Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 12/1 bl. 14-20
  • Hoe enkelouers in vandag se wereid die mas kan opkom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe enkelouers in vandag se wereid die mas kan opkom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE CHRISTELIKE GODSDIENS BRING VERLIGTING
  • HOE OM EENSAAMHEID DIE HOOF TE BIED
  • WAT OM TE DOEN WANNEER GESLAGSBEGEERTES OPKOM
  • HOE OM ’N HUISHOUDING TE BEHARTIG EN KINDERS GROOT TE MAAK
  • DIE WARE OPLOSSING—DIE NUWE ORDE
  • Enkelouergesinne kan welslae behaal!
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Toon besorgdheid teenoor enkelouers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Kan jy weduwees en vaderlose kinders “in hulle verdrukking” help?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 12/1 bl. 14-20

Hoe enkelouers in vandag se wêreld die mas kan opkom

“Sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag”—1 Tim. 5:5

1-3. (a) Wat het een weduwee geskryf? (b) Het die aantal gesinne met net een ouer toegeneem, en wat is party van die probleme waarmee hulle te kampe het?

“EK IS ’n 28-jarige weduwee met twee kinders. Ek is baie terneergedruk, want ek wil nie my kinders sonder ’n vader grootmaak nie. Dit lyk of niemand vir my omgee nie. My kinders sien my dikwels huil en dit affekteer hulle. Ek weet dit kan nie so aangaan nie, maar wat moet ek doen?” Hierdie brief verwoord die hulpgeroep wat opgaan van talle enkelouers—mense wat met baie probleme te kampe het.

2 Verslae van oor die hele wêreld toon ’n vinnige toename in die aantal gesinne met net een ouer. In 10 jaar het die syfer in die Verenigde State amper verdubbel, en in Kanada het dit meer as verdubbel. Hulle maak omtrent ’n tiende van alle gesinne in Australië en Groot-Brittanje uit. Daar word geraam dat twee uit elke vyf kinders wat nou in die Verenigde State woon ’n deel van hulle lewe in ’n gesin met net een ouer sal deurbring.

3 Daar is baie redes vir hierdie toename. Oorloë en motorongelukke het baie gesinne ’n vader ontneem. Namate gesinslewe verbrokkel, het verlating, egskeiding en geregtelike skeiding iets algemeens geword. Party ongehude moeders het besluit om nie ’n aborsie te hê of hulle kind te laat aanneem nie, maar om hom self groot te maak. ’n Enkelouer moet baie probleme die hoof bied. Eensaamheid, die grootmaak van kinders, hoe om die pot aan die kook te hou, geslagsbegeertes en hoe om na ’n huishouding om te sien, is maar net ’n paar.

DIE CHRISTELIKE GODSDIENS BRING VERLIGTING

4. Watter toestande het gedurende die eerste eeu baie gesinne met net een ouer tot gevolg gehad?

4 In die eerste eeu, gedurende die jeug van die Christelike godsdiens, het die verwoesting wat deur oorlog gesaai is, siekte en sedelike verval eweneens tallose weduwees en wese tot gevolg gehad. Egskeiding of verlating was dikwels die reël. Bloedjong kinders is gewoonlik by die moeder gelos wat hulle nou alleen moes grootmaak. Die wêreld van die Romeinse Ryk was ’n hartelose samelewing wat die swakkes verag het. Weduwees is dus baie sleg behandel. Party het selfs prostitute geword om ’n bestaan te maak.

5. Op watter twee maniere het die Christelike godsdiens gehelp?

5 Die Christelike godsdiens het ’n groot verandering meegebring. Dit het medelye aan die ongelukkiges betoon. Daarbenewens het sy leerstellings enkelouers besiel met die morele krag om te breek met die euwels van die tyd. In plaas daarvan om skaamtelose vroue voort te bring, het die Christelike godsdiens vroue voortgebring wat selfbeheersing gehad het, kuis was en hulle gesinne liefgehad het. Selfs nie-Christene het die verskil gesien, want een van hulle het uitgeroep: “Watter voortreflike vroue het die Christene tog!”

6. Watter Christelike beginsels kan enkelouers, sowel as alle Christene, help om vandag se druk die hoof te bied?

6 Watter Christelike beginsels het hulle gehelp? Die apostel Paulus, wat raad aan weduwees gegee het, het gesê die voorbeeldige weduwee “hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag”. Hy het getoon dat ’n weduwee wat nie minder as 60 jaar oud was nie op die lys vir hulp geplaas kon word mits sy, onder andere, “elke goeie werk nagestreef het” (1 Tim. 5:5, 9, 10). Hier is ten minste drie beginsels opvallend: (1) Vertrou nou op God en koester die hoop op ewige lewe wat hy beloof het; (2) behou ’n intieme verhouding met God; (3) bly besig met nuttige werk. Ons sal sien hoedat hierdie drie beginsels, indien hulle toegepas word, nie alleen enkelouers nie, maar alle Christene waarlik sal help om vandag se druk die hoof te bied.

HOE OM EENSAAMHEID DIE HOOF TE BIED

7. (a) Waarom is eensaamheid veral ’n groot probleem vir party enkelouers? (b) Hoe help die beginsel in 1 Timotheüs 5:10?

7 Een enkelouer het gesug: “Wanneer ek tuiskom en daardie vier mure sien, en veral nadat die kinders bed toe is, raak die eensaamheid my werklik baas.” Ja, eensaamheid is dikwels die grootste probleem waarmee ’n enkelouer te kampe het. Hoewel dit help om nader aan die kinders te kom, smag baie na die geselskap van volwassenes. Een beproefde raat is om met “elke goeie werk” besig te bly. Eerste-eeuse Christenweduwees ‘was gasvry, het die voete van die heiliges gewas [deur persoonlike dienste te lewer] en verdruktes gehelp’ (1 Tim. 5:10). Nadat sy hiervan kennis geneem het, het een 68-jarige hedendaagse Christenweduwee begin om ander weduwees in die omgewing en ouetehuise te besoek wanneer sy eensaam gevoel het. Sy het gesê: “Ek het gevind dat ek nie tyd het om eensaam te wees as ek hierdie besoeke doen, my huiswerk doen en na my geestelikheid omsien nie.”

8. (a) Waarom help die Koninkryksprediking ons om eensaamheid en terneergedruktheid te beveg? (b) Werk dit regtig?

8 Koninkryksprediking is ’n “goeie werk” wat Jesus ons beveel het om te doen, ’n werk wat eensaamheid en terneergedruktheid kan verlig (Matt. 24:14; 28:19, 20). Een eensame en terneergedrukte enkelouer wat teruggetrokke geraak het, is deur haar vriende aangespoor om van huis tot huis te begin getuig. Sy het. By haar eerste deur is sy ingenooi deur ’n baie kreupel dog buitengewoon opgewekte vrou. Hoe kon sy so gelukkig wees? “Dit is omdat ek my lewe het, liefie. Ek lewe”, was haar opgeruimde antwoord. Dit was ’n keerpunt vir die Getuie, wat geredeneer het: “Ek het my gesondheid, die liefde van die gemeente, twee liewe kinders en, bowenal, Jehovah. Waarom moet ek ongelukkig wees?” As ons ander geestelik help, kan dit voorkom dat ons egosentries word en voor selfbejammering swig. As ons ander leer, hou dit ons eie hoop lewend en vars; ons gaan dus voort om ‘op God te hoop’.—1 Tim. 5:5.

9. Sal eensaamheid altyd deur harde werk verdryf word? Wat help ook?

9 Een wewenaar het realisties gesê: “Eensaamheid word nie bloot deur harde werk verdryf nie. ’n Mens moet dikwels daarmee saamleef. Dit moet eenvoudig verduur word met die hulp en krag van Jehovah.” Sulke krag word verkry wanneer ’n mens “bly in smekinge en gebede nag en dag” (1 Tim. 5:5). Die wete dat Jehovah altyd luister wanneer ons dwarsdeur die dag ons bedrywighede in gebed bespreek en dat hy belangstel in die besonderhede van ons lewe, is waarlik vertroostend. As ons ons hart “nag en dag” voor hom uitstort, help dit—veral snags wanneer eensaamheid ’n groot probleem kan wees, soos baie berig.

WAT OM TE DOEN WANNEER GESLAGSBEGEERTES OPKOM

10. (a) Wanneer kan geslagsbegeertes ’n ernstige probleem word? (b) Hoe kan ’n mens net daarop uit wees om jou ‘sinne te bevredig’, en waartoe kan dit lei?

10 Talle enkelouers smag na die innige kameraadskap van die huwelik en die intiemhede van die huweliksbed. Sulke gevoelens is beslis nie op sigself verkeerd nie. Die begeerte om weer te trou is ’n natuurlike. Die probleem ontstaan wanneer ’n persoon besluit om hierdie “liggaamlike begeertes” te bevredig ongeag wat dit kos. Dit is wat in die apostel Paulus se dag gebeur het. Party jonger weduwees het toegelaat dat “hulle liggaamlike begeertes . . . hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af” (1 Tim. 5:11, 12, NAB). Dit was ernstig, want so ’n indiwidu het in der waarheid gesê: ‘My geslagsbehoeftes is eenvoudig te groot. Ek moet net iets doen om aan my liggaam verligting te verskaf!’ Hierdie liggaamlike of sinlike begeertes word mettertyd die hoofsaak in hulle lewe, selfs belangriker as geestelike belange. Hierdie begeertes kan tot so ’n mate opwel dat ’n mens net daarop uit is om jou ‘sinne te bevredig’ en gevolglik “lewendig dood” is (1 Tim. 5:6, vgl. NW). Daardie persoon se belangstelling in geestelike sake sal sterf. Dieselfde kan vandag met enige Christen (man of vrou) gebeur. ’n Mens kan ‘geestelike selfmoord’ pleeg deur die Bybel se sedelike standaarde te ignoreer omdat jy daarop uit is om “liggaamlike begeertes” te bevredig.

11. Hoe kan ’n persoon ‘sy hartstog doodmaak’?

11 Die Bybel spoor ons dus aan: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik . . . hartstog” (Kol. 3:5). Maar hoe? Deur jou verstand en hart te bewaak. Sou jy, indien jy probeer om ’n dieet te hou en jou eetlus te beheer, tydskrifte lees wat prente van heerlike disse bevat of na TV-programme oor kookkuns kyk? Sou jy omgaan met mense wat voortdurend oor kos praat? Nouliks! So ook met “hartstog”. Een weduwee het openlik gesê: “Ons lewe in ’n wêreld wat nooit ophou om oor seks te praat nie. Ek is dus baie versigtig oor die vermaak wat ek kies en die persone met wie ek gesellig verkeer. ’n Lyer aan suikersiekte sal beslis nie sy neus teen die venster van ’n lekkergoedwinkel wil druk nie.”

12, 13. (a) Wat is nodig om ’n persoonlike verhouding met Jehovah te verkry? (b) Waarom is “smekinge” so belangrik, en hoe kan ’n mens dienooreenkomstig optree?

12 Maar om hierdie begeertes dag na dag te onderdruk, moet ’n persoon ’n intieme verhouding met God verkry. Benewens persoonlike studie en bepeinsing, verg dit volgehoue “smekinge” (1 Tim. 5:5). Paulus meld nie net gebede oor die algemeen nie, maar sê “smekinge”. Dit is versoeke tot God waarin ’n groot behoefte bespreek word. Dit is hulpgeroepe, ja, ’n gesmeek om hulp, moontlik met “sterk geroep en trane”.—Hebr. 5:7.

13 Is jou gebede om selfbeheersing en krag so intens? Hou jy daarmee vol? Bid jy dadelik wanneer hierdie begeertes opwel? Is jy spesifiek en vertel jy vir ons Vader dinge wat jy nie vir ’n ander mens sal sê nie? En strook jou dade met jou gebede? Een Christin het gesê: “Moenie Jehovah se hulp vra om geslagsbegeertes te onderdruk en dan voortdurend aan seks dink nie. Gedurende sekere tye van die maand sal jou geslagsdrange weliswaar baie sterk wees. Hou jou gedagtes besig deur iets anders te doen. Gaan kuier by iemand. Gaan stap of doen iets wat jou gedagtes van die onderwerp sal aflei. Bly gedurende hierdie deel van die maand so besig moontlik.” ’n Ander een wat ook gesien het hoe baie dit help om besig te bly met “elke goeie werk”, het saamgestem en gesê: “Was jou vensters. Skrop jou vloer. Gaan werk in die tuin. Ek het dit gedoen. Dit werk!” Wanneer jy sien hoe Jehovah jou met hierdie probleem help—nee, nie deur ’n wonderwerk te verrig nie, maar deur jou ten minste die krag te gee om dit elke dag te bowe te kom—sal jy nader aan hom kom.

14. (a) Wat kan gebeur indien ’n persoon nie ’n intieme verhouding met Jehovah het nie? (b) Wat kan enkelouers doen terwyl hulle op ’n Christenmaat wag?

14 Sonder hierdie kosbare “intieme omgang met Jehovah” kan ’n persoon begin om ’n huweliksmaat te soek ongeag wat dit kos en moontlik selfs met wêreldlike persone uitgaan (Ps. 25:14, NW). Een vrou wat dit gedoen het, het erken: “Die eintlike probleem was dat ek nie na aan Jehovah was nie. Toe ek die kans kry om te trou, het dit so goed geklink. Ek het die sedelike standaarde wat ek geleer is, vergeet. Eendag het ek egter besef dat die man net in homself belanggestel het en nie in ’n huwelik nie. Toe moes ek met ’n skuldige gewete saamlewe.” Dit kan weliswaar moeilik wees om ongetroud te wees, maar een geskeide Christin het gewaarsku: “Daar is een ding wat baie erger is as die ongehude staat. Dit is om met die verkeerde persoon getroud te wees!” Daar is altyd die moontlikheid om ’n huweliksmaat onder toegewyde Christene te vind, iemand “in die Here” (1 Kor. 7:39). Party het jare lank vir so ’n maat gewag. Intussen het hulle nie verbitterd geraak nie en is hulle nie deur hulle omstandighede oorweldig nie. Hulle het die tyd wyslik gebruik om die eienskappe aan te kweek wat hulle beter maats sou maak. Een enkelouer het gesê: “Ek vra myself af: ‘Is ek die geestelike vrou wat iemand sal kies?’ Indien ek miserabel voel terwyl ek ongetroud is, sal ek waarskynlik ’n miserabele maat vir iemand wees.”

HOE OM ’N HUISHOUDING TE BEHARTIG EN KINDERS GROOT TE MAAK

15. (a) Wat het party enkelouers gedoen om ’n huishouding met welslae te behartig? (b) Het jy enige bykomende wenke?

15 Hoewel dit ’n veeleisende taak is, het talle enkelouers die voorbeeld nagevolg van die deugsame vrou wat in Spreuke 31 beskryf word. Alhoewel sy getroud was, het sy die algemene toesig oor haar huishouding gehad. Sy het geld bespaar deur versigtig inkopies te doen, haar eie ware van rumateriaal te maak en nie kos te verkwis nie, want sy het ’n “bestemde deel” voorberei (Ve. 13-15, 19). Sy het vroeg begin en tot laat gewerk (Ve. 15, 18). Sy het artikels gemaak en dit verkoop (Vs. 24). Sy het “haar eie hande” gebruik om huiswerk te doen (Ve. 17, 19, NW). Om te leer hoe om hulle “eie hande” behendig te gebruik, het party enkelouers vandag doen-dit-self-boeke gelees en deskundiges vir advies geraadpleeg. (Nadat hulle hulle posisie verduidelik het, het hulle dikwels gratis deskundige onderrig ontvang.) Ander het hulle behoeftes bekendgemaak aan medegetuies van Jehovah met sekere vakkennis, en wanneer dit moontlik was, het dié dan vriendelik hulp aan hulle verleen. Al hierdie dinge besnoei uitgawes.

16. Waarom is dit noodsaaklik om op God te vertrou, en wie se voorbeeld lig dit toe?

16 Omdat tye moeiliker word, moet ’n weduwee, ondanks alles wat sy kan doen, op God vertrou vir daaglikse voorsienings. ’n Goeie voorbeeld van een wat haar “hoop op God” gestel het, was die enkelouer wat in die dae van God se profeet Elia in die stad Sarfat gewoon het. Op Jehovah se bevel het Elia haar vir haar laaste bietjie kos gevra en vir haar beloof dat God sou voorsien. Wat sou jy gedoen het? Sy het genoeg gehad vir nog net een maaltyd. Daardie een maaltyd was ten minste iets waarop sy kon reken. Weens haar geloof het sy egter iets wat seker was verruil vir die onsekere. God se woord deur die profeet is bewaarheid. Sy en haar seun het nooit ’n gebrek aan kos gehad nie. Saam met alle Christene moet enkelouers vandag eweneens hulle vertroue in God stel deur eers sy koninkryk te soek en aan sy regverdige standaarde te voldoen. Dan sal hulle sien dat hy sal voorsien.—1 Kon. 17:8-16; Luk. 4:25, 26; Matt. 6:31-33.

17. Wat moet enkelouers nooit vergeet as hulle hulle kinders suksesvol wil grootmaak nie, en waarom nie?

17 Die moeilike taak om “moeder” sowel as “vader” vir die kinders te wees en hulle behoorlik groot te maak, kan slegs verrig word indien die ouer nooit vergeet wat van die grootste belang in die huis moet wees nie. Let op die Bybelantwoord:

“Liewer ’n bietjie in die vrees van die HERE, as ’n groot skat en onrus daarby. Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby” (Spr. 15:16, 17).

Die ware waarde van ’n maaltyd lê nie in wat op die tafel is nie, maar in wat in die hart is van diegene wat saam eet. Liefde en ’n gesonde vrees vir God is die dinge wat werklik van belang is.

18. (a) Wat het party enkelouers gedoen om geld te kry en nogtans die tyd te hê om vir hulle kinders te sorg? (b) Wat meen jy kan nog gedoen word?

18 Om die tyd te hê om ontsag vir God by hulle kinders in te skerp en om nogtans die nodige geld te verdien, het party enkelouers, dikwels met hulle kinders se hulp, hulle eie tuisgemaakte ware verkoop of dienste tuis verrig.a Ander het gebruik gemaak van enige hulp uit regeringsweë waarop hulle ’n wettige en morele reg het. Sommige het hulle lewenstandaard verlaag om met deeltydse werk uit te kom, soos een Christin met vier kinders. Sy het gesê: “Ek wou soveel moontlik by die kinders wees. Dit was erg genoeg dat hulle nie ’n vader gehad het nie sonder om hulle nog ’n moeder ook te ontneem.” Nie almal sal natuurlik sulke gerieflike werk vind nie. Maar deur hulle kinders in hulle vertroue te neem, vir hulle te verduidelik waarom sekulêre werk nodig is en deur soveel tyd moontlik saam met hulle deur te bring, kan hierdie ouers ’n hartlike atmosfeer van liefde in die huis bewaar.

19. (a) Wat beteken dit vir ouers om ‘hulle kinders lief te hê’? (b) Waarom is dit nie altyd vir ’n enkelouer maklik nie?

19 Dit is noodsaaklik dat hulle hulle ‘kinders moet liefhê’, en dit sluit die nodige tugtiging in (Tit. 2:4; Spr. 13:24). Dit help om te voorkom dat kinders, wat reeds een ouer verloor het, onveilig voel. Omdat party vroue geneig is om sentimenteel te wees, verg dit groot inspanning om kinders te tugtig. Maar onthou, tugtiging, wat straf kan insluit, sê vir die kind dat jy hom lief genoeg het om hom uit die moeilikheid te wil hou.

20. (a) Wat het party gedoen om na aan hulle kinders te bly? (b) Watter tweevoudige seën word verkry as ’n mens na aan jou kinders bly en hulle reg grootmaak?

20 Enkelouers wat na aan hulle kinders gebly het, doen die volgende aan die hand:

“Sit ’n bepaalde tyd opsy om saam met die kinders te wees en moenie toelaat dat enigiets daarop inbreuk maak nie. Die huiswerk sal altyd daar wees; die kinders nie. Lê jou daarop toe om die kinders geestelik op te bou.” “My dissipline moes getemper word met begrip weens die skok omdat hulle hulle moeder verloor het. Ek praat met hulle wanneer ek die kans kry, dit maak nie saak hoe laat dit is nie. Ons het ‘gesellige oomblikke’ wanneer ons aandete voorberei. Dit is dan dat hulle my werklik in hulle vertroue neem.”

Sulke liefde is waarneembaar. Kinders kan dit sien en aanvoel. Hoewel al hierdie inspanning om kinders groot te maak veeleisend is, smaak die ouer die groot genoegdoening om te sien dat hulle grootword om verantwoordelike lowers van Jehovah te wees. Sulke werk is ook ’n morele beskerming vir die ouer.—1 Tim. 2:15.

DIE WARE OPLOSSING—DIE NUWE ORDE

21. (a) Word die probleme van ’n enkelouer maklik opgelos? (b) Wat word met ’n getroue handelwyse bereik?

21 “Ek preek amper elke dag. Ek studeer en bid voortdurend”, het een weduwee gesê. Sy het egter erken: “Maar ek huil my nogtans elke aand aan die slaap.” Ja, die probleme van ’n enkelouer is moeilik om op te los. Dit is dikwels ’n daaglikse stryd. Maar elke dag dat ’n Christen volhard, is nog ’n klap in Satan se gesig, want hy het die aantyging gemaak dat persone sal ophou om Jehovah te dien wanneer omstandighede moeilik word (Job 1:9-11; Spr. 27:11). Jy moet besef dat niemand vandag ’n volmaakte lot in die lewe het nie. “Julle broederskap wat in die wêreld is”, ly (1 Pet. 5:9). Iemand anders se probleme verskil moontlik van joune, maar vir daardie persoon is hulle net so groot. Ongeag wat jou probleme is, dit kon erger gewees het. Probeer dus om soveel moontlik aan die positiewe aspekte van jou lewe te dink.

22. (a) Waarop moet ons ons oë gevestig hou, en waarom? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

22 Ons moet bowenal ons oë gevestig hou op die lewende hoop van ’n komende stelsel wat volmaakte bevrediging sal verskaf. Die apostel Paulus sê dat “ons nie let op die sigbare dinge [die verdrukkings wat ons in die verleentheid stel en ons neerwerp] nie, maar op die onsigbare [die hoop op ewige lewe]; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” Ja, die druk van vandag se frustrerende stelsel sal mettertyd eindig. Die seëninge van die Nuwe Orde, wat nou so naby is, sal vir ewig duur. Hou dit duidelik voor oë en jy sal ‘nie moed opgee nie’ (2 Kor. 4:8, 9, 16-18). Maar wat kan ander doen om enkelouers te help? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnoot]

a Kyk Awake! van 22 Augustus 1975, bladsye 9-11, en Ontwaak! van 22 Desember 1975. bladsye 7-10, vir wenke.

[Prent op bladsy 16]

Enkelouers kan hulle kinders leer om met die huiswerk te help

[Prent op bladsy 18]

“Sit ’n bepaalde tyd opsy om saam met die kinders te wees

. . . Praat met hulle wanneer [jy] die kans kry”

[Venster op bladsy 19]

HOE OM DIE MAS OP TE KOM

◻ Vertrou nou op God en koester die hoop op ewige lewe wat hy beloof het

◻ Behou ’n intieme verhouding met God

◻ Bly besig met nuttige werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel