Daar wag ’n wereld sonder pyn
“Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.’” —Openb. 21:1-4, NAB.
FISIESE pyn kan ’n persoon bewus maak van ’n besering wat andersins ’n hele ruk onopgemerk kan gaan. Daar is voorwaar gevalle wanneer gevoeligheid vir sulke pyn lewensreddend kan wees. Maar die Woord van God beloof ’n wêreld sonder pyn. Die Christenapostel Johannes is deur God geïnspireer om te skrywe:
“Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.’”—Openb. 21:1-4, NAB.
Daar het ons dit—’n belofte van God af dat ‘daar nie meer pyn sal wees nie’. Wat kan dit tog beteken? Hoe sal dit die mensdom raak?
DAAR WAG IETS NUUTS OP ONS
Sulke vrae moet beantwoord word. Maar daardie woorde wat 19 eeue gelede opgeteken is, sê veel meer. Hulle dui daarop dat daar iets nuuts op ons wag. Kyk kortliks wat hierdie profesie beteken.
Die voorspelde “nuwe hemel” is die hemelse koninkryk van Jesus Christus. Sy “mede-erfgename”, wat hier die “nuwe Jerusalem” genoem word, gaan saam met hom heers (Rom. 8:14-17). Die beloofde “nuwe aarde” is nie ’n ander aardbol nie. Dit is eerder ’n nuwe verenigde en regverdige mensegemeenskap onder Christus se koninkryk.—Vergelyk Psalm 96:1; Prediker 1:4.
Die ‘toenmalige hemel en aarde’, en vorige stelsel vol trane, dood, droefheid, geween en ontstellende pyn, sal dan vervang wees. En alhoewel die letterlike see sal voortbestaan, sal die simboliese “see”, die rustelose, goddelose volke, nie langer bestaan nie.
VERWIKKELINGE ONDER KONINKRYKSBEWIND
Watter wonderlike verwikkelinge lê tog voor! Onder Koninkryksbewind sal God “al die trane” van mense-oë afdroog. Dit beteken natuurlik nie dat traankliere nie langer hulle natuurlike vloeistof—iets wat fisies nuttig is—sal afskei nie. Trane van blydskap sal ook nie uitgeskakel word nie, want die aarde sal gevul wees met blydskap.
Geween en smart om verskeie ontstellende redes sal geleidelik tydens die duisendjarige bewind van Jesus Christus verwyder word (Openb. 20:6). Gevolglik sal mense-oë ophou om trane van droefheid te stort. Maar wat van die verwydering van pyn—nog iets wat voorspel is?
DIE PYN WAT GAAN VERDWYN
Die vermoë om fisiese pyn te voel, kan nuttig wees. Trouens, dit is onontbeerlik vir menselewe. God se belofte dat daar geen pyn meer sal wees nie, kan dus nie beteken dat aardse onderdane van Koninkryksbewind hoegenaamd geen pyn sal waarneem nie.
Hierdie belofte dat ‘daar nie meer pyn sal wees nie’ dui eerder aan dat verstandelike, emosionele en intense fisiese pyn sal verdwyn. Sulke pyn is die gevolg van sonde en onvolmaaktheid (Rom. 5:12; 8:21, 22). Hoe sal dit ‘nie meer wees nie’? In die sin dat die oorsake daarvan uitgewis sal word.
OORSAKE VAN PYN WEGGENEEM
Kyk net na ’n paar van die seëninge wat die mensdom onder die Koninkryksbewind gaan geniet. Miskien kan jy jouself voorstel onder die skares wat die pynlose wêreld gaan geniet waarop ons wag. Hoe sal dit wees om op die aarde te woon wanneer die volgende oorsake van pyn weggeneem is?
Teëspoed sal tot die verlede behoort, en so ook die emosionele pyn wat daardeur veroorsaak word. Armoede—beslis een van die blyke van teëspoed in so baie gevalle—sal nie bestaan nie. Hoe kan ons seker wees daarvan? Wel, sal die almagtige God, aan wie al die aarde se goud en silwer behoort, dan magteloos wees om armoede uit te skakel? (Hag. 2:8). Die Soewereine Heer Jehovah kan en sal ongetwyfeld daardie oorsaak van pyn verwyder.
Onder die Koninkryksbewind sal pynlike hongerte en ondervoeding uitgeskakel word. “As Ek honger het”, sê Jehovah, “sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid” (Ps. 50:12). Daarbenewens gee God se Woord die versekering: “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Ps. 72:16). En die Maker van die mens kan en sal beslis toesien dat die aarde se volop voedselvoorrade onselfsugtig versprei word sodat daar ’n permanente einde kom aan die pyn as gevolg van hongerte.
Verdrukking, nog ’n oorsaak van verstandelike en emosionele pyn, sal ook uitgewis word. In woorde wat ten volle tydens die bewind van Jesus Christus vervul sal word, word ons verseker: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë” (Ps. 72:12-14). Kan daar enige twyfel bestaan dat pyn weens verdrukking dan tot die verlede sal behoort?
Siekte, nog ’n oorsaak van verstandelike en emosionele pyn, sal nooit die rus en geluk van godvrugtige gesinne onder die Koninkryksbewind versteur nie. Jehovah God het die mag om siektes weg te neem (Ex. 15:26; 23:25; Deut. 7:15). Sy profeet Jesaja het geskryf van ’n tyd wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jes. 33:24). Die verwydering van alle fisiese, verstandelike en emosionele pyn sal vir die Goddelike Geneesheer geen onoorkoomlike probleem wees nie.
Die dood—die groot pynlike vyand van die mensdom —“sal daar nie meer wees nie” wanneer die goddelike wil ten volle in die hemel en op aarde gedoen word (1 Kor. 15:26; Openb. 21:4, NAB; Matt. 6:9, 10). Leed, smart en pyn sal gewis onvanpas wees wanneer vreugdevolle opstandings smartlike begrafnisse vervang en ‘die dood en die doderyk dié gee wat daarin is’.—Joh. 5:28, 29: Openb. 20:13.
JOUNE—AS JY DIT WIL HÊ
Ja, daar kom ’n wêreld sonder pyn. Dit kan joune wees daar jy so ’n hoop kan koester. Die afwesigheid van pyn wat gepaard gaan met teëspoed, verdrukking, siekte en die dood sal een van die talle seëninge wees wat die gehoorsame, Godvresende mensdom dan sal geniet.
Kan mense wat nou lewe hierdie hoop met die grootste vertroue aanvaar? Ja, want ’n wêreld sonder pyn is beloof deur die enigste Een wat in staat is om dit tot stand te bring—Jehovah, ‘die Allerhoogste oor die hele aarde’.—Ps. 83:19.