haar broer ingebring het, is Mirjam met melaatsheid getref. Wat ’n verskriklike blyk van God se misnoeë! Aaron het om genade gepleit, en Moses het Jehovah opreg ten behoewe van sy suster gesmeek en gesê: “o God, maak haar tog gesond!” Mirjam is genees, maar sy moes die vernedering verduur om sewe dae lank buitekant die kamp van Israel in kwarantyn deur te bring (Num. 12:9-15). Mirjam het nietemin gedurende die jaar dat die Israeliete Kanaän binnegegaan het, in Jehovah se guns gesterf.—Num. 20:1.

Alle knegte van die Allerhoogste kan ’n belangrike les uit Mirjam se ondervinding leer. Alhoewel ’n persoon talle seëninge geniet, maak dit op sigself hom nie immuun teen ’n ernstige val nie. Dit is baie belangrik dat ons ons daarop toelê om nederig voor God te bly en nie toe te laat dat trots die oorhand oor ons kry nie. Mag ons immer die geïnspireerde woorde in gedagte hou: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”—Jak. 4:6.

[Voetnoot]

a Mirjam word nie in die verslag by name genoem nie, aangesien daar slegs na Moses se “suster” verwys word. Maar aangesien daar geen aanduiding is dat Moses en Aaron enige ander susters gehad het nie, moet ons aanneem dat daar hier na Mirjam verwys word.—Num. 26:59.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel