Waarom jy die “Goddelike Vrede”-Byeenkoms moet bywoon
In ’n tyd van wydverspreide terrorisme, revolusie en oorlog is dit inderdaad goed dat jy, van aanstaande maand af, die “Goddelike Vrede”-Byeenkoms van Jehovah se Getuies kan bywoon! Daar sal jy nie net praktiese Christelike onderrig ontvang oor hoe om vrede te handhaaf nie, maar sien hoe duisende sulke onderrig daadwerklik toepas.
Wees van die openingsessie af, wat om 1:30 op Donderdagmiddag begin, daar. Jy sal van veteraanverkondigers van vrede hoor. Jy sal ook leer van die strikke van gesellige vermaak en hoe om dit te vermy. En aan die einde van die sessie sal jy iets ontvang wat nie net mooi is nie, maar ook nuttig sal wees om vir ander te getuig.
Vrydagoggend se program sal die programrede insluit: “Goddelike Vrede vir diegene wat deur Jehovah onderrig word.” Jy sal diep geraak word deur die drama: “Die bewaring van lewe tydens hongersnood.” Moet dit nie misloop nie!
Op Saterdag sal demonstrasies, onderhoude en leersame toesprake praktiese rigsnoere voorsien oor die bewaring van vrede in die gesinskring. Die program sal afsluit met die belangrike toespraak: “Wêreldwye veiligheid onder die ‘Vredevors’.”
Sondagoggend sal ’n openhartige, kragtige, moderne drama aangebied word, wat klem sal lê op die noodsaaklikheid daarvan om God se geregtigheid vir oorlewing te soek. In die middag sal nog ’n glanspunt van die byeenkoms die kragtige, openbare toespraak wees: “Uiteindelik vrede!—wanneer God spreek.”
Aangesien ’n aantal byeenkomste vir Suid-Afrika gereël is, sal daar ’n byeenkoms naby jou huis wees. Vind by Jehovah se Getuies plaaslik uit wanneer en waar die naaste byeenkoms gehou sal word.