Insig in die nuus
Leer die skole “beskermingsafpersing”?
• Hoe keer jy leerlinge om skooleiendom te beskadig? Party skole betaal in werklikheid “beskermings”-geld. Ja, skoolbeamptes in Lakewood, New Jersey, deponeer elke maand R174 in die hoërskool se spesiale fonds vir leerlingbedrywighede wanneer skade minder as R435 beloop. Kleiner bedrae word vir die laerskool gedeponeer. ’n Amptenaar van die Onderwysraad berig dat die skenkingsprogram skade weens vandalisme gedurende een tydperk van ses maande tot ongeveer R870 laat afneem het, vergeleke met R9 570 gedurende ’n ooreenstemmende tydperk voordat daar met die program begin is.
Die resultate klink dalk goed, maar kom hierdie reëling nie ooreen met dié wat boewe en georganiseerde misdaad met talle klein besighede doen waar die eienaars weekliks of maandeliks ’n bedrag moet betaal sodat hulle eiendom nie beskadig word nie? Die polisie noem dit “beskermingsafpersing”. In vandag se milieu is party skole klaarblyklik so hulpeloos dat hulle in werklikheid help om vir skoliere te leer hoe om hulle eie “beskermingsafpersing” te beheer. Die ‘vermeerdering van ongeregtigheid’ wat Jesus vir ons dag voorspel het, het waarlik tot die kern van die samelewing deurgedring.—Matt. 24:12.
Hoe Katolieke getel word
• Die Rooms-Katolieke Kerk maak aanspraak op ’n wêreldwye ledetal van meer as 700 miljoen. Watter soort mense word as Katolieke gereken? Een aanduiding kom van St. Augustine’s Rectory in die stad New York. Nadat ’n man wat onlangs een van Jehovah se Getuies geword het ’n brief geskryf het waarin hy versoek het dat die kerk sy naam van sy lys moet skrap, het hy hierdie antwoord ontvang: “Ons kan onder geen omstandighede jou naam van enige doop- of ander Sakramentele verslae skrap nie. Soos jy weet, is die Katolieke Kerk die enige ware Kerk wat deur Jesus gestig is (Matt. 16), en dit sal ’n sonde teen die Heilige Gees wees om jou naam te skrap. Ongeag aan watter kerk jy nou behoort, is jy ’n Katoliek en sal jy die ewigheid as ’n Gedoopte Katoliek binnegaan . . .”
Indien dit die algemene gebruik is wanneer mense versoek dat hulle kerklidmaatskap beëindig word, laat dit twyfel ontstaan oor die lidmaatskapsyfers wat aan die publiek vrygestel word. Dit bevorder ook die soort godsdienshuigelary wat die Bybel voorspel het in “die laaste dae” sou heers waar dit sê dat mense bloot “’n gedaante van godsaligheid” sou bewaar.—2 Tim. 3:1, 5.
Liggame Ontdooi
• Krionika is die gebruik om ’n persoon se liggaam na sy dood te verys met die hoop dat dit weer lewend gemaak sal word wanneer die wetenskap ’n raat vir die doodsoorsaak gevind het. Teen 1971 het 13 lyke in die Verenigde State hierdie behandeling ontvang en is hulle in vloeibare stikstof teen -195 grade Celsius bevrore gehou. Dit lyk nou egter asof slegs sewe van die oorspronklike 13 lyke waarskynlik nog bevrore is.
“Wat het met die ander gebeur?” vra die tydskrif “Natural History”. “Hulle is klaarblyklik ontvries”, antwoord die artikel en sê dat “jy op die welwillendheid van jou afstammelinge moet staatmaak” om die onderhoudskoste—wat nou sowat R1 740 per jaar beloop—te betaal. “lndien die nageslag se liefde verkoel”, sê “Natural History”, “wag daar miskien ’n ontydige ontdooiing.”
’n Mens kan verstaan waarom mense probeer om hulle lewens onbepaald te verleng, want God het ‘onbepaalde tyd in hulle harte gelê’. Jesus het die enigste geslaagde voorskrif gegee om ’n mens se lewe onbepaald te verleng toe hy gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Pred. 3:11, NW; Matt. 6:27; Joh. 17:3.