Dankbaar dat Jehovah ons gebede verhoor het
Soos vertel deur Angelo Clave
“VERBLY julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.” Deur hierdie raad in gedagte te hou, is ek gehelp om ’n lewe van voltydse diens aan Jehovah te geniet.—Rom. 12:12.
As die jongste van ses kinders is ek in 1936 gebore op die klein eiland Anda naby ’n beroemde toeristegebied in die Filippyne wat in Pangasinaans as Eenhonderd Eilande bekend staan. Ons hout-en-bamboeshuis, wat ’n halwe kilometer van die see af geleë was, was omring deur blomme en mangobome, ’n genot vir die oog en die smaakpapille. Ongelukkig het my vader gesterf toe ek slegs drie jaar oud was. Benewens die smart weens die verlies van haar man, was my moeder diep bekommerd oor hoe om ons op die beste manier groot te maak. Sy het darem nog ’n plasie gehad om die graanskuur agter ons huis met ’n voorraad rys te vul. Sy was ’n vrou wat toegewy was aan haar godsdiensopvattings as ’n lid van die Filippynse Onafhanklike Kerk.
In 1945, net na die Tweede Wêreldoorlog groot verwoesting in die Filippyne aangerig het, het verreikende veranderinge begin met die besoek van twee jong vroue wat verkondig het dat God se koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is. My moeder het nie belanggestel nie, maar my ouer broer Presalino het die twee getuies van Jehovah gretig verwelkom en talle Bybelonderwerpe van die oggend tot laat daardie nag met hulle bespreek. Die volgende dag het Presalino my neef Eduardo genooi om hom te vergesel terwyl hy hierdie vroue per boot na hulle huis toe terugneem.
Toe my broer en neef ‘n paar dae later terugkeer, het hulle almal geesdriftig meegedeel dat hulle reeds as Jehovah se Getuies gedoop is! Presalino het ywerig verduidelik dat die Koninkryk waarvoor ons so dikwels in die Onse Vader gebid het vir baie mense ewige lewe op ’n paradysaarde gaan gee (Matt. 6:9, 10; Luk. 23:43, NW), Hoewel my moeder aanvanklik nie belanggestel het nie, was sy gou daarvan oortuig dat dit die waarheid is. Sy het dus dadelik die kruis en beelde van Josef, Maria en ander “heiliges” uit die huis verwyder. Sy het ook opgehou om betelneut te kou. ’n Paar maande later het die vader van die twee Getuie-meisies ons besoek. Hy was verheug om ’n groep aan te tref wat die Bybel onder die leiding van Presalino bestudeer. Twaalf persone is toe gedoop, onder andere my moeder, twee broers, my suster en twee skoonsusters. Daar is dadelik ’n gemeente met hulle gestig. Twee van my broers, en my neef Eduardo, is aangestel om die leiding te gee.
By ons skooltjie met ongeveer 120 leerlinge is ek dikwels gespot weens my toenemende geloof. Druk is op al die kinders van Jehovah se Getuies uitgeoefen omdat hulle geweier het om by die skool aan afgodiese dade mee te doen. Hierdie druk het my eindelik verhoed om verder te leer. Dit was ’n teleurstelling. My moeder het my egter gehelp om op Jehovah te vertrou en my verhouding met hom te versterk deur middel van gebed en Bybelstudie. Die gevolg? Op die ouderdom van 15 was ek onder die 522 wat op 22 April 1951 tydens die nasionale byeenkoms in Quezon City gedoop is.
MY GEBEDE OM ’N VOLTYDSE PREDIKER TE WORD, IS VERHOOR
Hierdie byeenkoms het die begeerte by my gewek om ’n pionier te word, soos voltydse Koninkryksverkondigers genoem word. Tydens die terugreis en in gesinsbesprekings was dit die onderwerp waaroor ek die meeste gedink en gebid het. Hoewel my moeder se aanvanklike reaksie negatief was, het sy my eindelik toegelaat om ’n paar maande lank “vakansie”-pionierdiens te doen. Hierdie paar maande was baie lonend en dit het my net meer vasbeslote gemaak om ’n gewone pionier te word.
Op 1 Maart 1953 het ek hierdie doel bereik. Ek het toe ook begin om ’n nuwe taal te leer—Iloko. Waarom was dit nodig? Daar is ten minste 87 dialekte in die Filippyne en ek praat Bolinao, maar in my predikingsgebied was daar baie Ilokosprekendes. Dit was die eerste van talle nuwe tale wat ek sou moes leer om die waarheid van die Bybel aan meer mense te verkondig. Elke keer het ek grootliks op Jehovah staat gemaak vir hulp en gebid dat hy my pogings moet seën.
Dit was terwyl ek saam met die Ilogmalino-gemeente in ’n dorpie langs ’n wit strand aan die Chinese See gewerk het dat ek ’n buitengewone ondervinding gehad het. ’n Jong man wat ek in sy huis ontmoet het, het so ontsteld geraak toe hy besef dat ek ’n Getuie is dat hy my uitgejaag het en gewaarsku het om nie terug te keer nie. Die volgende week het die kringopsiener ons besoek en sou ons in dieselfde gebied preek. Onbewus van my ervaring het die kringopsiener vir my gesê om te begin met die einste huis waar die jong man so vyandig was.
Aanvanklik wou ek daardie huis oorslaan; maar nadat ek tot Jehovah gebid het, het ek besluit om maar weer soontoe te gaan. Wat ’n verrassing! Die jong man het aandagtig geluister, ingestem om die Bybel te bestudeer en daardie week sy eerste vergadering bygewoon. Hy het geestelik vinnig gevorder en is net ’n paar maande later by ’n byeenkoms gedoop. Wat het die skielike verandering in net een week veroorsaak? Nadat hy my so sleg behandel het, het hy ’n ongeluk gehad. Hy het dit beskou as straf en besluit om ten minste hoflik te wees teenoor die volgende Getuie wat hy teëgekom het. Hy was, en hy het gehou van wat hy gehoor het.
Drie van ons pioniers het dikwels ’n vissersboot wat ses meter lank was, gebruik om eilande daar naby te besoek en toesprake te hou. Toe ons laat een nag terugkeer huis toe, het die weer skielik verander. Ons was in die moeilikheid! Hoë golwe het die boot oorstroom en ons moes twee kilometer ver deur die bruisende see na die strand swem. Ek en my neef het daarin geslaag om my niggie te help en alhoewel ons ons besittings verloor het, het ons die strand veilig bereik. Ons het Jehovah gedank dat hy ons lewens gered het.
My volgende toewysing het my na ’n dorp verder van die huis af geneem. Daar het ek ervaar hoe waar Jesus se woorde is: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en ewige lewe beërwe” (Matt. 19:29). Die broers en susters was so vriendelik en liefdevol dat ons na ’n kort rukkie ’n goeie, heilsame, hegte verhouding geniet het. Die band was so sterk dat nie een van ons die trane kon keer wat oor ons wange gerol het toe ons mekaar gegroet het toe ek na my eerste toewysing as ’n spesiale pionier in die provinsie Bulacan vertrek het nie.
Tydens my volgende twee toewysings het ek nuwe metgeselle gehad en geleer hoe om met persone met verskillende persoonlikhede saam te lewe en saam te werk. Die eerste van hierdie toewysings het meegebring dat ek nog ’n taal, Tagalog, die volkstaal, geleer het. In die tweede van hierdie toewysings het ek vir die eerste keer die unieke vreugde gesmaak om ’n nuwe gemeente te help stig. Dit het meer as twee jaar van ywerige werk, volgehoue gebed en vertroue op Jehovah wat ‘dinge laat groei’, vereis.—1 Kor. 3:5-9.
ANDER DIENSVOORREGTE
My dankbaarheid het toegeneem toe ek na drie jaar in die spesiale pionierdiens aangestel is om kringbesoeke by ongeveer 20 gemeentes, my tuisdorp inkluis, te doen. Kan jy jou my vreugde voorstel om saam met my moeder na ’n Bybelstudie te gaan en haar te help om iemand anders die waarhede te leer wat sy self gehuiwer het om te aanvaar? Na twee jaar in die kringwerk het ek ’n ander soort vreugde gesmaak toe ek en Lucrecia of 17 Januarie 1962 getroud is. Haar sewe en ’n halwe jaar van gewone en spesiale pionierdiens voor ons huwelik het getuig van haar liefde vir Jehovah se diens, en sedertdien was sy steeds ’n bron van hulp en bemoediging. Dit is beslis nog ’n rede om Jehovah dankbaar te wees!—Spr. 19:14.
Dit was dikwels moeilik om kringbesoeke te doen, maar die beloninge was groot. Om byvoorbeeld die dorpie Agumanay te bereik, moes ons twaalf uur lank teen ’n gladde, modderige paadjie die berge in opsukkel! Maar hoe verblydend was dit om met ons aankoms uit te vind dat die meeste van die dorpenaars Jehovah se Getuies is! Hulle het ons verwelkom met lofliedere tot Jehovah—liedere wat hulle self gekomponeer het. Elke dag het ongeveer 50 van hierdie nederige broers ons vergesel toe ons dorpies in die omgewing besoek het om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.
Maar sekere lewenstoestande hou gevare in, en later het ek hepatitis gekry. Dit het dit nodig gemaak om weer van Februarie 1965 tot Julie 1966 spesiale pionierdiens te doen. Toe was ek gesond genoeg om weer kringbesoeke te doen, hierdie keer in die provinsie Tarlac in sentrale Luzon. Die Hukke (guerrillas) het dinge daar gevaarlik gemaak, en talle mense is om die lewe gebring. Hoewel gereelde vergaderinge nie gehou kon word nie, was dit moontlik om medegelowiges geestelik te help deur hulle tuis te besoek. Terwyl ons eendag ontbyt saam met ’n broer en sy gesin in hulle klein hout-en-bamboeshuisie met sy sinkdak genuttig het, het twee vragmotors vol soldate skielik die huis omsingel. Met hulle gewere op ons gerig het hulle ons een vir een ondervra. Ek het die seldsame geleentheid gehad om die “goeie nuus” aan die bevelvoerder te verduidelik. Toe hulle tevrede was dat ons nie Hukke is nie, het hulle vertrek. Weer eens is ons vertroue in Jehovah beloon.—Spr. 29:25.
NOG ’N TAAL OM TE LEER
’n Brief gedateer 31 Augustus 1967 vanaf die Wagtoringgenootskap het ons baie verbaas. Dit het ons genooi om sendingwerk in Indonesië te gaan doen. Ons het Jehovah se leiding in gebed gevra en toe die uitnodiging aanvaar. So het dit gebeur dat ons, saam met ses ander Filipino’s, op 18 Februarie 1968 in Djakarta aangekom het.
By die eerste vergaderinge wat ons in Indonesies bygewoon het, was al wat ek vir my geestelike broers en susters kon sê: “Selamat sore. Selamat datang. Silahkan masuk.” (“Goeiemiddag. Welkom. Kom gerus binne.”) ’n Spoedkursus van 11 uur per dag in Indonesies het dadelik begin. Met die voltooiing van hierdie kursus is ek aangestel om na ’n nuwe gemeente om te sien. Wat ’n toets was dit tog vir my! Dit was duidelik dat ek my kennis van die taal moes verbeter. Ons het gevind dat ywerige deelname aan die huis-tot-huispredikingswerk die beste manier was om dit te doen. Die inwoners van Djakarta was gasvry en behulpsaam en het ons binnegenooi en hoflik probeer om ons te verstaan. Sodoende het ons vinnig vordering gemaak, want Indonesies kom nogal ooreen met party Filippynse dialekte. Na slegs agt maande is ons dus weer aangestel om kringbesoeke te doen en ons pasgeleerde Indonesies te gebruik.
Na ’n ruk in die omgewing van Djakarta is ons aangewys om die gemeentes op die eiland Soelawesi te besoek. Daar was die gebrek aan vervoer en slegte paaie ’n beproewing, maar weer eens het die liefde van die broers ons beproewings die moeite werd gemaak. Tydens een gemeentelike vergadering het ’n vrou my vrou genader en gesê: ‘Bid asseblief vir my dat ek die lyding kan verduur wat my man vir my veroorsaak weens die waarheid.’ Ons het haar met die Bybel bemoedig en vertroos en vir haar gebid, maar later kontak met hierdie vrou verloor aangesien haar man na verskeie afgeleë gebiede getrek het om sy vrou van die Getuies af weg te kry. Wat ’n verrassing was dit om haar ’n paar jaar later onder die doopkandidate by ’n kringbyeenkoms te sien!
DIE DRUK NEEM TOE
In 1976 het ons probeer om ’n byeenkoms vir die Soelawesi-broers in Menado te reël. Ons het om vyf verskillende sale aansoek gedoen, maar is verwerp. Eindelik is ’n geskikte saal gevind, maar ons kon nie die huur van Rp260 000 (R545) bybring nie. Hoe verbaas was ons tog toe ’n nie-Getuie Rp100 000 bygedra het! Toe het ’n medegelowige ’n groot bydrae gegee, en dit het die saal binne ons bereik geplaas. ’n Goeie byeenkoms is gehou, en dit was ’n bestiering, want dit was die laaste groot byeenkoms vir ons broers in daardie gebied, aangesien teenstand teen ons werk toegeneem het.
Ons is aanvanklik verbied om huis-tot-huisbesoeke te doen. Maar die broers het geleer hoe om mense te vind met wie hulle kon praat. Talle belangstellendes is gevolglik gevind en die werk het steeds gevorder.
Toe is ons verbied om in huise te vergader. Die broers het begin om meer Koninkryksale te bou. Maar op 24 Desember 1976 is ’n algehele verbod op die bedrywighede en vergaderinge van Jehovah se Getuies as indiwidue aangekondig, asook op die van hulle wettige korporasie, die Bybelstudentevereniging van Indonesië. Ons het geweet dat ons visums nie hernieu sou word nie, maar ons was bly dat ons nie gedwing is om dadelik te gaan nie. Verdere verlengings is aangevra en die immigrasiebeampte het ons uiteindelik nog 10 dae gegee. Die dag voor ons vertrek het ons ’n piekniek saam met 200 broers gehou. Dit was ’n goeie geleentheid om mekaar wedersyds te bemoedig (Rom. 1:11, 12). Ons was dus verplig om ons dierbare Indonesiese broers en susters na nege bevredigende jare van diens saam met hulle te verlaat.
DIENS IN ’N ANDER LAND
Ons was egter bly dat dit moontlik was om Jehovah elders te dien—hierdie keer in Taiwan. Weer eens het ons taallesse ontvang, hierdie keer in Mandarynetaal, ’n taal wat heeltemal anders was as enige wat ons nog ooit geleer het. Alhoewel dit ’n taal is wat tone het wat die betekenisse van woorde met dieselfde klank verander en dit nie met Romeinse letters geskryf word nie, maak ons vordering. Net soos in die verlede bid ons vir Jehovah se hulp om die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig (Matt. 24:14, NW). Ons werk in die snel uitbreidende nywerheidstad Kauhsioeng met sy meer as 1 000 000 inwoners. Ons klein gemeente met 30 verkondigers van die “goeie nuus” het ’n groot toewysing. Maar hoe bly is ons om te sien dat meer as dubbel ons aantal die vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon!
Gedurende die sowat 30 jaar sedert ons ons lewens aan Jehovah toegewy het, het ons talle keer gesien dat die weg wat deur die apostel Paulus aanbeveel is die beste is. Daar ons 25 van daardie jare in voltydse diens bestee het, weet ons dat indien ’n persoon ‘hom verbly in die hoop, geduldig is in die verdrukking en volhard in die gebed’, Jehovah se seën sy lewe sal verryk.—Rom. 12:12.