’n Wyse spreuk
“Hy wat haat verberg, het valse lippe; en hy wat skindertaal uitstrooi, is ’n dwaas.”—Spr. 10:18.
Baie spreuke bevat ’n kontras wat dit duideliker maak wat reg of verstandig is. Spreuke 10:18 bevat twee dele wat ’n soortgelyke gedagte oordra en waar die tweede die eerste versterk. Tesame bied hulle insig in God se denke en lei hulle ons op die regte weg.
Ons lees eerstens: “Hy wat haat verberg, het valse lippe.” Dit is ’n basiese waarheid. Indien ’n man iemand anders in sy hart haat, is dit in werklikheid bedrog wanneer hy dit met mooi woorde of vleitaal verberg, nie waar nie? Net soos ’n indiwidu wat ’n verkeerde indruk skep, vertel sy lippe leuens.—Spr. 26:24.
Party persone verberg nie haat nie, maar doen wat die tweede deel van die spreuk sê. Hulle ‘strooi skindertaal uit’. Hulle kwaadwilligheid laat hulle pogings aanwend om die persoon wat hulle haat met valse aantygings te benadeel of om skimptaal te gebruik sodat ander minder van hom sal dink. Dit is beslis “dwaas”. Die lasterlike “skindertaal” verander nie werklik die ander persoon nie. Die lasteraar beken bloot sy kleur; as gevolg van sy optrede dink skerpsinnige persone minder van hom. In plaas daarvan om die ander persoon te benadeel, benadeel die lasterende hater homself.
Die regte en verstandige ding is om albei hierdie alternatiewe te vermy. God het vir die Israeliete gesê: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie.” En Jesus het die gedagte verder gevoer deur te vermaan: “Julle moet [selfs] jul vyande liefhê; . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is” (Lev. 19:17; Matt. 5:44, 45). Dit is weliswaar nie maklik om ontslae te raak van haat wat ontstaan het nie, maar is dit nie beter as om iets daar te los wat tot geveinsde leuentaal of tot dwase laster kan lei nie? En wanneer ons ontslae raak van kwaadwilligheid, kom ons nader aan die beeld van God.