Waarom Armageddon gevoer moet word
„GOD IS LIEFDE.” Die apostel Johannes sê dat God nie alleen liefde betoon nie, maar dat hy liefde is—inderdaad die verpersoonliking van liefde.—1 Johannes 4:8.
Hierdie God van liefde word egter dikwels deur sommige voorgestel as ’n wraaksugtige god wat diegene wat sy guns verbeur het wreed straf. Baie glo gevolglik nie meer aan God nie of spot met die Bybel en sê dat dit nie van so ’n God af kan kom nie. Veral dele van die boek Openbaring word veroordeel waar God se oordele aan die goddelose beskryf word, oordele wat uitloop op die Armageddonstryd.
Joseph Wheless skryf byvoorbeeld in sy boek Is It God’s Word?: „Die sagsinnige leser sal beslis nie die apokaliptiese gesig verduur wat beskryf hoedat die opreg berouvolle siel onder arme sondaars (wat aan erfsonde of doodsonde skuldig is) ,met vuur en swawel gepynig word voor die heilige engele en voor die Lam’, wat dit almal onbekommerd gadeslaan terwyl ,die rook van hulle pyniging tot in alle ewigheid opgaan en hulle dag en nag geen rus het’ van die felheid van die toorn van die almagtige God nie (Openbaring xiv, 10, 11). Dit is die geïnspireerde openbaring van die God van alle liefde.”
Professor Gerald A. Larue van die Universiteit van Suidelike Kalifornië vind ook fout met die Openbaring-verhaal. Hy het onlangs in die tydskrif Free Inquiry geskryf: „Ongelowiges word gewerp in ’n afgrond van lyding wat die verbeelding te bowe gaan. Die straf is nie die lex talionis, die oog-om-ooggeregtigheid nie; dit is ook nie soos ’n bloedvete waar ’n hele groep uitgewis word nie (vgl. Gen. 4:23, [24]; Jos. 6; ens.). Hier duur die straf vir ewig. Daar is geen genade nie, die straf is nimmereindigend. Daar is geen vergifnis nie, slegs straf wat persone die vrede van uitwissing ontsê. Dit strook nie met die sagmoedige Jesus-beeld nie.” Dan haal hy Openbaring 14:9-11 aan en sê hy voorts: „Hier word die ander wang nie gedraai nie—slegs wrede, woedende vergelding in barbaarsheid wat die Nazi-folteringe mak laat lyk.”
Dit is te begrype dat gedagtes van wrede lyding terwyl sondaars vir ewig gefolter word vrae kan laat ontstaan oor ’n ,God van liefde’. Maar sulke gedagtes is gebaseer op ’n wanbegrip van die Bybel en die beeldspraak daarin. Die Bybel leer nêrens dat die siel onsterflik is nie. Die Skrif toon eerder dat ,die loon van die sonde die dood is’—nie ewige foltering nie—en dat ’n mens se sinne, onder meer die vermoë om pyn waar te neem, by die dood tot niet gaan.—Romeine 6:23; Prediker 9:5, 10.
Dit is die straf, nie die toediening daarvan nie, wat vir ewig duur—daar die goddelose vir ewig uitgewis word in „die poel van vuur”, ’n simbool van algehele vernietiging (Openbaring 20:14, 15; 21:8). Armageddon sal nietemin vir die mensdom ongekende lydig en ontbering meebring en sal die bloedigste oorlog wees wat ooit gevoer is (Mattheüs 24:21, 22; Openbaring 14:20; 19:17, 18). Kom dit van die ,God van liefde’? Gaan God werklik so ’n oorlog laat plaasvind?
’n Blyk van God se liefde
Dit is in werklikheid as gevolg van God se liefde dat die Armageddonstryd gevoer moet word. Jehovah God se doel met die aarde is om die oorspronklike paradystoestand daarvan te herstel en die mensdom in vrede en volmaaktheid daarop te laat lewe „sonder dat iemand hulle verskrik” (Esegiël 34:28; Miga 4:3, 4; Openbaring 21:4). Wat moet dan gedoen word met diegene wat die veiligheid van die herstelde Paradys met hulle misdadigheid en geweld wil bederf? Geen stelsel wat deur die mens uitgedink is, kon tot nog toe so ’n probleem oplos nie. Die enigste manier om volmaakte vrede te verseker, is om selfs die bedreiging van goddeloosheid uit te wis. Ja, God moet die verstokte goddeloses vernietig ter wille van diegene wat wil doen wat reg is. Hy tree uit liefde op om die aarde te reinig van diegene wat dit wil verderf.—Openbaring 11:18.
Maar niemand hoef te sterf nie. „[God] wil hê dat alle mense gered word”, skryf die apostel Paulus (1 Timotheüs 2:4). En Petrus, wat ook onder inspirasie geskryf het, sê: „Hy . . . wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). God het gereël dat die „evangelie van die koninkryk” verkondig word sodat elke individu die geleentheid sal hê om sy eie heil uit te werk (Mattheüs 24:14; Filippense 2:12; Galasiërs 6:5). Jy kan vir ewig in volmaaktheid op ’n paradysaarde lewe. Die keuse is joune (Romeine 2:5-9; Esegiël 18:23, 32). Is dit nie wat jy van ’n God van liefde sou verwag nie?
Die geskil van soewereiniteit
Ten einde volmaakte vrede en rus te verseker, sal daar slegs een regering oor die hele aarde heers—God se Koninkryk. Is dit nie die talle menseregerings, wat almal hulle eie selfsugtige, nasionalistiese gewin nastreef, wat baie van die tweedrag en bloedvergieting dwarsoor die aarde veroorsaak het nie? Hierdie regerings moet uit die weg geruim word om plek te maak vir die regverdige heerskappy van God se Koninkryk in die hande van Christus (Daniël 2:44). Jy bid vir daardie hemelse regering wanneer jy die modelgebed wat Jesus vir sy dissipels gegee het, opsê: „Laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:10.
Maar weet jy van ’n regering wat bereid is om van sy soewereiniteit afstand te doen en homself ten volle aan God se Koninkryk te onderwerp? Klou regerings nie eerder aan hulle soewereiniteit vas terwyl hulle voortdurend probeer om hulle invloedsfeer met miskenning van God se opgerigte Koninkryk uit te brei nie? (Psalm 2:1-9). Was daar ooit enige aanduiding dat die nasies hulle heerskappy aan God en Christus sal afstaan? Die ondoeltreffendheid van die Verenigde Volke-organisasie as ’n instrument om wêreldvrede tot stand te bring, toon hoe onwillig nasies is om toe te gee wanneer selfsugtige volksbelange op die spel is en om hulle aan ’n enkele owerheid te onderwerp. Die nasies is vasbeslote om die aarde se aangeleenthede op hulle manier te bestuur (Openbaring 17:13, 14; 19:19). Die Armageddonstryd moet dus gevoer word om ’n einde aan hierdie dooie punt te maak en eens en vir altyd die geskil oor wie die reg het om oor die aarde te regeer, te besleg.
Om in die mens se behoeftes te voorsien
By Armageddon sal Jehovah met die mensdom se belange op die hart optree. Dink net. Hoe voel jy oor die huidige wêreldtoestande? Hou jy daarvan? Voel jy veilig ondanks die bedreiging van kernuitwissing? Ys jy wanneer jy sien hoedat gewelddadigheid toeneem en julle buurt onveiliger word? Vrees jy vir jou kinders en hulle toekoms? Voorsien jy enige verligting? Het enige regering al ooit getoon dat dit vir die hele mensdom vrede en voorspoed kan bring? Kon enige regering al ooit siekte of die dood van die aarde af uitwis? Het toestande wêreldwyd nie eerder versleg ondanks die mens se tegnologiese prestasies, en dikwels as gevolg van sulke prestasies, nie? Dit is slegs God se regverdige Koninkryk wat ten volle in die mensdom se behoeftes sal voorsien. Dit is slegs deur middel daarvan dat ware vrede oor die hele aarde sal gedy. Die Armageddonstryd moet gevoer word!
Maar wat van die menselyding en ontbering wat sal voortspruit uit God se optrede om die aarde te reinig? Dit was nog altyd die voortbrengsels van oorlog. Dit sal by Armageddon ondervind word slegs omdat die nasies onversetlik gekant is teen teokratiese heerskappy. Hulle is vasbeslote om te veg en weerstand te bied (Psalm 2:2, 3). Dit is nie God se skuld nie. Hy gee hulle genoeg waarskuwing: „Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!”—Psalm 2:10-12.
Dink ’n bietjie. Hoe sou wêreldtoestande wees as God nie ingegryp het om wêreldaangeleenthede reg te stel nie? Sou oorloë, geweld en haat nie onverpoosd voortduur soos dit die geval deur die eeue van menseheerskappy was nie? Neem hulle nie selfs nou toe tot die punt waar die hele mensdom deur die afgryse van kernoorlog en sy stralingsvergiftiging bedreig word nie? Armageddon is in werklikheid die beste ding wat met ons aardbol kan gebeur! Dit sal ’n einde maak aan die nasies se selfsugtige, noodlottige weg. Dit sal ontslae raak van die stelsels wat vir die mensdom ellende veroorsaak en die weg baan vir ’n waarlik regverdige, nuwe stelsel waar alle droefheid deur die mens se toedoen, pyn en die dood vir ewig tot die verlede sal behoort. Dan ,sal die eerste dinge verbygegaan het’ soos God beloof.—Openbaring 21:4; 2 Petrus 3:13.
Ons moet onthou dat God in sy wysheid weet wat die beste vir die mensdom is en wat nodig is om dit teweeg te bring. Selfs menseregerings het oorlog voorgestel en gevoer om oënskynlike onregte reg te stel of om vir die een of ander „edel saak” te veg. Maar slegs God het die wysheid om ’n waarlik regverdige oorlog te voer. Slegs hy kan ’n waarlik selektiewe oorlog voer waarin regskape individue bewaar sal word ongeag waar op aarde hulle ook al is (Mattheüs 24: 40, 41; Openbaring 7:9, 10, 13-17). En slegs God het die reg om sy soewereiniteit dwarsoor die aarde af te dwing, want dit is sy skepping. Ja, om vir ewig van enige spoor van ongeregtigheid ontslae te raak, om ’n einde aan ongeregtigheid, verdrukkende valse aanbidding, selfs aan die oorsaak van sonde te maak, en om God se heilige naam ten volle te regverdig, moet Armageddon gevoer word. En dit sal gevoer word, want „God is liefde”!
[Prent op bladsy 6, 7]
ARMAGEDDON . . . . . . baan die weg vir vrede