Godsdiens en die politiek—’n Blywende vennootskap?
DIE Russiese heerser Vladimir I het eendag besluit dat sy heidense volk “Christene” moet word. Hy is in 987 G.J. bekeer nadat hy met ’n Grieks-Ortodokse prinses getroud is, en hy het toe ’n massadoop vir sy onderdane gelas—onder dwang indien nodig. Die Russiese Kerk het geleidelik onafhanklikheid van sy “moeder”, die Griekse Kerk, verkry en later selfs ’n Staatsdepartement geword. En hoewel die Sowjet-leiers vandag amptelik die bestaan van God loën, handhaaf die Kerk en Staat in Rusland steeds ’n ongemaklike vennootskap.
Eeue later het koning Hendrik VIII van Engeland ook daarin geslaag om ’n noue vennootskap tussen die Kerk en Staat te vorm, hoewel deur ander metodes. In 1532 was hy bekommerd omdat sy vrou, Katharina van Aragon, nie ’n manlike erfgenaam vir die troon gebaar het nie. Om die probleem op te los, het Hendrik stilletjies met sy minnares, Anne Boleyn, getrou. Dit was met die oogluiking van die aartsbiskop van Kantelberg, wat Hendrik se eerste huwelik nietig verklaar het. In 1534 het hierdie egbreker en tiran homself as hoof van die Anglikaanse Kerk verklaar, ’n titel wat vandag nog deur Engeland se monarg gedra word. Besluite van die Kerksinode is onderworpe aan parlementêre goedkeuring, en biskoppe, as lede van die Britse Hoërhuis, neem deel aan die regering van Brittanje. Die Kerk en Staat in Brittanje is derhalwe al meer as 450 jaar getroud.
Hedendaagse verbintenisse tussen Kerk en Staat
In 1936 het ’n opstand in Spanje teen die Republikeinse regering burgeroorlog laat uitbreek en generaal Franco het die bewind oorgeneem. Tot ontsteltenis van die linksgesindes het Franco die geestelikes groot mag gegee in ruil vir hulle geesdriftige ondersteuning.
In 1983 het die WRK (Wêreldraad van Kerke) in Vancouver, Kanada, vergader. Die hoofsekretaris, Philip Potter, het vir hulle gesê om “polities te bly”. Die WRK se geldskenkings aan strydlustige, politieke groepe in ’n aantal lande is ’n bron van groot kommer vir talle kerkgangers.
Daar bestaan derhalwe min twyfel dat godsdiens hom met die politiek bemoei. Die groot vraag is egter: Behoort hy dit te doen? Is dit goed of sleg? Verhoog godsdiens se politieke inmenging die sedelike standaarde van die politiek, of verdraai dit godsdiens? En wat van die toekoms? Sal godsdiens en die politiek voortgaan met hulle ‘liefdesverhouding’, of sal dit verbrokkel en hulle op ’n botsing laat afstuur?
[Prent op bladsy 3]
Die eerste hoof van die Anglikaanse Kerk