Alle soorte mense sal gered word
1 Dit is Jehovah se wil “dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:4). Hoewel mense in sekere mate deur oorerflikheid, agtergrond en omgewing beïnvloed word, het hulle wilsvryheid en kan hulle individueel kies hoe hulle hulle lewe gaan gebruik. Hulle kan doen wat goed is en lewe, of hulle kan doen wat sleg is en doodgaan (Matt. 7:13, 14). Hoe raak hierdie begrip ons beskouing van die mense vir wie ons die goeie nuus van die Koninkryk bring?
2 Ons moenie aanneem dat iemand se belangstelling in die waarheid bepaal word deur faktore soos nasionale of kulturele agtergrond of deur sosiale posisie nie. Die waarheid kan ingang vind by diegene wat ’n beperkte of gevorderde opleiding het, diegene wat by politieke strewes betrokke is, asook beroepsmense, ateïste, agnostici en selfs berugte oortreders. Mense van alle agtergronde en sosiale vlakke het hulle vroeëre lewenswandel verander en kom nou in aanmerking vir die lewe in God se nuwe wêreld (Spr. 11:19, NW). Ons moet derhalwe nie huiwer om mense in alle kringe met die Koninkryksboodskap te nader nie.
3 Beskou hierdie voorbeelde: ’n Man het beplan om sy stiefvader dood te maak, maar het nie. Later het hy besluit om selfmoord te pleeg, maar kon nie. Nadat hy vir diefstal en dwelmhandel tronk toe is, het sy huwelik misluk. Vandag maak hierdie persoon ’n eerlike bestaan en geniet hy ’n gelukkige huwelik sowel as ’n goeie verhouding met sy stiefvader. Wat het die verskil gemaak? Hy het die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer en toegepas wat hy geleer het. Jehovah het hom nie beskou as iemand vir wie daar geen verlossing is nie.
4 ’n Jong vrou se faam as ’n TV-aktrise het haar nie geluk gebring nie. Maar sy het ’n Bybelstudie aanvaar omdat die goeie sedelike gedrag van die Getuies haar so beïndruk het, en sy het kort daarna ander begin help om van die goeie nuus van die Koninkryk te leer. Oral waar sy in die bediening van deur tot deur gegaan het, het mense haar herken, maar sy het opgeruimd verduidelik dat sy as een van Jehovah se Getuies bekend wou staan en nie as ’n aktrise nie.
5 Toe ’n Getuie gereël het om ’n Bybelstudie met ’n Wagtoring-intekenaar te hou, het ’n buurvrou daarvan gehoor en die studie bygewoon. Die buurvrou het onmiddellik besef dat dit die waarheid is waarna sy gesoek het! Sy en haar man het ’n egskeidingsbevel gekanselleer wat aan hulle toegestaan is en vrede gemaak. Sy was diep betrokke by sterrewiggelary en verbonde aan ’n spiritistiese kultus, maar sy het geredelik duur boeke weggegooi sowel as al die ander dinge wat sy besit het wat met demonisme verband gehou het. Sy het weldra vergaderinge begin bywoon en met haar familielede en vriende oor haar nuutgevonde geloof begin praat. Nou getuig sy entoesiasties vir ander.
6 Ons moet niemand vooruit veroordeel nie. Laat ons eerder ywerig die goeie nuus oral aan mense verkondig. Ons het alle rede om vol vertroue te wees dat Jehovah, wat ‘die hart sien’, die ‘Redder van alle soorte mense’ sal word.—1 Sam. 16:7; 1 Tim. 4:10.