Jy Kan jou humeur beteuel
’N MAN het rustig met sy dagtaak voortgegaan. Skielik het sy polsslag verhoog. Die pupille van sy oë het gerek. Sy bloeddruk het gestyg. Sy gelaatsuitdrukking het verander en hy het vinnig begin asemhaal. Chemiese veranderinge het in sy liggaam plaasgevind. Wat het gebeur? Het hy ’n toeval gehad? Nee, die man het net sy humeur verloor.
Wanneer mense hulle humeur verloor, vind ’n persoonlikheidsverandering plaas en daar sal amper vir seker onaangename gevolge wees. Een jong vrou sal nooit die keer vergeet toe sy haar humeur verloor het nie. Dit was haar troudag. Toe sy die onthaal saam met haar nuwe man verlaat, het hulle ’n argument gehad. Sy het hom met die motor omgery en hom gedood—’n tragiese gevolg van ’n gebrek aan beheersing.
Die Bybel berig ook dat baie sondes gepleeg is omdat mense hulle humeur verloor het. Jy sal onthou dat Kain “baie kwaad” geword en sy jonger broer Abel doodgeslaan het. Dan was daar bose koning Herodes wat “baie woedend geword” het en die babaseuntjies in Betlehem en omgewing laat vermoor het.—Gen. 4:5-8; Matt. 2:16-18.
“Toornigheid” word dus in die Bybel aangegee as ’n ‘werk van die vlees’, iets waarteen Christene moet stry om dit te bowe te kom (Gal. 5:19, 20). Die mate waartoe ons ons humeur kan beteuel, is gedeeltelik ’n aanduiding van ons vordering as Christene. Dit is waarom manne wat ’n ernstige probleem hiermee het nie as ouere manne in die Christengemeente gebruik word nie.—Tit. 1:7.
Moet ’n Christen dan nooit kwaad word nie? Wel, die Bybel sê vir ons dat Jehovah God soms toornig is (Ps. 110:5). Jesus was toornig of verontwaardig oor die hardheid en gebrek aan medelye van die Fariseërs (Mark. 3:4-6). ’n Christen kan dus kwaad word indien hy sien dat Jehovah se naam belaster of dat ’n medemens mishandel word. Maar hy word aangeraai: “Word toornig en moenie sondig nie” (Ef. 4:26). Dit is wanneer woede buite beheer raak en ’n persoon sy humeur verloor dat hy waarskynlik sal sondig.
Onthou die geval van Simeon en Levi, seuns van die aartsvader Jakob. Hulle suster Dina is verkrag deur ’n jongman met die naam Sigem van ’n stad daarnaby. Was dit iets om oor kwaad te word? Beslis. Maar die reaksie van die broers was verregaande. Hulle het al die manne in die stad saam met Sigem om die lewe gebring.—Gen. hfst. 34.
Dit lig ’n belangrike punt toe. ’n Mens het dikwels ’n goeie rede om kwaad te word. Maar as jy jou selfbeheersing verloor, kan dit woorde of dade tot gevolg hê waaroor jy later spyt is. Dan het ons nie net een nie, maar twee probleme: die oorspronklike ergernis en die toornige reaksie. Die woede-uitbarsting sal dikwels langer onthou word as die ergernis wat daartoe aanleiding gegee het. Wat dink jy het die mense in die omstreke in die geval van Simeon en Levi die langste onthou—die verkragting van Dina of die moord op al die manne van die stad?
As ’n mens andersyds jou humeur selfs tydens provokasie beheer, kan dit goeie resultate meebring. ’n Sekere Christin was byvoorbeeld getroud met ’n ongelowige dobbelaar. Weens sy dobbelary het hy baie van die gesin se geld verkwis. Eendag het hy vir sy vrou gesê dat hy vis gaan verkoop. Toe hy na ’n geruime tyd nie tuis was nie, het sy na hom gaan soek en hom aangetref, nie waar hy vis verkoop nie, maar besig met ’n luidrugtige spel mah-jong. Watter provokasie tog! Sy het egter nie voor sy vriende met hom geraas nie. En toe hy uiteindelik huis toe kom, het sy sagmoedig vir hom verduidelik hoeveel probleme sy ondeug vir die gesin veroorsaak. Die man was beïndruk met hierdie voorbeeld van ’n “sagmoedige en stille gees”. Hy het opgehou om te dobbel en het mettertyd ’n Christen geword.—1 Pet. 3:1-4.
HOE OM JOU HUMEUR TE BETEUEL
Christene word vermaan: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word” (Ef. 4:31). Mense verskil weliswaar. Party is baie bedaard, terwyl ander van nature opvlieënd is. Maar baie oënskynlik bedaarde mense sal getuig dat hulle ook eens op ’n tyd ’n probleem met selfbeheersing gehad het. Hulle het dit egter te bowe gekom deur goeie Skriftuurlike raad, soos die in Psalm 4:5; Spreuke 15:1 en 22:24; en Romeine 12:18 toe te pas.
In hierdie verband is dit goed om te onthou hoe liefde ons kan help. Niemand hou daarvan om die skyf van “woede en toorn en geskreeu” te wees nie (Ef. 4:31). Indien ons waarlik ‘ons naaste soos onsself liefhet’, sal ons gevolglik nie ander mense aan sulke onaangename ondervindinge wil onderwerp nie (Matt. 22:39). As ’n ouer sy humeur verloor, kan dit ’n jong kind bang maak. As ’n aangestelde Christelike ouere man sy humeur verloor, kan hy die uitwerking van sy goeie werk in die gemeente verydel. Iemand sê moontlik: ‘Wel, dit is nou maar eenmaal ek. Ek kan niks daaromtrent doen nie.’ Maar die Bybel sê: “Die liefde . . . verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Kor. 13:4-8). ’n Innige liefde vir ons medemens sal ons beweeg om enige neiging om opvlieënd te wees te beveg.
Laastens, en baie belangrik, Christene kan God nader vir hulp deur middel van sy heilige gees. Eienskappe soos liefde, vrede, lankmoedigheid en sagmoedigheid—wat ons sal help om ons gebrek aan selfbeheersing te bowe te kom—is vrugte van die gees (Gal. 5:22-24). Pleit dus by Jehovah God vir hulp indien jy kortgebaker is. Vra vir sy gees om jou te versterk sodat jy jou emosies kan beheer. Met Jehovah se hulp kan jy slaag!
Ja, ons moet ‘stadig wees om toornig te word’, want “die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie” (Jak. 1:19, 20). ’n Slegte humeur kan ons belaglik laat lyk, ons verhouding met ander skaad en ’n gebrek aan liefde verraai. Omdat Moses sy selfbeheersing by een geleentheid verloor het, is hy nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie (Num. 20:9-13). Moenie dat ’n gebrek aan selfbeheersing veroorsaak dat jy seëninge verbeur nie. Hou liewer altyd koning Dawid se woorde in gedagte: “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.”—Ps. 37:8, 9.