Nuwe sendelinge—voorbereid vir sukses in die veld
DIE lug was elektries gelaai, so opgewonde was die 2 121 mense wat op Sondagoggend, 9 September 1984, by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Queens, New York, vergader het. Wat was die geleentheid? Dit was diplomadag vir 37 studente wat die 77ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead uitgemaak het. Waarom die opgewondenheid? Omdat hierdie diplomaplegtigheid altyd aan aanwesiges die geleentheid bied om aansporende toesprake deur verantwoordelike lede van die Wagtoringgenootskap se hoofkwartierpersoneel te hoor, om ’n opwindende Bybeldrama en ander opbouende aanbiedings te sien en om in die vreugde van die studente oor hulle sendingtoewysings te deel. Niemand in die gehoor is teleurgestel nie.
Die eerste spreker van die oggend was A. D. Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Hy het die volgende herinnering opgehaal: “My pa het altyd gesê: ‘As jy werk het om te doen, moet jy die regte gereedskap kry en die taak behoorlik afhandel—jy moet dit nie halfklaar laat nie.’” Hy het verduidelik dat die studente nou die gereedskap het, waaronder die Genootskap se nuttige Bybellektuur en die onderrigting wat hulle gedurende hulle bedieningskursus van vyf maande ontvang het. Toe het hy voorbeelde opgenoem van produktiewe sendelinge wat vandag ’n sukses van hulle toewysing maak.
Jack Redford, een van die Gileaddosente, het die volgende te sê gehad: “Suksesvolle sendelinge gebruik hulle verstand.” Hy het getoon hoe sendelinge gehoor kan gee aan die gebod in Mattheüs 22:37 om ‘God met jou hele verstand lief te hê’. Redford het, as voorbeeld, vertel van die weldeurdagte gesondheidsvoorsorg wat ’n sendelingegpaar in een deel van Afrika getref het. Hy het ook met lof gepraat van ’n sendeling wat al jare in Chili dien en wat haar vernuf ingespan het om te preek ondanks die verlies van haar gehoor. “Julle sal ook voor uitdagings te staan kom”, het Redford gesê. “Maar elke uitdaging kan baie lonend wees, afhangende van hoe julle dit aanpak.” “Dink”, was Redford se advies.
Die ander Gileaddosent, U. V. Glass, het ook praktiese raad gegee. Hy het die studente met saailinge in ’n kweekhuis vergelyk en verduidelik dat hulle nou op die punt staan om in ’n nuwe omgewing oorgeplant te word. Maar hulle moet sorg dat “hulle wortels stewig in teokratiese grond bly”. Hy het die studente gewaarsku om nie liggeraak te wees of uit te bars wanneer die druk toeneem nie. En toe het hy wenke gegee oor hoe om die druk te verlig wat soms in die lewe van ’n sendeling ontstaan.
John E. Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die studente daaraan herinner dat “die vreugde van Jehovah” een van die kosbaarste dinge is wat hulle na hulle toewysings sou neem (Nehemia 8:10, NW). “Mag dit oorvloei tot in die harte van honderde ander”, het hy gesê. Leon Weaver het die studente vermaan om voorbeelde in liefde en geloof te word, in ooreenstemming met 1 Timotheüs 4:12. En Eldor Timm het hulle aangemoedig om dieselfde “Ek wil”-gesindheid te openbaar as wat Jesus gehad het wanneer hy mense gehelp het.—Markus 1:40, 41.
Die laaste spreker van die oggend was F. W. Franz, president van die Wagtoring- Bybelskool Gilead, wat gepraat het oor die tema “Kweek die beste vriendskap in die ganse heelal”. Franz het verduidelik dat die Hebreeuse en Griekse woorde vir “vriend” volgens hulle grondbetekenis ook met “liefhebber” vertaal kan word. Hy het gesê dat die studente ware vriende sal verkry deur opregte liefde te betoon aan die mense vir wie hulle in hulle nuwe toewysings preek. Maar, het Franz beklemtoon, hulle moet nooit nalaat om die allerbeste vriendskap te kweek nie, dié van Jehovah God.
Die programvoorsitter, L. K. Greenlees, het die oggendsessie afgesluit deur die diplomas te oorhandig. Die gehoor was verheug om te hoor dat hierdie studente uit 7 lande na 13 lande in Afrika, Sentraal- en Suid-Amerika, Asië, Europa en verskeie eilande gestuur word.
Toe het die tyd vir die middagprogram aangebreek. Donald Krebs het die week se Wagtoring-studie waargeneem, met die studente wat kommentaar gelewer het. Die studente het vervolgens ’n reeks lewendige toneeltjies opgevoer om ’n paar van die interessante aspekte van hulle kursus uit te beeld. Daarna het die hoogtepunt van die middag gevolg—’n uitmuntende Bybeldrama oor die beproewings en seëninge van Job. Ja, die diplomaprogram was waarlik ’n geestelik stimulerende ondervinding vir almal wat dit bygewoon het.
Die Wagtoringgenootskap het baie tyd bestee aan die opleiding van hierdie voornemende sendelinge—maar nie sonder rede nie. “Die Gileadskool het julle voorberei om suksesvol te wees”, het een van die sprekers vir die klas gesê. Ja, ons is daarvan oortuig dat die 77ste klas van Gilead Jehovah se seën sal geniet wanneer hulle hulle nuwe sendingtoewysings aanvaar.