Is ’n samelewing sonder klasseverskille werklik moontlik?
JOHN ADAMS, wat die tweede president van die Verenigde State geword het, was een van die ondertekenaars van die geskiedkundige Onafhanklikheidsverklaring wat hierdie edele woorde bevat: “Ons neem hierdie waarhede as vanselfsprekend aan: Alle mense is as gelykes geskep.” Nogtans het John Adams blykbaar getwyfel of mense werklik gelyk is, want hy het geskryf: “Ongelykheid van Gees en Liggaam is so vasgestel deur die Almagtige God in sy Samestelling van die Menslike Natuur dat geen plan of beleid dit ooit op dieselfde vlak kan bring nie.” Daarenteen kon die Britse geskiedkundige H. G. Wells hom ’n gelyke samelewing voorstel wat op drie dinge gegrond is: ’n gemeenskaplike maar suiwer en onbesmette wêreldgodsdiens, universele opvoeding en geen gewapende magte nie.
Tot dusver het die geskiedenis nie die gelyke samelewing opgelewer wat Wells hom voorgestel het nie. Mense is allesbehalwe gelyk, en klasseverskille is nog steeds ’n oorheersende kenmerk van die samelewing. Het hierdie klasseverskille die samelewing as ’n geheel in enige opsig tot voordeel gestrek? Nee. ’n Stelsel van maatskaplike klasse verdeel mense en lei tot afguns, haat, hartseer en baie bloedvergieting. Die eertydse mentaliteit van wit oppermag in Afrika, Australië en Noord-Amerika het vir nie-blankes ellende gebring—waaronder die algehele volkslagting van die Aborigines in Van Diemensland (nou Tasmanië). In Europa was die klassifisering van die Jode as minderwaardig ’n voorspel tot die Slagting. Die groot rykdom van die aristokrasie en die ontevredenheid onder die laer en middelklasse was faktore wat aanleiding gegee het tot die Franse Revolusie van die 18de eeu en die Bolsjewistiese Revolusie in die 20ste eeu in Rusland.
’n Wyse man van die ou tyd het geskryf: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Sy woorde is waar hetsy diegene wat ander domineer individue of klasse is. Wanneer een groep mense hulle oor ’n ander verhef, is ellende en lyding die onvermydelike gevolg.
Voor God is almal gelyk
Is sekere groepe mense inherent verhewe bo ander groepe? Nie in God se oë nie. Die Bybel sê: “[God] het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:26). Daarbenewens trek die Skepper ‘die vorste nie voor nie en op die vername gee hy nie meer ag as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande’ (Job 34:19). Alle mense is aan mekaar verwant, en voor God word almal as gelykes gebore.
Onthou ook dat enige aansprake op meerderwaardigheid verdwyn wanneer iemand sterf. Die eertydse Egiptenare het dit nie geglo nie. Wanneer ’n Farao gesterf het, het hulle voorwerpe van groot waarde in sy graf gesit sodat hy hierdie dinge kon geniet terwyl hy voortgaan om sy hoë posisie in die hiernamaals te beklee. Het hy? Nee. Baie van daardie rykdom het in die hande van grafrowers beland, en baie voorwerpe wat nie gesteel is nie, kan vandag in museums besigtig word.
Aangesien die Farao dood was, het hy hoegenaamd geen nut uit daardie duur voorwerpe gekry nie. In die dood is daar geen hoër en geen laer klasse nie, geen rykdom en geen armoede nie. Die Bybel sê: “Wyse mense moet sterf; dwase, sotte, almal kom om. Want mense is soos osse wat nie vir altyd kan lewe nie, hulle is soos beeste wie se tyd kort is” (Psalm 49:10, 12, The New English Bible). Of ons nou konings of slawe is, hierdie geïnspireerde woorde geld vir ons almal: “Die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10.
Ons word almal in God se oë as gelykes gebore, en op die ou end is ons almal gelykes in die dood. Hoe sinloos is dit dus om gedurende ons kort leeftyd een groep mense bo ’n ander te verhef!
’n Samelewing sonder klasseverskille—Hoe?
Is daar nietemin enige hoop dat daar eendag ’n samelewing onder die lewendes sal wees waar maatskaplike klasse nie belangrik sal wees nie? Ja, daar is. Byna 2 000 jaar gelede toe Jesus op die aarde was, is die grondslag vir so ’n samelewing gelê. Jesus het sy lewe as ’n losprysoffer gegee vir die ganse gelowige mensdom sodat “elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê”.—Johannes 3:16.
Om te toon dat nie een van sy volgelinge homself bo medegelowiges moet verhef nie, het Jesus gesê: “Julle, moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus. Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees. Elkeen wat homself verhef, sal verneder word” (Matteus 23:8-12). In God se oë is al Jesus se ware dissipels gelykes in die geloof.
Het die vroeë Christene gevoel dat hulle almal gelyk is? Diegene wat die sin van Jesus se onderrigting begryp het, het wel. Hulle het mekaar as gelykes in die geloof beskou en dit getoon deur mekaar as “broer” aan te spreek (Filemon 1, 7, 20). Niemand is aangemoedig om meer van homself te dink as van ander nie. Dink byvoorbeeld aan die nederige manier waarop Petrus homself in sy tweede brief beskryf het: “Simon Petrus, ’n slaaf en apostel van Jesus Christus, aan dié wat ’n geloof verkry het wat as net so ’n groot voorreg beskou word as ons s’n” (2 Petrus 1:1). Petrus is persoonlik deur Jesus onderrig, en as ’n apostel het hy ’n belangrike posisie van verantwoordelikheid beklee. Tog het hy homself as ’n slaaf beskou en besef dat ander Christene net so ’n groot voorreg met betrekking tot die waarheid gehad het as hy.
Sommige sê dalk dat die ideaal van gelykheid weerspreek word deur die feit dat God Israel in voor-Christelike tye sy spesiale volk gemaak het (Exodus 19:5, 6). Hulle beweer moontlik dat dit ’n voorbeeld van rassemeerderwaardigheid is, maar dit is nie die geval nie. As afstammelinge van Abraham het die Israeliete weliswaar ’n spesiale verhouding met God geniet en is hulle as die kanaal vir Goddelike openbaringe gebruik (Romeine 3:1, 2). Maar die doel hiervan was nie om hulle op ’n voetstuk te plaas nie. Dit was eerder sodat “al die nasies geseën [sou] word”.—Genesis 22:18; Galasiërs 3:8.
Die meeste Israeliete het op die ou end nie die geloof van hulle voorvader Abraham nagevolg nie. Hulle was ontrou en het Jesus as die Messias verwerp. As gevolg hiervan het God hulle verwerp (Matteus 21:43). Die sagmoediges onder die mensdom het egter nie die beloofde seëninge verbeur nie. Op Pinkster 33 G.J. het die Christengemeente ontstaan. Hierdie organisasie van Christene wat deur heilige gees gesalf is, is “die Israel van God” genoem, en dit sou die kanaal word waardeur daardie seëninge sou kom.—Galasiërs 6:16.
Sommige lede van daardie gemeente het onderrigting nodig gehad wat gelykheid betref. Die dissipel Jakobus het byvoorbeeld diegene berispe wat ryk Christene met groter respek behandel het as armer Christene (Jakobus 2:1-4). Dit was verkeerd. Die apostel Paulus het getoon dat nie-Joodse Christene in geen opsig ondergeskik was aan Joodse Christene nie, en vroulike Christene was in geen opsig ondergeskik aan mans nie. Hy het geskryf: “Julle is in werklikheid almal seuns van God deur julle geloof in Christus Jesus. Want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nóg Jood nóg Griek, daar is nóg slaaf nóg vrygeborene, daar is nóg man nóg vrou; want julle is almal een persoon in eenheid met Christus Jesus.”—Galasiërs 3:26-28.
’n Hedendaagse volk sonder klasseverskille
Jehovah se Getuies probeer vandag volgens skriftuurlike beginsels lewe. Hulle besef dat maatskaplike klasse niks in God se oë beteken nie. Hulle het dus geen onderskeid tussen geestelikes en leke nie, en hulle word nie ingedeel volgens velkleur of rykdom nie. Hoewel party van hulle dalk welgesteld is, konsentreer hulle nie op “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” nie, want hulle besef dat sulke dinge net van korte duur is (1 Johannes 2:15-17). Hulle is eerder almal verenig in hulle aanbidding van die Universele Soewerein, Jehovah God.
Elkeen van hulle aanvaar die verantwoordelikheid om deel te neem aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk aan sy of haar medemens. Soos Jesus, eer hulle mense wat verdruk en verwaarloos is deur hulle by hulle huise te besoek en aan te bied om hulle God se Woord te leer. Diegene met ’n nederige posisie in die lewe werk skouer aan skouer met diegene wat deur sommige as van ’n hoër klas beskou kan word. Dit is geestelike eienskappe wat saak maak, nie maatskaplike klasse nie. Soos in die eerste eeu is hulle almal broers en susters in die geloof.
Gelykheid neem verskeidenheid in ag
Gelykheid beteken natuurlik nie algehele eenvormigheid nie. Mans en vroue, jonk en oud, word almal in hierdie Christenorganisasie verteenwoordig waarin daar mense van ’n groot verskeidenheid rasse-, taal-, nasionale en ekonomiese agtergronde opgeneem is. As individue het hulle verskillende verstandelike en fisiese vermoëns. Maar daardie verskille maak nie sommige meerderwaardig en ander minderwaardig nie. Sulke verskille het eerder ’n aangename verskeidenheid tot gevolg. Daardie Christene besef dat enige talente wat hulle het, gawes van God is en geen rede vir meerderwaardige gevoelens is nie.
Klasseverskille is ’n gevolg van die mens se pogings om oor homself te regeer pleks van God se leiding te volg. God se Koninkryk gaan binnekort die daaglikse heerskappy oor hierdie aarde oorneem, met die gevolg dat mensgemaakte klasseverskille iets van die verlede sal wees, asook alle ander dinge wat deur die eeue heen lyding veroorsaak het. Dan sal ‘die ootmoediges die aarde beërf’, in die ware sin van die woord (Psalm 37:11). Alle redes om oor ’n mens se sogenaamde meerderwaardigheid te spog, sal verdwyn het. Nooit weer sal maatskaplike klasse toegelaat word om die wêreldwye broederskap van die mens te verdeel nie.
[Lokteks op bladsy 5]
Die Skepper ‘gee nie meer ag op die vername as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande’.—Job 34:19.
[Prent op bladsy 6]
Jehovah se Getuies toon respek vir hulle naaste
[Prente op bladsy 7]
Dit is geestelike eienskappe wat vir ware Christene van belang is