Koninkryksverkondigers berig
‘Die een wat wysheid vind, vind die lewe’
“DIE WAARHEID trek ‘alle soorte mense’ aan uit die verskillende gemeenskappe wat die hedendaagse staat van Israel uitmaak”, skryf die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in daardie land. Hierdie opregte waarheidsoekers word verseker: “Hy wat my [wysheid] vind, het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die HERE” (1 Timotheüs 2:4, vgl. NW; Spreuke 8:35). Die ondervinding van ’n vrou in Israel lig dit toe.
◻ Een van Jehovah se Getuies het ’n intekenaar op Die Wagtoring besoek en gereël om ’n Bybelstudie met haar te hou. Die vrou was bly dat sy die studie kon hê. Een van haar bure het daarvan gehoor en dit bygewoon. Die buurvrou “het dit onmiddellik erken as dit waarvoor sy die afgelope paar jaar gesoek het”, het die berig gesê. En watter veranderinge het sy tog gou in haar lewe aangebring! Sy en haar man sou binne ’n paar dae finaal skei, maar hulle het dit gekanselleer en vrede gemaak. Sy was diep betrokke by astrologie en was verbonde aan ’n kultus, maar sy het duur boeke en alle ander dinge wat met demonisme te doen gehad het, weggegooi. Sy het begin om vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon en met familielede en vriende oor haar nuutgevonde geloof te praat. Van die vriende wat sy gevolglik verloor het, sê sy: “Hulle was blykbaar nie ware vriende nie.”
Hierdie vrou getuig nou geesdriftig vir klante in die familiewinkel en neem gereeld aan die verkondiging van die goeie nuus van huis tot huis deel. Hoe verheug is sy tog dat sy wysheid gevind het en van Jehovah se wonderlike voorsieninge vir die ewige lewe in sy nuwe stelsel geleer het! Haar buurvrou wat oorspronklik ingeteken het, het ook voortgegaan om te studeer en vordering te maak.
◻ Lloyd woon in Guyana. Sy pad na godsdiensvryheid was lank. Hy het sy trek as ’n Presbiteriaan begin. Hy het met ’n Hindoe getrou, en sy het ook ’n Presbiteriaan geword. “Ek was verbysterd oor die skynheiligheid” in daardie kerk, het hy later erken. Hy het hom dus tot Islam gewend, maar dit het nie sy soeke na vryheid bevredig nie. Toe het hy Hindoeïsme op die proef gestel. Nadat hy baie van reïnkarnasie en die wette van Karma geleer het, het hy hierdie leerstellings begin bevraagteken. Hy het na okkultisme oorgegaan, ’n altaar gebou en sy gesin met daardie leer geïndoktrineer. “Maar die vreeslike en skrikwekkende ondervindinge wat ek en my gesin gehad het, het my hierdie godsdiens die rug laat toekeer”, het hy gesê. Hy het ’n materialistiese lewenswyse aangeneem, maar sy gesin was besig om te verbrokkel. Hy het gevolglik gesê: “Ek het tot God, Vader, Allah en Ram gebid en vir hom gesê dat ek met die Skepper van alle dinge praat. Ek het hom meegedeel dat ek hom wou behaag en nie mense nie.”
Op daardie stadium het ’n “goed geklede, minsame, saggeaarde” getuie van Jehovah by Lloyd se deur aangeklop en sy vrae bevredigend beantwoord. Die Getuie het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en ’n Bybel by hom gelaat. ’n Bybelstudie is kort daarna met Lloyd en sy vrou begin. Hulle kennis het toegeneem en hulle het hulle afgeskei van Babilon die Grote—die wêreldwye stelsel van valse godsdiens. Mettertyd het hulle hulle aan Jehovah toegewy en is hulle gedoop. Lloyd het gesê: “Liefde, ware liefde, het haat en woede vervang; maar van die allergrootste belang is die feit dat ons lewe sinvol geword en doel gekry het.”
Nou verheug hulle hulle in die ‘waarheid wat hulle vrygemaak het’.—Johannes 8:32.
◻ ’n Jong vrou in die Seychelle het ook van Jehovah geleer, en dit het haar tot seën gestrek. Sy het saam met ’n man gelewe en etlike kinders by hom gehad. Die vrou het waardering gehad vir die waarheid wat sy uit die Bybel geleer het, maar sy het dit moeilik gevind om haar standpunt in te neem sodat sy aan die vereistes vir Jehovah se diens kon voldoen. Sy het in ’n mooi huis gewoon met geriewe wat min mense kon geniet. Na gebed en aansporing van die kringopsiener het sy vir die man saam met wie sy gelewe het die keuse gestel—hulle moes wettig trou of uitmekaar gaan. Die man wou nie een van die twee doen nie, en daarom het sy weggetrek. Hoe verheug was sy tog dat sy toe die goeie nuus kon verkondig en haar lewe aan Jehovah kon toewy en gedoop word! Sy het dit gedoen. Interessant genoeg, die man saam met wie sy gelewe het, was so beïndruk deur haar moedige standpunt vir Bybelbeginsels dat hy reëlings begin tref het om die gesin deur ’n wettige huwelik te herenig.
Die psalmis het erken: “Want by U [Jehovah] is die fontein van die lewe” (Psalm 36:10). Hierdie persone het dit ook erken en wysheid gesoek sodat hulle Jehovah en sy vereistes vir die lewe kon leer ken. Hoe waardeer hulle tog die feit dat ‘die een wat wysheid vind die lewe sal vind’!