Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/15 bl. 28-31
  • Het jy probeer om sake weer reg te stel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy probeer om sake weer reg te stel?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE VERPLIGTING OM SAKE TE PROBEER REGSTEL
  • HULPMIDDELE OM DIE STAP TE DOEN
  • HOE OM TE WERK TE GAAN
  • Wat om te doen wanneer jy ander te na kom
    Ontwaak!—1996
  • Hoe ruim jy geskille uit die weg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Los geskille in ’n gees van liefde op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Die voordele daarvan om vrede te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/15 bl. 28-31

Het jy probeer om sake weer reg te stel?

“KYK, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion” (Ps. 133:1, 3). Dit is voorwaar aangenaam om te sien hoedat die lede van ’n gesin of van ’n Christengemeente liefdevol saamwoon en eensgesind saamwerk. Maar weens die aard van die menslike natuur is dit nie altyd maklik om dit te doen nie. Soms verg dit groot inspanning.

Ons sal dit toelig met ’n ware verhaal: Onder die musikante wat gereeld in ’n orkes met 10 lede gespeel het, was daar ’n geestige Skot wat die altviool bespeel het, en ’n ernstige Duitser wat die tjello bespeel het. Hulle uiteenlopende geaardhede het nou en dan botsings veroorsaak en geleidelik het ’n kloof tussen die twee ontstaan. Die tjellis het klaarblyklik vir die altviolis ergernis veroorsaak. Die tjellis het die saak ’n ruk lank afgemaak deur vir homself te sê: ‘Jesus het mos gesê dat indien jou broer jou te na gekom het, jy na hom toe moet gaan. Laat hom dus na my toe kom as ek hom te na gekom het.’ Maar terwyl die tjellis eendag sy Bybel gelees het, het hy afgekom op Jesus se woorde: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”—Matt. 5:23, 24.

Hierdie woorde het die tjellis geskok. Hy kon dit nie langer aan sy broer, die altviolis, oorlaat om die versoening te bewerkstellig nie, maar hy het verplig gevoel om self die eerste stap te doen. Hy is dus dadelik na sy broer wat aanstoot geneem het. En wat was die besig om te doen? Hy was besig om ’n klaagbrief aan die president van hulle organisasie te skryf waarin hy sy griewe teenoor die tjellis uiteensit! Daar was ’n openhartige gesprek en die gevolglike versoening het ’n blywende goeie verhouding meegebring. Hoe bly was die tjellis tog dat hy daardie oggend op daardie teks afgekom het en dat hy dadelik dienooreenkomstig opgetree het!

DIE VERPLIGTING OM SAKE TE PROBEER REGSTEL

Aangesien ons almal onvolmaak is, sal daar gewis meningsverskille ontstaan. In jou geval het jy dalk nie iemand anders te na gekom nie, maar het iemand anders jou te na gekom. Die vraag is: Wat gaan jy daaromtrent doen? Gaan jy probeer om sake weer reg te stel?

Het jy opgehou om te praat met die persoon wat jou te na gekom het, of behandel jy hom koel? Lê jy snags en tob oor hoe onvriendelik jou naaste jou behandel het? Jy wonder dalk waarom hy nie na jou toe kom en om verskoning vra vir die onreg wat hy jou aangedoen het nie. Indien dit die geval is, doen jy jouself dalk meer leed aan as wat jou naaste jou aangedoen het. Hy is moontlik glad nie eers daarvan bewus dat hy jou te na gekom het nie. Hy besef miskien dat wat hy gesê of gedoen het nie so vriendelik was as wat dit moes wees nie, maar hy is dalk totaal onbewus van die uitwerking wat dit op jou lewe gehad het.

Waarom sou jy toelaat dat so ’n gespanne verhouding voortduur en jou van jou vreugde beroof? Onthou, vir God se knegte is ‘die blydskap in Jehovah hulle beskutting’ (Neh. 8:11). Indien jy tot God oor die saak gebid het en probeer het om te vergewe en te vergeet maar dit nie kan regkry nie, of indien daar skynbaar steeds rede vir gegriefdheid is, moet jy na jou broer gaan en probeer om sake weer reg te stel. God se Woord sê dat jy die inisiatief moet neem: “Gaan wys hom tereg . . . As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen” (Matt. 18:15-17, NAB). Hoewel dit veral van toepassing is op baie ernstige sake, is dit ook ’n algemene beginsel wat Christene in minder belangrike sake toepas.

HULPMIDDELE OM DIE STAP TE DOEN

Daar kan gesê word dat dit basies ’n saak van kommunikasie is. Julle kommunikeer nie meer goed nie en die probleem is om die kommunikasie te herstel. Waar die probleem tussen twee Christene bestaan, behoort die een of die ander bereid te wees om die poging aan te wend.

Dit sal weliswaar nie vir jou maklik wees om die inisiatief te neem nie. Wat sal jou help om dit te doen? Een ding is nederigheid. Waarom nederigheid? Want dit is gewoonlik trots wat ons daarvan weerhou om gebrekkige kommunikasie te herstel. Dit verg nederigheid om na iemand te gaan wat jou te na gekom het en vir hom te verduidelik waarin hy te kort geskiet het en hoe hy jou seergemaak het. Baiemaal word rusies tussen verliefdes nooit weer goedgemaak nie net omdat die een wat te na gekom is te trots is om so te sê.

Nog iets wat jou sal help, is empatie, wat al gedefinieer is as “die vermoë om jou volkome in die plek van ’n ander te stel en om sy gevoelens en beweegredes te begryp”. Ja, probeer om jouself in die ander persoon se posisie in te dink. Gestel jy het iemand te na gekom maar dit nie ten volle besef nie. Sou jy nie wou hê dat daardie persoon dit onder jou aandag moet bring nie?

Kom ons gebruik ’n baie eenvoudige voorbeeld: Gestel jy het ’n bedrag, dalk net vyf rand, geleen omdat jy nie genoeg geld gehad het nie. Maar dan het jy heeltemal daarvan vergeet en dit nooit terugbetaal nie. Sou jy dit waardeer indien die ander persoon dit taktvol vir jou meld? Natuurlik! Jesus het gesê dat indien ons iemand anders te na gekom het, ons inderdaad by hom in die skuld staan. Behoort jy dan nie, indien iemand jou te na gekom het, na hom te gaan en die twyfel in sy voordeel uit te lê sodat hy sake tussen julle kan regstel nie? Hy sal moontlik maar te bly wees dat jy dit gedoen het.

Maar dit is veral onselfsugtige, beginselvaste liefde wat jou sal help om sake weer reg te stel. Jy wil nie sien dat jou broer selfsugtig en onverskillig word en ’n weg inslaan wat vir homself en vir ander al hoe meer moeilikheid kan veroorsaak nie, of hoe? (Lev. 19:17). As jy sy geestelike belange op die hart dra, sal dit jou beweeg om hom te help net waar jy kan. Volgens die apostel Paulus se beskrywing is onselfsugtige liefde lankmoedig, soek dit nie sy eie belang nie, reken dit die kwaad nie toe nie, is dit nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is dit bly saam met die waarheid. Dit bedek, glo, hoop en verdra alles en vergaan bowendien nimmermeer. So ’n liefde sal jou dring om sake te probeer regstel.—1 Kor. 13:4-8.

HOE OM TE WERK TE GAAN

Die welslae van jou pogings hang baie af van hoe jy te werk gaan. Dit is baie belangrik om in die gees van liefde te gaan en nie met die doel om te bewys dat hy verkeerd en jy reg gehad het nie, maar om versoening te bewerkstellig; soos die teks dit stel, sodat jy hom kan ‘terugwen’. Sorg dat jy kalm is en selfbeheersing toepas. En wag totdat jou emosies bedaar het. Indien jy hom nader terwyl jy ontsteld is, kan jy net jouself daarvoor blameer indien sy reaksie negatief en emosioneel is. Ja, ’n mens moet jou emosies beheer en kalm bly.

En jy moet ook taktvol wees. Leer ’n les by die profeet Natan, wat koning Dawid op ’n taktvolle wyse genader het om vir hom te vertel hoe Jehovah God sy sonde met Batseba beskou het. Hy het begin deur ’n gelykenis te vertel wat Dawid objektief kon beskou. Indien Natan dadelik vir Dawid vertel het hoe laakbaar sy sonde in God se oë was, sou Dawid hom miskien probeer regverdig het, of vir hom gesê het dat hy nie sy neus in ander se sake moet steek nie of hom selfs met geweld gedreig het’—2 Sam. 12:1-15.

Jy kan ook by koningin Ester leer. Sy het goed voorberei voordat sy haar gewigtige versoek tot haar man, koning Ahasveros, gerig het (Ester 5:3-8; 7:1-10). Jou situasie is weliswaar nie so ernstig soos hare nie; jou lewe en die lewe van jou volk is nie op die spel nie. Maar die grondliggende beginsel is dieselfde, naamlik: indien jy baie besorgd is oor die uitslag, en jy behoort te wees, dan moet jy sorg dat jy jou saak op die allergunstigste manier aanbied.

Kom ons lig dit met nog ’n ware verhaal toe: Daar was ’n orkesleier wat ’n baie talentvolle en uiters lojale klavierspeelster gehad het, maar ongelukkig was sy baie liggeraak en opvlieënd. Wanneer sy gekritiseer is, was sy geneig om te “ontplof”. Wanneer hy dus ooit opbouende kritiek wou lewer, het hy eers gemoedelik verskeie dinge van gemeenskaplike belangstelling bespreek en dan, wanneer dit gelyk het of hulle albei vriendelik en kalm is, het hy taktvol en vriendelik die saak geopper wat onder haar aandag gebring moes word.

Maar gestel jou broer luister nie. Wat dan? Dan moet jy besluit tot watter mate beginsels op die spel is en tot watter mate jy kan toelaat dat ‘liefde ’n menigte sondes bedek’. Indien dit waarlik ’n ernstige saak is, sal jy Jesus se verdere instruksies moet gehoorsaam en twee getuies saamneem. Maar in die meeste gevalle sal dit nie nodig wees nie.—Matt. 18:16; 1 Pet. 4:8.

Al hierdie dinge geld natuurlik ewe veel indien die bordjies verhang is en jy rede het om te glo dat jy iemand anders te na gekom het, soos in die geval van die tjellis wat die altviolis te na gekom het. Trouens, indien dit die geval was, sou die voorafgaande raad selfs meer van toepassing wees. Gestel iemand het jou te na gekom. Dan sal jy mos verlig voel indien hy na jou kom sodat dit nie vir jou nodig is om na hom te gaan om die saak uit te stryk nie, nie waar nie?

In so ’n geval sal ’n gevoelige gewete jou veral baie help. Dit beteken dat jy ’n fyn aanvoeling van reg en verkeerd het en graag wil doen wat reg is. Wanneer ons iemand anders te na gekom het, is ons by hom in die skuld en moet dit ons begeerte wees om ons skulde eerlik te vereffen deur die saak tussen ons uit te stryk.—Matt. 6:12.

Maar jou pogings sal dalk misluk. “’n Broer teen wie oortree is, is erger as ’n sterk stad”, sê die spreuk (Spr. 18:19). Omdat hy jou beweegredes verkeerd beoordeel het, sal daar dalk niks wees wat jy kan doen om hom te help om van sienswyse te verander nie. Dan sal dit van die erns van die saak afhang of jy die saak verder wil voer, moontlik met die hulp van ’n ouere man in die Christengemeente.

Indien daar onmin tussen ons en ’n mede-Christen bestaan, moet ons probeer om dit goed te maak. Christene het immers genoeg om teen te stry—die goddelose wêreld, Satan se planne en hulle eie oorgeërfde swakhede—sonder om nog met mekaar haaks te wees. Indien daar griewe bestaan en gebed en pogings om te vergewe en te vergeet nie die situasie verbeter het nie, moet ons eenvoudig iets daaromtrent doen. Indien jy iemand anders te na gekom het, moet jy Mattheüs 5:23, 24 toepas. Indien iemand anders jou te na gekom het, en dit ’n ernstige oortreding is, moet jy Mattheüs 18:15-17 toepas. Indien jy dit doen, sal jy jou deel bydra om broers in liefde, vrede en eenheid te laat saamwoon. Jy sal ook bewys dat jy een van Christus se dissipels is.—Joh. 13:34, 35.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel