’n Gedenkwaardige eeufees
GOD se volk het die voorreg gehad om talle hedendaagse wonderwerke te aanskou. Een van die grootste hiervan was die groei van die wêreldwye organisasie wat nou deur Jehovah gebruik word om sy naam oor die ganse aarde te verkondig. Dit het alles in die vroeë sewentigerjare van die vorige eeu in Pittsburgh begin, waar ’n groepie ernstige Bybelstudente byeengekom het. Hulle het vinnig vermeerder, sodat dit gou nodig geword het om ’n wetlike korporasie te stig om na die belange van die groeiende organisasie om te sien. Zion’s Watch Tower and Tract Society is gevolglik op 13 Desember 1884 gestig, kragtens die wette van die Gemenebes van Pennsilvanië.
Onlangs, op Saterdag, 6 Oktober 1984, is die 100ste jaarvergadering van die lede van die korporasie—nou bekend as die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania—in Pittsburgh gehou. Dit was inderdaad ’n besondere geleentheid! Net soos belangrike gebeurtenisse in vervloë tye herdenk is, so was dit gepas dat Jehovah se Getuies die honderdjarige bestaan van die Wagtoringgenootskap deur ’n spesiale byeenkoms sou vier. Sodoende kon hulle dank en lof bring aan die Soewereine Heer Jehovah, wat hierdie groeiende organisasie deur die moeilike jare van die afgelope eeu beskerm en gelei het.—Josua 4:4-8, 20-24; Ester 9:20-22; Ps. 23:1-6.
Sakevergadering
Stiptelik om tienuur die môre van 6 Oktober het die jaarlikse sakevergadering van die Genootskap in die Coraopolis-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies, in Pittsburgh, begin. Onder wêreldlike organisasies is sulke vergaderinge gewoonlik baie saaklik. Maar hierdie vergadering was anders.
Van die 429 lede van die korporasie was 259 persoonlik aanwesig, tesame met hulle gaste—’n totale opkoms van 1 615 persone. Hulle het van 53 lande af na die vergadering gekom—van plekke so ver van mekaar verwyder soos Alaska, Antigua, Argentinië, Australië, en so deur die alfabet heen tot by Zimbabwe. Die formele verkiesing van vier direkteure van die Genootskap is gevolg deur ’n geestelik opbouende program van toesprake. Een van die toesprake, gebaseer op die jaarteks van Jehovah se Getuies vir 1985, 2 Timotheüs 4:5, het elkeen aangespoor: „Vervul jou bediening.”
Daar was ook ’n opwekkende toespraak deur die Genootskap se 91-jarige President, F. W. Franz. Hy het gesê dat hy nog nooit so opgewonde was as die dag sowat 65 jaar gelede toe hy saam met J. F. Rutherford vir die eerste keer die uitdrukking „God se organisasie” gehoor het nie. Nadat hy die ontwikkeling van die organisasie op die aarde bespreek het, het hy dank betuig oor die feit dat dit die 100ste jaar is dat Jehovah se organisasie die Genootskap gebruik om ons van lewensreddende Skriftuurlike informasie te voorsien. Broer Franz se stem het tot ’n triomfantlike crescendo gestyg toe hy die laaste vers van die Psalms aangehaal het: ,Laat alles wat asem het, Jehovah loof! HALLELUJA!’
,Jehovah is met sy volk’
Die Pittsburghse gemeentes van Jehovah se Getuies het uitmuntende broederliefde en gasvryheid getoon (Hebreërs 13:1, 2). Die broers het selfopofferende liefde getoon deur heerlike etes, verblyf en vervoer te voorsien, en daar is na die fynste besonderhede omgesien om Pittsburgh se beroemde Three Rivers-stadion gereed te kry vir die vergadering van drie uur wat daardie aand gehou is.
Dit was soos ’n goedkeurende glimlag van Jehovah dat weerstoestande op hierdie herfsdag ideaal was. Die skare van 37 733 by die stadion kon gevolglik in gerief en met waardering luister. Die program is telefonies na 34 Byeenkomssale van Jehovah se Getuies in die Verenigde State en in Kanada oorgesend, waar nog 59 715 geluister het—’n totale opkoms van 97 448. AI die aanwesiges het eksemplare ontvang van ’n kleurryke program in die vorm van ’n brosjure met 32 bladsye wat as aandenking van die blye geleentheid sal dien.
Die aandsessie is met vreugdevolle sang en gebed geopen. Daarna het tien lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies saam met baie ander jarelange dienaars van Jehovah die tema ontwikkel: „Jehovah was nog altyd met sy volk.” Soos die programbrosjure gesê het: „Daar is inderdaad oorvloedige bewys dat Jehovah met sy volk was en dat hy die werk van hulle hande geseën en bevestig het—werk wat deur middel van die Wagtoringgenootskap verrig is. Ooreenkomstig die gedagtes van Psalm 78:2-7 is dit dus gepas dat ons hierdie geleentheid gebruik om vir die nuwe geslag te vertel van ,die roemryke dade van Jehovah en die wonders wat hy gedoen het’.”
Dit is presies wat die program gedoen het! Hitler en afvallige dwepers het probeer om Jehovah se Getuies „soos ongediertes” uit te roei, maar sulke teenstanders het altyd verdwyn „soos sneeu voor die son”. Die Bybelvertaler Goodspeed het die eerste-eeuse Christene as „’n vertalers- en uitgewersvolk” beskryf. En hoe waar is dit ook van 20ste-eeuse Getuies! Gedurende die 105 jaar wat in 1984 geëindig het, het hierdie Christene 8,8 miljard Bybels, boeke, boekies, tydskrifte en traktate in oor die 200 tale uitgegee. Die New World Translation van die hele Bybel, of minstens die Griekse Skrifte, is in veertien tale gedruk met ’n totale oplaag van 51 034 000 eksemplare. ’n Sakformaatuitgawe van hierdie Bybel, asook ’n grootdrukuitgawe in vier dele, sal binnekort beskikbaar gestel word. Die Wagtoringgenootskap sal dus aanhou om ’n leier op die gebied van Bybelpublikasie te wees.
Die brosjure het gesê: „’n Bewys van die kaliber van die getroue manne wat in die Wagtoringgenootskap gedien het, is die feit dat net vier manne oor ’n tydperk van 100 jaar in die verantwoordelike posisie van President van die Genootskap gedien het.” Jehovah se organisasie beweeg onstuitbaar voort na die finale oorwinning. Soos Martin Poetzinger, wat getrou gebly het gedurende nege jaar in Nazi-konsentrasiekampe, gesê het: „Bly by Jehovah en Christus Jesus en God se organisasie, en jy sal sy glorieryke oorwinning oor alle teenstanders sien.”
Die laaste spreker van die aand, President F. W. Franz, het hierdie eeufeesdag beskryf as „’n geleentheid wat nooit herhaal sal word nie”. Hoe waar tog! Waar hy ’n oorsig gegee het van die aangrypende geskiedenis van die Genootskap, het broer Franz die woorde van J. F. Rutherford, die tweede President, wat in 1942 oorlede is, aangehaal. Hy het kort voor sy dood gesê: „Wel, Fred, dit lyk vir my of die groot menigte op die ou end tog nie so groot gaan wees nie.” Broer Franz het opgemerk: „Hy is te gou dood.” Op daardie tydstip was daar minder as 100 000 getuies van Jehovah wêreldwyd. Vandag is letterlik ,miljoene van die wat nie sal sterf nie’ by die geledere van hierdie lojale knegte gevoeg.
Broer Franz het met hierdie woorde afgesluit: „Ons word beweeg om eenparig te sê: ,Heil aan Jehovah God, die Universele Soewerein’.” Die gehoor het hulle heelhartige instemming deur dawerende applous te kenne gegee. Na ’n finale lied en gebed het hulle na hulle lande en gemeentes teruggekeer met vreugdevolle vasbeslotenheid om voort te gaan met Jehovah se werk totdat dit volbring is.