Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 4/15 bl. 4-7
  • Die genesing van alle siektes is moontlik!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die genesing van alle siektes is moontlik!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gesonde begin
  • Wat is siekte?
  • Die soeke na gesondheid
  • Genesing ophande!
  • Volmaakte gesondheid vir almal
    Ontwaak!—1995
  • Handhaaf jou geloof en geestelike gesondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Goeie gesondheid vir almal—Binnekort!
    Ontwaak!—2001
  • Gesondheid en geluk—Hoe kan jy dit vind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 4/15 bl. 4-7

Die genesing van alle siektes is moontlik!

DEUR die eeue heen was daar geen gebrek aan pogings om ’n kuur vir alle siektes te vind nie. Elke jaar word miljarde dollars aan gesondheidsdienste bestee. Van die wêreld se begaafste mense gebruik die gevorderdste tegnologie vir mediese navorsing. Maar mense oor die hele aarde is steeds siek, en verwoestende siektes duur voort. Ons situasie het nie veel verander sedert Moses se tyd nie. Meer as 3 000 jaar gelede het hy geskryf: „Die dae van ons jare​—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet.”​—Psalm 90:10.

’n Gesonde begin

Maar die mens het ’n volmaakte begin gehad. Adam en Eva het in ’n skoon, siektevrye omgewing, die pragtige tuin van Eden, gelewe. Hulle het ’n oorvloed van gesonde, heilsame voedsel gehad. Hulle het interessante, bevredigende werk gehad om te doen. En hulle was liggaamlik en verstandelik gesond.​—Kyk Genesis 1:26-30.

God het ook vir hulle vertel hoe hulle hulle volmaakte toestand kan behou. Eers het hy vir hulle gesê wat hulle moet doen: „Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” Toe het hy vir hulle gesê wat hulle nie moet doen nie: „Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 1:28; 2: 17). As hulle, en uiteindelik hulle nageslag, hierdie twee basiese opdragte gehoorsaam het, sou hulle hulle gesonde, gelukkige en volmaakte toestand vir ewig kon handhaaf.

Baie mense meen vandag dat die verhaal van Adam en Eva onwetenskaplik, ’n blote mite, is. Maar voordat ons hierdie beskouing aanvaar, kan ons gerus eers die saak van nader beskou.

In hedendaagse taal was die eerste opdrag dat hulle hulle omgewing moet versorg. Die tweede was dat hulle hulle lewenswyse moes hou binne sekere perke wat God vasgestel het. Is dit ’n onwetenskaplike mite, of onderstreep dit die grondslag vir ’n gesonde lewe? Let op wat die boek Health and Disease deur René Dubos en Maya Pines hieroor sê: „Die omgewing se uitwerking op siekte word deur min mense besef. Waar ’n mens woon en hoe hy lewe, kan ’n groter uitwerking op sy gesondheid hê​—dikwels op onverwagte maniere—​as die mikrobes waarmee hy in aanraking kom of die gene wat hy erf.”

Wat is siekte?

In hierdie konteks hou siekte grootliks verband met hoe ons lewe en hoe ons in ons omgewing optree. Ons meen vandag dat ons beskaafde lewenswyse baie daartoe bygedra het om die algemene gesondheidstoestand te verbeter. Maar let op na wat Dubos en Pines sê: „Die Australiese inboorlinge, wat in relatiewe afsondering in ’n Steentydkultuur lewe, is buitengewoon gesond. Trouens, dit is net in die gevorderdste gemeenskappe dat die beskaafde mens se gesondheid, danksy die wetenskap van die moderne geneeskunde, begin vergelyk met die goeie gesondheid wat die wêreld se onbeskaafste volke as geboortereg geniet.”

Nog een van hierdie „onbeskaafste volke” wat deur die skrywers genoem word, is die Mabane van die Soedan. „Die Mabane geniet ’n lang lewensduur wat merkwaardig sal wees selfs in ’n gemeenskap wat die allerbeste mediese sorg ontvang. Wanneer hulle oud word, ondervind hulle boonop min van die gewone ouderdomskwale. Wetenskaplikes is steeds verwonderd oor die Mabane se buitengewone gesondheid, maar hulle bestendige, rustige omgewing is ongetwyfeld ’n belangrike faktor.” Om die uitwerking van die omgewing te beklemtoon, het die skrywers bygevoeg: „Wanneer ’n Mabaan verhuis na Khartoem, [1 050 kilometer] daarvandaan, word hy geteister deur ’n menigte kwale wat hy nooit voorheen geken het nie.”

In teenstelling hiermee het ons „beskaafde” lewenswyse vir groot dele van die bevolking lug- en waterbesoedeling, ontbossing, oorbevolking en wanvoeding meegebring. Die mens se onverskillige behandeling van die omgewing is nie net ’n ernstige gevaar vir sy gesondheid nie, maar bedreig ook die vooruitsig op sy voortgesette bestaan op aarde.​—Kyk Openbaring 11:18.

Dit is dus nie verbasend dat siekte al soms „’n neweproduk van ’n beskaafde lewenswyse” genoem is nie. Ons dink dat ons beskaaf is omdat ons nie meer in die gramadoelas lewe nie. In plaas daarvan leef ons teenaan mekaar in stede, indien nie letterlik bo-op mekaar nie. Trouens, die Engelse woord vir beskaaf, naamlik „civilized”, kom van ’n Latynse grondwoord wat burger of stadsbewoner beteken. Maar waar het die idee van stadsbewoning ontstaan?

Die eerste melding daarvan is in Genesis 11:4: „En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.” Daardie voorstel in Nimrod se dag was strydig met God se doel soos dit aan Adam gestel is, naamlik, dat mense ,die aarde moet vul en dit onderwerp’. Om dit te doen, moes hulle versprei namate hulle vermeerder het. Omdat hy geweier het om dit te doen, en om ander redes, het Nimrod bekend gestaan as iemand wat ,gekant was teen Jehovah’ (Genesis 10:9, NW). Daardie uitdagende handelwyse, tesame met die opstand in die tuin van Eden, het die mensdom vinniger laat beweeg op die weg van verwording, siekte en die dood.

Selfs vandag is die meeste van die siektes wat mense in die ryk lande teister die gevolg van hulle lewenswyse.

Die soeke na gesondheid

Gesaghebbendes besef nou dat die mensdom se gesondheidsprobleme nie bloot deur meer medisyne, meer dokters of meer hospitale opgelos word nie, hoewel hierdie dinge ongetwyfeld op die kort termyn verbetering sal bring. Radikale veranderinge in mense se lewenswyse en hulle behandeling van die omgewing is eerder nodig. Byvoorbeeld, dr. Halfdan Mahler, direkteur-generaal van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie), het in ’n verhandeling oor Wêreldgesondheidsdag, 7 April 1983, geskryf:

„Wat kan mense omtrent hulle gesondheid doen? Hulle kan byvoorbeeld as individue en gemeenskappe stappe doen om te verseker dat hulle genoeg van die regte voedsel het. Hulle kan saamwerk om die suiwer water wat beskikbaar is, of beskikbaar gestel kan word, ten beste te benut en seker te maak dat dit van besoedeling gevrywaar word. Hulle kan aandring op aanvaarbare standaarde van higiëne in en om hulle huise, in markte en winkels, in skole, in fabrieke, in eetplekke en restourante. Hulle kan leer hoe om die kinders wat hulle wil hê so te spasieer dat elkeen ’n goeie kans op oorlewing, ’n redelike opvoeding en ’n goeie lewenspeil sal hê.”

Dit is ongetwyfeld maatreëls wat goeie gesondheid in die hand sal werk. Maar die vanselfsprekende vrae is: Hoe moet die armes in die ontwikkelingslande genoeg voedsel, suiwer water en aanvaarbare higiëne bekom? Waar sal hulle die finansies en die vaardighede kry wat nodig is om hierdie noodsaaklike dinge te voorsien?

Dit is interessant dat ’n artikel in World Health, die amptelike tydskrif van die WGO, sê: „Stel jou ’n ideale wêreld voor waarin al die vindingrykheid, onkoste en menslike en stoflike hulpbronne wat tans vir militêre bewapening gebruik word eerder aangewend word om die wêreld se gesondheid te verbeter!” Wat sal dit bereik? Wel, daardie artikel het geraam dat die wêreld ongeveer R1 132-miljard per jaar, of 1,9 miljoen rand per minuut, aan die wapenwedloop bestee. Tog „het die veldtog van 14 jaar tussen 1967 en 1980 om die dodelike siekte pokke uit te roei die wêreld slegs R560-miljoen gekos”. Dit kom dus tot die gevolgtrekking: „Dit is duidelik dat as selfs ’n deel van die hulpbronne wat op die oomblik vir militêre doeleindes gebruik word eerder vir die voorkoming en genesing van en navorsing oor siekte gebruik kan word, dit grootliks daartoe sal bydra dat die wêreld die doelwit van Gesondheid vir almal teen die jaar 2000 kan bereik.”

Wat van mense in die ontwikkelde lande? Hulle is moontlik in sommige opsigte beter daaraan toe, maar volgens dr. Mahler „moet [hulle ook] hulle gesondheidsverantwoordelikhede op hulle neem, verstandig eet, matig drink, glad nie rook nie, versigtig bestuur, genoeg oefening kry, leer om onder die druk van die stad te lewe, en mekaar help om dit te doen”.

Ons moet derhalwe vra: Sal die nasies bereid wees om hulle beleid te verander en voorkeur te gee aan die strewe na gesondheid? Sal hulle bereid wees om hulle politieke verskille opsy te skuif en hulle hulpbronne en pogings te verenig om siekte te oorwin? En sal die mens na ’n gesonder lewenswyse oorskakel? As jy dit realisties beskou, moet jy erken dat dit baie onwaarskynlik is. Die genesing van alle siektes sal nooit teweeggebring word as dit van die nasies afgehang het nie.

Genesing ophande!

Op wie sal ons dan vertrou? Wel, dink terug aan die gesig wat die bejaarde apostel Johannes gesien het. Hy het dit soos volg beskryf:

„Hy het my getoon ’n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was [bome] van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand [hulle] vrugte gee, en die blare van die [bome] is tot genesing van die nasies.”​—Openbaring 22:1, 2, vergelyk NW.

Die simboliese „rivier van die water van die lewe” stroom van „die troon van God en van die Lam” uit. Dit is dus duidelik dat ons op Jehovah God en die Messiaanse Koninkryk van sy Seun moet vertrou vir die „genesing van die nasies”. Is dit nie logies nie? God is die Skepper van die menseliggaam en die hele aarde. Hy weet beter as enige dokter of wetenskaplike hoe om sake te hanteer sodat siektes oorwin kan word. Onder God se Koninkryksheerskappy sal die mensdom bevry word van die besmetting wat ons nou teister en siekte en die dood veroorsaak. Die mensdom, gevoed deur die suiwer, kristalhelder „water van die lewe” en die vrugte en blare van die „bome van die lewe”​—Jehovah se hele voorsiening vir die verkryging van die ewige lewe​—sal vir goed van al sy siektes, geestelik sowel as liggaamlik, genees word.a Mense sal teruggebring word na die gelukkige, gesonde, volmaakte toestand wat hulle voorvaders, Adam en Eva, in die begin geniet het.

Die tyd vir God se Koninkryk om daadwerklik op te tree en „die verderwers van die aarde te verderf”, is ophande (Openbaring 11:18). Dan sal baie Bybelprofesieë in ’n herstelde paradys vervul word (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Dit is goeie nuus vir almal wat goeie gesondheid op God se manier wil geniet. Binnekort sal die „nuwe aarde” wat Johannes gesien het in aansyn kom, ’n aarde waarin daar „geen dood meer [sal] wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”.​—Openbaring 21:1, 4.

Sal jy een van diegene wees wat die einde van hierdie besoedelde en verwordende stelsel sal oorleef en daardie skoon „nuwe aarde” sal binnegaan? Deur die oorblywende tyd verstandig te gebruik om meer aangaande God se Koninkryk te leer en te doen wat hy verlang, sal jy sien hoe alle siektes genees word.

[Voetnote]

a Kyk asseblief „Babylon the Great Has Fallen!”, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, vir ’n uitvoerige verduideliking van hierdie verse.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel