Graduering van die 83ste Gileadklas waarlik ’n feestelike geleentheid
“LOOF [Jehovah], want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid” (Psalm 136:1). Dit was die hartlike mening van al 4 391 wat die gradeplegtigheid van die 83ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead hierdie noordelike herfs bygewoon het. Die toesprake, die ondervindinge en die Bybeldrama wat gedurende die plegtigheid aangebied is, het almal met geesdrif vervul. Die graduering het op 6 September 1987 by die pragtige Jersey City-byeenkomssaal, voorheen bekend as die Stanley-teater, plaasgevind.
Na die openingslied, en ’n gebed deur John Booth van die Bestuursliggaam, het die voorsitter, Albert Schroeder, ’n ander lid van die Bestuursliggaam, iedereen by hierdie feestelike geleentheid welkom geheet. Die 24 studente het van vyf lande gekom, en hulle sou na agt lande gestuur word. Broer Schroeder het beklemtoon dat Jehovah se volk vertroue het omdat hulle geloof op vaste dinge gegrond is. Hulle weet byvoorbeeld dat Jehovah die Universele Soewerein is en dat sy Woord, die Heilige Bybel, volkome waar is. Dit vorm ’n skerp teenstelling met mensefilosofieë wat op onsekerhede en spekulasies gegrond is.
Die eerste spreker was Martin Poetzinger, ook ’n lid van die Bestuursliggaam, wat nege jaar in Nazi-konsentrasiekampe deurgebring het. Sy tema “Op wie vertrou jy?” was op Spreuke 3:5, 6 gebaseer. Hy het die studente op die hart gedruk dat dit nodig is om ten volle op Jehovah en sy sigbare organisasie te vertrou en ook dat hulle hulself as individue betroubaar moet bewys. Die studente se Gileadopleiding was slegs ’n fondament; hulle moet nou daarop bou deur Paulus se raad in Efesiërs 5:15, 16 te volg. ‘Moenie stilstaan nie’, het die spreker hulle aangespoor. ‘In jul sendingtoewysing sal julle jul probleme hê wat taal, klimaat, voedsel, ensovoorts betref; maar deur op Jehovah te vertrou, kan julle al daardie probleme oplos. Liefde vir mense is julle sleutel tot sukses. Elke aanmoediging is van God; elke ontmoediging is van Satan.’
Die volgende spreker was Eldor Timm, ’n lid van die Fabriekskomitee, wat sy toespraak op 2 Korinthiërs 13:5 gebaseer het: “Ondersoek julself of julle in die geloof is.” Hy het gesê dat die studente se geskrewe toetse agter die rug is, maar dat hulle in hulle sendingtoewysings voortdurend voor talle ander toetse te staan sal kom. Hoe hulle daardie toetse hanteer, sal hulle sukses as sendelinge bepaal. Hulle moet waak teen te veel selfvertroue deur ag te slaan op die raad: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:12). Hulle sal altyd vordering maak as hulle ’n goeie gesindheid behou.
’n Lid van die Diensafdeling-komitee, Joel Adams, het hierna aan die woord gekom. Hy het gepraat oor die onderwerp: “Dink soos Jesus, toon persoonlike belangstelling in ander.” Wat ’n goeie voorbeeld het Jesus in hierdie opsig gestel! Sy voorbeeld van onselfsugtigheid en nederigheid word vir ons in Filippense 2:3-5 beklemtoon. As iemand ons geduld op die proef stel weens hulle tekortkominge of gebrek aan takt, moet ons ons daarop toelê om vriendelik teenoor hulle te wees. Gedurende die Gileadskoolkursus het talle belangstelling in die studente getoon; nou berus dit by hulle om dieselfde vir ander te doen. Die suksesvolste sendelinge is diegene wat belangstelling in ander se gewoontes, taal, behoeftes, ensovoorts toon.
Die studente is daarna aangemoedig deur iemand wat jare lank ’n sendeling was, Lloyd Barry, ook ’n lid van die Bestuursliggaam. Hy het gepraat oor die onderwerp “Sing voor Jehovah”, wat op Psalm 96:1 gebaseer was. Jehovah se volk geniet sang. Sang gaan gepaard met vreugde, en hy het die studente dus aangemoedig om nooit die vreugde te verloor om die waarheid na ander te neem nie. ‘Lê jou van die begin af hart en siel daarop toe as jy ’n nuwe taal moet leer’, het hy hulle aangespoor. ‘Die duiwel sal probeer om julle te ontmoedig, met heimwee te vul, onenigheid in julle geledere te veroorsaak. Moet hom nooit ’n duimbreedte toelaat nie!’ Broer Barry het melding gemaak van die “nestor van sendelinge”, Edwin Skinner, wat al 60 jaar lank in sy buitelandse toewysing in Indië is, en wat nou op die ouderdom van 93 steeds ’n volle dag se werk doen. Volgens broer Skinner bestaan die sleutel tot sukses as ’n sendeling uit vier woorde: “Nederigheid is die grondtoon!”
Na hierdie kommentare het die voorsitter ’n aantal telegramme gelees wat die studente gelukgewens en welkom geheet het. Boodskappe is uit Bolivia, Kanada, Ecuador, Honduras, Spanje, Swede en Trinidad ontvang.
Jack Redford, een van die instrukteurs van die Gileadskool, het gepraat oor die onderwerp “Hou aan om Jehovah se vriend te wees”. Hy het begin deur op te merk dat daar baie kommersiële instellinge is wat opleiding bied oor hoe ’n mens in die sakewêreld sukses kan behaal deur vriende te win en mense te beïnvloed. As toekomstige sendelinge is die studente ook geleer hoe om vriende te win en mense te beïnvloed, nie om selfsugtige gewin nie, maar sodat sulke mense vriende van God kan word. ‘Julle lewe is ’n lewe van selfopoffering’, het die spreker gesê. ‘Julle het verniet ontvang, gee verniet. Daar is geen groter tevredenheid of vreugde as geslaagde pogings om mense te help om vriende van God te word nie. Vriendskap met God is die grootste eer wat enige mens te beurt kan val. Jakobus 2:23 meld dat Abraham Jehovah se vriend geword het omdat hy geloof in God beoefen het. Hy het na ’n vreemde land gegaan en het nie teruggekyk nie; as sendelinge moet julle ook nie terugkyk nie, maar eerder uitsien na die seëninge in God se nuwe wêreld.’
Ulysses Glass, ’n Gileadinstrukteur en die sekretaris van die skool, het toe oor die onderwerp “Die finale les” gepraat. Hy het opgemerk dat die studente geleer het hoe verreikend en veeleisend Jehovah se wette werklik is. Hy het dit toegelig deur die aandag te vestig op die baie besonderhede in verband met offerandes wat op die Versoendag geoffer is en die baie diere wat dit ingesluit het (Levitikus, hoofstuk 16). Hy het die studente geprys vir hulle duidelik hartgrondige waardering en het gesê dat Psalm 145:7 hulle gesindheid goed beskryf: “Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.” In sy slot het hy ook Spreuke 3:5-7 aangehaal en beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat hulle ‘met hulle hele hart op Jehovah vertrou’.
Broer F. W. Franz, die 94-jarige president van Gileadskool, asook die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, het die slottoespraak van die oggend gehou. Daarin het hy die geskiedenis van die Genootskap sedert die tyd van die eerste president, C. T. Russell, tot die stigting van die Gileadskool, verhaal. Almal het sy kragtige en entoesiastiese aanbieding baie waardeer. Na sy toespraak het die 24 studente hulle diplomas en ’n paar geskenke ontvang, en toe het een van die studente ’n mooi brief gelees wat die studente se waardering uitgespreek het vir al die hulp wat hulle van die Bestuursliggaam en ook van die Bethelgesin ontvang het.
Na ’n pouse van ongeveer twee uur het Phil Wilcox, ’n lid van die Watchtower Farms-komitee, ’n verkorte studie van die jongste Wagtoring-les gehou waarin die studievrae deur die studente beantwoord is. Dit is gevolg deur die studente se program, waartydens hulle ondervindinge uitgebeeld het wat hulle op Woensdagmiddae tydens getuieniswerk in die stad New York geniet het. Dit was ’n deel van hulle Gileadopleiding. Hulle het ook ’n lewendige demonstrasie gehou oor die talle probleme wat hulle te wagte kan wees wanneer hulle hul buitelandse toewysings bereik.
As ’n gepaste slot vir die hele program het die studente ’n gekostumeerde Bybeldrama met twee dele aangebied wat die erns van die tye waarin ons lewe, beklemtoon het. Die drama het dit gedoen deur ons dag met oordeelstydperke in die verlede te vergelyk. Die uiters genotvolle program het om 4:15 nm. met die sing van die lied “Die uitbreiding van die Teokrasie” en ’n gebed deur Milton Henschel, lid van die Bestuursliggaam, afgesluit.
[Prent op bladsy 23]
83ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer en name word van links na regs in elke ry aangegee. (1) Melin, D.; Goode, M.; Ramos, M.; Chan, N.; Hermanson, A.; Dagostini, D. (2) David, E.; DiPaolo, A.; Neiman, D.; Shephard, J.; Foster, M.; Ramos, R (3) Foster, W.; Melin, D.; Fristad, D.; Fristad, R; White, L.; Dagostini, F. (4) Neiman, D.; Ness, S,; Shephard, D.; Goode, J.; White, K.; Hermanson, L.