Dit is nou die tyd vir ywerige diens
“Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—MARKUS 13:13.
1, 2. (a) Watter toestande bewys onteenseglik dat die einde van hierdie stelsel naby is? (b) Watter twee reaksies is moontlik?
SOMMIGE mense twyfel nog dat ons aan die einde van hierdie teenswoordige stelsel lewe, hoewel dit moeilik is om te begryp waarom hulle daaraan sou twyfel. Sedes gaan agteruit. Ekonomiese toestande versleg. Geweld vier hoogty. Die bevolkingsontploffing duur voort, besoedeling vererger, kernafval neem toe, kernwapens vermenigvuldig en ongelowiges wonder dikwels of lewe op aarde sal voortbestaan.
2 Maar die einde van hierdie ou stelsel het nog nie aangebreek nie. Sommige toegewyde Christene het miskien moeg geword om Koninkryksdiens te verrig. As daar persone was wat in werklikheid hulle lewe aan ’n datum in plaas van aan God toegewy het, is hulle moontlik uitgesif. Maar die wat hulle lewe aan Jehovah God toegewy het om altyd sy wil te doen en sy weë te bewandel, is sterker as ooit en hulle getalle groei steeds aan.
3. (a) Waarom sien liefhebbers van geregtigheid uit na die einde van hierdie ou stelsel? (b) Wat moet ons intussen doen?
3 Liefhebbers van geregtigheid sien uit na die einde van hierdie ou stelsel, want dit sal vervang word deur ’n aardse paradys, deur die regverdige Nuwe Orde wat die Bybel beloof (Jesaja 9:5, 6; Mattheüs 6:9, 10; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4). Jehovah se knegte wil natuurlik hê dat hierdie verandering so gou moet kom as wat God dit goeddink. Maar omdat hulle hulle opreg aan God toegewy het, wag hulle geduldig sy tyd af terwyl hulle ywerig voortgaan met die opwindende Koninkrykspredikingswerk wat hy aan hulle opgedra het.—Mattheüs 24:14.
Geïnspireerde voorbeelde
4. Watter goeie voorbeeld het manne en vroue van geloof in vervloë tye gestel?
4 Niemand het enigsins rede om terug te deins, laks te raak of die hande te laat slap hang nie. Jehovah God en Christus Jesus is werkers (Johannes 5:17). Die Bybel is boonop vol verhale van hardwerkende, gelukkige manne en vroue van geloof, wat vir ons aansporende en bemoedigende voorbeelde is. En tog het baie van daardie getroue manne en vroue geweet dat die beloftes waarop hulle gewag het nie in hulle lewe vervul sou word nie. Geslagte, in party gevalle selfs duisende jare, sou moes verbygaan voordat die verwagte dinge gebeur. Maar hulle het nie traag geword in hulle werk nie. Baie het tot op ’n hoë ouderdom met vreugde bly dien, standvastig in die geloof, ywerig in hulle gehoorsaamheid aan God terwyl hulle geduldig gewag het dat hy sy voornemens ten uitvoer bring. Daarbenewens het God sy voornemens deur die eeue heen met verdrag geopenbaar. Daardie geloofsmanne van die ou tyd het dus baie minder geweet van die manier waarop God sy beloftes sou vervul as wat jy vandag kan weet.
5. Watter voorbeeld het Abel gestel?
5 Dink byvoorbeeld hoe min inligting Abel gehad het. Hy het net geweet dat God ’n “saad” beloof het en dat daardie “saad” eendag die slang se kop sou vermorsel (Genesis 3:15). Jesus het Abel nietemin ‘regverdig’ genoem, en hy word eerste gemeld in Paulus se lys van groot geloofsmanne (Mattheüs 23:35; Hebreërs 11:4). Sou jy sulke geloof gehad het met die skamele inligting wat in Abel se tyd beskikbaar was?
6, 7. Watter goeie voorbeeld het Abraham vir ons gestel, hoewel sekere Godgegewe beloftes nie in sy dag vervul Is nie?
6 Noag, Abraham, Isak en Jakob het almal gelewe voordat Jehovah sy wonderlike krag ten tye van Israel se uittog uit Egipte vertoon het. Hulle het niks geweet van die ontsagwekkende gebeure wat gepaard sou gaan met die gee van die Wet by Sinai nie. Toe hulle gelewe het, was die eerste boek van die Bybel nog nie eers geskryf nie.
7 Abraham het geen hoop gehad dat ’n paradys gedurende sy leeftyd op aarde herstel sou word nie. Daar is eerder aan hom gesê dat sy nageslag 400 jaar lank verdruk sou word. God sou eers in die verre toekoms sy belofte vervul dat ‘al die nasies van die aarde deur Abraham se nageslag geseën sou word’ (Genesis 15:13; 22:18; Galasiërs 3:8). Abraham het “uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is” (Hebreërs 11:10, NAV). Die feit dat Abraham dit nie in sy dag nie maar eers in die opstanding sou sien, het nie sy geloof, gehoorsaamheid en ywer in God se diens laat afneem nie. Ons kan onsself afvra: Het ek die soort geloof, gehoorsaamheid en ywer wat Abraham gehad het?
8. Wat leer ons van Moses ten opsigte van geduld en volharding?
8 Moses het gedink dat hy nie opgewasse is vir die werk wat God hom gegee het nie. Hy het gesê dat hy nie ’n vlot spreker is nie, en hy het gedink dat nòg sy volksgenote, nòg Farao na hom sou luister (Exodus 4:1, 10; 6:11). Moses was nogtans gehoorsaam. Hy het gedoen wat Jehovah hom beveel het, en hy het dit vir ’n baie lang tyd gedoen. In die woestyn het Moses geweet dat dit nog 40 jaar sou wees voordat sy volk die Beloofde Land binnegaan, en weens sy latere sonde het hy gehoor dat hy nie eens dan die land sou binnegaan nie. Tog het hy jaar na jaar op Jehovah se weg volhard (Numeri 14:33, 34; 20:9-12; Deuteronomium 3:23-28; 34:1-6). Sou jou liefde vir God jou so geduldig en ywerig gemaak het in sy diens? Sou jy ander getrou gelei het na ’n doel wat jy geweet het jy self nie sou bereik nie?
9, 10. Hoe het Jesaja en Jeremia volharding getoon, sonder die hoop om gedurende hulle lewe ’n verlangde beloning te ontvang?
9 Toe Jehovah gevra het wie namens hom sou gaan en sou spreek, het Jesaja gesê: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8-11). Hy het meer as 40 jaar as Jehovah se profeet gedien. Jesaja het onder meer God se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” bekend gemaak, hoewel daar geen hoop was dat ’n regverdige nuwe stelsel in sy lewe sou kom nie (Jesaja 65:17-25). Sou jy so getrou gewees het bloot omdat getrouheid reg en in harmonie met jou hartgrondige liefde vir God was?
10 Jehovah het Jeremia gebruik om ongewilde waarskuwings aan ’n ongelowige volk oor te dra. Daar het geen regverdige, aardse paradys aan die einde van sy prediking gewag nie. Sy geliefde Jerusalem sou eerder “’n puinhoop, ’n woesteny” word, vernietig weens sy inwoners se gebrek aan geloof. Jeremia het geweet dat daar ’n herstel sou plaasvind, maar dit sou eers na verloop van 70 jaar plaasvind—byna nog ’n normale leeftyd! (Jeremia 25:8-11; 29:10). Die feit dat hy nie die voorspelde herstel sou beleef nie, het Jeremia nie daarvan weerhou om te preek nie. Selfs toe hy probeer het om op te hou, was Jehovah se woord “soos ’n brandende vuur” in sy gebeente. Hy moes eenvoudig spreek, en Jehovah was met hom “soos ’n geweldige held”.—Jeremia 20:7-11.
Dinge wat ons help om te volhard
11, 12. Waartoe toon die Bybel behoort daardie voorbeelde van geloof uit die ou tyd ons aan te spoor?
11 Die apostel Paulus het getoon watter uitwerking hierdie voorbeelde op ons behoort te hê. Hy het geskryf: “Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde [gebrek aan geloof] wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”—Hebreërs 12:1.
12 Paulus het ook geskryf: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid [volharding] en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik” (Romeine 15:4-6). Hierdie voorbeelde van geloof uit die ou tyd behoort ons dus aan te vuur om te volhard, om ons predikings- en onderrigtings-werk getrou te volbring en sodoende Jehovah, die God en Vader van ons Here Jesus Christus, ywerig te verheerlik.
13. Wat weet ons wat daardie eertydse geloofsmanne nooit die geleentheid gehad het om te wete te kom nie?
13 Dink net aan die geloofversterkende dinge wat ons weet wat die getroue profete van die ou tyd nie kon geweet het nie. Toe hulle gelewe het, het niemand nog geweet wie die Messias sou wees nie. Maar ons weet nie net wie hy is nie; ons weet ook van die geboorte, onderrigting, dood en opstanding van daardie Een, Jesus Christus. Verder weet ons van die losprys, die Koninkryk en die “saad” waarna daardie manne getrou uitgesien het. Ons het ook die volledige Christelike Griekse Skrifte—van Mattheüs tot Openbaring. En ons het die geleentheid om ’n begrip te verkry van daardie wonderlike boek Openbaring, met sy geloofversterkende profesieë wat in ons tyd vervul word en nog vervul sal word. Ons lewe voorwaar in ’n opwindende en kritieke tyd—’n tyd waarna daardie manne van die ou tyd met afwagting uitgesien het.
Voorbeelde van ywerige diens
14, 15. Is eerste-eeuse Christene ontmoedig deur die feit dat die Koninkryk nog toekomstig was? Verduidelik.
14 Jesus se vroeë volgelinge was ongeduldig dat die beloofde Koninkryk moes kom. Hulle het vir Jesus gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk van Israel weer oprig?” Daardie dissipels het nie destyds besef dat die Koninkryk in die hemel gesetel sou wees nie. Hulle sou dit eers later onder die invloed van God se gees verstaan. Maar Jesus het hulle meegedeel dat daar ’n groot werk op hulle gewag het. Hy het gesê dat hulle sy “getuies [sou] wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:6-8). Hulle het nie gedink dat daardie taak te groot was om aan te pak nie. Op die dag van Pinkster in 33 G.J. het ongeveer 120 dissipels, onder die leiding van die heilige gees, begin om die goeie nuus te verkondig. Nagenoeg 3 000 mense het daardie dag die woord aangeneem! En binne ’n kort tydjie kon die Joodse hoëpriester sê: “Kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul.”—Handelinge 2:41; 5:28.
15 Mense uit verskillende dele van Europa, Asië en Afrika wat op daardie tydstip in Jerusalem was, het waarskynlik die goeie nuus na hulle eie lande teruggeneem (Handelinge 2:5-11). Eerlank het Paulus ywerig begin preek en gehelp om Christengemeentes dwarsdeur die Romeinse provinsie van Asië en in Griekeland te stig. Hy het na Rome gegaan en moontlik selfs na Spanje. Petrus het in die ander rigting gegaan, tot by Babilon. Na minder as 30 jaar van werksaamheid deur hierdie eerste Christene en die menigtes wat deur hulle geleer is, kon Paulus sê dat die goeie nuus “verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel” (Kolossense 1:23). Hulle het inderdaad ’n ontsaglike taak verrig deur ander ywerig te leer soos Jesus beveel het!—Mattheüs 28:19; Titus 2:13, 14.
’n Stelsel eindig
16. Op watter gebeurtenis het vroeë Christene gewag?
16 Daar was egter ’n tydperk wat vir eerste-eeuse Christene van besondere belang was. Jesus het gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.”—Lukas 21:20-22.
17, 18. (a) Wanneer en hoe het Christene gereageer op Jesus se woorde in Lukas 21:20-22? (b) Voor watter verdere beproewing het hulle moontlik te staan gekom?
17 Meer as 30 jaar het verbygegaan. Toe, in die jaar 66 G.J., het Romeinse magte Jerusalem beleër. Toe oorwinning in sig was, het hulle teruggewyk. Die Jode, verheug oor die gedagte dat hulle gewen het, het die Romeine agternagesit.a Maar wat sou die Christene doen? Eusebius, wat in die eerste deel van die vierde eeu gelewe het, skryf dat “die wat in Christus geglo het uit Jerusalem getrek het” na ’n stad in Perea met die naam Pella.b
18 Die tyd het aangestap. Die jaar 66 het plek gemaak vir 67. Toe het 68 gekom en gegaan, en so ook 69. Is daardie Christene beproef deur die verloop van tyd? Het dinge vir party te lank gedraal? Het hulle hulle misgis? Jesus het nie gesê hoe lank hulle sou moes wag nie. Maar as sommige na Jerusalem teruggekeer het, was dit tot hulle verdriet, want in 70 het die Romeine teruggekom, die stad ingeneem en baie van die inwoners gedood. Die geskiedskrywer Josephus sê dat 1,1 miljoen mense omgekom het, want Jerusalem was “stampvol inwoners” omdat menigtes mense “van oor die hele land” na Jerusalem gekom het vir die Pasga.c
19. (a) Wat is vandag die waarlik belangrike vrae wat toegewyde Christene moet beantwoord? (b) Wat behoort ons te beweeg om heilige diens te verrig?
19 Herinner dit jou aan die situasie in ons dag? Die vraag is nie: Wanneer sal hierdie ou stelsel eindig? nie. Dit sal op God se bestemde tyd geskied. Ons moet eerder dink aan wat ons nou doen. Ons moet onsself afvra: Maak ek ’n ywerige studie van God se Woord en het ek my lewe onvoorwaardelik aan hom toegewy? Kom ek werklik daardie toewydingsbelofte na? Dit is nie waar ons in die tydstroom is wat ons behoort te beweeg om heilige diens te verrig nie. Soos Abel, Abraham, Moses, Jesaja en ander behoort liefde vir Jehovah God ons aan te vuur. Ons moet Jehovah gewillig dien, ongeag wanneer die einde kom. Maar ons het nou ’n spesiale beweegrede. Ons het die finale deel van “die laaste dae” van hierdie teenswoordige stelsel bereik (2 Timotheüs 3:1). Daardie feit behoort ons tot buitengewone diens aan te vuur.
20. Hoe vergelyk die gebeure wat jy gesien het met die wat eerste-eeuse Christene gesien het?
20 Christene het uit Jerusalem gevlug omdat hulle gesien het hoe die baie aspekte van Jesus se “teken” bewaarheid is en nadat hulle die vervulling gesien het van sy woorde oor leërs wat die stad omsingel. Sedert die veelbewoë jaar 1914 het ons die vervulling van baie profesieë aangaande die tyd van die einde gesien (Mattheüs hoofstukke 24, 25; Openbaring 6:1-8; 2 Timotheüs 3:1-5). Hierdie voorspelde gebeure het sowat 70 jaar gelede begin. En tog het Jesus gesê dat al daardie dinge gedurende die lewe van een geslag sou gebeur (Mattheüs 24:32-34). Dit ly geen twyfel dat ons al baie diep in daardie geslag is nie!
Ywerig in die geloof
21. Waarom is ywerige diens aan God ’n saak van dringendheid?
21 Lewensreddende werk moet dikwels met haas gedoen word. Dit is nou ’n tyd vir buitengewone werksaamheid, verskerpte diens en groter geloof en ywer. Ons moet onthou dat een van hierdie dae ons laaste dag in hierdie ou stelsel sal wees. Ons sal òf tot aan die einde van hierdie stelsel voortleef, òf ons eie lewe sal voor die tyd eindig. Die lewe is nou van korte duur. Niemand weet of hy môre nog sal lewe nie. Ons het slegs ’n beperkte tyd waarin ons ons getrouheid en onkreukbaarheid aan God kan bewys (Psalm 39:6; Prediker 12:1; Lukas 12:18-21). Dit sou dus gepas wees om onsself af te vra: Is ek tevrede met wat ek vandag gedoen het?
22. Wat sê die Skrif oor die beloning?
22 Dit is belangrik dat ons nie die beloning vergeet nie. Hou jou oë op die prys. Jesus het gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Paulus het geskryf dat ‘elkeen sy eie loon volgens sy eie arbeid sal ontvang’. Hy het ook gesê: “Julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.”—Markus 13:13; 1 Korinthiërs 3:8; Hebreërs 10:36.
23, 24. Wat is jy, in die lig van die raad in die aangehaalde Bybeltekste, vasbeslote om in verband met jou geloof en Koninkryksdiens te doen?
23 Die Skrif vermaan ons: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas.” Ons lees ook: “Oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. . . . Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.”—2 Petrus 3:11, 12; 1 Thessalonicense 5:1-6.
24 Mag ons dan ’n vaste geloof behou en ywerig bly in Koninkryksdiens, sonder om enigsins te twyfel. Sodoende sal ons saam met die apostel kan sê: “By ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”—Hebreërs 10:39.
[Voetnote]
a Josephus, Wars of the Jews, II, 19:5-7.
b Eusebius, Ecclesiastical History, III, 5:3.
c Josephus, Wars of the Jews, VI, 9:3, 4.
Dinge om oor na te dink
◻ Waarom is die voorbeelde van Abel, Abraham, Moses en Jeremia vandag vir ons baie bemoedigend?
◻ Watter uitwerking het die feit dat die Koninkryk nog nie gekom het nie op eerste-eeuse Christene gehad?
◻ Watter toets het die vroeë Christene moontlik ondergaan nadat hulle uit Jerusalem gevlug het?
◻ Wat moet nou vir ons die belangrikste saak wees?
[Prent op bladsy 14]
Hulle het nie tou opgegooi nie!
Abel
Dawid
Jeremia
Abraham
Paulus