Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/15 bl. 5-11
  • “Wagter, hoe ver in die nag?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wagter, hoe ver in die nag?”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAAROM BY DIE “WAGTER” NAVRAAG DOEN?
  • DIE GODSPRAAK NADAT DIE WAGTER UITGESIT IS
  • “Babilon het geval!”
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Ons dien saam met die wag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • ‘Op die wagtoring staan ek’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die wagter het gese: ”Geval het Babel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/15 bl. 5-11

“Wagter, hoe ver in die nag?”

“Wagter, hoe ver in die nag? Die wagter sê: Die more kom, en ook die nag.”—Jes. 21:11, 12.

1. Wat beleef die wêreld nou in ’n figuurlike sin en bestaan daar enige grondslag vir optimisme oor hierdie stelsel van dinge?

DIE wêreld is besig om ’n “nag” te belewe! Dit nader nou die donkerste deel van hierdie figuurlike nag. Hoe dinge gaan lyk wanneer dit lig word, moet ons nog sien. Wat die mensdom al hoe meer verontrus, is die verslegtende toedrag van menslike sake op elke gebied van die lewe. Wêreldgeskiedenis toon dat dit met die eerste wêreldoorlog begin het. Politici, geestelikes, sosiale leiers en ekonome meen moontlik dat hulle ’n paar ligstraaltjies van die daeraad sien en probeer dalk om mense moed in te praat. Maar daar bestaan geen gegronde rede om optimisties oor die wankelende stelsel van dinge te wees nie.

2. Wat toon of die koms van hierdie “nag” voorsien is, en hoe is die koms van die “dag” onder die publiek se aandag gebring?

2 Die koms van hierdie “nag” is dekades tevore voorsien. Die beskikbare verslae van die afgelope eeu bewys dit. Die daeraad van die helderste “dag’’ in die hele mensegeskiedenis is ook voorsien. Dit is mondelings en in gedrukte vorm onder die publiek se aandag gebring.

3. Watter tydskrif wat vandag nog gepubliseer word, staaf dit, en waarom pas sy titel by sy werk?

3 ’n Tydskrif wat nou ’n oplaag van miljoene eksemplare in tientalle tale het, staaf daardie feit. Toe die eerste nommer in Julie 1879 verskyn het, was die tydskrif se naam “Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence”. Daardie eerste nommer het 16 bladsye bevat, en die bladsye was groter as wat dit vandag is. Dit het ’n tydige werk gehad om te doen. Die feit dat sy titel die betekenisvolle woorde “Watch Tower” bevat het, het hierop gesinspeel. In die kopstuk onder die titel het daar dus heel gepas ’n betekenisvolle aanhaling uit die oudste boek op aarde verskyn. Dit het gelui: “Wagter, hoe ver in die nag?” “Die môre kom.” Daardie woorde is aangehaal uit die Heilige Bybel, uit die profesie van Jesaja, hoofstuk 21, verse 11, 12. In Bybeltye is ’n wagter geassosieer met ’n wagtoring op die muur van ’n versterkte stad. Hierdie verhewe posisie het ’n goeie uitsig gebied. Die uitgewers van die tydskrif het hulle voorgeneem om as ’n wagterklas te dien. Deur middel van die kolomme van die tydskrif het die uitgewers probeer om die vraag, “Wagter, hoe ver in die nag?” te beantwoord. Daardie prikkelende vraag het tot met die nommer van 15 Desember 1938 op die voorblad van die tydskrif verskyn.

4. Weens watter belangrike gebeure tydens die sewentigerjare van die 19de eeu is die Watch Tower tydens ’n onheilspellende tyd gepubliseer?

4 Toe die Watch Tower vir die eerste keer op 1 Julie 1879 met ’n beskeie oplaag van 6 000 eksemplare verskyn het, was die wêreldtoneel besig om ’n onheilspellende voorkoms te verkry. Die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870 was verby, en die tweede Duitse Ryk het tot stand gekom. ’n Wapenwedloop sou tussen die Britse Ryk en die mededingende Duitse Ryk ontstaan. In 1878 is die Berlynse Volkekongres gehou om die Oosterse Kwessie te besleg, wat daartoe gelei het dat die Turkse Ryk tussen Europese ryke, veral Brittanje en Rusland, verdeel is. Gevolglike toekomstige vyandelikhede tussen nasies het dus gedreig!

5. Vir watter soort ondersoek het die tyd dus aangebreek, en watter soort ontwerp het heel gepas vanaf 1 Januarie 1895 op die voorblad van die Watch Tower begin verskyn?

5 Dit was inderdaad ’n tyd om die profesieë van die Bybel te ondersoek om te sien of hulle hoegenaamd iets te sê gehad het oor die betekenis van wêreldgebeure en die uitslag daarvan. Heel gepas het die Watch Tower sy voorbladontwerp op 1 Januarie 1895 verander na ’n hoekwagtoring op die rand van ’n onstuimige see. Onderaan die bladsy onder hierdie nuwe ontwerp het die tydskrif ook die volgende woorde, wat op Lukas 21:25-31 gebaseer was, in kursiewe druk vertoon: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders (die rustelose, ontevrede mense) dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld (samelewing) kom. Want die kragte van die hemele (kerkisme) sal geskud word. . . . Julle moet weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Kyk dan na bo, hef julle hoofde op, juig, want julle verlossing is naby.—Luk. 21:25-28-31.”

6. Waarom het die 20ste eeu met die eeuwisseling beloof om ’n opwindende tyd vir die “wagter”-klas te wees?

6 Die Spaans-Amerikaanse Oorlog het in 1898 gevolg, met verliese vir die Spaanse Ryk. In 1899 het die Boereoorlog in Suid-Afrika uitgebreek, met ’n voordeel vir die Britse Ryk. Die internasionale wapenwedloop het verskerp. Toe die vliegtuig uitgevind is, het dit oorlogvoering in die lug moontlik gemaak. Teen daardie tyd is geslaagde duikbote ook al gebou en vir oorlogvoering gebruik. Die 20ste eeu het dus beloof om ’n opwindende tyd te wees waaroor die “wagter”-klas vir beangste navraers verslag kon lewer. Dit was veral die geval omdat die “wagter”-klas verwag het dat die “tye van die nasies” in die noordelike herfs van 1914 sou eindig.—Luk. 21:24.

WAAROM BY DIE “WAGTER” NAVRAAG DOEN?

7. In watter soort verband is die vraag aan die “wagter” geklee, soos toegelig deur die daaropvolgende woorde?

7 Die vraag in Jesaja 21:11 wat tot die “wagter” gerig is, is geklee in ’n verband wat oorlog adem. Die woorde wat daarop volg, lui: “Godspraak teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete! Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die vlugteling met brood teëgekom. Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog. Want so het die Here vir my gesê: Binne ’n jaar—soos die jare van ’n dagloner—sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn. En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want die HERE, die God van Israel, het dit gespreek.”—Jes. 21:13-17.

8. Wat adem die woorde net voor die kort gesprek tussen die navraer en die wagter ook, en waar bevind die navraer hom?

8 Die “Godspraak” wat die kort gesprek tussen die navraer en die wagter voorafgaan, adem eweneens oorlog. Die navraer het dus rede om besorg te wees. Waar bevind die navraer hom? Klaarblyklik in die pad van ’n wêreldveroweraar. Jesaja 21:11 lui: “Godspraak oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag?”

9. (a) Wat beteken die naam van die plek waarteen die Godspraak gerig is, en hoe is dit van toepassing? (b) Hoe het dit gekom dat Edom, Jakob se tweelingbroer, met Seïr geassosieer word?

9 Die naam van die plek waarteen die Godspraak gerig is, is Duma, ’n naam wat “Stilte” beteken. Die naam is klaarblyklik profeties en dui aan dat die plek deur stilte gekenmerk sal word. Die naam beteken nie noodwendig dat die stilte weens verwoesting en die dood reeds daar heers nie. Duma se ligging word aangedui deur die feit dat die vraag aan die wagter vanuit Seïr, die land Seïr, kom. Hierdie land word geassosieer met Idumea, die land Edom. Dit verklaar moontlik waarom die Griekse Septuaginta van Idumea in plaas van Duma praat. Edom was die bynaam van Esau, die ouer tweelingbroer van Jakob. Die mense van die land Edom het die nasie Jakob, of die nasie Israel, teëgestaan.

10. Waarom het die afstammelinge van Edom, of Esau, hulle broedernasie begin haat en hulle verheug oor die ramp wat dit in 607 v.G.J. getref het?

10 Jakob se ouer tweelingbroer se naam was Esau, wat “harig” beteken, want hy was harig by geboorte. Die naam Seïr beteken “harig of wollerig”, maar die land met daardie naam is nie so genoem omdat Esau harig was nie. Sy afstammelinge het die land Seïr oorgeneem deur die oorspronklike bewoners te verower. Esau, of Edom, is berug daarvoor dat hy bereid was om die eersgeboortereg aan Jakob te verkoop. Jehovah, die God van Jakob, het die transaksie erken en het die goddelike seën aan die koper, Jakob, toegeken. Om hierdie rede het Esau vir Jakob gehaat. Dit is dus geen wonder dat Esau se afstammelinge, die Edomiete, hulle verheug het oor die verskriklike ramp wat hulle broedernasie, Israel, getref het toe die Babiloniërs Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het nie. Hierdie volksramp, asook die wegvoering van die oorblywende Israeliete na Babilonië, het plaasgevind gedurende die eeu na Jesaja se profesie oor die wagter.

11. Waar is die bron van die antwoord op die navraag geleë, en wat beeld Jesaja dus vandag af?

11 Waar is die wagter egter tot wie die navraer in die Edomitiese land Seïr sy vraag rig? Die profesie oor die navraer en die wagter is deur Jesaja gegee, en hy het hom in die destyds vry land Israel bevind. Die bron van die wagter se antwoord het dus in die land Israel gelê, ongeag waar die Israeliete tydens die vervulling van Jesaja se profesie beland het. Toe die profesie gegee is, was Jesaja die wagter wat op God se bevel aangestel is om die korrekte antwoord aan die navraer te gee. Jesaja en sy kinders het die goddelike goedkeuring gehad. Jesaja het dus heel gepas die “wagter”-klas van vandag, die oorblyfsel geestelike Israeliete met die hemelse erfenis, afgebeeld. Dit is hulle wat ingelig is omtrent die duistere wêreldsituasie van vandag.

12. (a) Wie het in 1879 G.J. aangebied om as ’n wagtergroep vir die groter “wagter”-klas te dien? (b) Waaruit moes die antwoord op die vraag wat destyds gestel is, kom, en wat was dit in werklikheid?

12 In 1879 G.J. was die redakteur van die Watch Tower en sy medewerkers ten volle toegewyde, gedoopte Christene. Hulle het aangebied om as ’n wagtergroep te dien ten behoewe van hul geesgesalfde Christenbroers. Tesame het hulle almal ’n groter “wagter”-klas uitgemaak. Hulle kon nie die vraag ontduik wat destyds geopper is nie: “Wagter, hoe ver in die nag?” Die enigste betroubare antwoord wat hulle kon gee, was dié wat God se geïnspireerde Woord in die mond van die wagter van die ou tyd geplaas het. Dit was in werklikheid: “Die môre kom, en ook die nag” (Jes. 21:12). A, ja, volgens die vooruitsig wat Jehovah God gegee het, sou ’n helderder tydperk, “die môre” aanbreek. Dit sou die millennium, of duisend jaar, van bewind deur Jehovah se Messias, sy verheerlikte Seun Jesus, inlui. Maar dit sou voorafgegaan word deur “die nag” van wêreldbenoudheid!

13. (a) Wat is die reeks Studies in the Scriptures wat vanaf 1886 gepubliseer is, genoem, en waarom? (b) Waarom was die navraer in Seïr bekommerd oor “die nag” wat destyds in die land geheers het?

13 Dit was ongetwyfeld weens die beloofde “môre” wat die duisendjarige bewind van Christus sou inlui, dat die reeks Studies in the Scriptures wat die redakteur van die Watch Tower in 1886 begin uitgee het, “Millennial Dawn” genoem is. En die woorde van Spreuke 4:18 is onder daardie titel aangehaal: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Maar dit was “die nag” waaroor die navraer in die land Seïr so besorg was. In die dae van die profeet Jesaja sou enige duisternis of “die nag” oor die Edomitiese land Seïr donkerder word. Dit sou die geval wees wanneer daardie land onder die oorheersing van ’n nuwe wêreldveroweraar gekom het, ’n veroweraar wat nie die Edomiete van die berg Seïr begunstig het nie, maar eerder die broedernasie Israel.

14. Wie het vandag die regte antwoord op die vraag oor die wêreldwye “nag”, en is verdere navrae daaromtrent verbode?

14 Vandag, meer as ’n eeu nadat die Watch Tower die eerste keer verskyn het, stel wêreldse mense wat na die lig rondtas steeds die dringende vraag: “Hoe ver in die nag?” Net die “wagter”-klas het die geldige antwoord op daardie vraag. Hierdie klas bly nie die regte antwoord, die Bybelantwoord, skuldig nie. Dit verwelkom alle verdere navrae, net soos die wagter in Jesaja se profesie voorts gesê het: “Wil julle vra, vra; keer terug, kom.”—Jes. 21:12.

15. Hoe het die Watch Tower hom van sy taak gekwyt deur verdere navrae te verwelkom, en watter boodskap omtrent die “nag” het dit sonder onderbreking verkondig?

15 Om daardie rede word die Watch Tower tot vandag toe gepubliseer. Net soos ’n letterlike wag die hele tyd op sy pos wakker moet bly, het die Watch Tower wakker gebly en nie ’n enkele nommer oorgeslaan sedert dit in Julie 1879 begin verskyn het nie. Dit is waar ondanks die wêreldwye vervolging van die “wagter”-klas gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorlog. Dit het verslag gelewer oor die verloop van “die nag”, en was nie bang om aan te kondig dat dit sy donkerste punt sal bereik tydens “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by wat Bybelprofesie Armageddon noem nie. Die gesalfde “wagter”-klas hou dus aan om sy opdrag uit te voer om “uit te roep . . . ’n dag van die wraak van onse God”.—Openb. 16:14-16; Jes. 61:1, 2.

DIE GODSPRAAK NADAT DIE WAGTER UITGESIT IS

16. Waarom het dit moed van die “wagter” geverg om die “Godspraak” te verkondig wat in sy mond geplaas is, en waarom stel ons vandag baie in die Godspraak belang?

16 God se “wagter” moet moedig en getrou wees om alles uit te spreek wat in sy mond geplaas word sodat hy dit aan almal binne hoorafstand kan verkondig. Die Godspraak was nie ’n gunstige nie, maar ’n ongunstige vir ’n wêreldmoondheid wat magtiger as al die voriges sou word. Maar dit het iets goeds voorspel vir die volk aan wie die wagter behoort het, die nasie Israel, gedurende die wêreldskuddende gebeure van daardie vervloë tye. Hierdie saak sou ons wat vandag lewe maar min geïnteresseer het as dit nie was vir die feit dat die dinge wat in die ongunstige “Godspraak” bevat word hulle groter en finale vervulling gedurende ons oorloggeteisterde eeu op die hele wêreld sou hê nie. Ons sal dus stellig geraak word net soos Jesaja lank gelede geraak is.

17, 18. Waarna het die uitdrukking “die woestyn van die see” verwys, en watter magtige moondhede het uit daardie gebied geheers?

17 Selfs die aanvangswoorde van die geïnspireerde boodskap deur Jesaja is onrusbarend: “Godspraak oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit ’n vreeslike land!”—Jes. 21:1.

18 Die gebied waarna daar verwys word met die uitdrukking “die woestyn van die see” was van wêreldbelang in mensegeskiedenis. Die gebied is die delta wat gevorm word deur die Eufraat en die Tigris, of Hiddekel, wat albei vermeld word in verband met die skepping van Adam, die eerste mens (Gen. 2:14). Die twee riviere mond na aan mekaar in die Persiese Golf uit. Wanneer die riviere hulle oewers oorstroom, word die vlakte tussenin soos ’n verlate see, ’n “woestyn van die see”. Die gevolg is vleierige moerasse. Dit is oor hierdie gebied dat die tweede wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis, Assirië, in die dae van die profeet Jesaja geheers het. Gedurende die daaropvolgende eeu sou dit opgevolg word deur ’n selfs magtiger wêreldmoondheid, die derde.

19. Wat sou daardie Derde Wêreldmoondheid Jesaja se volk aandoen, en wie stel vandag besonder in die saak belang?

19 Dit was daardie aanstaande Derde Wêreldmoondheid wat Jesaja se volk groot leed sou aandoen. As ’n wagter sou Jesaja self, of wie ook al as wagter gedien het gedurende die vervulling van die hele “Godspraak oor die woestyn van die see”, natuurlik intens belang gestel het in wat daarmee sou gebeur. Daarom stel die “wagter”-klas van vandag en almal wat navraag doen sodat hulle gelei kan word deur die waarnemings van die “wagter”-klas belang in die hedendaagse finale vervulling daarvan.

20. Waarmee word die oorsaak van die komende onheil vergelyk, en waarvandaan kom die vernietigingsmag?

20 lets onweerstaanbaars en oorweldigends “soos stormwinde in die Suidland” het op die horison opgedoem. Sulke stormwinde was bekend vir hulle geweld en vernietigingskrag. Mensgemaakte dinge in die pad van die voortbewegende stormwinde loop gevaar om uitgewis te word. Die vreeswekkende aspek van die naderende onheil blyk uit die feit dat daar gesê word dat dit “uit die woestyn, uit ’n vreeslike land” kom (Jes. 21:1). Destyds het die profeet Jesaja soos ’n weerkenner die waarskusein gegee om die mense in die pad van die storm in kennis te stel sodat hulle hulle op die ergste kon voorberei.

21. Wie het die waarskusein in ons dag gegee, en veral wie is verantwoordelik gemaak deurdat hulle op hulle hoede gestel is?

21 Die “wagter”-klas het dienooreenkomstig die waarskusein gegee, veral sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918. Die Watch Tower wat met uitwissing bedreig is gedurende die kritieke tydperk toe die “wagter”-klas dwarsoor die wêreld hewig vervolg is, het voortbestaan. Die “wagter” en sy instrument, die Watch Tower, het voortbestaan om ’n verdere waarskuwing te rig wat in alle dele van die aarde gehoor is. Die mense, veral hulle leiers, is op hul hoede gestel. Die verantwoordelikheid rus op hulle!

22. Watter soort aankondiging gaan binnekort uitgeroep word, en waarom sal ’n “groot menigte” dan gelukkig wees?

22 Die “wagter”-klas gaan binnekort ’n skokkende aankondiging uitbasuin. Wanneer dit onverwags uitgeroep word, sal daardie spesiale “groot menigte” wat dadelik op die waarskusein ag geslaan het, gelukkig wees.—Openb. 7:9-15.

[Venster/Kaart op bladsye 8, 9]

Die “nag” sal binnekort sy donkerste punt bereik tydens “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon

Die wagter wat in Israel op die wagtoring staan, beeld die verligte wagterklas van geestelike Israel af. As Jehovah se hedendaagse getuies verkondig hulle dat die “môre” van Christus se duisendjarige bewind op die “nag” van wêreldbenoudheid sal volg

Godsdienstige Duma, waarvandaan die uitroep, “Wagter, hoe ver in die nag?” gekom het, sal deur stilte oorval word

Die “harde gesig” toon die val van Babilon, wat die geestelike val van Babilon die Grote in 1919 en die finale vernietiging van hierdie wêreld ryk van valse godsdiens net voor Armageddon afbeeld

Darius van Medië beeld Jehovah God af

Kores van Persië beeld God se Seun, Christus Jesus, af

Die ongunstige “Godspraak” is teen “die woestyn van die see” waaroor eers Assirië en toe Babilonië geheers het

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MEDIË

PERSIË

ELAM

BABILONIË

Babilon

EDOM

Duma

ISRAEL

Jerusalem

Groot See

[Prente op bladsy 8]

1879 Watchtower

1895 Watchtower

1938 Watchtower

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel