Kan jy weduwees en vaderlose kinders “in hulle verdrukking” help?
1, 2. (a) Wat is die verskil tussen om iemand te “sien” swaarkry en om vir daardie persoon te “sorg”? (b) Watter verantwoordelikheid bring ware aanbidding volgens Jakobus 1:27 mee?
DIT is een ding om iemand te sien swaarkry en heeltemal iets anders om vir daardie persoon te sorg. Ware aanbidding behoort onverskillige waarnemers in besorgde helpers van medegelowiges te verander, want “die vorm van aanbidding wat uit die standpunt van onse God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om vir wese en weduwees in hulle verdrukking te sorg en jou onbevlek van die wêreld te bewaar”.—Jak. 1:27, NW.
2 Die oorspronklike Griekse woord wat in Jakobus 1:27 met “sorg” vertaal word, word gedefinieer as ‘omgee vir, voorsiening maak vir’. Dit bevat die gedagte van ’n besoek aan iemand om die nodige hulp te verleen. Hierdie hulp word hoog op prys gestel.
KINDERS KAN WAARDEVOLLE HULP VERLEEN
3, 4. (a) Wie moet volgens 1 Timotheüs 5:4 vir weduwees help? (b) Op watter maniere kan kinders van enkelouers help, en wat is die beste steun wat hierdie kinders kan gee?
3 Die apostel Paulus toon wie besorg behoort te wees om weduwees te help waar hy sê: “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en [passende] vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God” (1 Tim. 5:4, vgl. NW). Hoewel dit hier van volwasse kinders praat, kan selfs minderjariges leer om hulle toegewydheid aan God te bewys deur ’n “passende vergelding” te doen aan hulle ouers, wat soveel vir hulle gedoen het. Maar hoe? Party jongmense help finansieel, soos een seun wat al sy spaargeld wat hy met sy deeltydse werk verdien het, aangebied het om ’n onverwagte rekening te vereffen. “Ek kan nie met woorde beskryf hoe hierdie soort vrygewigheid van ’n 14-jarige seun my bemoedig nie”, het sy moeder met ’n stralende gesig gesê.
4 Selfs al kan kinders nie geld gee nie, kan hulle baie belangriker dinge gee—waardering en gehoorsaamheid (Spr. 23:22; Ef. 6:1-3). Die meeste enkelouers vra hulself af: “Kwyt ek my goed van my taak as ouer?” Stel jou voor hoe verheug een enkelouer was toe sy jong kind ’n kaartjie gemaak het wat gesê het: “Ek het Pappie baie lief en ek weet Pappie doen Pappie se bes.” Het jy, indien jy die kind van ’n enkelouer is, onlangs vir jou ouer gesê hoe baie jy sy of haar opofferings om jou ontwil waardeer? Is jy geredelik gehoorsaam? Weet jy wat dit beteken om gehoorsaam die skottelgoed te was, die vullis uit te dra, jou huiswerk te doen, betyds huis toe te kom, jou te gaan was en, bowenal, om jou Bybellesse gereeld te bestudeer? Sulke gewillige gehoorsaamheid is die beste steun wat jy jou ouer kan gee.
HOE DIE GEMEENTE KAN HELP
5. (a) Wat beteken dit om ‘medelye’ te betoon, en waarom is dit so belangrik? (b) Hoe kan ons gemeente sulke ‘medelye’ aan enkelouers betoon?
5 “Dis moeilik en soms kry dit my onder”, het ’n enkelouer met ses kinders, onder andere ’n tweeling van 17 maande, gesê. “Maar so nou en dan sê een van die broers of susters [in die gemeente] vir my: ‘Joan, jy kwyt jou goed van jou taak. Dit gaan die moeite werd wees.’ Net die wete dat ander aan jou dink en dat hulle omgee, help oneindig baie.” Dit toon hoe ons almal kan help. Die apostel Petrus spoor ons aan: “Wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming” (1 Pet. 3:8). Stel jou in die ander persoon se plek. ’n Vriendelike woord, ’n glimlag uit die hart, kan soveel beteken. Wees teerhartig eerder as krities.
6. Waarom sal ’n indiwidu wat optree soos die een wat in 1 Johannes 3:17 beskryf word, se gedrag waarlik vir God laakbaar wees?
6 Egte liefde sluit meer as vriendelike woorde in. Net voordat die apostel Johannes Christene aangespoor het om hulle liefde deur dade te toon, het hy geskryf: “Wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Joh. 3:17). Die oorspronklike woord vir “sien” beteken nie ’n terloopse blik nie, maar ’n doelbewuste starende blik. Dit word gesê van ’n generaal wat ’n leer inspekteer. Hy kyk beslis met belangstelling na besonderhede. Stel jou dus die toneel voor wat Johannes skilder: Iemand wat die middele het om te help, sien ’n behoefte nadat hy sy broer aandagtig dopgehou het, maar maak dan die deur van sy hart toe en sluit dit. Hy weier om te help. Hoe ongevoelig tog! Gelukkig is sulke negatiewe reaksies seldsame uitsonderings onder Jehovah se Getuies. Tallose verslae toon hulle vrygewigheid teenoor diegene wat “gebrek ly”.
7. Wat is gewoonlik die probleem wanneer behoeftige gesinne met net een ouer verwaarloos word, en hoe kan dit reggestel word?
7 Daar was egter al gevalle van verwaarlosing. Dit het gewoonlik voorgekom omdat die behoefte nie ‘gesien’ is nie. ‘Noukeurige waarneming’, met belangstelling in diegene wat gebrek ly, het ontbreek. Hoe staan sake in julle gemeente? Is julle werklik bewus van die omstandighede van die weduwees en die wese? Wanneer laas het jy iets meer gedoen as om hulle net in die verbygaan te groet? Het jy al ooit van hulle oorgenooi vir ’n maaltyd of ’n geselligheid om hulle beter te leer ken? Sulke vrae help ons om te sien of ons werklik die toestand van ons gesinne met net een ouer “sien”.
8. Hoe het party in die gemeente behoeftige gesinne met net een ouer gehelp?
8 ’n Mens hoef nie skatryk te wees om te help nie. Wanneer hulle ’n waarlik behoeftige gesin gesien het, het baie persone ekstra kos gedeel of klere wat vir hulle eie kinders te klein geword het vir die gesin gegee. Party het selfs vir enkelouers sekere vaardighede, soos naaldwerk, geleer sodat hulle beter kon uitkom. ’n Ou spreekwoord sê: “Gee ’n man ’n vis en jy voed hom ’n dag lank. Leer hom om vis te vang en jy voed hom lewenslank.’’ Een enkelouer het geskryf: “’n Suster het vir my ’n naaimasjien, twee stukke materiaal en naailesse gegee. Ek het sedertdien honderde dollar bespaar.”
9. Watter gebalanseerde beskouing moet gesinne met net een ouer hê oor hulp van ander?
9 Moet enkelouers egter normaalweg verwag om deur hulp “oorval” te word en mismoedig raak indien dit nie die geval is nie? ’n Mens moet ’n gebalanseerde beskouing behou. Hoewel ’n mens dankbaar is oor enige aangebode hulp, moet jy jouself afvra: “Doen ek alles in my vermoë om die situasie te behartig?” Een enkelouer het dit soos volg gestel: “Niemand kan werklik die verantwoordelikheid van ’n ekstra gesin aanvaar nie. Indien jy jouself nie help nie, aanvaar jy nie jou volle verantwoordelikheid nie. Jy moet leer om op jou eie bene te staan.” Daar is Bybelvoorbeelde van getroue weduwees wat van hulself gegee het, eerder as om diens van ander te verwag (Luk. 2:36-38; Mark. 12:42-44). Een stoflik arm enkelouer wat baie jare lank gesukkel het om twee kinders groot te maak, het ’n muurplaat gehad wat gelui het: “Diegene wat ander se lewens met sonskyn vul, kan dit nie van hulself af weghou nie.” Dit is presies wat sy 12 jaar lank as ’n voltydse evangeliedienares gedoen het. Sy het van haarself gegee, en nou, op die ouderdom van 73, gee sy steeds om ander te help. Sy het gevolglik nog nooit gebrek gely nie.—Spr. 11:25.
10. Watter getuienis is daar dat ryp susters in die eerste eeu ’n groot rol gespeel het by die verlening van hulp aan weduwees en wese?
10 In die eerste eeu het ryp vroue ongetwyfeld ’n groot aandeel gehad in die hulp wat aan weduwees en wese verleen is. Daar word gesê dat party weduwees “verdruktes gehelp” het, en dit het moontlik gesinne met net een ouer ingesluit (1 Tim. 5:10). In sy brief aan die Christene in Rome was ’n kwart van diegene wat deur die apostel Paulus gegroet is vroue wat getrou saam met of ten behoewe van die gemeente gedien het. Daar word spesifiek gemeld dat party “in die Here” gearbei of hard gewerk het (Rom. 16:3-15). Die vrou Febe, ’n “dienares . . . van die gemeente” (sy het klaarblyklik in ’n nie-amptelike hoedanigheid in die persoonlike behoeftes van ander voorsien), word beskryf as ‘’n beskermster vir baie’. Sy het ongetwyfeld die inisiatief geneem om “baie” te help, en dit het die gemeente versterk. Net soos Febe bemoedig en help ryp Christinne vandag ander, en gebruik hulle onder meer hulle materiële middele om “verdruktes” te help.—Rom. 16:1, 2.
11. (a) Watter soort hulp kan ryp susters aan enkelouers verleen? (b) Watter voorbeeld kan jy meld, en weet jy van ander gevalle?
11 Talle bejaarde Christinne verleen geestelike en emosionele hulp deur “leraresse van wat goed is” te wees sodat hulle “die jong vroue kan leer om versigtig te wees” deur simpatieke raad aan hulle te gee (Tit. 2:3-5). Een enkelmoeder het byvoorbeeld in trane uitgebars nadat sy ’n Bybeltoespraak oor die huwelik gehoor het. ’n Ouer Christin het vir haar gevra wat skort. “Ek voel seker maar net jammer vir myself, het sy tussen die trane deur gesê. Die ouer vrou het met haar begin gesels. Sy het geweet hoe die terneergedrukte vrou voel, want haar man het haar ook 20 jaar tevore verlaat. Die jonger vrou het gesê: “Sy was my grootste hulp. Sy het baie met my gesels en my genooi om haar in die predikingswerk te vergesel. Ek is baie lief vir haar.” Talle ryp Christinne het belangstelling in sulkes getoon en vir hulle ’n “skouer” gebied waarop hulle kon huil, en selfs baie intieme probleme met hulle bespreek wat ’n Christenman nie op sy eie gepas kon behartig nie.
OUERE MANNE—LAAT ‘DIE HARTE VAN WEDUWEES JUBEL’
12. Hoe kan ouere manne ‘die harte van weduwees laat jubel’?
12 “Die hart van die weduwee het ek laat jubel”, het Job van voorchristelike tye gesê (Job 29:13). Hy het die pyn van weduwees ‘gevoel’. In plaas daarvan om dit te vergroot deur ’n onbedagsame woord of daad, het hy iets gedoen om hulle innerlik—in die hart—op te vrolik. Ouere manne van Christengemeentes kan vandag dieselfde doen deur sulkes te verseker dat die gemeente ’n hartlike gesin is en deur hulle werklik ’n deel daarvan te laat voel. Die opsieners kan ’n vertroostende teks met hulle bespreek wat die seëninge van getrouheid toon. ‘Medelye’ sal hulle help om die ontsaglike emosionele en geestesdruk waarmee talle enkelouers te kampe het te probeer verstaan (1 Pet. 3:8). Gevolglik sal persone met ’n behoefte die vrymoedigheid hê om hulle vir hulp te nader. Elk van hierdie geestelik ouere manne kan waarlik soos “’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek” wees.—Jes. 32:1, 2.
13. Waarom kan enkelouers ouere manne nader vir hulp wanneer hulle belangrike besluite moet neem, en watter soort hulp moet aan hulle verleen word?
13 Die Bybel het voorspel dat God weer bekwame “raadsmanne” onder sy eertydse volk sou aanstel (Jes. 1:26). Enkelouers kan hulle vandag eweneens na ouere manne wend vir raad wanneer hulle belangrike besluite moet neem. Wanneer ouere manne genader word, moet hulle “bekwame leiding” voorsien en die navraer help om die Bybelbeginsels wat op die betrokke saak betrekking het, te sien. Die rol van ’n ouere man of enigiemand wat vir hulp genader word, is egter die van ’n ‘raadsman’, nie die van ’n besluitnemer vir ander nie.—Spr. 11:14, NW; Gal. 6:5.
14. (a) Waarom moet ouere manne probeer om iemand wat ’n misstap begaan het ‘reg te help’? (b) Hoe is die Griekse woord vir “reghelp’’ in die eerste eeu gebruik, en watter uitwerking behoort hierdie kennis te hê op die wyse waarop ’n mens iemand ‘reghelp’?
14 ’n Ouere man sien dalk dat ’n enkelouer weens druk ’n “misstap” begaan, byvoorbeeld deur met ’n ongelowige uit te gaan. Die indiwidu is moontlik nie ten volle bewus van die erns van so ’n stap nie. “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word [’n misstap begaan voordat hy daarvan bewus is, NW]”, beveel die Bybel aan, “moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid” (Gal. 6:1). Ouere manne en ander kan sodoende voorkom dat ’n “misstap” ’n verkeerde weg word. Die Griekse woord vir “reghelp” word ook vertaal met ‘heelmaak’ (Mark. 1:19). In die eerste eeu is dit gebruik om die spalking van ’n gebreekte been te beskryf. Alhoewel ’n dokter druk moet uitoefen, sal hy uiters sagkens te werk gaan wanneer hy ’n been spalk! Die doel sal wees om die besering ‘heel te maak’, nie om dit te vererger nie. Ouere manne wat die hart van sulke persone wil bereik, sal dus “met die gees van sagmoedigheid” met die persoon redeneer, die saak sagkens maar duidelik stel en hom help om te sien waarom die toepassing van die raad in God se Woord tot sy beswil is, en hom aldus geestelik op die weg na gesondheid plaas.
15. (a) Wanneer moet ouere manne miskien hulp vir behoeftige weduwees reël? (b) Waarom het ouere manne die hulp van ander in die gemeente nodig?
15 Soms moet ouere manne reël dat hulp aan eensame weduwees verleen word. In Trinidad het ’n 79-jarige Christenweduwee baie siek geword weens ongeneeslike kanker en moes sy dag en nag versorg word. Hoewel sy ’n klein regeringspensioen ontvang het, het sy geen familielede gehad om haar te help nie. Om te voorkom dat die taak op ’n paar se skouers rus, het die ouere manne ’n rooster opgetrek sodat groepe Christinne wat hulle dienste aangebied het, haar kon help. Meer as ses maande lank het hierdie vroue vir hulle geestelike suster kos gekook en huiswerk gedoen, haar vervoer, haar klere gewas en haar selfs gebad toe sy nie langer kon beweeg nie. Dit was ’n voorbeeld van liefde wat die bure waarlik beïndruk het. Die ouere manne kan natuurlik nie alles wat in sulke gevalle nodig is, doen nie. Hulle het gewoonlik hulle eie gesinne vir wie hulle moet sorg. Maar hulle doen met graagte wat hulle kan, en hulle waardeer dit wanneer ander die inisiatief neem om in sulke omstandighede te help.
BROERS—‘RED VADERLOSE SEUNS’
16. (a) Waaroor is enkelmoeders met seuns baie besorg? (b) Wie kan help, en hoe?
16 Die moeder in ’n gesin met net een ouer is natuurlik besorg oor die gebrek aan ’n vader se invloed in die huis, veral op die seuns. Mans in die gemeente moet voel soos Job, wat gesê het: “Ek het . . . gered . . . . die wees [vaderlose seun, NW] en hom wat geen helper het nie” (Job 29:12). Hierdie seuns het dikwels opregte belangstelling nodig. Jy kan hulle nooi om jou in die getuieniswerk te vergesel, om aan sekere bedrywighede by die Koninkryksaal mee te doen en selfs om heilsame ontspanning saam met julle te geniet. Hierdie aandag kan ’n seun van ’n wêreldlike weg ‘red’ en hom na die gemeente toe trek.
17. (a) Wie was ’n goeie voorbeeld van een wat ‘vaderlose seuns gered het’, en met watter resultate? (b) Wat moet ’n getroude broer in ag neem wanneer hy aanbied om ander kinders te help?
17 Die apostel Petrus was een wat ‘vaderlose seuns gered het’. Hy het bevriend geraak met Johannes Markus en hom selfs “Markus, my seun” genoem (1 Pet. 5:13). Markus se moeder, Maria, was waarskynlik ’n enkelouer, want die verslag sê dat Petrus na haar huis gegaan het, nie na haar man s’n nie (Hand. 12:12). Die goeie geestelike omgang wat Markus met Petrus en ander Christenmans gehad het, het ongetwyfeld daartoe bygedra dat hy ’n sendeling geword het wat selfs ’n Bybelboek geskryf het. Hy is ’n goeie voorbeeld vir seuns wat deur ’n moeder alleen grootgemaak moet word. Enige getroude broer moet natuurlik besef dat hy volgens die Skrif ’n belangriker verantwoordelikheid het—om eers na sy eie gesin om te sien. Hoewel hy nie “sy eie mense” verwaarloos nie, kan veel nut gestig word indien belangstelling in hierdie vaderlose seuns getoon word tot die mate dat dit voordelig is en wat ’n mens se omstandighede toelaat.—1 Tim. 5:8.
DIE GRONDSLAG VIR SULKE HULP—SELFOPOFFERENDE LIEFDE
18. (a) Watter soort liefde kenmerk die ware Christelike godsdiens, en hoe het Jesus dit bewys? (b) Hoe kan ons sulke liefde bewys?
18 Die onderskeidingsteken van ’n ware Christen is nie bloot liefde nie, maar selfopofferende liefde. Jesus het vir sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Die manier waarop hy gegee het, moet die standaard wees. Hy “het Homself nie behaag nie”. Hy het “ter wille van julle arm geword”. Hy “wat Homself [deur ’n smartlike dood] gegee het vir ons sondes”. Slegs deur hierdie voorbeeld van liefde na te volg, sou sy dissipels die aandag kon skenk en die sorg kon openbaar wat weduwees en wese tydens “hulle verdrukking” nodig sou hê.—Rom. 15:3: 2 Kor. 8:9; Gal. 1:4; Jak. 1:27.
19, 20. (a) Is dit altyd maklik om selfopofferende liefde te bewys? Waarom of waarom nie? (b) Wie moet ons veral wil help?
19 Namate die druk toeneem en dit moeiliker word om ons eie probleme op te los, is dit maklik om ongevoelig te raak oor ’n ander se verknorsing en ons net oor ons eie lewens te bekommer. Selfs party in die eerste eeu wat “deur God geleer [is] om mekaar lief te hê” moes hulle ‘nog meer daarop toelê’ (1 Thess. 4:9, 10, NAB). Behoort ons nie ons eie gesindheid en optrede teenoor ons Christenbroers en -susters wat in ongelukkige omstandighede verkeer eerlik in oënskou te neem nie? Liefde soos dié van Jesus vereis dat ons ons lewens vir ons broers aflê. Hoe moet ons, indien ons bereid is om ons lewe vir ons broers af te lê, egter daaroor voel om ons “brood” te deel wanneer ons ‘ons broer sien gebrek ly’?—1 Joh. 3:17.
20 Die nakoming van ons Skriftuurlike verantwoordelikhede hou ons almal baie besig. Ons wens dikwels dat ons meer kon doen om ander te help. Indien ons egter gewillig doen wat ons kan, kan ons daarvan verseker wees dat Jehovah ons beperkings ken en waardeer wat ons doen. “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”—Gal. 6:10.
ALMAL WERK SAAM OM IN VERDRUKKINGE TE VOLHARD
21. (a) Wat kan enkelouers doen om vandag se druk die hoof te bied? (b) Hoe kan ander in die gemeente hulle help, en is hierdie hulp belangrik?
21 Ter opsomming: enkelouers kan dus volhard deur: (1) Nou voortdurend op God te vertrou en die hoop te koester op ewige lewe wanneer God almal se begeertes sal vervul (Ps. 37:3, 4). (2) ’n Intieme verhouding met God deur Bybelstudie en vurige gebede te behou. (3) Besig te bly met nuttige werk, onder andere Koninkryksgetuienis, die behartiging van ’n huishouding en die grootmaak van kinders. Selfopofferende liefde sal almal in die gemeente beweeg om bewus te wees van die nodigheid om enkelouers wat ’n behoefte het, te help. Hoe? Deur ‘medelye’ te hê, deur belangstelling in hulle kinders te toon en deur hulle geestelik en materieel te help, om maar ’n paar van die goeie dade ten behoewe van hulle te meld. Hoe waardevol is sulke hulp? Een enkelouer het gesê: “So baie onaangename dinge het al met my gebeur dat ek dit liewer wil vergeet. Maar ek moet sê: Sonder die hulp van liefdevolle en getroue broers en susters sou ek nooit deurgekom het nie!”
22. Wat sal die gevolg wees as daar vir behoeftige weduwees en wese gesorg word?
22 Ja, diegene wat waarlik vir gesinne met net een ouer “sorg” wanneer hulle swaarkry, sal nie alleen sien hoe hulle getrou volhard nie (Jak. 1:27). Hulle sal ook die persoonlikheid van ons hemelse Vader helder weerspieël, want, “Hy rig wees en weduwee weer op”.—Ps. 146:9.
[Prent op bladsy 22]
Ryp Christinne kan hulle liefdevol bemoedig en hulp, onder meer materiële bystand, verleen
[Prent op bladsy 23]
Indien enkelouers sekere vaardighede leer, kan dit hulle help om die lewensduurte laer te hou
[Prent op bladsy 24]
Het julle al ooit ’n huisgesin met net een ouer vir ’n maaltyd oorgenooi om hulle beter te leer ken?