Insig in die nuus
Dit ,tref ’n teer plek’
Op 22 Desember 1984 het ’n dramatiese voorval in ’n moltreinwa in die stad New York in die nuus gekom. ’n Sewe-en-dertigjarige pendelaar, Bernhard Hugo Goetz, is deur vier jeugdiges genader wat, volgens hom, gedreig het om hom te beroof. Goetz, wat voorheen ’n slagoffer van straatrowers was, het ’n vuurwapen uitgepluk en al vier geskiet. Een sal lewenslank verlam wees.
Die skietery het ’n landswye debat oor misdadigheid en openbare veiligheid ontlok. „Hierdie geval het ’n baie teer plek getref”, het die medegasheer van ’n kabelnuusprogram gesê. „Daar is ’n algemene gevoel van frustrasie en woede oor die toestand van strafregpleging.” ’n Hoofartikel in The New York Times het verder uitgewei: „Die regering het [die publiek] in die steek gelaat waar dit by sy mees fundamentele verantwoordelikheid kom: openbare veiligheid. Wanneer jy die wet in eie hande neem, beteken dit dat jy dit uit amptelike hande neem. Maar op 22 Des. was die wet in daardie moltreinwa in niemand se hande nie.”
Die publiek se oorweldigende belangstelling in die Goetz-geval het gevoelens wat baie mense deel aan die lig gebring: vrees vir die bedreiging van roof of straatroof, en frustrasie en woede oor die feit dat daar nie meer gedoen word om openbare veiligheid te verseker nie. Probleme weens diewe is natuurlik nie iets nuuts nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 11: 26.) Wat wel nuut is, is die mate waarin misdadigheid en ander kwellende toestande mense laat „beswyk van vrees en verwagting” (Lukas 21:26). Maar onder God se Koninkryksregering sal daar binnekort ’n einde aan hierdie vrees gemaak word. In daardie beloofde nuwe stelsel sal al die aarde se bewoners in vrede en harmonie lewe „sonder dat iemand hulle verskrik”.—Miga 4:4.
„Hoër” onderwys
„Die meeste universiteite beloof om jou kultureel en sedelik te verbeter, maar daar is geen bewyse dat hulle dit doen nie”, sê William J. Bennett, die nuwe minister van onderwys in die Verenigde State. „Hulle doen nie hulle beloftes gestand nie.” Daar is nog ’n rede waarom hy negatief is oor die toestand van hedendaagse universiteitsopvoeding. „Daar is ’n opvatting dat gegradueerdes ’n priesterlike klas is en dat wonderlike dinge moet gebeur wanneer jy ’n graad verwerf”, sê Bennett. „As my eie seun . . . vir my kom sê: ,Pa het belowe om vir my onderrig aan Harvard te betaal; kan Pa my nie liewer R100 000 gee om ’n klein onderneming te begin nie?’ sal ek dit moontlik as ’n goeie idee beskou.”
’n Universiteit beloof ’n rooskleurige toekoms, maar waarborg dit sukses? Klaarblyklik nie. Maar vir baie mense is daar iets wat sukses waarborg. Ware Christene kan vandag getuig van die kulturele, sedelike en selfs geldelike voordele wat ’n studie van God se Woord en die toepassing daarvan in hulle lewe vir hulle gebring het. Hulle weet dat „die hele Skrif . . . nuttig [is] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, . . . sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”, net soos Paulus gesê het (2 Timotheüs 3:16, 17). Daar is geen risiko aan ’n Bybelopvoeding verbonde nie. Die wysheid van God, ,wie se gedagtes hoër as ons gedagtes is’, lei tot ware sukses.—Jesaja 55:9.
Aborsie verdeel
„Nagenoeg 10 jaar gelede”, sê William V. Shannon van The Boston Globe, „het ’n Rooms-Katolieke biskop privaat vir my gesê: ,Dit kwel my dat ons as ’n kerk met betrekking tot hierdie aborsiekwessie in die verkeerde rigting in ’n eenrigtingstraat afry. . .. Kyk na Pole. Dit is waarskynlik die mees Katolieke land in Europa. . . . En tog het Poolse vroue verlede jaar 400 000 aborsies gehad. As die Poolse biskoppe nie in Pole, wat omtrent 90 persent Katoliek is, ’n einde aan aborsie kan maak nie, hoe kan ons hoop om dit in hierdie land, waar ons ’n minderheid is, te doen?’” Shannon sê voorts: „Dit was destyds ’n relevante vraag. Dit is vandag selfs meer ter sake, aangesien . . . die getal aborsies in [Pole] . . . tot 800 000 per jaar toegeneem het.”
Aborsie is steeds vir die Vatikaan ’n netelige kwessie, in die politiek sowel as in die kerk self. In Oktober 1984 het ’n volbladadvertensie in The New York Times, wat deur 24 nonne en 73 ander Katolieke onderskrywe is, gesê dat die kerk se veroordeling van aborsie in alle gevalle nie „die enigste regmatige Katolieke standpunt” is nie—’n verklaring waarmee die Vatikaan verskil. Die advertensie het gegewens uit ’n onlangse opname aangehaal wat aandui dat slegs 11 persent van die Katolieke aborsie in alle gevalle afkeur. Dit is duidelik dat die aborsiekwessie die kerk verdeel. Maar God se Woord vermaan ware Christene om „eenstemmig” en „eensgesind” te wees.—1 Korinthiërs 1:10; 2 Korinthiërs 13:11.